Stempel

Die nuwe skooljaar het begin. Na sewe weke van somervakansie, is ons terug in die woestyn. Die mikrofoon in die skoolsaal, word van een middeljarige krisis (ekskuus, bestuurder) na ‘n volgende aangegee. Ons moet deur vergaderings worstel waar alles aan ons verduidelik word: van boeke merk tot registers invul. Ek sug so diep, satan groet my byna met die hand. Ek moet teken vir ‘n kinderbeskermingsbeleid en ‘n sekuriteitsnota en dat ek weet wat om te doen as daar ‘n brand uitbreek. Daar word papiere oor dissipline, kurrikulumveranderinge en uitslae versprei. Ek rol my oë so hard, dat ek sweer die aarde draai effens terug en ek verloor ‘n fase in my lewe.

Teen die einde van die dag, net toe ek voel ek kan nie na nog een verwelkoming luister nie, word ‘n motiveringspreker aan ons voorgestel. Aangeskrewe, gekwalifiseerd en met ‘n rits erkennings agter sy naam. Die tema? Watter stempel gaan jy afdruk?

Daar word gebla-bla-bla oor die impak wat onderwysers op leerlinge het. Daar word met ernstige oortuiging beklemtoon hoe belangrik ons rol in die skepping en vorming van ‘n nuwe generasie is. Ons is stempels wat indrukke maak. Ons moet dus ons woorde tel, ons kyke afwater en rustig raak met die rooipen. Ons leuse vir die jaar moet lui: wat is jou stempel? Ek frons so dramaties, dat die adjunkhoof vra of ek orraait is.

Die metafoor van ‘n stempel klink dalk oulik en kreatief, maar die feit dat niemand besef hoe aaklig en beperkend dit is nie, maak my bang. Ek bewe innerlik van vrees. ‘n Stempel wat uit rubber gesny is, is ‘n permanente vorm. So gemaak, so laat staan. Ek is dit beslis nie. Ek wil dit ook nie wees nie. Ek is mens. Ek verander. Ek vervorm. Ek maak foute. Ek vra verskoning. Ek probeer weer. Ek gesels. Ek het opinies van my eie. My opinies verander. ‘n Stempel het nie daardie vaardigheid nie.

 

Hoekom wil ons onderwysers as stempels klassifiseer? Is die kurrikulum dan die ink? En die kinders die papier? Is hierdie nie ‘n resep vir ‘n gemors nie? Is daar geen beweegruimte vir nuwe vorms en patrone nie? Is daar nie ‘n manier wat ons tegnologie kan gebruik en sommer so die omgewing ook kan spaar nie? Maar stempels werk seker nie op ‘n tablet nie? En hoekom vra niemand hierdie vrae nie?

Die nuwe skooljaar het begin. Ek gaan met ‘n oop gemoed my klaskamer in. Ek glimlag, want ek is dankbaar ek is soveel meer as net ‘n gewone, gestandariseerde, eenvoudige, vervelige stempel. Ek sal aanhou verander tot iemand my doodsertifikaat… wel, stempel.

Advertisements