Ek het geweet…

Ek het geweet dit gaan een of ander tyd gebeur…

Ek ruik pannekoek. Ouma is besig om die kombuis na nuwe vlakke van vuil te vat met die twee kleinkinders wat stroop, roomys, kaneelsuiker en ‘n karamelbesigheid eksperimente uitvoer. Die sug van tevredenheid kom uit ‘n put van dankbaarheid.

Ek beloer die verfkolle wat op teëls versprei. Oupa laat twee ontluikende kunstenaars (wat genadiglik goed is met Wiskunde) akrielskilderye maak vir sy studeerkamer in Suid-Afrika. Die knop in my keel is as gevolg van vreugde.

Ek word wakker met gille van plesier soos ‘n skaatsplank met ‘n seuntjie en dinosourus op deur die gang getrek word… deur ‘n Ouma in pajamas. ‘n Dogtertjie se lag laat my tone krul van lekkerkry as sy Oupa verras met ‘n skelpienk naellak op sy tone.

Ek slaap tot ek wakker word. En dan het ‘n feëtjie ontbyt gemaak, die sitkamer gestofsuig, die kombuis opgeruim en die wasgoed weggepak.

Die Kersboom se liggies flikker in die hoek… en al was ek nie daar nie, weet ek dit is waar: Oupas en Oumas is gemaak om seker te maak dat kinders bomenslik bederf word.

En toe kom die nuus…

In my hart het die wete gelê dat iemand in Suid-Afrika die tydelike met die ewige gaan verruil en ek sal hier wees… in die woestyn… duisende kilometers weg. My Ouma se jongste sussie het skielik die houtjassie aangetrek en die lig tegemoet geloop. Ons harte is seer, tog loop ons bekers oor. Dis die Skoppensboer waarteen Marais gewaarsku het:

’n Druppel gal is in die soetste wyn;
’n traan is op elk’ vrolik’ snaar,
in elke lag ’n sug van pyn,
in elke roos ‘n dowwe blaar.

Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag
is Skoppensboer

Ek het dit geweet… en steeds is ek onaangenaam verras. Ek kyk met ‘n nuwe bril na die vuil kombuis en verfkolle op die teëls. Ek knoop dit in my hart, sement die klanke van ‘n vol huis in my oor, koester die reuke in my stilte en as ek so aan my wyntjie teug, kies ek om vanaand nie die gal te proe nie, maar die soetheid van ‘n seëning oor my tong te laat spoel. En al gaan die wete nie weg nie, weet ek ook dit:

Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in ’n goue gloed:
die dagbreek op elk’ sagte wang
(En met apologie)

doen ek mee in hierdie Kersfees-Loflied-Vreugde-Sang.

 

Advertisements