Britte

Ek werk by ‘n Britse skool. Ongelukkig saam met heelwat Britte. Ek sou nooit voorheen die woord “ongelukkig” gebruik het om my werksomstandighede te beskryf nie, maar na vandag voel dit na die mees relevante emosie.

Vir die afgelope twee weke het meeste van hulle ons lekker gas gegee oor die rugby. Dit was die Engelse wat die Kiwi’s laat les opsê het, iets wat die Bokke nie in die eerste wedstryd kon vermag nie. Die Engelse het inbors, is ons vertel. Die Hane is die beste span  en verdien om die beker na die VK toe te vat, is ons voorgeskryf. Toe nie.

Ek is allermins bekwaam in die taal van rugby. Ek praat hom soos die Kapenaars Afrikaans praat: met die hart. Maar ek dink ek is korrek as ek uiter dat die Bokke relatief oortuigend gewen het gister. Ons verdediging was puik. Ons aanval was in die kol. Ons gees was onverbeterlik. Die Rooinekke se moed en spoed was gebreek, maar hul ego’s het  (klaarblyklik) die seerste gekry.

Ek het myself voorgeneem dat vandag ‘n blink dag by die skool sou wees. Ek was verkeerd. Die klomp soutkoppe was suurgat kwadraat. Nie een gelukwensing is na ons Suid-Afrikaners uitgereik nie. Nou kyk, ek het nie ‘n koor of palmblare verwag nie, maar ek was nie voorbereid op die kinderagtigheid van volwassenes nie. Ek verstaan skielik hoekom die Engelse hul silwer medaljes afgehaal het. Hulle weet eenvoudig nie hoe om met grasie te verloor nie. Die konsep van “respek” is duidelik nie deel van hul opvoeding nie. Ek is vandag uitgekryt as “derde wêreld burger” en summier geïgnoreer tydens die vergadering. Hul kyke was geniepsig, hul woorde onvriendelik en die gebrek aan basiese goeie maniere en sportmangees was opvallend.

Ongelukkig moet ek more weer saam hulle gaan werk, maar gelukkig gee ek nie om nie. Ek weet ons land leer sy kinders maniere. Ek weet ons staan saam in die goeie, maar ook in die slegte tye. En ek weet waar die Rugby Wêreldbeker vir die volgende vier jaar gaan staan… en dis nie op ‘n suurgat, soutkop se mantel nie. Hy staan in die voorhuis van elke Jansen, Van der Merwe en Mahlangu. Hy pronk in die portaal van skole in Ngwenya en Polokwane en Pretoria. Hy blink in die sakekamers van Kaapstad en Johannesburg en Nelspruit. Die beker is teenwoordig in winkels en hospitale. Daai beker is in elke Suid-Afrikaanse hart, ongeag waar die ligaam homself bevind. Rassie sê dan so mooi dat die beker ons baken van hoop is. Madiba het dan verduidelik hoe sport ons kan verenig. Die Bokke het gewys dat samewerking ‘n drie kan druk. En die skare juig.

 

Ek het so baie respek verloor vir my kollegas vandag. Maar ek is beter as hulle gedrag. Ek hou my kop hoog, trek my skouers terug en steek my Springbokkie op my bors vas. Ek verstaan van trots en spanbou. Ek sal aanhou om te spog oor daai beker, vir mense te vertel van die land wat ek so lief het en al is ek ver vandag, het ek nog nooit so naby gevoel aan my mense nie. Die Britte het nie die mag om my glimlag te steel nie, nes hulle nie Kolisi en sy span kon keer nie. My are borrel vol plesier as ek dink aan die vreugde van ‘n nasie. Geen rooinek gaan my van feesviering ontneem nie. Ek is deel van ‘n kampioen-span. Ek is trots Suid-Afrikaans. Gelukkig.