Hoekom goed gebeur…

Slegte goed gebeur met goeie mense. En die hemel/hel alleen weet hoekom. Hoekom val die broodjie met die gebotterde kant op die vloer? Hoekom stamp mens jou kleintoontjie en maermerrie op dieselfde dag? Hoekom val jou gunsteling boek in die water? Hoekom spat die olie op jou spierwit hemp? Hoekom val die melk nou juis in die somer in die kar om? Hoekom kry kinders kanker en word plaasboere vermoor en sukkel sekeres om werk te kry en krepeer onderwysers en sterf geliefdes sommer net en …?

Goeie goed gebeur met slegte mense. En die hel/hemel alleen weet hoekom. Hoekom kry die bobbejaan die bevordering? Hoekom verval die idioot se waarborg die dag nà die wasmasjien breek? Hoekom kry die jakkals die laaste gratis koffie van die oggend? Hoekom wen die vabond die lotto? Hoekom trap die narsis die Lego blokkie mis? Hoekom kry die selfsugtige die beste winskopie? Hoekom loop die skurke vry rond en maak die vals evangelis miljoene en kry swak presidente nog ‘n termyn op die boeke en…?

Goed gebeur. Ek wens ek het geweet hoekom. Ek wens ek kon bepaal wat die geboorteplek van elke aksie is en ek wens ek kon dan uitvind hoe om ‘n afspraak met daardie burgemeester te maak. Ek sal puntsgewys kan verduidelik hoekom ek glo hy is korrup, wandel met boeties in baantjies en hoekom hy homself uit die pos moet verwyder. Maar helaas blyk dit ‘n onmoontlike taak te wees.

Ek weet die lewe is nie regverdig nie, maar ek verstaan en aanvaar dit nie elke dag ewe gemaklik nie. Ek snap dat ons nie alles kan beheer nie, maar ek hoef nie van hierdie magteloosheid te hou nie. Ek wil nie my brood aan altwee kante botter nie, want as hy dan val, gaan die resultate my ongetwyfeld ontstel. Ek wil niemand die slegte goed toewens nie, nie eers die slegte mense nie, want ek wil goed wees. Ek wil die balans van my lewe uitsorteer en handhaaf. Miskien kan ek dan ook antwoorde begin verwag op al die hoekoms wat my soms so teister. Hoekom vra ek so baie vrae? Hoekom kan ek nie net ophou dink en analiseer nie? Hoekom kan ek nie ophou soek nie? Hoekom wil ek nie? Miskien sal ek eendag waarlik ten volle ken. Ek moet berus: vir nou is dit net die he(me)l wat weet.

Advertisements

Afwagting

Oor twee dae verjaar ek. Oor 22 dae word my salaris weer betaal. Oor 37 dae begin Ramadan. Oor 72 dae kom Oupa en Ouma vir ons kuier. Oor 88 dae sluit ons skole. Oor 95 dae vlieg ons Sri Lanka toe en oor 101 dae sien ek my boetie, sussie en peetkind in Australië. Baie om na uit te sien.

Terwyl sommiges van een naweek tot die volgende braai leef, is ander besig om tyd tussen vakansies om te wens. Terwyl die siekeboeg in die ouetehuis soos die wagkamer van die hemel lyk, is dit hel. Terwyl armes kwyl oor ‘n aalmoes, ‘n sheikh ongeduldig wag vir sy vierde Ferrari, ‘n predikant smeek vir nog ‘n tiende, ‘n politikus sy tande kners oor ‘n hofsaak, ‘n ma bid tussen chemo-sessies, staan Afwagting en grynslag in die skaduwee. As mens Afwagting net ‘n halwe kansie gee, steel hy maklik en sonder gewete jou lewenslus, energie en tyd.

Ek was, volgens Moeder, maar van kleins af effe ongeduldig. Ek wou nie wag vir Kersfees nie en die ure tussen die tand wat uitval en Muis wat kom kuier, was… wel, soos tande trek. As ek ‘n boek begin lees het, het ek hom selde neergesit voor ek elke woord verslind het. Matriek was vir my te ver en dus het ek reeds die twee voorafgaande jare sekere vakke afgeskryf. Die oomblik wat ek my breingolwe op ‘n stasie gespits het, was ek vasbeslote en hardkoppig om so spoedig as moontlik die uitkoms te bereik. Soos ek ouer geword het, het die ongeduld nie verminder nie, maar nou lyk my wêreld anders.

Die kinders groei eksponensieel te vinnig. Die dag by die skool is besig en in ‘n oogwink verby. Die sjokoladekoek is op voor ek ‘n tweede stukkie vir myself kon sny. Ek wens vir nog ‘n paar uur elke dag. Ek smag na die vermoë om die sekondewyser te laat stilstaan vir so ekstra blaaskans. En toe gebeur iets wonderlik. Ek ontdek ‘n vryheid wat ek nie van geweet het nie.

Die jaar was 2017. Daar was ‘n boek of sestig betrokke. ‘n Paar webjoernale, Faceboekbladsye, YouTube kanale en uiteindelik het die groot oomblik aangebreek: ek het gaan stil staan. Ek het na die kinders gekyk. Nie net om seker te maak hulle is skoon, gevoer of dat daar agter die ore geskrop is nie, maar ek het hulle raakgesien. Ek het die radio afgesit. Nie net om te hoor dat Manlief al weer blah-blah-blah oor gewere en diere en die lewe van ‘n ‘grid’ af nie, maar sodat ek kan luister om te verstaan en nie net luister om te reageer nie. Ek het my rekenaar neergesit en plek gemaak sodat ek “skootkinders” kan geniet. Die dagboek se te-doen-lysie is met tye ignoreer sodat ons kon pannekoek bak, al was dit eintlik tyd vir aandete. In hierdie stilstaan-oomblikke bestaan die afwagting steeds… maar met minder ongeduld en lankal nie meer met ‘n hoofletter nie.

Die salaris wat kom, is nie te versmaai nie, maar ek werk liefs mooi met my geldjies vandag. Ek sien uit daarna om Oupa en Ouma op die lughawe te gaan haal, maar ek mis nie son wat nou nagsê oor die Arabiese golwe nie. Ek is opgewonde oor die Tempel wat ons in Damballah gaan besoek, maar ek koester die klein handjies wat nou my voete kielie met die hoop dat ek sal uitbars van die lag. Ek verlang na my sibbe daar onder en tel die slapies af, maar dit beteken nie ek glimlag minder oor die alledaagse nie. Ek staan stil en streel die afwagting… met ‘n glimlag wat strek tot in my hart.

Minimum

My reis na minimalisme vang spoed. Die laaie in die kombuis huisves die nodige. Die kaste is sinvol sorteer. Die boekrakke kreun nie meer nie.

Wanpersepsie. Misdefiniëring. Want nes tee nie slegs vir pensioenarisse is nie; nes Tassenberg nie net vir suiplappe is nie; nes alle vegetariërs nie beterweterige snippe is nie; nes alle dames nie slegte bestuurders is nie; nes alle Blou Bulle nie vroueslaners is nie; nes alle koeie nie mal is nie; nes alle skoonma’s nie op besems vlieg nie; nes alle Waterkloof-mammas nie snobs is nie… net so is minimalisme vir jare lank verkeerd verstaan.

Ek het in Januarie vanjaar besluit om ligter te leef. Aangesien my gewig vir die laaste paar jaar konstant bogemiddeld gebly het en ek afstand gedoen het van alle wilskrag om gesond te eet of te oefen, het ek my weg oopgesien om die ligter lewe anders te benader. Met flukse vingers Google-loer ek. Ek maak notas, boekmerk webjoernale, luister na TED en lees e-boeke. En toe begin ek my nuwe kennis toepas. Met entoesiasme en ywer stamp die teorie met die praktyk kop. Ek begin weggooi. Ek skenk. Ek herwin. En stadig maar seker word die spasie in my huis meer, soos die onnodige dingetjies minder word. Vir elke nuwe item wat ek koop, moet ek twee van ontslae raak. En skielik is daar minder om skoon te maak. Die tien potjies en salfies en roompies maak plek vir net twee. En skielik word my tyd meer. Ek voel vryer met die wete dat ek kan volkspele doen in die sitkamer sonder om potjies en glasies en vasies om te stamp.

Ek is nog nie klaar nie. Daar is nog kratte met sentiment in die waskamer. Daar is nog gebreekte juwele wat stories vertel. Daar is nog boeke met koffievlekke wat getuig van my lewensreis. Foto’s teen die mure, magnete teen die yskas, babakombersies waarin my kinders toegedraai was en allerlei kaggelkakkies wat oksimoronies waardeloos en waardevol is. Maar my reis na minimalisme maak my wyser. Slimmer. Meer gefokus. Ek definieer my geluk nie meer deur die materiële nie. Inkopieterapie is onnodig, want ek lag oor ervaring. Ek maak gedagtes en herinneringe bymekaar en nie besittings nie. Ek leer myself nou van binne ken. En ek klou verbete vas aan die wete:

Minder is meer.