Oueraand

Dis oueraand. Wel, ouermiddag. Van 14:30 tot 18:30 moet ek beskikbaar wees om leerlinge se gedrag en akademiese vordering met hul ouers te bespreek. Hoekom ek gespanne is, sal die hemel alleen verstaan.

Vir die voorafgaande weke het ek daagliks geknyp. Soos in letterlik my blaas se grense beproef. Die skooldag is eenvoudig te besig om die kleedkamer te besoek as die natuur roep. Ek moet my liggaam kondisioneer om slegs behoeftes te hê tydens pouses… en dan ook verkieslik nie as ek aan diens is nie. My liggaam is nie toegelaat om siek te wees nie, want was as… Wat as die kinders een dag nie werk nie? Wat as ‘n ander onderwyser moet toesig doen? Wat as ek nie ‘n doktersbrief kry nie en ek ‘n dag se salaris verloor? Wat as ek my eie kinders dan nie by die skool kan besorg nie? So ek gaan siek skool toe. Of met ‘n gebreekte gewrig. En dan rig jy gou nog netbal af en sing saam die koor ‘n versier en luister na die treurmare van ‘n gebreekte tienerhart.

Ek het sedert dag een van hierdie termyn pligsgetrou boek gehou van elke laatkommer, huiswerkversuimer, potensiële ster en my data sal kopknikkend deur Maslow, Bloom en menige wiskundige begroet word. Ek het differensieer, aangemoedig en uitgedaag. My kreatiwiteit is so ver buite die boks dat ek nou al dink ek gee kuns. Ek het beplan en aangepas. Gemerk, geassesseer, nagesien en nog kanse gegee. Daar was groepwerk, paarwerk, individuele werk. Ek het deur moegheid geworstel, my tong stukkend gebyt en ja, selfs my humeur verloor.

 

En nou is dit oueraand en staan ek in elk geval naak voor die ouerpeleton, bewapen met my data. Vingerwys: hoekom ondersteun die skool nie meer nie? Blaamverskuiwing: wat het ek in die klas gedoen om te help? Lê die skuld neer: die kurrikulum is nie geskik nie. Die versugting: die punte is nie goed genoeg nie.

Ek weier om die knie te buig voor swaaiende vingers. Want ek gee meer om as die ouers. Ek gee om oor wat van die kinders gaan word as daar nie meer ‘n ouer is wat op ‘n onderwyser kan skree nie. Kinders moet leer om te leer. Van deursettingsvermoë en integriteit en durf, moet hulle eintlik tuis leer, maar helaas, die onderwyser se pleidooi val op kritiese ore. So ek onderrig nie net nie, ek moet nou opvoed ook. Ek wens ouers wil ophou om van mossies arende te probeer maak. Jou donkie is ‘n wonderlike ding, moenie ‘n resiesperd probeer skep nie. Wees lief vir die kind wat jy het, nie die een wat jy wil hê nie.

My lyf is in skoolroetine se ritme. Klokslag moet ek ‘n draai loop. My maag grom nie eers meer as dit nie binne bestek van pouse val nie. Ek word siek in die vakansie… en soms oor naweke. My lyf is aangepas. Nou moet ek net my kop regkry. Ek faal niemand. Al sê die ouers wat. Ek is beter as dit. Ek sal opvoed. En onderrig. En luister. En omgee. Want ouermiddag is net vier ure lank, maar die potensiële invloed van my hardkoppigheid, het lewenslange insae.

Dankie, liewe, enkele ouer, dat jy dit vandag aan my hart kom vasknoop het.

Advertisements

3 thoughts on “Oueraand

  1. Met Laatlam se oueraande het ek van die een onderwyser na die volgende geloop en so ver as wat ek gegaan het, geapologeer…Tog het hulle hom deur matriek gekry (hoe, weet nugter!) en vandag is hy ‘n hardwerkende gesinsman. Saluut aan onderwysers! Julle is engele.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s