Patriot

Ek is nie ‘n patriot nie. Suid-Afrika is dalk die land waar ek gebore is, maar dis net dit: ‘n plek. Dis ‘n stel koördinate bepaal deur lengte- en breedtegrade oor ‘n aarde waarvan ek bewus is.

 

Die doel van ons bestaan is ‘n enigmatiese poespas van opinies. Ek dink die kern lê in twee woorde: goed en geluk. Ongeag waar jy jouself bevind, in watter beroep jy praktiseer en wat jou situasie is, ek reken ons moet deurentyd poog om goed te wees. Goed vir jouself, goed vir ander, goed vir die kosmos van spiritualiteit. Ons is tog heel eerste mens… voor ons Afrikaan, Amerikaner of Australiër is. En ligging, geloof, velkleur, kultuur, paspoortkleur of wat ook al jou definieer, skryf hopelik goedhartigheid as norm voor.
Dan soek ons geluk. Vir sommige is dit in die lag van ‘n kind, vir ander in ‘n tasbare sentiment, vir ander in geld. Met sewe biljoen mense op aarde, mag ons definisie van geluk verskil. Nie eers Harvard, Oxford, Denemarke of Kaapstad se universiteite kon al geluk meet nie, juis omdat dit so persoonlike aanslag het. En dis in sy eie reg, goed so.
Ek is nie ‘n patriot nie. Ek dink Suid-Afrika is ‘n pragtige land wat tans wanbestuur word. Sal ek “lewe en sterwe” vir die land soos die vorige volkslied my beveel? Nee. Want Suid-Afrika maak my nie goed of gelukkig nie.
In Suid-Afrika moes ek weghardloop vir polisie. Ek moes daagliks in vrees lewe en selfs die kerk wantrou. Ek het verkeerskonstabels omgekoop en die padreëls gebreek. Ek moes in binnelandse sake soos ‘n viswyf tekere gaan en vloek, net om eindelik my eie kinders se geboortesertifkate te kon kry. Suid-Afrika het my leer haat. Suid-Afrika het my nagmerries gegee van ‘n man wat ‘n mes teen my keel druk. Ek het al hoe meer gesukkel om my eie goedheid te vind te midde die misdaad en korrupsie en nie eers my familie en vriende kon die skaal balanseer nie.
Suid-Afrika het my ook nie gelukkig gemaak nie. Ek moes sien hoe my hardwerkende pa meer as een keer die trekpas kry, want hy was te wit. En nou is hy te oud. Ek moes skole vir my kinders kies, al het my hart geweet hulle gaan nie universiteitstoelating kry nie, want hul velkleur, die kleur van my voorvaders, is nie meer goed genoeg nie.
En toe pak ek my tassies, want Suid-Afrika het my glimlag en goedheid gesteel. Dit was allermins maklik. Dit was verseker nie ligtelik opgeneem nie. En toe word ek vandag as “volksverraaier”; “papbroek”; “lafaard” en “vlugteling” bestempel. Blykbaar is dit meer sinvol om te veg vir dit waarin ons voorvaders so onwrikbaar geglo het.
My voorvaders het hul keuses gemaak. Maar hulle is nie in 2018 hier om my lewe te leef en my voor te skryf wat my moet laat glimlag nie.  Hulle het in die afgelope 400 jaar keuse gemaak wat goed en reg was vir hulle. Goed was vir die tydvak waarin hul hulself bevind het. Keuses wat hulle gelukkig gemaak het. Gaan ek dan nie die kans kry om my eie keuses te maak nie? Of moet ek onverpoos en sonder kritiese diskoers op hul keuses se rug ry? Al maak dit my sleg en ongelukkig? Ek dink dan mis ek die doelstelling van my bestaan.

 

‘n Mens is nie ‘n boom wat geplant is om net op een plek ‘n skaduwee te gooi nie. Ons kan reis en oral ‘n verskil gaan maak.
Ek kyk na Suid-Afrika en my hart is seer oor die mooi dinge wat ek moes agterlaat. Maar ek kyk na my lewe in die Midde-Ooste en ek is beter as ooit. Ek is gaaf en wetsgehoorsaam en vrygewig en sonder haat. Ek is goed. Al mis ek my ma en pa. Gelukkig kan ek nou bekostig dat hulle ten minste twee ker per jaar kom kuier. My man is goed. My kinders is goed. Nie net is ons goed vir mekaar, onsself en sommer ook vir ander nie, maar vir die eerste keer ooit is ons goed vir die aarde. Ons herwin en lees op en raak betrokke by liefdadigheid. Dit gaan met ons goed. Ek kyk na my kinders en ek glimlag, want ons is almal so gelukkig. Ons lag meer as wat ons huil. Ons skree van plesier in die swembad en gil van vreugde om die eetkamertafel as ons Uno speel. Met oop deure en sonder tralies. Dalk is huis waar die hart is en is al die clichés waar.
Sommiges bly. Sommiges gly. Die twee goed wat ek vanaand wil weet: Is jy GOED? Is jy GELUKKIG? Want as jou antwoord op hierdie twee vrae JA is… dan is jy op die regte plek. Maak nie saak op watter koördinate dit is nie.
Advertisements

6 thoughts on “Patriot

  1. Vir die eersye keer help jy my om n perspektief op my seun se keuse om in Kanada te woon en n gesin daar te bou en te geniet, te kry. Wow dit is so mooi en goed gestel. Gaan juis nou vir hulle kuier daar in Victoria BC

  2. Dis bitter moeilik om te besef dat SA lankal nie meer ‘n veilige hawe is nie. Diegene wat jou oordeel oor jou keuse, ly aan ‘n outydse verwronge idee van lojaliteit, gepeper met ‘n skoot nasionalisme, wat lankal saam met Hitler moes gesneuwel het!
    Geniet waar jy is. Ons wat nie ‘n keuse het nie, maak die beste van wat hier aangaan.

  3. As jy gelukkig is waar jy nou is, is dit goed. Eintlik is dit al wat van jou gevra word.Om te lewe waar jy gelukkig kan wees. Dan kan jy alles agter jou laat. Dan bou jy jou eie toekoms.Vir jou en jou nageslag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s