Samoosa

So beland my voete in die klein kafeetjie op die hoek. Ek is amper seker my neus het die kerrie tot hier gevolg. Ander vrouens sal dalk agter diamante en duur handsakke aan agterdogtige winkeltjies betreë, maar helaas, ek word aan my smaakkliere rondgelei. Die Indiese man glimlag breed toe ek vra of hy samoosa’s verkoop. “Madam, only the best samoosa in Abu Dhabi”

Ek kyk na die vertrek van ongeveer vier by vier meter en ek bewonder sy selfvertroue. Gelukkig is my waagmoed groter… en ek bestel ses. Vyf minute later word ses stomende samoosa’s in my hand gestop. “Six dirhams”

24 dirham vir ses samoosa’s is nogal ‘n stewige prys om te betaal… maar nee, ek verstaan verkeerd, dis ses dirham vir al ses samoosa’s! Ek gee hom tien, verduidelik dat die volgende vier samoosa’s wat bestel word, deur my betaal is, en ek is fort met my papiersak vol hoop.

 

Die reuk verlei my. Ek is nog nie eers naby die kar nie, toe ek al “eina-eina dis warm” die eerste samoosa uit die pakkie haal. My mond water, my lieste trek saam, my maag grom… sonder om een happie te vat, oortuig my neus my van die ekstase wat wag om geproe te word.

En toe… toe gaan die poorte van die hemel vir my oop. Daai samoosa is nie net perfek gebraai nie; die groente is nie net perfek verwerk nie; die deeg is nie net in perfekte balans met die vulsel nie… daai samoosa voer my weg na ‘n ander planeet. Ek sluit my oë met die tweede samoosa en word op reis geneem na eksotiese Morokko, waar die rooi en geel van speserye my op wolke van smake laat vlieg. Die bros deeg kraak op my tong en my tone krul van lekkerkry. Ek raak angstig, want ek kan regtig nog net een eet… die ander drie moet ek seker maar vir Manlief los (sug baie baie diep).

 

Ek het vier geëet en dit het enorme wilskrag gevat om twee op te offer. As dit nie bewys van my lojaliteit is nie, sal hy nooit in my liefde glo nie. Tog het daar iets in my binneste geskuif met elke samoosa wat vandag sy weg tot in my binneste gevind het. Inspirasie het getref. My glimlag is weer na die oppervlak gedwing. My hart sing en my voete dans. Nie eers die wasgoed kon my vandag laat frons nie.

So dikwels vergeet ons van die eenvoudige plesiere in die lewe. Ons spaar onsself siek vir duur, oorsese vakansies. Ons maak skuld om die nuutste selfone en rekenaars te kan bekostig. Ons probeer onsself oortuig dat ons sal gelukkig wees AS dit en AS dat. Nee. ‘n Driehoek-diepgebraaide-dinamiese-groentehappie het vandag die teendeel bewys. Klein lekkertes kan ‘n groot muse bevat. Wat ‘n sa-moooooooo-sa plesier.

Advertisements

5 thoughts on “Samoosa

  1. Ek kan waaragtig ook nie net by een stop nie en moet op die beste van tye tevrede wees met WW sin – wat verseker nie soos joune proe nie – maar ja, beggars can’t be choosers. En terloops, ongelukkig is ek hopeloos te vraatsig om ‘n enkenle samoosa vir die eggenoot te los, my wilskrag by die 3hoek koekies is hopeloos te min 😉

  2. Heerlik !! In Kimberley was daar ook in die stad so ‘n kleinerige plekkie waar jy ‘n katkop {kwartbrood bunny chow} van regte konynvleis kon bestel wat trane van blydkap by jou kon veroorsaak

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s