Oueraand

Dis oueraand. Wel, ouermiddag. Van 14:30 tot 18:30 moet ek beskikbaar wees om leerlinge se gedrag en akademiese vordering met hul ouers te bespreek. Hoekom ek gespanne is, sal die hemel alleen verstaan.

Vir die voorafgaande weke het ek daagliks geknyp. Soos in letterlik my blaas se grense beproef. Die skooldag is eenvoudig te besig om die kleedkamer te besoek as die natuur roep. Ek moet my liggaam kondisioneer om slegs behoeftes te hê tydens pouses… en dan ook verkieslik nie as ek aan diens is nie. My liggaam is nie toegelaat om siek te wees nie, want was as… Wat as die kinders een dag nie werk nie? Wat as ‘n ander onderwyser moet toesig doen? Wat as ek nie ‘n doktersbrief kry nie en ek ‘n dag se salaris verloor? Wat as ek my eie kinders dan nie by die skool kan besorg nie? So ek gaan siek skool toe. Of met ‘n gebreekte gewrig. En dan rig jy gou nog netbal af en sing saam die koor ‘n versier en luister na die treurmare van ‘n gebreekte tienerhart.

Ek het sedert dag een van hierdie termyn pligsgetrou boek gehou van elke laatkommer, huiswerkversuimer, potensiële ster en my data sal kopknikkend deur Maslow, Bloom en menige wiskundige begroet word. Ek het differensieer, aangemoedig en uitgedaag. My kreatiwiteit is so ver buite die boks dat ek nou al dink ek gee kuns. Ek het beplan en aangepas. Gemerk, geassesseer, nagesien en nog kanse gegee. Daar was groepwerk, paarwerk, individuele werk. Ek het deur moegheid geworstel, my tong stukkend gebyt en ja, selfs my humeur verloor.

 

En nou is dit oueraand en staan ek in elk geval naak voor die ouerpeleton, bewapen met my data. Vingerwys: hoekom ondersteun die skool nie meer nie? Blaamverskuiwing: wat het ek in die klas gedoen om te help? Lê die skuld neer: die kurrikulum is nie geskik nie. Die versugting: die punte is nie goed genoeg nie.

Ek weier om die knie te buig voor swaaiende vingers. Want ek gee meer om as die ouers. Ek gee om oor wat van die kinders gaan word as daar nie meer ‘n ouer is wat op ‘n onderwyser kan skree nie. Kinders moet leer om te leer. Van deursettingsvermoë en integriteit en durf, moet hulle eintlik tuis leer, maar helaas, die onderwyser se pleidooi val op kritiese ore. So ek onderrig nie net nie, ek moet nou opvoed ook. Ek wens ouers wil ophou om van mossies arende te probeer maak. Jou donkie is ‘n wonderlike ding, moenie ‘n resiesperd probeer skep nie. Wees lief vir die kind wat jy het, nie die een wat jy wil hê nie.

My lyf is in skoolroetine se ritme. Klokslag moet ek ‘n draai loop. My maag grom nie eers meer as dit nie binne bestek van pouse val nie. Ek word siek in die vakansie… en soms oor naweke. My lyf is aangepas. Nou moet ek net my kop regkry. Ek faal niemand. Al sê die ouers wat. Ek is beter as dit. Ek sal opvoed. En onderrig. En luister. En omgee. Want ouermiddag is net vier ure lank, maar die potensiële invloed van my hardkoppigheid, het lewenslange insae.

Dankie, liewe, enkele ouer, dat jy dit vandag aan my hart kom vasknoop het.

Advertisements

Patriot

Ek is nie ‘n patriot nie. Suid-Afrika is dalk die land waar ek gebore is, maar dis net dit: ‘n plek. Dis ‘n stel koördinate bepaal deur lengte- en breedtegrade oor ‘n aarde waarvan ek bewus is.

 

Die doel van ons bestaan is ‘n enigmatiese poespas van opinies. Ek dink die kern lê in twee woorde: goed en geluk. Ongeag waar jy jouself bevind, in watter beroep jy praktiseer en wat jou situasie is, ek reken ons moet deurentyd poog om goed te wees. Goed vir jouself, goed vir ander, goed vir die kosmos van spiritualiteit. Ons is tog heel eerste mens… voor ons Afrikaan, Amerikaner of Australiër is. En ligging, geloof, velkleur, kultuur, paspoortkleur of wat ook al jou definieer, skryf hopelik goedhartigheid as norm voor.
Dan soek ons geluk. Vir sommige is dit in die lag van ‘n kind, vir ander in ‘n tasbare sentiment, vir ander in geld. Met sewe biljoen mense op aarde, mag ons definisie van geluk verskil. Nie eers Harvard, Oxford, Denemarke of Kaapstad se universiteite kon al geluk meet nie, juis omdat dit so persoonlike aanslag het. En dis in sy eie reg, goed so.
Ek is nie ‘n patriot nie. Ek dink Suid-Afrika is ‘n pragtige land wat tans wanbestuur word. Sal ek “lewe en sterwe” vir die land soos die vorige volkslied my beveel? Nee. Want Suid-Afrika maak my nie goed of gelukkig nie.
In Suid-Afrika moes ek weghardloop vir polisie. Ek moes daagliks in vrees lewe en selfs die kerk wantrou. Ek het verkeerskonstabels omgekoop en die padreëls gebreek. Ek moes in binnelandse sake soos ‘n viswyf tekere gaan en vloek, net om eindelik my eie kinders se geboortesertifkate te kon kry. Suid-Afrika het my leer haat. Suid-Afrika het my nagmerries gegee van ‘n man wat ‘n mes teen my keel druk. Ek het al hoe meer gesukkel om my eie goedheid te vind te midde die misdaad en korrupsie en nie eers my familie en vriende kon die skaal balanseer nie.
Suid-Afrika het my ook nie gelukkig gemaak nie. Ek moes sien hoe my hardwerkende pa meer as een keer die trekpas kry, want hy was te wit. En nou is hy te oud. Ek moes skole vir my kinders kies, al het my hart geweet hulle gaan nie universiteitstoelating kry nie, want hul velkleur, die kleur van my voorvaders, is nie meer goed genoeg nie.
En toe pak ek my tassies, want Suid-Afrika het my glimlag en goedheid gesteel. Dit was allermins maklik. Dit was verseker nie ligtelik opgeneem nie. En toe word ek vandag as “volksverraaier”; “papbroek”; “lafaard” en “vlugteling” bestempel. Blykbaar is dit meer sinvol om te veg vir dit waarin ons voorvaders so onwrikbaar geglo het.
My voorvaders het hul keuses gemaak. Maar hulle is nie in 2018 hier om my lewe te leef en my voor te skryf wat my moet laat glimlag nie.  Hulle het in die afgelope 400 jaar keuse gemaak wat goed en reg was vir hulle. Goed was vir die tydvak waarin hul hulself bevind het. Keuses wat hulle gelukkig gemaak het. Gaan ek dan nie die kans kry om my eie keuses te maak nie? Of moet ek onverpoos en sonder kritiese diskoers op hul keuses se rug ry? Al maak dit my sleg en ongelukkig? Ek dink dan mis ek die doelstelling van my bestaan.

 

‘n Mens is nie ‘n boom wat geplant is om net op een plek ‘n skaduwee te gooi nie. Ons kan reis en oral ‘n verskil gaan maak.
Ek kyk na Suid-Afrika en my hart is seer oor die mooi dinge wat ek moes agterlaat. Maar ek kyk na my lewe in die Midde-Ooste en ek is beter as ooit. Ek is gaaf en wetsgehoorsaam en vrygewig en sonder haat. Ek is goed. Al mis ek my ma en pa. Gelukkig kan ek nou bekostig dat hulle ten minste twee ker per jaar kom kuier. My man is goed. My kinders is goed. Nie net is ons goed vir mekaar, onsself en sommer ook vir ander nie, maar vir die eerste keer ooit is ons goed vir die aarde. Ons herwin en lees op en raak betrokke by liefdadigheid. Dit gaan met ons goed. Ek kyk na my kinders en ek glimlag, want ons is almal so gelukkig. Ons lag meer as wat ons huil. Ons skree van plesier in die swembad en gil van vreugde om die eetkamertafel as ons Uno speel. Met oop deure en sonder tralies. Dalk is huis waar die hart is en is al die clichés waar.
Sommiges bly. Sommiges gly. Die twee goed wat ek vanaand wil weet: Is jy GOED? Is jy GELUKKIG? Want as jou antwoord op hierdie twee vrae JA is… dan is jy op die regte plek. Maak nie saak op watter koördinate dit is nie.