Fortnite

Fortnite het ons huis oorgeneem. Ek is uit die gesin gewerp. In my stil hoekie sit ek nou en lees, terwyl Manlief en Kinders voor televisies sit en guerilla-oorlog voer. Ek erken sonder skroom dat ek nie eintlik die speletjie verstaan nie. Dat dit soortgelyk aan Hunger Games is, snap ek. Dat dit ‘n aanlyn-speletjie is wat die ganse wêreld op hol het, begryp ek ook. Tog sit ek stomverbaas en kyk hoe my sesjarige se vingers oor knoppies gly en hy behendig ‘n mannetjie met ‘n hond op sy rug deur die lug abba, tot op ‘n eiland… waar hy dan bome afkap, ‘n huisie bou, wapens versamel, pleisters plak en ja, probeer om ander uit te moor.

Fortnite is tans die gewildste aanlynspeletjie beskikbaar. Ongeveer 80 miljoen mense teken maandeliks aan om deel te neem aan hierdie “laaste persoon wat oorleef wen al die eer” geskietery. Ninja, Bizzle en allerhande ander vreemde knapies maak derduisende dollars elke maand deur hul spelpatrone te deel. My mond hang oop.

Ek het dramaties geskop teen Fortnite se installering. Hoe kan ek toelaat dat my ses- en agtjarige kinders blootgestel word aan vreemdelinge van regoor die ronde aarde heen? Dit kweek sekerlik geweld aan? En elke sielkundige waarsku mos teen skermtyd… die negatiewe effek op breinontwikkeling en stremming van kreatiwiteit en blah, blah, blah.

 

Eintlik het elke generasie maar sy eie “Fortnite” opgelewer. Daar was ‘n tyd toe dans sonde was. Die televisie was ‘n eenoogmonster wat in talle huise verban was. Elvis was die duiwel in ‘n stywe wit broek. En ouers het na Bybels gegryp soos dagga ‘n vrye era van hippies uitgerook het. As kind het ek my ouers laat sug, want al wat ek wou doen is lees. In 2018 sit ons met die aanlyn-dilemma van vermaak. Kinders word tydens geboorte al uitgereik met ‘n e-pos adres, digitale voetspoor, simkaart en tablet. Hulle duime is flink oor raakskerms en ek voel soos ‘n fossiel as hulle my vertel van alles wat hulle skep en vermag in speletjies soos MineCraft en LegoCreator. Ek sukkel om my skok weg te steek as hulle vir my die mini-reekse wys wat hulle skep deur “stop-start-motion” foto’s na mekaar te speel. Onge-friekin-looflik.

Nou kyk, my innerlike pensioenaris wil daagliks halt roep. My moedersinstink wil saam Johannes skree: “sit dit af! sit dit af!” Tog loer ek na my drie mense wat soos eendjies op ‘n ry sit. Daar word gesels en redeneer oor strategieë. Daar word reëls gemaak, terme word verklaar, voorwaardes word gestel en regulasies van regverdigheid word stipuleer. Alle huiswerk is afgehandel. Die kombuis is skoon. Die wasgoed is weggepak. Want my reël is eenvoudig: doen eers jou pligte, alvorens jy plesiere kan geniet. En dit werk. Beter as een van daai bomme wat jy tussen die bome in die Fortnite-woud kan plant.

Ek beperk die tyd. Manlief monitor saam wie daar gespeel word. Alles geskied onder toesig. En al neem ek nie aktief deel in hierdie sirkus nie, beskou ek dit tog as kosbare familietyd. Die probleemoplossingsvaardighede wat hulle ontwikkel is eintlik noemenswaardig. Die woordeskat wat hul opbou is indrukwekkend. Die vlytige vingers maak my eie koördinasie groen van jaloesie. En die kreatiewe kwinkslae van uitrustings, kleure, gesegdes en selfs wapenkeuses laat my spontaan glimlag.

Tegnologie laat nie duiwels los nie. So ook nie Elvis, boeke, langspeelplate of selfs daggakoekies nie. Onbetrokke ouers en kinders wat aan hul eie genade oorgelaat word, is waar die moeilikheid begin. Dink ek. Of dalk is dit maar net hoe ek my eie gewete sus.

Advertisements

Aambei

Ek kan met dankbare agterstewe getuig dat ek nog nooit aambeie gehad het nie. Deur twee swangerskappe is ek genadiglik die ongemak gespaar. Dis nou maar een van daardie stukkies inligting wat niemand se lewe noodwendig sal verryk nie. Ek gaan nie wêreldvrede bewerkstellig of ‘n multimiljoenrand losprys losslaan vir hierdie brokkie nuus nie. Dalk is dit omdat ek nie daarvan hou om op koue vloere te sit nie. En my ma het van kleins af gewaarsku om nie te lank enigiets te “knyp” nie. Sy het ons ook gereeld ‘n lepel Engelse sout gevoer. Ek het ook nooit met nat hare gaan slaap of net na ete in ‘n swembad gespring nie. Dalk werk die Boere se rate regtig?

 

Aangesien ek nie uit persoonlike ervaring kan skryf nie, wend ek myself maar na prof. Google, ‘n paar vriendinne se getuigskrifte en ‘n stowwerige mediese boek in die skoolbiblioteek. Na ‘n paar minute van intense gril en probeer wegkyk, begin ek egter ‘n paar ooreenkomste tussen aambeie en mense raaksien.

 

In die personeelkamer sit ‘n man wat (sonder ‘n vreeslike verbeelding) soos ‘n geswolle aartjie in iemand se rektum lyk… en die prentjie is allermins aansienlik. Sy hare is olierig. Hy stink na die kroeg waar hy vier dae gelede was en op sy blou hemp is kolle en verharde, ou kos. Gulsig prop hy nog ‘n stukkie koue pizza in sy mond. “Daar is muf onderaan die pizza” waarsku ‘n mede-toeskouer hom. “O” knik hy met ‘n vol mond, krap dit met ‘n geel vingernael af en eet verder. Sy broek se soom is verby uitrafel en die skoene is muwwer as sy pizza. Ek weet wat sy salaris is, want hy sê dit gereeld. Ek weet watter voertuig hy ry, want hy parkeer soos ‘n kleuter inkleur: nie tussen die lyne nie. Hy vloek tot ver bo die knieg en as hy lag, spat daar altyd sulke klein spatsels spoeg deur die lug. Hy is in beheer van die skoolbusse en ek is elke keer as ek hom sien, verlig dat hy selde direk met skoolkinders in aanraking kom.

Interne aambeie kan mens nie sien of voel nie. Die enigste teken dat hulle wel bestaan, is as jy bloed in die bak bespeur. Alhoewel hulle selde dodelik is, veroorsaak hulle ongemak. Skynheilig staan hulle ook in groepe, soos druiwetrosse, rond. Hulle skinder oor ander se doen en late. Vermetel word een kollega uitgejou oor hy die derde keer laat is, maar niemand weet sy vrou het terminale longkanker nie. Of dat hy nou verantwoordelik is vir drie klein seuntjies, almal onder 9 jaar oud. Hulle sê hul vriende sleg. Daar word vergelykings getref tussen bedwelmde prostitute en die mense by wie hulle Kersfees gaan eet.  My hart ruk as ek hoor hoe ‘n onderwyser ‘n tienerdogter met aknee wegwys van drama-oudisies, want sy moet eers haar gesig gaan uitsorteer. Die wreedheid van hierdie groep gegradueerdes wil my kop laat bars… soos ‘n aar.

 

Blykbaar kan mens aambeie ontwikkel as jy te lank op die troon sit. (Iets wat ek regtig graag met erns aan my manlief wil oordra, maar nou ja.) Die hewige drukking om die anale opening, kan bloedvaatjies laat swel en daar sit dit dan: die uitwendige ongemak. Emosioneel is dit ook so: hoe langer jy oor ‘n stront-saak tob, hoe meer ondraaglik raak die gevolge. In meeste gevalle, genees tyd ook hierdie wond, maar dikwels word die situasie vererger as mens karring. ‘n Verbrokkelde verhouding is dit: verby. Laat gaan nou maar die eks in vrede. Wraaksug het niemand nog ooit in die hemel laat beland nie.

 

Aambeie kan maklik tuis behandel word: eet meer vesel, drink baie water, moenie te lank sit nie, los maar die swaar goed wat opgetel moet word nog ‘n rukkie op die vloer en  maak seker jy vee mooi skoon. Goed, die laaste een verhoed of verlig dalk nie aambeie nie, maar ek voel tog dis ‘n publieke diens en/of waardevolle les wat ek hier kan lewer.

So staan die saak dan nou: ek het nog nooit aambeie gehad nie. Fisies. My emosionele welstand kan egter nie van hierdie geluk getuig nie. Iewers in my psige word ‘n derm uitgeryg oor die sotlikheid van die mensdom. Ek probeer minder tyd op die troon-trein van hul negatiwiteit spandeer. Ek drink die glimlagte van vriendelikes soos water en met die hulp van meditasie maak ek my vesels los van sleg mense. Ek sien hulle nog orals: sfinkter-slawe, rektum-ridders, pleinweg poepholle… die aambeie van ons samelewing. My enigste hoop is dat die goeie sal oorwin. Dat die gesondheid van die groter lyf, die drek uiteindelik sal uitskei. Anders gaan ons nageslagte poep van pyn.

Oorwinning

Histerie bars los. Hester is ’n swak ma wat geen respek het vir haarself, haar lyf of haar kind nie. Hester weet niks van sosiale etiket nie en is ’n dom blaps wat simpel foto’s op sosiale media versprei. Hester het seker tien tattoes, verf haar naels blou en dra ’n goue ring aan haar toon, want dit is wat goedkoop vrouens doen. Hester maak die Afrikaners se naam sleg. Ek lees hierdie wreedhede raak in die kommentaar van Hester se foto. Die foto waar sy haar seuntjie van drie maande borsvoed in die Wimpy. Geen obskure naaktheid kan in die foto waargeneem word nie. Tog is die mense histeries. Al het Hester haar seuntjie gister begrawe en is dit die laaste foto wat van klein JP geneem is. 

Woede is in die lug. Karien is ’n lui vrou wat moet gaan werk soek en minder tyd op Facebook spandeer. Karien moet haar huis skoonmaak, want daar staan dan bokse oral rond. Karien moet liewer nie weer by McDonalds vir haar koeldrank koop nie, want daar is baie suiker in Coke. En die plastiekstrooitjies maak seeskilpaaide dood. Karien moet ligter oogskadu dra, want die pienk laat haar oud lyk. Karien moet ook weet dat uitgegroeide wortels op ’n gekleurde kop, baie kommin is. Hierdie dinge word ek wys soos ek deur die kommentaar op Karien se plasing lees. Maar Karien se man het nou ook sy werk verloor en al wat sy vra is of iemand nie weet van werk wat sy sal kan doen nie. Hulle het 25 dae voor hulle uitgesit word en sy weet nie waar hulle dan gaan slaap nie. 

Haat doen die rondte. Jaco is ’n poephol want hy weet nie hoe om te spel nie. Jaco is ’n treurige vroueslaner wat nie die eerste ding weet van hoe om ’n ware man te wees nie. Jaco het sy sekretaresse gegaffel as sy vrou kerk toe is met die seuns. Jaco moet leer dat jy nie bruin skoene saam met ’n swart broek dra nie en dat Crocs lankal uit die mode is (nie dat dit ooit regtig was nie). Jaco moet ophou inteken elke keer as hy en sy pelle iets gaan drink na werk, niemand stel tog belang in sy sosiale lewe nie. Die kommentaar word na 314 aanslae afgeskakel en die oorspronklike vraag word uitgewis: “Ken iemant dalk ’n goeie prokireer? My vrou het wegeloop en sy wyer dat ek my kindirs sien. Assiblief help met iemant wat verwyssings het.” 

My hart rol rond in my binneste. Ek is verwoed op soek na menslikheid. Wat gaan aan? Hoekom kan ons nie meer vrae beantwoord nie? Hoekom is kritiek en oordeel ons instinktiewe reaksie? Ek het drie ure gehad. En in drie ure het het 1283 boodskappe gestuur. Persoonlike boodskappe aan kommentators. Ek wil weet hoe kry hulle dit reg om perfekte lewens te skep waar dood en armoede en hartseer nie vatplek kry nie. Ek wil weet hoekom hulle dink dat ’n perfekte lewe hulle die reg gee om wreed te wees teenoor iemand wat hul nie ken nie. En ek wil weet of hulle trots is op hulself? Party het reageer. Ander het my geblok. Maar al kon ek net een persoon laat twyfel… al kon ek net een persoon laat dink… dan was my drie ure nie tydmors nie. Ek sal nie langer stilbly   nie. 

Ek is moeg… nee, nie moeg nie, GATVOL vir histerie en woede en haat oor simpel goed. Word histeries oor kinderverkragting. Word woedend oor plaasaanvalle. Haat spinasie. Maar om hemelsnaam, reik uit na jou medemens in nood. Moenie iets wat reeds stukkend is, verder vertrap nie. Kom ons los die hel vir die hiernamaals en maak oomblikke van hemel moontlik. Vir die volgende ses ure gaan ek nog boodskappe stuur. Maar hierdie keer gaan ek “sterkte” en “voorspoed” en “ek stuur vir jou positiewe krag” tik. Vir elke negatiewe gedagte, sal ek tien die kosmos instuur. Die goeie sal oorwin. Dit moet net.