Vrede

Ek het nie die pos gekry waarvoor ek aansoek gedoen het nie. Almal sê hulle is jammer oor die onregverdigheid.

Ek was die slagoffer van twee mense se gillende, skreeuende angsaanvalle. Almal sê ek moet ‘n klag gaan lê teen die bobbejaan.

Ek kon nie die woonstel koop wat ek wou hê nie. Almal sê dit gebeur vir ‘n rede.

My gunsteling sjokolade is uitverkoop. Almal sê dis ‘n teken.

Ek vergeet van die eiers wat op die gasstoof kook en ‘n ontploffing verf die mure en plafon met onwelriekende spatsels van geel en wit. Gister was inderdaad ‘n besondere kak dag.

Of so het ek gedink. Ek wag eintlik steeds vir die teleurstelling om in te skop. Ek het nog nie dramaties inmekaargesak nie. Ek het nog nie gehuil nie. Ek het nog nie onbevoegd gevoel nie en ek het myself nog nie jammer gekry nie.

Ek het vanoggend opgestaan met ‘n ligter gemoed. Ek verstaan dit nie. Ek probeer agter die kap van die byl kom. Hoekom voel ek verlig oor die pos wat nie myne is nie? Hoekom voel ek minder gespanne oor die woonstel nou in iemand anders se naam geregistreer gaan word? Hoekom is ek eintlik dankbaar dat ek nie myself kon verloor in suiker nie? En hoekom kan ek nie ophou lag oor my eier-kombuis nie? Is die histerie opgebottel en onderdruk? Gaan ek op ‘n onmoontlike tyd my varkies verloor? En is dit wettig om in die Moslem-land varkies aan te hou? Ek wonder oor hoekom my bloeddruk nog normaal is. My speelgoed is nog almal in die kot. Ek wag vir die opborrel en oorloop van emosies oor die dinge wat ek nie kan verander nie. Maar dis nou byna 24 uur later en ek glimlag steeds in die lig.

 

Ek het nie misluk nie. Ek het nogal baie geleer oor politiek en die manne-wereld van bevordering en selfs die agter-die-skerms van ‘n sisteem vol gate. Ek het geleer dat ek nie in beheer is van alles nie en dat alles nie oor my gaan nie. Hierdie is iemand anders se tyd om te skyn. Ek gee hom die handdruk en wens hom opregte wense van voorspoed toe.

Ek sal nie terug skree nie. Ek het in die laaste paar jaar ongelooflik gefokus op my innerlike krag en ek voel goed dat ek nie oorgegee het aan my (tipiese kort) humeur nie. Selfs toe ‘n vinger tot hier onder my neus gedruk is, het ek net gekyk. Waargeneem. Ek het gesien hoe lyk ‘n swak selfbeeld en onsekerheid en ek was dankbaar dat ek nie meer daar is nie. In kalmte vind ‘n e-pos van “ek is jammer oor my optrede, jy was reg” sy weg tot in my inbussie vanoggend. My glimlag vorder vanuit my mou tot in my hart.

Ek is nie spyt nie. Die eiendomsmark is opwindend en geen kontinent se wetgewing is dieselfde nie. Al was ek nie van plan om daar te gaan woon nie, is die huurinkomste dus ook nie bedoel om my inkomste aan te vul nie. Die energie was vir iemand se beursie bedoel. Ek knik my kop en stuur positiewe energie in hul rigting.

Ek het nie verloor nie. In ‘n tyd waar ek regtig probeer om gesonder te leef het die heelal my eintlik ‘n guns gedoen deur seker te maak ek kan myself nie oorgee aan suiker in romerige kakao-vorm nie. Ek is dankbaar dat ek op my selfdissipline kon staatmaak en nie ingegee het deur iets anders te koop nie. Ek voel so klein bietjie trots op myself.

Ek het nie meer ‘n vuil kombuis nie. Na al die eier afgewas is, is my kaste weer skoon, blink die stoof en yskas weer en het ek sommer van twee sakkies vol onnodighede ontslae geraak. Elke pot het ‘n deksel en die messe rus weer langs die vurke.

 

Ek het verander. Vyf jaar gelede sou ‘n dag soos gister my verpletter het. Ek sou onder komberse gaan skuil het en sommer ‘n dubbeldosis depressiepille gesluk het. Ek sou my hartjie uitgehuil het en eers drie dae later weer die energie gehad het om op te staan en die wêreld in die oë te kyk.

Maar hier sit ek en glimlag. Ek teug aan my gemmer en heuning tee; sien die son sak oor die see en ek koester die rustigheid in my binneste. Op die weg van my minimalistiese reis, is ek nou ook ontslae van ‘n veeleisende werkslading, slapelose nagte oor ander se opinies, massas papierwerk, finansiering en die skuldgevoel van suiker. Daar is tot ses minder eiers in my yskas. Ek lewe ligter. In vrede. Met ‘n glimlag.

Wat ‘n voorreg.

Advertisements

7 thoughts on “Vrede

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s