Fortnite

Fortnite het ons huis oorgeneem. Ek is uit die gesin gewerp. In my stil hoekie sit ek nou en lees, terwyl Manlief en Kinders voor televisies sit en guerilla-oorlog voer. Ek erken sonder skroom dat ek nie eintlik die speletjie verstaan nie. Dat dit soortgelyk aan Hunger Games is, snap ek. Dat dit ‘n aanlyn-speletjie is wat die ganse wêreld op hol het, begryp ek ook. Tog sit ek stomverbaas en kyk hoe my sesjarige se vingers oor knoppies gly en hy behendig ‘n mannetjie met ‘n hond op sy rug deur die lug abba, tot op ‘n eiland… waar hy dan bome afkap, ‘n huisie bou, wapens versamel, pleisters plak en ja, probeer om ander uit te moor.

Fortnite is tans die gewildste aanlynspeletjie beskikbaar. Ongeveer 80 miljoen mense teken maandeliks aan om deel te neem aan hierdie “laaste persoon wat oorleef wen al die eer” geskietery. Ninja, Bizzle en allerhande ander vreemde knapies maak derduisende dollars elke maand deur hul spelpatrone te deel. My mond hang oop.

Ek het dramaties geskop teen Fortnite se installering. Hoe kan ek toelaat dat my ses- en agtjarige kinders blootgestel word aan vreemdelinge van regoor die ronde aarde heen? Dit kweek sekerlik geweld aan? En elke sielkundige waarsku mos teen skermtyd… die negatiewe effek op breinontwikkeling en stremming van kreatiwiteit en blah, blah, blah.

 

Eintlik het elke generasie maar sy eie “Fortnite” opgelewer. Daar was ‘n tyd toe dans sonde was. Die televisie was ‘n eenoogmonster wat in talle huise verban was. Elvis was die duiwel in ‘n stywe wit broek. En ouers het na Bybels gegryp soos dagga ‘n vrye era van hippies uitgerook het. As kind het ek my ouers laat sug, want al wat ek wou doen is lees. In 2018 sit ons met die aanlyn-dilemma van vermaak. Kinders word tydens geboorte al uitgereik met ‘n e-pos adres, digitale voetspoor, simkaart en tablet. Hulle duime is flink oor raakskerms en ek voel soos ‘n fossiel as hulle my vertel van alles wat hulle skep en vermag in speletjies soos MineCraft en LegoCreator. Ek sukkel om my skok weg te steek as hulle vir my die mini-reekse wys wat hulle skep deur “stop-start-motion” foto’s na mekaar te speel. Onge-friekin-looflik.

Nou kyk, my innerlike pensioenaris wil daagliks halt roep. My moedersinstink wil saam Johannes skree: “sit dit af! sit dit af!” Tog loer ek na my drie mense wat soos eendjies op ‘n ry sit. Daar word gesels en redeneer oor strategieë. Daar word reëls gemaak, terme word verklaar, voorwaardes word gestel en regulasies van regverdigheid word stipuleer. Alle huiswerk is afgehandel. Die kombuis is skoon. Die wasgoed is weggepak. Want my reël is eenvoudig: doen eers jou pligte, alvorens jy plesiere kan geniet. En dit werk. Beter as een van daai bomme wat jy tussen die bome in die Fortnite-woud kan plant.

Ek beperk die tyd. Manlief monitor saam wie daar gespeel word. Alles geskied onder toesig. En al neem ek nie aktief deel in hierdie sirkus nie, beskou ek dit tog as kosbare familietyd. Die probleemoplossingsvaardighede wat hulle ontwikkel is eintlik noemenswaardig. Die woordeskat wat hul opbou is indrukwekkend. Die vlytige vingers maak my eie koördinasie groen van jaloesie. En die kreatiewe kwinkslae van uitrustings, kleure, gesegdes en selfs wapenkeuses laat my spontaan glimlag.

Tegnologie laat nie duiwels los nie. So ook nie Elvis, boeke, langspeelplate of selfs daggakoekies nie. Onbetrokke ouers en kinders wat aan hul eie genade oorgelaat word, is waar die moeilikheid begin. Dink ek. Of dalk is dit maar net hoe ek my eie gewete sus.

5 thoughts on “Fortnite

  1. Dit was nou ‘n lekker lees!! Dis kraakvars om te lees van mense wie se kinders ook speel vir die lekker en nie in skuldgevoel gedoop en diepgebraai te word nie!
    Publiseer jy dalk ook op fb? Ek is vreeslik sleg met epos en is bang ek mis iets!!

  2. Fantastiese stuk! Dis ook ‘n fees om vir seuns skool te hou as onderwyser en jy integreer Of gebruik fortnite as onderwerp. Ek dink ek gaan bietjie ondersoek instel oor die speletjie.

  3. Ek dink jy is heeltemal reg…ouers moenie kinders weerhou van sulke goed nie, want hulle gaan iewers anders dit opsoek en dan het jy geen beheer daaroor nie.Saamdoen en monitor,is die wagwoorde.

Lewer kommentaar op Anoniem Kanselleer antwoord