Die Klip

Ek het hierdie ongelooflike klip wat ek vir die laaste paar weke in my maag saamdra. Nee, ek is nie hardlywig nie en nee, ek is nie siek nie. Wel, nie fisies nie in elk geval. Ek vermoed ek het geestelike verkoue. Of dalk is dit emosionele virusinfeksie. Iets is fout. Ek is moeg. Alledaagse vrae word herkou en dieselfde antwoorde word oor en oor en oor uitgespoeg. Ek gooi ‘n klip in die bos:

Ek stap by ons personeelkamer in en na ’n paar minute van ditjies en datjies uitruil, kyk ek die Wetenskapjuffrou in die oë en vra: “Wat maak jou opgewonde?”

Sy het nie kans gehad om die skok te verbloem nie. Dit was op haar voorkop en langs haar mondhoeke voordat sy dit kon keer. Die frons het dieper geword soos sy begin dink het aan die “regte antwoord”. Ek help haar reg…

“Nee, ek wil nie weet of jy van ’n sonsondergang hou of nie… ek wil weet wat maak JOU opgewonde? Wat is jou passie? Wat laat jou glimlag as jy dit doen?”

Die vraag veroorsaak stilte in die vertrek. Almal dink. En toe die skok: niemand het eintlik ’n antwoord nie. Ons is almal onderwysers wat vergeet het dat daar ’n lewe buite die skool is. Verwyder van jou familie en al die moets en moenies wat die samelewing daargestel het. Die klip in my maag is nou al ’n rotsformasie.

My navorsing is nie klaar nie. Ek stuur ’n paar selektiewe boodskappe. “Wat laat jou na jou asem snak?” ; “Wat maak jou opgewonde?”; “Wat is jou passie?”.

Ek haal al hoe vlakker asem. My hart klop vinnig. Ek voel ongemaklik. Ek weet ek gaan nie vanaand kan slaap nie, want hierdie vraag druk op my bors dat ek voel soos ’n asma-lyer in ’n stofstorm. Ons het geen tekortkoming nie. Ons is gesond, gelukkig, geseënd. Maar ons is vasgevang in die worsmasjien van oorlewing met bitter beperkte kennis van lewe.

Toe nie. Daar is hoop. Want van alle uithoeke van ons aarde, kom die antwoorde op my selfoonskerm. Selfversekerde antwoorde, sonder skaamte, skroom of selfverwyt. En die berg in my binneste is terug na bult-status (dit mag natuurlik ook die twee stukke kaaskoek, een oliebol en halwe liter waatlemoensap wees wat die bult maak, maar dis nie nou ter sprake nie*). Ek weet nie wat die antwoord is nie. Iemand het gevra wat die sin van my lewe is. ’n Ander vriendin voel ook die eksistensiële angs. Ek haal weer stadiger asem. Ek hoef nie al hierdie dinge dadelik te weet nie, want niemand van ons kom met ’n handleiding nie. Maar my vermoede is wel bevestig… ek het my mense nodig. Die mense wat sonder aarseling my vrae beantwoord. Die vriendinne wat erken “ek weet nie” laat my minder eensaam voel, die res gee my ongelooflike hoop. Ek kan van al die onnodige penne in my laai ontslae raak. Ek kan die plastiekbakkies sonder deksels weggooi. Ek kan die twaalf roompies op die badkamerkas verminder na twee. Maar al sien ek julle min, al praat ons nie almal daagliks met mekaar nie, al verloor ons soms ritme met mekaar se lewens… ek sal eenvoudig nie kan minimaliseer as dit by my mense kom nie. Want julle… julle help dra aan die klip. Al is hy in my binneste… nee, VERAL as hy in my binneste is.

 

* Ek dink ek verwar herhaaldelik die klip-in-my-maag-gevoel met hongerte.

Advertisements

5 thoughts on “Die Klip

  1. Menz ervaar ook op hierdie stadium in menz se lewe ‘n eksistensiële bestaanskrisis. En probeer eet tot menz beter voel: partykeer werk dit, ander kere nie.

    Sterkte.

  2. Ek is maar eenvoudig suster.
    Ek raak opgewonde as:
    Die ring losknip en lig van die perfekte kaaskoek
    Die kerrie trane van blydskap in my oë bring
    Skoonma my resep vra
    Ek die gaping in die baan voor my tot ‘n kwart taxi kan beperk
    Die pasaangeer wegtrek met die 1812 overture hier in my ribbes

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s