As iemand sterf, hou die aarde nie op draai nie. Mens gaan steeds Woolworths toe om toiletpapier te koop. Taxi’s jaag steeds oor rooi verkeersligte en daar is steeds vrae in die bedelaars se oë.
Na die afsterwe van ‘n geliefde, word daar gewoonlik oor ‘n testament en boedel en allerhande snert baklei. Wie erf die trousseau? Wie kry die juwele? Waar gaan die meubels heen? Dood beteken dikwels familie-oorlog.
Ouma was altyd bekommerd dat sy niks vir haar kinders en kleinkinders sou agterlaat nie. Daar was nie juwele, skilderye of ‘n stewige belegging iewers nie. Tog het Ouma vir ons alles gelos wat geld nie kan koop nie.
Ouma het ons geleer van hoe om onselfsugtig te lewe. Ek sou handeroom koop en as ek volgende week kom kuier, was Ouma se hande kurkdroog, want die tannie van langsaan sukkel so met droogheid. Ouma het haar kerse vir iemand geskenk, want sy het nie omgegee om in die donker era van beurtkrag te leef nie. Ouma het haar laaste stukkie brood vir die bediende gelos, want die Here sou more weer kos voorsien. Ouma het geen waarde vir geld gehad nie. As jy haar wou bederf, moes jy net gaan kuier.
Ouma het ons geleer hoe om hard te werk. Sy het as jong vrou en nuwe ma, sonder ophou, wasgoed met die hand gewas, vloere op haar knieë geskrop en vir byna 32 jaar het sy in die kerk se tehuis vir bejaardes, diens gedoen vir haar God. Sy was ‘n dienaar wat, sonder klagte of kermsang, enige taak sou aanpak.
Ouma het nooit baie geld gehad nie, maar sy het ons geleer dat geld nie klas koop nie. Selfs al is jy hoe arm, jy kan altyd skoon en goedgemanierd wees. Al was haar kinders se klere tweedehands of selfgemaak, was hulle altyd skoon en netjies aangetrek. Al moes die kinders ‘n bed deel en al was daar nie luukse kos nie, was woorde soos “dankie” en “asseblief” tweede natuur. Tafelgebed was ononderhandelbaar, nes eerlikheid, opregtheid en omgee vir jou medemens.
Ouma het ons geleer van onvoorwaardelike geloof. Honderde kilometers ver sou sy my verseker dat die eksamens goed sou afloop. Sy was nooit bekommerd oor siektes, kruideniersware, badkamerbenodighede of belasting nie, want “God sou voorsien”.
Ouma het ons geleer om nie te oordeel nie. Om te vergewe. Om altyd gaaf en vriendelik en behulpsaam te wees. Al wil ander nie oor die poel water vir jou spring nie, moet jy aanhou probeer om die see vir hulle oor te steek, want dit gaan oor JOU reis, nie hulle s’n nie.
Ouma het my geleer dat ons net een keer lewe, maar as jy dit reg doen, is een keer genoeg. En bowenal alles, het Ouma ons geleer van liefde. Liefde vir jouself, jou medemens en jou God. Sy het dit geleef. Elke dag.
Ouma het my baie lank terug vertel van haar vier drome:
Sy wou haar voete in die Suidkus se see sit.
Sy wou vir haar boeties in die Kaap gaan kuier.
Sy wou aanhoudend bid dat dit goed gaan met haar kinders en kleinkinders en agterkleinkinders.
En sy wou seker maak dat God eendag vir haar glimlag.
Ons het Ouma see toe gevat. Ons het byna ‘n uur in die vlak branders gestaan en uitkyk oor die magtige waters. Ouma het gebid, sonder om te dink aan haar rok wat sopnat word of haar hare wat in die wind koek.
Ons het Ouma afgevlieg Kaap toe. Sy het vir vier weke by haar boeties gekuier. Hulle het gelag en foto’s gekyk en tee gedrink. Ouma het vir hulle melktert gemaak en vetkoek gebak en hulle het almal gehuil toe ons moes groet.
Vandag is ons die getuienis dat Ouma se gebede gewerk het. Dit gaan goed met haar twee kinders, vyf kleinkinders en dertien agterkleinkinders.
En op 12 Augustus 2019 het Ouma se vierde droom waar geword. Die aarde het, net vir ‘n oomblik, ophou draai. Die engele het die knie gebuig. God het sy arms wawyd oopgemaak, baie breed geglimlag en vir Ouma gesê: “Halleluja. My kind is tuis.”