Klont

As jy al ooit getwyfel het in die belangrikheid van een enkele letter… loer net na die L in die woord “klont”.

Hierdie wysheid slaan my toe gisternag 3 uur tussen die ore. Hoe meer ek die klont in my kies pruim, hoe vreemder vorm die klank in my oor. Dis nie naastenby so ernstig soos ‘n bloedklont nie, maar ek wil weet hoe die woord in my taaltuin opgeeïndig het. Sestien minute en vele (relatiewe) interessante artikels later, vind ek die eerste aantekening van die woordjie in ‘n Nederlande woordeboek van 1477. Klont:  ‘kleine samenhangende massa’ soos gebruik in ys- ; suiker- en aardklont.

Ek kyk met nuutgevinde verwondering na die klontjies wat bo-op die melkpap lê. Dit ontstel my nie, maar laat my glimlag. Al is dit net omdat klont snaakser klink as ‘samehangende massa’. Ek gril vir klonte in my kapokaartappels, maar ‘n suikerklontjie in rooibostee, maak my kinderlik opgewonde. 

Natuurlik kan ons dit in hierdie unieke tydperk van isolasie ook heel gepas aanwend:

  • Die klontkop het nie by die huis gebly nie en nou is die hele Kaapstad onder kwarantyn. As ons eendag in die toekoms wel weer op parool vrygelaat word, kan ons die term natuurlik aanpas vir meer moderne gebruik, soos “die klontkop in sy BMW het sommer net voor my ingery” of “my broer het homself regtig soos ‘n klontkop gedra en ‘n Land Rover loop koop” of “my vrou hou haarself mos klontkop en verkoop my gholfstokke, net omdat hulle in 21 dae nie gebruik is nie.”

 

  • Ek het eerlikwaar nie besef dat my kinders so baie en aanhoudend kan eet nie. Kinders wat elke uur honger is, kan knibbelklontjies heet. Ons kan ook so verwys na hamsters, grondbootjies en mense wat hopeloos te veel kaas en koekies eet voor die braai begin.
  • As gevolg van ‘n virus, het mense oorbodige hoeveelhede klontpapier aangekoop. Alhoewel ek steeds die term “witgoud” verkies, is daar ‘n hoeveelheid drogbeelde wat in my geestesoog opgewek word met die verfrissende nuutskepping van klontpapier. Dit kan met gemak ook gebruik word vir ‘n ou jammerlappie in die kombuis… julle weet, daardie lappie wat vir alles op die vloer, teen die muur en sommer in die wasbak gebruik word.
  • ‘n Man wat nie sy hande was as hy sy inkopies in Woolworths gaan doen het nie, is ‘n klontknaap. In die hiernamaals kan dieselfde term gebruik word om ‘n outjie te beskryf wat, na ‘n aand van ongelooflike passie, nie die volgende oggend sy metgesel bel nie. Die meisie wat haarself blootgelê het na ‘n eerste afspraak, kan ook ‘n kooiklont wees. Tydens isolasie ‘n kooiklont egter gebruik word om meeste meisies te beskryf wat vir 21 dae in slaapklere geleef en net een keer elke drie dae tande geborsel het, want Netflix se standaarde is mos maar laag.
  • ‘n Ongekwalifiseerde “mediese” praktisyn wat ongevraagde raad aan almal opdis, kan van nou af as ‘n klontkwak bekend staan. Die hemel hoor my, ek het nog nooit soveel mediese raad ontvang soos in die laaste paar weke nie. Alles van nierstene tot ingroeitoonnaels is behandel deur sosiale media en beterweterige tannies wat een keer lank, lank gelede “Boererate” gelees het. Ek kry sommer ‘n klont in my krop.
  • Die een ding waaroor ek ewig dankbaar is tydens isolasie, is die afwesigheid van kopluise, oftewel kriewelklontjies.

 

Ek moet stop, want my kop gaan dwaal nou op gevaarlike, ondergrondse, agterpaaie. Ek salueer die L wat ons taal aanvaarbaar en propvol respek hou. En ek buig neer voor die samehangende massa van goedheid en guns wat ons moet volg, tot die klontklok lui.

 

 

Kompromie

Ek het nog altyd van woorde gehou. Blikslater, jafel, rooiborsduif… Afrikaans is die taal wat my hoendervleis gee, “eksistensiële”;  my soms in koue sweet laat uitslaan, “transkribeer” en ja, my ook laat gril, “poef”. My eerste boek het ek op ouderdom ses geskryf. Dit was ‘n vroulike weergawe van “Bollie”, die blou karakter wat weekliks in die Huisgenoot kinders vermaak het. Saam met Blikkies, Boemsie en Krabbel het hy allerhande vindingryke avonture aangepak. My hoofkarakter was Bianka. Sy was oorspronklik van ‘n eksotiese eiland en haar hare het in ‘n perfekte Franse vlegsel oor haar skouer gehang. Sy was nie net ‘n gewone haas nie. Sy het nie wortels geëet nie en sy kon vlieg.

 

Ek dwaal af. Sedert ek kan onthou was ek verslaaf aan lees en toe ek in 2016 hierdie webjoernaal begin het, was dit bloot nog ‘n vertakking van my liefde vir die alfabet. Ek kon met ‘n woordeboek onder die arm ontsnap na ‘n wêreld waar daar nie blare in slaai bedien word nie, waar niemand my kritiseer omdat ek wyn voor 10 in die oggend sou drink nie en waar ek vry sou wees van opdragte, temas en voorgeskrewe reëls vir elke skryfstuk.  Ek wou dit deel, sonder enige voorwaardes. My vel is dikker as my bobene. My immuniteit teen kritiek redelik hoog. Ek wou bloot my liefde versprei… en as iemand saam wou lees, het ek dit verwelkom.

 

Dis ‘n cliché, maar nie alles in die lewe draai om geld nie. Hierdie webjoernaal is ‘n goeie voorbeeld. Ek skryf verniet. Mahhala. Gratis. Gratuit. Want dis lekker. En moeiteloos. Die goeie ou dae.

Toe verlaat sekere mense die kerk, logika los hul koppies,  varkies verlaat hul hokke en sit ek met meer administratiewe stront op my lessenaar as ooit vantevore. Boewe steel my woorde en verkoop dit as hul eie. Skollies gaps my sê-goed en versprei dit teen vergoeding. Ek vloek meer as gewoonlik, tog probeer ek reg en geregtigheid handhaaf. Ek misluk. Telkemale. Nou vra mense: “So what? Dis nie asof jy geld gemaak het met jou skrywe nie.” Dit is so. Maar dit is soos om geboorte te skenk en dan sonder waarskuwing jou kinders te moet beskikbaar stel vir aanneming.  Ek verwag nie dat iemand palmblare voor my moet platgooi nie. Ek dink nie ek is ‘n goue kroon of groter wynglas waardig nie, maar ek wil ook nie van oggend tot aand sit en baklei wat regmatig myne is nie.

 

Ek skuif my rekenaar eenkant toe en begin weer in dagboeke en joernale skryf. Ek skryf tot my gewrig in spasma trek. Maar ek wil nie meer deel nie, want ek wil nie my eie woorde met wakende oog dophou nie.

 

Toe gebeur iets wonderliks. Iewers op die Spaanse platteland, tydens ‘n mini-vakansie, kom Manlief op met die idee om ‘n YouTube kanaal te begin. Ek kan skryf, my stories lees en dit kan ons versprei. Mense kan dit steeds gaps, maar dit gaan egter beteken hulle moet so klein bietjie harder werk om dit te doen. Ek sal waag. Oor die wen is ek nog nie seker nie.

 

Ses miniatuur-films later en ek is oorweldig met kritiek, kommentaar en lofsang. Die wêreld is verdeel. Maar die oplossing is ‘n samesmelting van moontlikhede. Ek skryf. Ek publiseer. Dan lees ek. Manlief publiseer. Gaan dit werk? Ek weet nie. Gaan mense kerm of hande klap? Ek weet nie. Ek is reg vir hervorming. Ek is reg vir raad. Gee dit. Gooi dit. Stuur dit. Noem my ‘n blikslater, ‘n flerrie of ‘n fenomeen. Stuur vir my ‘n rooiborsduif of ‘n rooksein van hoop. Mag isolasie lei tot kompromie en nuwe vorme van woordkuns. Sela.