Sagkuns

Sou jy ‘n pasgebore baba aan sy linkervoet gryp en hom slinger soos Dawid met daai velletjie gemaak het, gaan jy hoogs waarskynlik in die moeilikheid beland. ‘n Pasiënt wat nou net ‘n dubbele hartomlyning gehad het, gaan nie more oggend aanmeld vir die Comrades nadat hy 1kg ribbetjies by die Spur geëet het nie. ‘n Ouer wat Saterdag ‘n kind begrawe het, gaan nie deur die skool gedwing word om twaalf dosyn kolwyntjies te bak vir die koekverkoping nie. En al is humor ons Suid-Afrikaners se verdedigingsmeganisme, is braaidag-grappies oor Australië nog in die rooi sone van sosiale etiket. Ek trapsuutjies maar op eierdoppe as die tienermeisies in my klas opdaag met nuwe puisies en gebroke harte. Ons hanteer sekere situasies instinktief met versigtige hande.

 

Ons sit glasies oor ons selfone se raakskerms. Want as ons nog ‘n R500-insident kan vermy met ‘n R30 glasie, dan maak ons so. Ons koop leersakkies vir ons tablette en rekenaars, want tegnologie is duur en geld groei nie aan bome nie. Na Kersfees pak mammas regoor die wêreld die duur eetservies weer weg, die silwerware word gepoets en tussen papier neergelê en die kristalglase vind weer hul plek in die onderste kas, onder die kroeg. Ons hanteer ons besittings sagkuns en met respek.

 

Ons druk ons voete in skoene, om te keer dat ons in Lego-blokkies trap en die kosyn in  met jou kleintoontjie tref. Ons sit ‘n sonbril op, want as jou oë skrefies trek teen die sonsondergang op die snelweg, gaan jy net plooie kry en vroeër moet begin bril dra. Ek dra gemaklike onderklere, want die lewe is te kort vir sulke onnodige swaarkry. My (geduldige) plastiekkaart word (weereens) gebruik vir (nog) ‘n kopkussing. Om my nek byna elke aand te verslaap is nie goed vir my familie se emosionele welstand nie. So die soeke na die perfekte nagrus op ‘n gemaklike kussing, duur voort. Ons beskerm.

 

En dan gebeur iets verskrikliks. Ons stel onmenslike hoë standaarde aan onsself. Ek moet die perfekte ma vir die perfekte kinders wees. Ons moet gesonde kos kook en nie suiker, gluten, te veel rooivleis of pruimedante eet nie. (Laasgenoemde is dalk nie so erg nie.) Ek moet my gewig dophou en so nou en dan ‘n grappie maak oor my ses kenne (bly te kenne, te kenne, te kenne) sodat mense dink ek is gelukkig is my seekoei-lyf. Daar doen ek dit alweer. Ons spandeer te veel tyd op Facebook. Ons moet minder tegnologie gebruik. Ek moet meer foto’s van my kinders neem en op datum bly met die wasgoed. Ons moenie skinder nie. Ek moenie begeer nie. Ek moenie moenie moenie en ons moet moet moet. Ons staan moeg op, gaan slaap te laat, doen nie genoeg vir liefdadigheid nie. Ek ontdek daagliks plooie, grys hare en vetrolle. Ek moet by die tandarts uitkom en nog een artikel lees en nog ‘n storie skryf en nog ‘n les beplan. Ek wil net skree: stop die malligheid. Maar saggies, want ek moenie die bure ontstel nie.

Jy. Is. Mens.

Net mens.

Ek is nie pasgebore nie. Ek het nie ‘n hartoperasie gehad nie. Ek het nie ‘n kind aan die dood afgestaan nie. Maar ek verdien om saggies hanteer te word. Nie deur ander of deur die wêreld nie, maar deur myself. Die selfkritiek moet end kry. Ons almal maak foute. Ons fok op. En vok dan weer op. En dit… dit is oukei. Solank ons leer en aanhou mik vir verbetering, behoort die saak mos reg te wees? My voorneme vir die res van die jaar… nee wag, res van die week… nee wag, res van die aand? Behandel jouself met die genade wat jy verdien. Een dag op ‘n slag. Want om jouself saggies te hanteer, is ongetwyfeld, ‘n kuns.

 

 

Nuwe Jaar

Ek is nie ‘n groot voorstaander van nuwejaarsvoornemens nie. Dit voel altyd of jy jouself net regmaak vir teleurstelling. Aan die einde van ‘n besige jaar, is jou brein oormoeg en jou liggaam gedaan… dan maak jy slegte besluite. Soos om minder wyn te drink in die nuwe jaar… of gesonder te eet… en minder om te gee oor die skinderbekke by die kerk… of wat ookal jy dink jou moet pla. Studies het bewys dat mense meer as 90% van hul nuwejaarsvoornemens vaarwel roep voor einde Februarie. Minder as 1% van alle voornemens word suksesvol deur die jaar uitgevoer.

Ek dink nie ek is in 2020 reg vir enige teleurstelling nie, dus het ek die slim besluit geneem om eenvoudig niks aan my lewe te verander in hierdie nuwe dekade nie. Ek sal vet en gelukkig bly. My kinders sal steeds hul huiswerk op hul eie moet doen en ek sal volstrek weier om op ‘n Donderdag te kook. En toe… toe lees ek die boek “When breath becomes air” deur Paul Kalanithi. Ek het lanklaas so getjank. Nie ‘n traantjie weggepik nie… o nee, so lelik gehuil dat daar sulke wit, deurskynende snot oor my bo-lip geloop het. Ek is deur drie bokse Kleenex en vier kussingslope. Goed, ek oordryf dalk so bietjie, maar genade, die boek het my binnegoed geskud. Dalk omdat ek dit nie verwag het nie… dalk omdat ons almal eintlik weerloos voor die dood staan… dalk omdat ek sommer net opgeblaas was na Kersfees. Wat die rede ook al mag wees, ek het besluit om tog ‘n paar voornemens op die tafel neer te sit, al is ek vier dae laat.

 

“Mercy trumps justice every time.”

Ek neem myself voor om nie meer geregtigheid te soek nie, maar slegs vergifnis. Nie vir ander nie, maar vir myself. As ander wil sleg praat en lui wees en my met negatiewe gedagtes wil bykom, laat hul begaan. Die “oog-vir-‘n-oog”-mentaliteit is uitputtend en nie die moeite werd nie. Ek sal eerder diep, diep asemhaal en aan my eie gesindheid werk.

“Life is not about avoiding suffering.”

So gereeld neem ek besluite op grond van risiko. Ek gee raad gebaseer op die voor-en nadele van elke vurk in die pad. Ons almal probeer om hartseer en mislukking te vermy. Kyk, ek gaan nou nie vir moeilikheid loop soek nie, maar om op eierdoppe te loop, beteken net dat ek nooit met my seekoei-lyf gaan dans nie. En ek wil dans, demmit. Ek sal nie bang wees vir die teleurstellings wat mag volg nie, maar ek sal eerder fokus op die adrenalien van die uitdaging.

 

Ek het kans gesien vir 2020. Skielik is ek opgewonde. Nie oor die almanak soveel nuwe moontlikhede inhou nie, maar omdat ek nie tyd wil mors nie. Dis ‘n cliché, maar tyd is kosbaar en vlietend. Eendag gaan ons almal sterf… maar tot dan, behoort ons elke dag te leef.