Aambei

Ek kan met dankbare agterstewe getuig dat ek nog nooit aambeie gehad het nie. Deur twee swangerskappe is ek genadiglik die ongemak gespaar. Dis nou maar een van daardie stukkies inligting wat niemand se lewe noodwendig sal verryk nie. Ek gaan nie wêreldvrede bewerkstellig of ‘n multimiljoenrand losprys losslaan vir hierdie brokkie nuus nie. Dalk is dit omdat ek nie daarvan hou om op koue vloere te sit nie. En my ma het van kleins af gewaarsku om nie te lank enigiets te “knyp” nie. Sy het ons ook gereeld ‘n lepel Engelse sout gevoer. Ek het ook nooit met nat hare gaan slaap of net na ete in ‘n swembad gespring nie. Dalk werk die Boere se rate regtig?

 

Aangesien ek nie uit persoonlike ervaring kan skryf nie, wend ek myself maar na prof. Google, ‘n paar vriendinne se getuigskrifte en ‘n stowwerige mediese boek in die skoolbiblioteek. Na ‘n paar minute van intense gril en probeer wegkyk, begin ek egter ‘n paar ooreenkomste tussen aambeie en mense raaksien.

 

In die personeelkamer sit ‘n man wat (sonder ‘n vreeslike verbeelding) soos ‘n geswolle aartjie in iemand se rektum lyk… en die prentjie is allermins aansienlik. Sy hare is olierig. Hy stink na die kroeg waar hy vier dae gelede was en op sy blou hemp is kolle en verharde, ou kos. Gulsig prop hy nog ‘n stukkie koue pizza in sy mond. “Daar is muf onderaan die pizza” waarsku ‘n mede-toeskouer hom. “O” knik hy met ‘n vol mond, krap dit met ‘n geel vingernael af en eet verder. Sy broek se soom is verby uitrafel en die skoene is muwwer as sy pizza. Ek weet wat sy salaris is, want hy sê dit gereeld. Ek weet watter voertuig hy ry, want hy parkeer soos ‘n kleuter inkleur: nie tussen die lyne nie. Hy vloek tot ver bo die knieg en as hy lag, spat daar altyd sulke klein spatsels spoeg deur die lug. Hy is in beheer van die skoolbusse en ek is elke keer as ek hom sien, verlig dat hy selde direk met skoolkinders in aanraking kom.

Interne aambeie kan mens nie sien of voel nie. Die enigste teken dat hulle wel bestaan, is as jy bloed in die bak bespeur. Alhoewel hulle selde dodelik is, veroorsaak hulle ongemak. Skynheilig staan hulle ook in groepe, soos druiwetrosse, rond. Hulle skinder oor ander se doen en late. Vermetel word een kollega uitgejou oor hy die derde keer laat is, maar niemand weet sy vrou het terminale longkanker nie. Of dat hy nou verantwoordelik is vir drie klein seuntjies, almal onder 9 jaar oud. Hulle sê hul vriende sleg. Daar word vergelykings getref tussen bedwelmde prostitute en die mense by wie hulle Kersfees gaan eet.  My hart ruk as ek hoor hoe ‘n onderwyser ‘n tienerdogter met aknee wegwys van drama-oudisies, want sy moet eers haar gesig gaan uitsorteer. Die wreedheid van hierdie groep gegradueerdes wil my kop laat bars… soos ‘n aar.

 

Blykbaar kan mens aambeie ontwikkel as jy te lank op die troon sit. (Iets wat ek regtig graag met erns aan my manlief wil oordra, maar nou ja.) Die hewige drukking om die anale opening, kan bloedvaatjies laat swel en daar sit dit dan: die uitwendige ongemak. Emosioneel is dit ook so: hoe langer jy oor ‘n stront-saak tob, hoe meer ondraaglik raak die gevolge. In meeste gevalle, genees tyd ook hierdie wond, maar dikwels word die situasie vererger as mens karring. ‘n Verbrokkelde verhouding is dit: verby. Laat gaan nou maar die eks in vrede. Wraaksug het niemand nog ooit in die hemel laat beland nie.

 

Aambeie kan maklik tuis behandel word: eet meer vesel, drink baie water, moenie te lank sit nie, los maar die swaar goed wat opgetel moet word nog ‘n rukkie op die vloer en  maak seker jy vee mooi skoon. Goed, die laaste een verhoed of verlig dalk nie aambeie nie, maar ek voel tog dis ‘n publieke diens en/of waardevolle les wat ek hier kan lewer.

So staan die saak dan nou: ek het nog nooit aambeie gehad nie. Fisies. My emosionele welstand kan egter nie van hierdie geluk getuig nie. Iewers in my psige word ‘n derm uitgeryg oor die sotlikheid van die mensdom. Ek probeer minder tyd op die troon-trein van hul negatiwiteit spandeer. Ek drink die glimlagte van vriendelikes soos water en met die hulp van meditasie maak ek my vesels los van sleg mense. Ek sien hulle nog orals: sfinkter-slawe, rektum-ridders, pleinweg poepholle… die aambeie van ons samelewing. My enigste hoop is dat die goeie sal oorwin. Dat die gesondheid van die groter lyf, die drek uiteindelik sal uitskei. Anders gaan ons nageslagte poep van pyn.

Advertisements

10 thoughts on “Aambei

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s