5 minute

Na drie koppies koffie en ‘n halwe liter water, laat weet my biologiese seine dat dit nou nodig geword het om ‘n watertjie af te slaan. Ek loer om my rond. Die kinders bou ‘n kasteel uit Lego en kussings. Behalwe vir die wasmasjien wat op die agtergrond getuig van my effektiewe oggend is die huis vreedsaam.

Ek beweeg so geruisloos as moontlik verby Fort De Wet en seil ek die kleedkamer binne. Sekondes voor ek myself met ‘n sug begin verlig, kom die stemmetjie: “Mamma, kan jy asseblief vir ons Arabiese tee maak?” My “neus-poeier-roetine” is ook al onderbreek met “Mamma, daar is ‘n muis agter die yskas” (wat ‘n muurbalballetjie was); “Mamma, ek is honger vir pannekoek”; “Mamma,  ek het per ongeluk die melk laat val” en “Mamma, ek het ‘n Barbie skoen in my neus”. Ek het ‘n wyle gelede darem al geleer om die deur te sluit as ek werklik ‘n privaat oomblik nodig het (hetsy alleen of saam my wederhelfte). Van hoop op klop word geen ouer gefop.

Kinders het supersoniese gehoor… met selektief deurlaatbare oormembrane. As die poppe in rye gepak word en daar les gegee word oor inkleurtegnieke, kan ek roep en roep en roep, maar die kos sal eerder koud word voor daar op my roepstem geantwoord word. As die dinosourusse eers die aanval loods op die Power Rangers in die gang, kan ek skree en gil en offer net wat hul gister gevra het, maar die kranse sal antwoord gee en varke sal vlieg voor hulle reageer.

Laat ek egter nou ‘n Simba pakkie oopmaak, hoor hulle dit deur drie geslote deure en musiek wat blêr. Durf ek dit om ‘n pakkie ingevoerde Jelly Tots uit die kas te haal, is hulle blitsig in die kombuis om te sien waar ek dit wegsteek. Die ewolusie van kinderore is wonderlik. Hulle stel belang in husse, kan sjokolade meters ver hoor breek en begin spontaan weghardloop as ek die kool begin rasper vir slaai. Hoe en hoekom weet ek nie. Teoretiese kennis is nie eers op Google te vind nie. Maar in die praktyk kan menige mamma met my saamstem: kinders se tydsberekening is ‘n paradoksale enigma. Perfek vir hulle. Kak vir mamma.

 

My blaas se grense word getoets terwyl ek verduidelik dat hulle net ‘n paar minute moet wag. ‘n Redenasie volg oor kinders wat al gesterf het as gevolg van ontwatering en dat tee kalmerend is en dat… en toe piepie ek sommer so in die debat in. 5 minute. Dis al wat ek eintlik gevra het. Na drie ure sonder tee was die nood egter te groot en 5 minute te veel gevra.

Ek het nou net die halwe koppie tee van vanoggend uit die fort gaan haal en in die wasbak afgegooi. En ek skryf dit neer. Eendag as ek oud is… en in vrede kan water afslaan.. gaan ek weer lees oor die besige 5 minute… en wie weet… dalk is dit dan snaaks.

Advertisements

2 thoughts on “5 minute

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s