Egskeiding

‘n Vriendin van my stap deur die plasse water op egskeiding-grond. Sy skree op die man wat haar ingeruil het vir ‘n jonger duiker, want hoe ouer die bok, hoe harder is die horing. Sy huil oor die vernedering en die gevoel van “ek-is-nie-goed-genoeg-nie” en die selfverwyt wat soos ‘n irriterende muskiet om haar kop en in haar binne-oor bly singel. Sy wens sy kon die horlosie terugdraai, sy het hopeloos te veel jare op ‘n poephol gemors. En nou gaan die nuwe Mevrou My_tieties_het_nog_nie_begin_hang_nie, deel in die pensioen waaraan sy ook vir 30 jaar gewerk het. Wraakgedagtes van hoe sy sekere liggaamsdele met ‘n stomp teelepel wil afsny neem oor na ‘n paar glase wyn en word eindelik met die verdriet van mislukking vervang. Sy verwens haar pa wat haar eintlik vriendelik verplig (oftewel “aangeraai”) het om met Mnr. Reg-In-Daai-Oomblik die knoop deur te haak, want die toekoms het toe so stabiel, veilig en koesterend voorgekom. Die liefde is blind, so jy sien nie die stront kom nie. Maar die liefde se neus werk goed en sy moes lankal die vis in die gras geruik het.

Ek het nie vreeslik ervaring op die gebied van egskeiding nie. Ek het dit egter in die laaste paar jaar al telkemale oorweeg,  veral as Manlief… wag, dat ek nou nie vuil wasgoed op die vloer los nie (kug-kug). Met genade was die oomblikke gelukkig van korte duur en het ons huwelik nog ‘n jaar oorleef. Nie sonder swoeg en sweet en swets nie (wyn help ook soms om die pyn te verlig), maar so staan ek dus met albei voete nog in die potplant van ons vereniging. Gelukkig, gesond, geseënd.

 

Ek verstaan dat egskeiding nie maklik is nie. Dis soos om aansoek te doen vir jou enkellopende bestuurslisensie na jare van passasier wees in die gesinskar. Jy moet jou oë laat toets (ook jou geloof). Jy moet in toue staan en op jou tong byt om nie iemand te vloek nie. Al het jy die onkeerbare drang om in die hoekie te gaan sit en jouself oor te gee aan verwesenheid, weet jy die vloer is vuil en is jy nie lus om die papgekoude Mentos uit jou broek te was nie. Maar eindelik kom jy voor, handig jy die papierwerk in en dan wag die vryheid van die pad daarbuite. Jy let op na ander voertuie. Jy gaan staan as gevolg van brandstoftekort. Jy sluit aan by sosiale versekering om jou waarde te bevestig. Jy leer dat Meneer Rooi Sportmotor rondry met ‘n pap wiel in sy kattebak. Jy kliek dat Meneer Blink BMW se kredietkaart kreun in sy Calvin Klein broeksak. Jou emosies is die N1 tussen Pretoria en Johannesburg op ‘n Vrydagmiddag. Duimgooiers, volksverraaiers, draadsitters, vriendinne wat jou nuwe meubels help kies…

 

Die plasse trane droog op. Die slagveld groei weer fynbos. Niemand trou om te skei nie. Maar as ek na my nuwe, vryer, vriendeliker en gelukkiger vriendin kyk, weet ek dat ek nog een ding vir my kinders wil leer: moenie trou omdat jy moet nie… en moenie bang wees om te skei nie.

10 thoughts on “Egskeiding

  1. Soos die spreekwoord lui:”Trou is nie perde koop nie”
    Ek wens dit vir niemand toe nie. Het n seun wat daardeur is. Ons het van die begin af gesê dat dit nie gaan werk nie. Twee en n half jaar later is hulle uit mekaar. Gelukkig, en ek dank die Vader daarvoor, was daar nie kinders nie. Dit maak alles makliker en nou is daar n pragtige mens aan sy sy. Hy blom weer en sy is so n liewe mens wat sommer diep in ons harte ingekruip het.
    Ek en die vrou is nou al 34 jaar getroud en ek moet sê:”Aan skei nog nie gedink nie, maar aar moord, ja soms . . .”

  2. As dit nie werk nie, werk dit nie. Punt. As een van die partye iemand anders gekry het, is daar nie ‘n ander opsie nie. Dis seer en dis moeiliker vir die kinders. But it doesn’t help to flog a dead horse ….

    My broer gaan nou deur ‘n egskeiding en dis ugly want daar is ‘n ander party aan die ander kant betrokke. Papiere nog nie eers beteken nie, maar spyker word daar gespyker. Left, right, centre, top en bottom. En dit maak die klein kopbeentjkie verward en hartseer. Menz wens so dat menz haar die pyn kan spaar.

  3. Ek blameer niemand wat skei nie, maar ek is dankbaar dat ons deur dik en dun, tog die genade van Bo en die wilskrag gehad het om eerder vas te byt deur erg moeilike tye. Dit voel ef ek nou beloon word.

Lewer kommentaar