Kopieër

Ek het altyd my oë kliphard gerol as mense na die “goeie ou dae” verwys. Tog hunker ek vandag na ‘n eenvoudiger tyd. ‘n Tyd voor sosiale media van goeie mense boewe gemaak het.

Sien, my skrywe van POEIERHOLLE (Kopiereg Chantelle De Wet) word nou weer wyd en Suid versprei, onder die name van vreemdelinge wat weet hoe om te “copy en paste” en duidelik nie weet wat kopiereg beteken nie. Nou sien ek dieselfde kopiekroek het ook van my ander skrywes (Kopiereg Chantelle De Wet) begin oorplant op haar muur. In haar tuin van onkruid, onkreatiwiteit en onlus.

Nou kyk, ek maak nie geld met enige Slaai of Blaar nie. Dis nie my brood en botter nie. Maar elke letter wat my sleutelbord kraam… elke woord wat sin word… elke sin wat groei tot ‘n paragraaf… hulle is my breinbabas (Kopiereg Chantelle De Wet). Alhoewel my breinbabas deur my vlerke gegun word en op gratis platvorms versprei word, dink ek tog daar is ‘n menslike behoefte aan erkenning. Ek vra nie dat iemand palmblare voor my neerlê nie. Ek vra nie dat iemand sy eersgebore vir my offer nie. Ek wil nie jou pinkode hê nie. Ek verwag nie komplimente of klieks nie. Maar ek het regtig gedink dit is net goeie maniere om darem die skrywer op die naam te noem as jy pittige idees wil deel (Kopiereg Chantelle De Wet).

 

Ek verstaan ons is nie almal ewe woordvaardig nie. Ek begryp dat ons nie almal ewe begaafd is met die pen nie. Ek knik my kop dat mense wel in die lekker van ons taal wil deel. Maar die hemel hoor my, is ons so gebreinspoel met die idee van populariteit dat ons nie eers die son oor iemand anders wil laat skyn nie? (Kopiereg Chantelle De Wet).

Ek verpes dat skrywers nou gedwing word om hul naam oral in die middel van skrywes in te druk, net sodat kopieërende-kakkoppe, darem woord vir woord self moet lees om my naam uit te vee, voor hulle die skrywe as hul eie deel.

 

Ek wil nie my tyd en energie mors nie. Ek wil net skryf. Vir die ontvlugting, vir die lekker en natuurlik voed dit my binneste as ek sien ander geniet my skrywes. Maar nes niemand dit as pret ervaar as jou selfoon uit jou handsak gevat word nie, net so geniet geen skrywer dit as sy woorde uit sy pen gesteel word nie.

Kopieër mensDOM. Kliek en kies en kopieër en plak na hartelus. Ek gaan nie jou vervolg soos een van die karakters in ‘n Deon Meyer roman nie. Ek gaan jou nie soek nie. Ek gaan nie ‘n komper-soldaat word wat my tyd verwyl om jou ‘n bloeiende aambei toe te wens nie. Ek styg uit bo jou onkreatiewe manier van leef. Ek lag saam my kinders, eet donker sjokolade en drink goeie wyn. Ek is gesond, gelukkig en geseënd. Al maak jy woord-aborsies van my breinbabas. Ek lewe dan maar in die goeie ou dae van “ignoreer die fokkers wat nie eers woorde kan verander nie”. Gaan in vrede. En mag jy die dag hê, wat jy verdien. (Kopiereg Chantelle DeWet)

Advertisements

Samoosa

So beland my voete in die klein kafeetjie op die hoek. Ek is amper seker my neus het die kerrie tot hier gevolg. Ander vrouens sal dalk agter diamante en duur handsakke aan agterdogtige winkeltjies betreë, maar helaas, ek word aan my smaakkliere rondgelei. Die Indiese man glimlag breed toe ek vra of hy samoosa’s verkoop. “Madam, only the best samoosa in Abu Dhabi”

Ek kyk na die vertrek van ongeveer vier by vier meter en ek bewonder sy selfvertroue. Gelukkig is my waagmoed groter… en ek bestel ses. Vyf minute later word ses stomende samoosa’s in my hand gestop. “Six dirhams”

24 dirham vir ses samoosa’s is nogal ‘n stewige prys om te betaal… maar nee, ek verstaan verkeerd, dis ses dirham vir al ses samoosa’s! Ek gee hom tien, verduidelik dat die volgende vier samoosa’s wat bestel word, deur my betaal is, en ek is fort met my papiersak vol hoop.

 

Die reuk verlei my. Ek is nog nie eers naby die kar nie, toe ek al “eina-eina dis warm” die eerste samoosa uit die pakkie haal. My mond water, my lieste trek saam, my maag grom… sonder om een happie te vat, oortuig my neus my van die ekstase wat wag om geproe te word.

En toe… toe gaan die poorte van die hemel vir my oop. Daai samoosa is nie net perfek gebraai nie; die groente is nie net perfek verwerk nie; die deeg is nie net in perfekte balans met die vulsel nie… daai samoosa voer my weg na ‘n ander planeet. Ek sluit my oë met die tweede samoosa en word op reis geneem na eksotiese Morokko, waar die rooi en geel van speserye my op wolke van smake laat vlieg. Die bros deeg kraak op my tong en my tone krul van lekkerkry. Ek raak angstig, want ek kan regtig nog net een eet… die ander drie moet ek seker maar vir Manlief los (sug baie baie diep).

 

Ek het vier geëet en dit het enorme wilskrag gevat om twee op te offer. As dit nie bewys van my lojaliteit is nie, sal hy nooit in my liefde glo nie. Tog het daar iets in my binneste geskuif met elke samoosa wat vandag sy weg tot in my binneste gevind het. Inspirasie het getref. My glimlag is weer na die oppervlak gedwing. My hart sing en my voete dans. Nie eers die wasgoed kon my vandag laat frons nie.

So dikwels vergeet ons van die eenvoudige plesiere in die lewe. Ons spaar onsself siek vir duur, oorsese vakansies. Ons maak skuld om die nuutste selfone en rekenaars te kan bekostig. Ons probeer onsself oortuig dat ons sal gelukkig wees AS dit en AS dat. Nee. ‘n Driehoek-diepgebraaide-dinamiese-groentehappie het vandag die teendeel bewys. Klein lekkertes kan ‘n groot muse bevat. Wat ‘n sa-moooooooo-sa plesier.