Tande

Jy moet gekleurde hare op jou tande hê as jy ‘n ouer is. Nie net omdat mens se geduld tot op die laaste druppel van menslikheid beproef word nie, maar ook omdat daar van jou verwag word om allerlei vreemde situasies te beredder.

Ek het in die laaste tien dae menigmaal op my tande gekners. Ek het nooit gedink dat ses lettertjies my na die Amarula sal laat gryp nie, maar helaas… “hoekom?” het my amper die jenewer agter die seeppoeier laat wegsteek. “Hoekom gaan mense dood?” ; “Hoekom praat almal verskillende tale?” ; “Hoekom is party mense mooier as ander?” ; “Hoekom ry ons nie ‘n pers kar nie?” ; “Hoekom skyn die son net in die dag?” ; “Hoekom kan twaalf plus twaalf nie twintig wees nie?” ; “Hoekom verjaar ons net een keer per jaar?” ; “Hoekom is daar vet om Mamma se maag?” En dit was Sondag.

 

Ek het gesien hoe ander Mammas (en ja, hulle verdien daardie hoofletter) op hul tande byt. ‘n Kind wat byna ses jaar al uit die doeke is, kry ‘n morsige glips in die parkie. ‘n Kind wat besluit om in die middel van die kerkdiens sy grense te beproef en teen ‘n dawwerende volume begin gil. ‘n Kind wie se ore in blompotte verander, want geen instruksie word gevolg nie. ‘n Kind wat weier om skoolkouse aan te trek en dus met blou en pers gestreepte sykouse vandag by die skool opgedaag het. En dit was Maandag.

 

Ek het met ‘n mond vol tande sit en staar terwyl ‘n Ma haar kind troos oor die sjokoladeballetjies soos albasters oor die vloer rol. ‘n Ma wat moedeloos die kosblik oopmaak net om die toebroodjie te moet weggooi. Die swart kol op die splinternuwe skoolhemp gaan nie uitkom nie. Die opstel gaan nie geskryf word nie. En dit is nou eers Dinsdag.

 

Met lang tande pak ek nog ‘n kosblik, sit ek nog ‘n bondel wasgoed in die masjien, maak ek nog spaghetti gaar, tel ek nog ‘n handoek van die vloer af op. Ek maak dubbel seker almal se tande is geborsel, tone is mooi afgedroog en tasse is vry van moontlike papgedrukte piesangs en vrot appels. En dit is Woensdag.

 

Ek slyp my tande vir die naweek. My nerwe is, nes my seun se voortand, aan ‘n dun velletjie vas. En toe is daar vreugde. Die tand is uit. Vry van die gewikkel-wikkel en “Kyk hier Mamma!” en “Ek sukkel om te kou.” Die tand word met sorg voorberei vir die koms van die Tandmuis. Die opgewondenheid hang in die lug. Dis nie die eerste tand nie. Ook nie die laaste nie. Maar die kinderlike vreugde oor ‘n mylpaal wat bereik is, word aansteeklik. Ek herkou aan die lewenslus. Donderdag skyn die son weer helder.

 

Ouerskap is nie vir sissies nie. Tande wissel ook nie. Maar met my mond vol (van my eie, oorspronklike) tande, kan ek sweerlik nie kla nie. Ek doen soveel meer as tande tel. Ek tel nou my seëninge. Want met elke “hoekom” en langtand kosblik pak en geknersde sug van frustrasie, is daar ook onvoorwaardelike liefde en onbegrensde kreatiwiteit. Van nou af wys ek tande. Nie in ‘n grom nie, maar in ‘n baie breë, opregte glimlag. Die herinnering dat ‘n tand nie goud hoef te wees, om waarde te hê nie.

 

Advertisements

Hoër

“Mag jy hoer hoogtes beryk in die jaar wat kom.”

Die boodskap vind sy weg tot in my inbussie en steek ‘n dolk dwarsdeur my spellinghart. Die intensies is van die beste soort: opreg. Die spelling laat egter gaping vir verwarring. Met die weglating van die baie belangrike deelteken, het my eens vertikale (hoër) suksesleer, geval tot ‘n horisontale dilemma… ‘n hoer se sukses is sekerlik nie te versmaai nie?

Ek dra nie uniform nie; vorm nie deel van die taal se taakmag nie; is nie leesteken-polisie nie en openlike oordeel oor spel- en/of tikfoute sal ek nie. Ek maak hulle soms self. Maar iets in my diepste binneste skuif tog gevaarlik rond as ek dit raaklees. Ek kan dit nie help nie. Dis soos ‘n poep wat skielik ontsnap, sonder waarskuwing of die wete dat jy gisteraand boontjies geëet het. En nes die windjie van die Suide, is die gevolge dikwels onwelriekend.

 

Ek het al slapelose nagte gehad oor ek in ‘n welbekende skrywer se boek die woord “apteit” sien skyt het. Ek moes al ‘n anti-depressant neem toe ek verneem van die Afrikaanse onderwyseres wat in rooi gil “PRAGTAG!”. Ek hoop dit was ‘n hoerskool en nie ‘n hoërskool nie. My klere druk my longe toe as ek die trou-uitnodiging oopmaak en lees “Jy word friendelik versoek”.

Die deelteken is ‘n sondebok met ‘n stoute duiweltjie op sy skouer. Poësie sonder daardie kolletjies, verander skielik in ‘n hygroman wat selfs Mevrou Dominee in haar rooibostee sal laat stik. Maar dit keer geen skolier as hulle opstelle moet pleeg nie. My oë het al male sonder tal verstar by die aanskou van hierdie onheiligheid. Dis amper so erg as mense iets “waardeur” of iets soek wat nie ‘n “arem en been” kos nie. My tong swel sommer spontaan in protes, maar dan maak ek die komper toe en gaan kry my nagmerrie in ‘n donker kamer. Dit is nie die ure werd om te gaan staan en vingerswaai op sosiale media nie. Dis soos daai boontjiepoep teen donderweer: ‘n baie onregverdige oorlog.

 

Ek lees weer die boodskap. “…hoer hoogtes…”. Ek kou ‘n Rennie met die hoop dat die suur sal bedaar. “…beryk…” Ek hiperventileer. Twee groot slukke jenewer en ek bewe bietjie minder. Die skrywer se hart is meer opreg as die bure se honde (en hulle het drie generasies se papiere). Die skrywer is nie dom, oningelig of astrant nie. Die skrywer is bloot mens wat goed bedoel. Ek laat die karamelkers vlam vat. Ek vat nog ‘n slukkie tonikum. Ek haal diep asem. Ek leef nie in ‘n glashuis nie, so ek kan geen woordeboek gooi nie. Die feit dat spelfoute my ongemaklik maak is mos MY krisis, iets waarmee EK moet saamleef. Spelling is nie die begin of einde van enige taal nie. Probeer maar net Mandaryn, Arabies of Urdu lees om dit te begryp.

Ander mense sukkel met dwelmverslawing, skewe prente teen mure of inkontinensie. Ek sluk maar net swaar aan spelfoute. Ek bou die brug. Steen vir steen. En ek klou verbete vas aan die wens van hoër hoogtes, al is dit tussen hoere…