Maaaaa

In die grendelstaat het baie dinge vir ons verander. Ons leef in pajamas. Ons eet te veel. Ons probeer die balans vind tussen tuisonderrig, werk van die eetkamertafel af en die yskas se deur wat on terg. Dis ook in hierdie tydperk wat my naam verander het. Ek het van Ma, Mamma en die ontydige Moeder in ‘n Maaaaaa verander. 

 Soos in “Maaaaaa ek is honger”. Dit maak nie saak of ek hulle elke halfuur of elke ses uur kos gee nie, die kinders blyk in ‘n konstante hongersnood te verkeer. 

“Maaaaa, ek het melk gemors”. Ek vat groot slukke suurstof voor ek die kombuis betree. Die Here gee definitief vir Maaaaaa baie meer geduld as krag. 

“Maaaaa, waar is ‘n skoon pajamas?” Seker op die vloer, waar jy hulle aanhoudend los, want die wasgoedmandjie is deesdae mos net vir estetika… Mense, my dekorstyl is dalk nie waardig om beroemdes te behaag nie, maar ek is darem beter as bloot ‘n plastiekmandjie langs die porseleintroon. 

“Maaaaa, kan ons verf?” Nou kyk, om melk van ‘n vloer af te was is nie pret nie, maar as ons van verf praat, trek my bors sommer toe. Ek weet die kinders moet kreatief wees. Ek weet dis goed vir hulle motoriese vaardighede, maar ek is besig om die stryd teen verf te verloor. En my wyn is klaar. So nee, julle kan nie verf nie. 

“Maaaaa, ek verstaan nie hierdie som nie”. Dankie tog ek is ‘n Wiskundejuffrou. Daar is lig aan die einde van die tuisonderrigtonnel, maar die metodes van ‘n Graad 3 optelsom slaan my voete onder my vermoë uit. Kan hulle nie net plus en maal en minus en deel soos normale mense nie?

“Maaaaa, kan ons ‘n hondjie kry?” Skielik is dit nie verf wat in my geestesoog my grootste nagmerrie is nie, maar klein hondjie urine en ontlasting. En het ek al genoem dat my wyn klaar is?  

“Maaaaa, kan ek by my maatjie gaan kuier?” Diep asem. Vir die 7654ste keer herhaal ek so kalm as moontlik: “Ongelukkig kan ons nie die huis verlaat nie, want daar is ‘n virus.” Ek vermoed ek gaan een van hierdie mooi dae, my humeur tussen melk op die vloer en verf teen die muur verloor. 

“Maaaaa, kan ek roomys kry?” Dis tien oor ses in die oggend. Ek moes jou pajamas van die vloer af optel, jou handoek ophang en ‘n rou eier opvee wat jy per ongeluk laat val het. So ja, eet maar roomys. Duidelik is ek besig om in ‘n totale mislukking van ‘n ouer te verander. 

“Maaaaa, hier is ‘n spinnekop in die badkamer”. Nou gee hom ‘n naam en verbeel jouself dis ‘n hondjie. Want ek haat spinnekoppe en ek is nie van plan om vrywilliglik naby een te kom nie. Roep jou pa. 

“Maaaaa, pa sê hy is besig” Om #$%^ YouTube te kyk is nie besig nie… en daar is ‘n @#$$^ pause knoppie. Diep asem. 

“Maaaaa, ek het maagpyn.” Dis omdat jy roomys vir ontbyt eet en te veel melk by jou pap gooi en konstant eet en… ag, gaan lê net ‘n rukkie tot dit verby is. 

“Maaaaa, kan ek asseblief ‘n teleporter-gun kry vir my verjaardag?” Ja, nadat ek die dodo uit die dood opgewek, ‘n unicorn vir jou sussie gekry en sommer wêreldvrede bewerkstellig het. Met liefde. 

En dan die antwoord: “As enigiemand al daai goed kan doen, dan is dit Mamma.” 

Ek ontdek ‘n bottel wyn agter die boks waspoeier. My geloof in gebed is herstel. Dis die klein genades wat my sal laat oorleef. Ek belowe dat ek hulle more van Paaaaaaa sal leer. 

Maar of ek nou Ma, Mamma, Mammie, Moeksie, Moeder of die gevreesde Maaaaa is… ek is dankbaar, bevoorreg en so so lief. 

Vensters

Ek het vanoggend 9:44 polisiekoffie gedrink. Voor ek nou tot tronkstraf geoordeel word, laat ek net eers verduidelik. 

Sien, ek het vanoggend douvoordag opgestaan met die doel om die vensters te was. Ten minste een van elke vertrek in ons woonstel het dak tot vloer vensters. Groot vensters. En omdat ons in die woestyn, reg langs die see woon, is sand en stof en hoë humiditeit nie altyd pasmaats nie. Ons vensters word vuil. Vuiler as ‘n tienerseun se gedagtes. Vuiler as ‘n dieselwerktuigkundige se vingernaels na ‘n twaalf uur skof. Vuiler as… ag, ek dink julle kry die idee. 

Gewoonlik, in normale tye van dienslewering, kom was Jun ons vensters. Jun is ‘n vriendelike, klein Fillipyn en teen 150 dirham (ongeveer R750) spandeer hy so 2 na 3 ure om ons balkon te laat blink en ons uitsig te verbeter. Ons sien Jun een keer per maand en hy word altyd met groot vreugde ontmoet.

Ongelukkig is Jun se diens nie essensieel nie en moes ek na amper 8 weke van inperking maar self die taak aanpak. As ek die gordyne van my slaapkamer weggetrek het, het ek myself in die middel van ‘n Mad Max film bevind… behalwe dat dit net vuil vensters was wat dik onder die stof gestaan het. 

Aangesien dit somer is, ons teen 11 uur in die oggend reeds ‘n eier kan kook deur hom op die stoep te los en die meerderheid van die dag vol sonskyn oor ons woonstel giet, het ek dus besluit om reeds 6 uur te begin. Sodoende sou ek teen 8:30 klaar wees sonder om in poeiervorm te verander in die woestynson. 

Ek het nie veras nie, maar ek is wel verras. Onaangenaam verras. Dit was warm, al was dit skaars na 6. Maar dis baie meer uitdagend om ‘n sponsie nat te maak en vensters te was as wat ek aanvanklik gedink het. As stof met water meng, word dit modder. Selfs al is dit teen ‘n venster. En modder met seep, sit vas. En seep trek strepe oor glas. En teëls met water op, is glad. En as jy jou stuitjie en boude en bobene laf val, keer op keer op keer, is dit nogal seer. Maar ek is nie grootgemaak om op te gee nie. So teen 9:43 vanoggend was ek halfpad. 

Ons stoep is lieflik groot, met ruim glasdeure wat op sintetiese gras uitloop. Dis nie waar die probleem en uitdaging soos ‘n honger leeu lê en wag nie. O nee. Dis die kamervensters wat op ‘n stoepie van ongeveer 25 cm in deursnee uitloop waar die hartversaking begin. Die stoepe maak ‘n kurwe saam met al die kamers en is begrens met ‘n lieflike glasreling. Dit beteken dat ons uitsig onbelemmerd is. Maar dit beteken ook dat ek tussen twee soliede glaspanele moet indruk om my taak te verrig. Ek is geseën met Afrika-heupe wat sonder aarseling die 25cm van die stoepie oorskry. Dit beteken dat ek moet krap-krioel en skuif soos ‘n dronk skollie om by al die vensters uit te kom, terwyl ek of my boude of my… voorkant na die straat en strand moet wys. Ek voel jammer vir die drentelaars wat sou opkyk en die petalje moes aanskou, maar my sterk wilskrag het my laat deurdruk.  

Ek het die vensters klaar gewas. Hulle blink nie so mooi soos Jun se vensters nie. Maar ek kan immers weer die see sien. Vir amper ses ure het ek ‘n ernstige stoeisessie gehad met die vensterwasspons, emmers vol water, agt handoeke en ‘n hele bottel vensterwasseep. 

Ek het in ‘n bad vol Engelse sout gaan lê, drie spierverslappers gedrink en myself tot in traksie verklaar vir ten minste 24 uur. Ek weet nie hoe Jun dit in minder as drie ure doen nie. Ek weet nie wat sy tegnieke is nie. Ek gaan ook nie uitvind nie. Wat ek wel weet, is dat ek Jun, na hierdie hierdie kwarantyn, dubbel gaan betaal.  

Kous

Daar is ‘n monster in ons huis wat sokkies vir ontbyt eet. Ek is nie seker hoe hy lyk of waar hy bly nie, maar hy leef ongetwyfeld op kouse. Enkelkouse. Hy eet nie pare nie, o nee, hy eet een gestreepte sokkie op ‘n slag. En dan is sy smaakklier vir daardie spesifieke soort en kleur sokkie vir altyd verlore, want hy sal nooit die ander een eet nie.

In die waskamer is so mandjie waarin ek al die vreemde voorwerpe bêre wat uit die masjien gehaal word aan die einde van ‘n wassiklus: ‘n plastiekrobyn wat ek moet terugplak op Thanos se spesiale handskoen; ‘n LOL pop se hakskoen; ‘n Euro muntstuk; twee haarrekkies; ‘n “student council” balkie wat ek weet my dogtertjie sal soek as die skole weer eendag begin; die A wat van die skootrekenaar se sleutelbord afgekom het en nege sokkies, almal onpaar. Deur die laaste paar jaar was ek gelukkig genoeg om die verlore voet-oortreksels op te spoor in opvolgwasperiodes, maar die pasmaats is duidelik nie alle kouse beskore nie.

Ek wil nie skoon kouse aantrek om vuil voete te verberg nie, so ek sal die skuldlas van sekere verlore sokkies voor die deur van die kinders lê. My seuntjie het al in die kar geklim op ‘n Maandagmiddag met net een kous aan sy skoen. Iewers in sy besige dag het sy linkerkous net spoorloos verdwyn. Hy het steeds albei skoene aangehad, maar slegs een kous. Ek het net instinktief geweet dat geen vraag sou lei tot ‘n sinvolle antwoord nie, so ek het maar net my kop geknik en daai aand een ekstra glasie wyn gedrink voor ek die kous maar in die asblik gegooi het. Immers het ek toe verstaan dat die ander helfte nie in die huis deur ‘n naamlose, gesiglose monster verslind is nie.

Persoonlik verkies ek maar Eva se kouse, oftewel kaalvoet loop. Ek vervang Manlief se sokkies voor hulle vol aartappels val of soos satan se asem begin ruik. Die skool vereis egter die dra van kouse en dis hier waar die alfa van my probleme lê. Dogtertjies dra wit kousies met sysagte patroontjies wat om die enkels vou, terwyl die donker sokkies van seuns alte dikwels konsertina speel. Met die was van 15 pare kouse weekliks, is die waarskynlikheid van verlies amper ‘n sekerheid. Ek loop op spreekwoordelike kousvoete as ek die taak versigtig en met oorleg aanpak. Ek het al wassakkies gekoop, kouse geknoop, sokkies met gare gemerk, maar die monster trek die kous oor my kop, elke keer. My hart is nou al so gewoond aan die weeklikse verlies, dat ek nie eers meer treur of begrafnis hou nie.

Toe gebeur daar vanoggend ‘n wonderwerk. Terwyl ek besig is om die skoenkas in die portaal uit te pak en skoon te was, ontdek ek ‘n swart kous met pynappels op. Agter die tv-kas, spoor ek wraggies ‘n wit skoolgetuienis op. Dis waar die gelukskote stop. Maar ek reken twee uit nege potte het hul deksels gekry. En met ons inperking wat ten minste vir nog vyf weke gaan duur, is daar nog heelwat hoeke en gaatjies in die huis waar ek kan soek en skrop en skoonmaak. Wie weet, miskien loop ek daardie monster raak… en dan kan ek hom aanraai om eerder vuil skottelgoed skoon te lek, souse wat lankal reeds verval het op te slurp en as hy regtig wil, kan hy selfs ‘n paar “ingeleefde” onderbroeke opknibbel as hy regtig honger word.

Miskien is die monster nie die skuldige een nie. Miskien het die sokkies net drome gehad. En een was sterker en meer doelgerig as die ander. Miskien lê daar iewers ‘n kous op ‘n Griekse eiland, miskien is daar ‘n skoolkous besig om ‘n piramiede se grafkelders te ontdek, miskien is daar iewers ‘n paar voete, wat met onpaar kouse, oefen om ‘n marathon te hardloop en miskien is ‘n kous iewers in ‘n kroeg besig om in brandewyn te week om homself te vind. Miskien het een kous eerder met ‘n masker identifiseer, miskien word rekmerke uit ‘n ander gesny en miskien hou een ‘n lappop geselsskap op ‘n ashoop.

Wanneer die kouse heengaan, wie hulle bevredig en waar hulle opeindig is antwoorde wat ek seker nooit sal vind nie, maar ek droom maar oor ‘n kous wat die tande van ‘n monster ontsnap het en nou vry van voetskimmel en skerp toonnaels, in die groot, wye, wêreld sy droom najaag.

 

 

 

Eier, suiker, sopie

Ek het gelag toe ek die eerste uitdaging sien… die man met die baard wat ‘n rou eier sluk, toe ‘n halwe koppie suiker kou en dit eindelik afsluk met ‘n glasie Buffelsfontein brandewyn. Dit voel of ek my foon vir sestig sekondes neergesit het en in daardie minuut het die hele Suid-Afrika na hoenders, klonte en alkohol gegryp. My sosiale muur word oorweldig met manne, muise en selfs kinders wat die ritueel aanvaar in die naam van goeie humor.

Ek lag vir die gesigsuitdrukkings. Ek gril vir die rou eier wat teruggebraak word op die stoeptafel. Ek kyk weg as die man besluit hy vat dit na ‘n hoër vlak toe deur die eier te snuif. Ek verwonder my aan die inisiatief en kreatiwiteit waarmee Suid-Afrikaners hierdie grendelstaat aanpak. Ek is jaloers op die kreatiwiteit waarmee die uitdaging interpreteer word. Party eet paaseiers. Ek sien Willem vat nie kanse met kabouters nie en sluk ‘n krokodileier. Daar was ‘n duifeier en ‘n gekookte eier. Nou wag ek vir iemand om ‘n volstruiseier te probeer tem. Ander vervang die suiker met sitrosoda. Asyn in plaas van rum. Sommiges sluk sonder om ‘n wenkbrou te lig. Ander spoeg met ‘n gesig wat herinner aan iets uit ‘n ruimtefilm. Party kou. Ander blik en bloos niks. Sommige lag. Min huil. Dis ‘n netjiese verspreiding van verwagte data. Ek staan verstom oor hoe vinnig die woord oor die wêreld versprei, want skielik is daar Suid-Afrikaners op elke kontinent wat sosiale media oordonder met videogrepe.

Mens kan eintlik nogal baie oor mense leer in hierdie videos. Waar word die video geneem? In die tuiskroeg? In die kombuis? In die eetkamer? En so dan en wan selfs in ‘n slaapkamer. Die agtergrond vertel interessante stories oor die daaglikse bestaan van ons volk. Oulike worshonde loop doelloos in die tuin, op soek na ‘n vergete been. ‘n Pappegaai skree vloekwoorde wat nie eens die eierslukker se aandag van sy taak aftrek nie. Daar lê twee onderbroeke langs die drie kaste bier op die stoep en ek kan nie help as om te wonder wat die storie is nie. ‘n Mooi ketel op ‘n skoon kombuiskas verseker my dat daar nie tieners in die huis is nie, want daar is nie ‘n grondbootjiebotterbroodjie gemaak waarvan die krummels op die kas gelaat is nie. ‘n Wit sitkamerbank getuig dat daar geen kindervoetjies deur die huis hardloop nie. Of dalk is dit net ‘n oorgretige mamma wat weet hoe om ‘n huis met ‘n ysterhand te regeer. Die halfgeboude Opel wat oopbek in die tuin lê, laat my terugdink aan die goeie ou dae toe mens nog parte in die winkel kon gaan koop. Dit voel of ek rondkuier in die huise van vreemdelinge regoor Suid-Afrika.

Ek weet nie waar die idee vandaan kom nie. Google is vaag. Maar dit blyk ‘n eg Suid-Afrikaanse ding te wees. Ek is ook uitgedaag. My liewe, dierbare boetie (wat boonop vandag verjaar!) het al die pad uit Australië my naam op Facebook genoem. Dit spyt my om egter die boodskap oor te dra: Nee dankie.

Verstaan my nie verkeerd nie, ek dink dis ‘n briljante, oulike manier om te vergeet van die toestand waarin die aarde homself bevind. Ek dink dit gee baie mense iets om te doen, ander iets om oor te lag en oor die algemeen lig dit die gemoedstoestand van ‘n nasie. Dis skadeloos, al is dit nie skandeloos nie. Dis onskuldig en pret en dit gee mense iets anders om oor te praat as die virus en sy gevolge. Die kans om salmonella op te doen is baie laag en solank die eiers gepasteuriseer is, is jy veilig.

 

So hoekom gaan ek dit nie doen nie? Want ek sluk baie dinge en ongelukkig is rou eiers nie een van hulle nie. Ek drink en eet vir my plesier, nie ander se vermaak nie. Ek bedank egter die mense wat dit vir my vermaak gedoen het, dit was voorwaar ‘n ongemaklike, grillerige, plesier.  Ek is maar selfsugtig as dit by gastronomiese ervaring kom. Ek gun elke dier sy geit en gier. Ek hoop mense neem ook Pick en Pay en Spar se uitdagings op en skenk eiers, suiker en melk aan iemand wat minderbevoorreg is. En meer as enigiets hoop ek dat mense sal lag en gesels en in mekaar se skoene sal kan gaan stilstaan. Ek hoop dat ons mekaar weer sal sien en hoor en voel. En as dit ‘n eier, suiker en ‘n sopie vat om ons weer te herinner aan ons wonderlike menswees, dan buig ek die knie voor die eenvoudige bestanddele.

Aan elkeen wat braaf, dom, slim, stout, ligsinnig of sommer net verveeld was…

Aan elke Willie, Chanè, Nantes, Hannelie, Dewald, Linda, Jan, Heleen en al die ander lekker mense…

Ek lig my glas, glimlag, gryp geluk en… gesondheid!

Koek

Sekere dinge in die lewe is moeilik om sonder mekaar op te roep, soos skoolskoene en blase op jou hak byvoorbeeld. Of beestong en soet-suur-mosterdsous. Of Afrikaanse dwangrym en moderne musikante. En natuurlik is dit moeilik om te verjaar as jy nie koek het om nog ‘n lewensjaar mee te vier nie.

Die Grieke het heelwat jare gelede ‘n ronde broodkoek ter ere aan Artemis, die maangodin, gemaak om ‘n geboorte te vier. Artemis was verantwoordelik om die onskuld van pasgebore asems te bewaar en is ook die taak opgelas van beskerming. Die Duitsers het begin om ‘n kersie bo-op die koek te laat skitter, om die “lig van lewe” te verteenwoordig. Generasies later is ons Afrikaners steeds plesierig op die dag wat ons nakend en skreeuend Moeder Aarde ontmoet het.

Ek het ‘n sterk geloofsoortuiging om elke verjaardag te vier. Dit is die een dag wat ek voel selfsug mag seevier. Ons sal eet waarvoor ek lus is. Ons sal doen wat ek wil. Musiek sal deur die huis blêr waarop ek wil dans. Want op geen ander van die 364 dae van die jaar, het ek hierdie geleentheid nie. Nie eers op Moedersdag is my voorkeure so belangrik soos op my verjaardag nie. Vanjaar moes ek egter op isolasie-stasie se stoep sit en toekyk hoe die son oor nog ‘n dag opkom. Ek het dit oorweeg om my eie koek te bak. Of dalk eerder ‘n tert?

 

Ek het al telkemale gewonder hoekom konserwatiwiteit en koek sinonieme is, terwyl tert en traktaatjies met mekaar verband hou. Alle koeke is tog nie voorspelbare, vanieljelae met botterversiering nie? En alle terte is nie skandelik vir die skaal nie? My vermoede word bevestig toe ek die verrassing van die afleweringsman oopmaak: een besonderse, dekadente, fudge en donkersjokolade koek. Ek het die boks soos ‘n besetene oopgepluk en onmiddelik my vinger oor die bolaag getrek. Sonder skroom of skaamte het ek my vinger afgelek en gekreun asof ek myself in die middel van ‘n hygroman bevind. Ek het sommer met ‘n bottermes die koek aangeval en ‘n onreëlmatige, ongemerkte, onmeetbare stuk gesny. Daai koek was so soet ek dink die hele buurt sal suikersiekte kan kry, maar die vreugde was groter.

 

Dalk glimlag Artemis, dalk sug ‘n Duitse voorvader tevrede, dalk is ek bloot net dankbaar… maar ek verstaan dat ‘n tert nie dieselfde opwinding sou kon skep nie. Ek voel nederig en dankbaar vir die gawe om ‘n koek te kon geniet op my verjaardag. Een wat vir my gebak is. Een wat vir my afgelewer is. Een waaraan ek nie eers gedink het nie.

Ek het my verjaardag voor die rekenaarskerm deurgebring. Ek is geseën met liedjies in verskillende tale, gedigte wat my nou nog laat huil van begrip en om die gesigte van my mense om die wêreld te sien, was ‘n voorreg. Daar is blomme op die tafel, wyn in die rak, luukse bederfies in die kas en ‘n propvol gees.

Kaas en wyn; braaibroodjies en skaaptjoppies; ‘n koek met ‘n kersie… sommige dinge is maar net onlosmaaklik deel van mekaar. Ek wikkel my toe in die stukkie versugting en glo dat ek nou weer kans sien vir ‘n nuwe lewensjaar, want iemand verstaan hoe belangrik ‘n koek is.

 

Kennis

Kennis is krag. Dit was my laerskool se leuse. Ek dink menige mens het al swaar gesluk aan die een of ander cliché wat homself in ‘n skoolwapen bevind het. Alles in die naam van akademie natuurlik. Ons het geweet dat die rugbyspan eintlik die septer swaai en dat die krieketspan altyd voorkeur sal kry bo die koor, maar onder die sambreeltjie van wysheid, is skole gevorm.

Wiskunde maak vir jou deure oop. Dis hoekom ons maaltafels soos papegaaie moes leer en behoede jou handpalms as jy nie al die antwoorde more kan herhaal nie. Om die verskil tussen ‘n werkwoord, byvoeglike naamwoord en lidwoord te verstaan, kon die verskil beteken tussen universiteitstoelating en om in Spar te gaan pakkies pak vir die res van jou lewe. Of sò is ons immers deur slim onderwysers meegedeel.

Jaar in en jaar uit is stapels vol papierwerk in leerders se boeke geplak. Prentjies is ingekleur, datums is onderstreep, toetse is geskryf, punte is aangeteken en dan is daar die etiket van ‘slim’ of ‘sukkelaar’ om jou nek gehang.

Later van tyd sou die kenners dit uitblaker: daar is verskillende soorte intelligensies… en nie almal leer op dieselfde maniere nie. Tog het die skole nie verander nie. Kurrikula is nie aangepas nie. Ek wonder dikwels hoeveel kinders worstel nog jaarliks deur kringe in een of ander bos, met ‘n Raka en Romeo wat oud en vol artritis, met ‘n heupvervanging om die draai, staan en toekyk. Ek moes in 2009 in ‘n rillerklas sit en toekyk hoe ‘n juffrou ‘n Afrikaanse begripstoets uitdeel, wat sy persoonlik uit ‘n Huisgenoot van 1972 geknip het. Kennis is soms laf.

Jy gaan universiteit toe om slim te word, graad te vang. Jy lees dik boeke vol groot woorde en dra ‘n swartraambril wat in die mode is, want kennis… kennis kan nie van jou ontneem word nie. Jy trou en woon lesings oor huwelike by. Jy raak swanger en koop tydskrifte wat jou gaan regruk vir mamma wees. Jy maak seker jou kind is skoolgereed, want niemand kan wysheid steel nie. Ons hardloop onsself doodmoeg en uitasem agter inligting aan, want kennis bring mag.

En nou, nou is hierdie onderwyser ook verantwoordelik vir die tuisonderrig van haar twee spruite. Ek wou al lankal die tafel omkeer en skree: ‘tsek! Julle moet maar eendag met jul hande loop werk. In desperate oomblikke het ek na die sakrekenaar gegryp en hulle bloot gewys hoe om die regte knoppies te druk. Dis mos ook kennis? Ons beperk tegnologie-gebruik. Ons stel suikergrense. Ons moedig lees aan. Maar soms, net soms, moet mens ook maar God’s water oor God’s akker laat vloei. Om te fliek met ‘n kind onder elke arm en ‘n reuse bak sjokolade, swiets en tjips op jou skoot, laat my hart vinnig klop. Om Uno te speel op die gras met kindergesiggies vol roomys, laat my uit die maag lag. Om vir 45 minute te luister hoe twee opgewonde stemmetjies vertel van snaakse diere op YouTube, dit maak my gelukkig.

 

Ek weet hoe om te differensieer en ek verstaan hoe integrale werk. Maar dit is nie herinneringe wat ek gaan koester nie. En miskien is die vermoë om gelukkig te wees en om te weet hoe om in die eenvoud van die lewe te kan lag, waar die ware krag van kennis lê. Miskien is die kennis meer abstrak en miskien, miskien leer ek meer by my kinders as in enige boek.

Sewe en Dertig

Dis presies een minuut oor twee in die oggend. Ek verjaar dus amptelik. My hoop was dat ek teen die rype ouderdom van 37 al die kuns van deurslaap kon bemeester, maar nou ja, hier sit ek op die stoep.

Ek het nie iets besonder manjifiek verwag nie. 37 is mos nou nie ‘n besondere mylpaal op die lewenskalender nie. Ek was op 16 reeds gesoen, op 21 reeds gesuip en wel, teen dertig was ek… kom ons sê maar net “ervare”. Numeroloë reken die nommer 37 verteenwoordig introspeksie en kreatiwiteit, uithouvermoë en onafhanklikheid. Dit is blykbaar die ouderdom waarop ek nuwe dinge, metodes en plekke moet ontdek. Numeroloë het duidelik nie geweet dat ek op my 37ste verjaardag die kwarantyn-trein gaan ry nie. Al wat ek gaan ontdek is drie dae oue Cheerios wat die kinders onder die yskas ingeskop het, in plaas daarvan om dit op te tel en weg te gooi. Ek sal moontlik versteende tandepasta onder die wasbak ontdek en miskien selfs die verlore sokkie van Januarie 2019 uiteindelik opspoor… onder ‘n perdestal propvol poppe en plastiekdiertjies. Wat nuwe bestemmings betref is ek effe beperk. Letterlik. Die binnekant van my kas is al vir byna vyf weke my heilige skuilplek teen die aanslae van honger kinders en ‘n man wat sy bril soek.

Volgens die Japanese kultuur is sekere ouderdomme so ongelukkig dat hul selfs ‘n naam daaraan toegeken het: yakudoshi. Vir vrouens is die ongelukkige ouderdomme 19, 33 en ja, 37. Ek hoef net na my wynvoorraad, die skaallesing of my ongemanikuurde toonnaels te kyk om te weet dat ek nie noodwendig ongelukkig is nie, maar dalk effe verwaarloos. Ongelukkig is die 385 mense wat in 1937 in die Ohio vloed verdrink het en die een miljoen mense wat haweloos gelaat is. Of die Spanjaarde wat in 1937 vasgevang was in ‘n ongenaakbare burgeroorlog.

Wallace Carothers het ook in 1937 die aansoek vir patentereg ingedien vir nylon. En nee, naailon is nylon, daar is nie ‘n mooier Afrikaanse woord vir hierdie materiaal nie. In dieselfde noodlottige jaar, sterf einste meneer Carothers, voor hy miljoene kon maak die materiaal wat die daaropvolgende dekades se mode sou beïnvloed. Amelia Earhart verdwyn soos ‘n speld in ‘n hooimied en in Hong Kong sterf elf duisend mense in ‘n orkaan.

1937 het darem ook heelwat gelukskote ingehou. Howard Hughes breek die rekord om van Los Angelos tot in New York te vlieg in 7 ure, 28 minute en 25 sekondes. In Texas word ‘n standbeeld van Popeye opgerig, deur die plaaslike spinasieboere. Shirley Bassey en Jack Nicholson word gebore en Lord Robert Cecil wen die nobelprys vir vrede.

 

Met elke verjaardag word mens mos maar so spontaan tot voor die spieël gedwing. Daar is inderdaad 37 nuwe plooie en ongemaklike rekmerke. Kraaipootjies en krulhaartjies. Dis egter die innerlike spatare wat skielik tande begin wys. Het ek al ‘n droom bewaarheid? Het ek al iets vir iemand anders beteken? Het ek al genoeg gedoen? En as ek more die lepel in die dak sou moes steek, gaan spyt te laat kom? As ‘n siek persoon my sou moes lek of raak moes hoes, sou twee tot drie weke genoeg wees om te kan skryf dat ek waarlik geleef het? Of gaan ek maar nog ‘n stereotipiese geval wees van verdriet op die sterfbed?

Ek berus dat Stan Lee op 37 nog onbekend en brandarm was. Kolonel Saunders het nog van die hand tot die mond geleef en sou eers op 62 sy hoenderindustrie laat koning kraai. 37 is bloedjonk as jy na sekere suksesverhale luister. Maar jy moet spesifiek wees, want moderne miljoenêrs is katelknape met melkbaarde.

 

Ek is 37. Ek sit nie altyd vroulik nie. Ek lag lelik, vloek te veel en praat te hard. Ek het rolle en dubbelkenne en ek kan steeds nie Frans praat nie. Ek skink nog ‘n glas wyn en klink teen die maan, want vanoggend, waar ek hier sit en skryf, is ek diep tevrede, dankbaar en verlig. Mag elke donker wolk, so pragtige silwer rand hê en mag ek dit altyd, eerste raaksien. Salut.

 

 

 

 

Vellies

Ek was woes omgekrap toe ek leer dat ons voorsate nie werklik kaalvoet oor die Drakensberge geklouter het nie. Ek het dan hierdie heldeverering gehad vir die Boere wat deur duwweltjiebeddings, oor klippe en rooskwartsknoppe, om doringbosse en beesmishope gestap het om Suid-Afrika te ontdek. In my gedagtes kan ek hoor hoe ‘n Piet geskree het: voorwaarts! Ek weet nie hoekom het ek altyd gedink dat hy kaalvoet was nie. In die aand, sou die Voortrekkers dan met die ossewaens laer getrek het en om ‘n vuurtjie sou die dorings uit die voete getrek word. Hakke sou sommer teen die klippe geskuur word en in die proses sou toonnaels sommer skoongemaak word. Niemand sou met vuil pote in ‘n bed geklim het nie. Wel, dis nou as al my voorgeslagte so streng soos Ouma en haar ouma was. Sy het wit voetjies gesoek voor jy kooi toe kon gaan.

 

Ek is egter ontnugter met die feit dat veldskoene reeds in die 17de eeu deur ons voorgeslagte gebruik is. Die eerste optekening van hierdie sagte, leerskoen met sy stewige sool, was in 1673 in een van die dagboeke in die kompanjie se woning gevind. Blykbaar het die populariteit soos ‘n veldskoen versprei. Dit maak seker sin. Ek bedoel, ons Boere is tawwe uithouers, maar ons is nie dom nie. Met die eerste snytjie in ‘n voetsool, moes ek seker besef: ‘n boer sou ‘n plan maak. Ons is nie lief vir sukkel nie. Tot in 2020 is die veldskoen, oftewel, die Vellie, deel van ons kultuur… nes melktert, Riaan Cruywagen, biltong, rugby en die NG-kerk. En natuurlik Dawid Kramer in rooi vellies.

Ons word van kleins af geleer om maar altyd jou beste voetjie voor te sit. Daarom is die vellies gewoonlik gelos vir die plaas. Nie eers die ernstige plaasboere sou waag om met vellies die kerkgrond te betree nie. En as jy ‘n voet in deur wou kry by enige korporatiewe instansie, sou die vellies nie jou DKW skoen kon wees nie. Oupa het voet by stuk gehou dat vellies die beste soort beskerming vir ‘n ware man was… tot hy sy kleintoontjie in die staalfabriek verloor het, omdat hy geweier het om veiligheidsstewels te dra in plaas van sy (gehawende) vellies. Hy was nooit kwaad oor die toon nie, maar wel woedend oor Ouma daardie vellies weggegooi het. Hy het vir maande daarna met die verkeerde voet uit die bed opgestaan en geweier om voetjie-voetjie met Ouma te speel. Oupa het jare later, reeds met een voet in die graf, darem vir Ouma vergewe, maar hy is wel met vellies begrawe.

As onderwyser, glo ek onomwonde in gemaklike skoene. En ja, ek hou skool in vellies. Darem die mooi, sagte, vroulike soort. Ligblou met ‘n gespe in plaas van veters, vertoon mooi saam met ‘n formele langbroek. My mosterdgeel paar is al ‘n hele paar jaar oud en dra vreeslik lekker saam met ‘n rok.  Die tradisionele kalfiekleur vellies hou ek liefs vir tuinwerk, plaaskuiers en bergklim. My vellies blink nie, maar hulle stink ook nie. My vellies is gerieflik met en sonder kouse. My vellies het karakter. Dit beteken ek het al koeldrank en/of wyn op hulle gemors. Dit beteken hulle is lankal soos ek: nie perfek nie, maar moer gemaklik. Hulle het al spore in Europa, Asië, Australië en Afrika getrap. En enigiemand wat sy neus optrek vir vellies, drink ook seker nooit wyn uit die bottel nie,sit nooit lelik nie, lag nie uit die maag nie en gaan slaap nooit met grimering aan nie.

 

Ek is ‘n nie ‘n stadsjapie nie. Tog is ek ook nie ‘n plaasmeisie nie. My lewe begin nie waar die teerpad eindig nie. Ek hou van my geriewe, maar smag ook na stilte. Ek verkies vinnige internet, maar is tevrede met ‘n leesboek by kerslig. Ek bid in Afrikaans, hou nie van Rooinekke nie ek sit my hand op my bors as ek Nkosi Sikeleli sing. Ek is ‘n Afrikaner, wat in Abu Dhabi woon, wat Afrika in my hart saamdra, wat na my land en sy mense verlang, wat elke aand wil braai en wat die wêreld verken… in vellies.

 

 

 

 

 

 

Meer as ‘n onderwyser

Nou ja, hier sit ons nou. Ek, die onderwyser met ‘n kop vol wiskundige kennis, gereed om dit te deel. Aan die ander kant van die skerm, behoort 30 ywerige, leergierige leerders nou reg te staan (sit). My hulpmiddels is gereed. Ek het patrone en 3-dimensionele voorwerpe uit karton gemaak. Ek het byna twaalf vingers in die proses verloor… en ten minste driehonderd van my (reeds mallerige) albasters. Maar helaas, enigiets om (in die naam van onderrig) kinders betrokke te kry by aanlyn-lesse.

Kyk, enige onderwyser sal verstaan dat ons nie net onderwysers is. En die Korona-krisis het ons hokkies al weer geskud. Net toe ons byna gewoond geraak het aan Karientjie se kopluise en Pieter se vissmeertoebroodjies wat die hele klas laat stink, toe moet ons hoor dat ons vir sestien weke afstandonderrig moet bemeester. En ons het slegs agt dae om jarelange kennis te hervorm en herontwerp en herstruktureer om steeds die uitstaande onderwyser te kan wees wat ons is. Ons deins nie weg van die uitdaging nie. Inteendeel, ons gryp vir hom vas soos Cheslin Kolbe meeste opponente laat hik het tydens verlede jaar se wêreldbeker.

Dit is wonderlik bevrydend om te ervaar hoe onderwysers skielik deel en praat en redeneer oor opvoedkundige praktyke. Ons dink uit die boksie van die verlede en fokus weer werklik op die kinders. Ons sit met alwetende glimlagte en luister na bestuur wat duidelik pas verloor het met dit wat in klaskamers aangaan. Ons lees en doen navorsing en eksperimenteer. En ons lag. Ons lag so ongelooflik lekker oor die ouers wat skielik hul voete in onderwyserskoene moet laat pas.

Tydens oueraande was dit mos maklik om vir my te kom vertel hoe om my werk te doen. Nou, Meneer Prokureur en Mevrou Dokter en Meneer Ouditeur en Mevrou Botha, NOU is jou tyd om te skitter! Wys ons hoe dit gedoen moet word. Ons wag in spanning vir kreatiewe lesse. Ons wag vir bewyse hoe u lesse gedifferensieer het en hoe u, u bonatuurlik begaafde bloedjie in ‘n geniale meester laat ontaard. Ek wil sien hoe ‘n volstruis in ‘n arend omskep word.

Ons lag en maak grappies, maar eintlik is ons diep bekommerd oor die kinders wat nie ouers het nie. Of kos. Of ‘n veilige blyplek. Of selfs lopende water. Ons kry angsaanvalle as ons dink aan die kinders wat verwaarloos gaan agterbly in kamers vol tegnologie, maar sonder drukkies en liefde. Ons kry nagmerries oor die kinders wat honger sal moet gaan slaap en weet die voordeur is nie gesluit nie.

My eerste aanlynles was nie ‘n flop nie, maar ek sal dit beslis nie as reuse sukses bestempel nie. Ek moes vir 45 minute in ‘n gemmerkat se oorvrat kyk op skerm 14. Op skerm 21 het ‘n driejarige boetie op die bed in die agtergrond gespring, poedelkaal sonder ophou. Skerm 3 het ‘n verwarde gesiggie gewys met ongekamde hare en ek sweer ek kon ruik dat daardie tandjies vier weke laas geborsel is. Vir skerms 8, 9, 17 en 20 moes ek vir die hele gesin leer van koördinate. Pappas neem notas en Mammas sit duidelik en dagdroom oor ‘n tropiese eiland sonder kinders. Een kind het “Senorita” gesing. Oor en oor en oor. En baie, baie vals. Ek ril nou nog. Daar was net 23 skerms aanlyn en ek vermoed net 19 het werklik iets geleer (skerm 2 was ‘n geel kol met ‘n pynappel in… ek wil liewer nie weet nie), maar EK het iets geleer. Ek weet nou dat ek ‘n onderwyser is wat met die kinders voor my, in lewende lywe, wil werk. Ek wil kan grappies maak en hulle speels oor die kop kan tik met ‘n boek. Ek wil palms met hulle plak as hulle die moeiliker somme reg kry. Ek wil in 3 dimensies skoolhou.

 

Intussen het ek al heelwat lesse deurgewurg. Soms met frustrasie, ander met ‘n glas wyn buite die sig van die kameralens. Ek het net een keer  nie ‘n pajamabroek aangehad nie. Hoe gemakliker ek word met afstandonderrig, hoe meer besef ek die finale waarheid. Ek is meer as net ‘n onderwyser. Ek is ‘n mens, wat ‘n verskil wil voel.

Jagbra’s #2

Ek het nog nooit werklik die drang in my binneste hoor dreun om my man se foon na te gaan nie. My gemoed is redelik rustig in die wete dat hy homself nie besig hou met duiwelse dinge nie. Ek sê nie hy is ‘n engeltjie nie, maar ek is oortuig dat hy nie aanlyn katte slag, kinderslawe verkoop of deel is van ‘n span biologiese ingeneurs wat virusse versprei nie.

Instinktief is ek seker dat daar meer stemboodskappe as geskrewe teks gaan wees, dat daar wel vorme van stoute foto’s en videos sal opduik (wat hy in elk geval sal verklaar met ‘n “maar iemand het dit vir my gestuur”) en dat daar wel gesprekke sal wees wat nie juis my hoendervleis van opwinding sal gee nie. Daar sal gesprekke met sy mammie wees, foto’s van whiskey, braaivleis en die kinders en YouTube videos oor ‘n selfonderhoudende lewenstyl.

In die tyd van isolasie, het selfone ons lewenslyn geword. Ons het pas vier weke van selfkwarantyn agter die rug en die einde is nog nie vir ons in sig nie. My selfoon gaan waar ek gaan. Nie omdat ek my inhoud moet bewaar nie, maar omdat ek 20 uur per dag met my mense oor die wêreld kommunikeer; omdat ek films kyk en videos beloer; omdat ek na musiek luister en aanlyn-konserte bywoon; omdat ek sosiale media bestudeer en boeke lees en speletjies speel en blokkiesraaisels invul…. en omdat ek dit alles doen terwyl ek deur die huis beweeg soos ‘n dassie wat konstant op soek is na ‘n nuwe klip om op te ka…kuier. Ek verstaan dus hoekom Manlief dieselfde doen.

 

Vanoggend slaap Manlief laat. Sy foon vibreer soos ‘n ou yskas wat besig is om teen ‘n gasbottel op die stoep te sterf. Omdat dit my meer irriteer as die sopraanstem in die woonstel langs ons, Omdat ek my liefste man ‘n oggend van inlê gun, poog ek om sy foon se vibrasie-funksie af te skakel. 78 boodskappe flikker. Jagbra’s. Ek sug innerlik en knip my ogies drie keer. Nuuskierigheid kry die oorhand en ek sluit sy foon met my duimafdruk oop. Spelfoute slaan my met ‘n vuis deur die gesig. Koeëls met kappies en hoër sonder ‘n deelteken. Biekie met ‘n k en looplengte as twee woorde. Tussen ‘n duisend en twaalf foto’s van kolwe, koeëlgate, lope, skootplasings, teleskope en biltong, is ek amper verlig toe ek darem ook ‘n foto sien van ‘n half-naak dametjie wat ‘n 9mm tussen haar bates vashou. Maar die manne praat van hoe die CZ vergelyk met die Glock. Ek kyk mooi en sien dat haar veiligheidspennetjie darem in plek is. Paraat met pramme.  Daar is ‘n paar verwysings na Korona. Grappies oor maskers. Vloekwoorde wat my ‘n (ongeplukte) wenbrou laat lig. Ek sug innerlik en knip my ogies drie keer. Weer.

 

Na byna sewe jaar, bring diè Whatsapp-groepie steeds dinamiese verwikkelinge in ons huis in. Dieselfde onderwerpe word steeds bespreek: wapens, wette, wangebruike… Daar word baklei en gestry oor persoonlikhede en opinies en ouderdom. Maar daar word ook ‘n koue ene gedrink op die Jagbra en sy nuwe vrou, die Jagbra en sy nuwe laaitie, die Jagbra se bevordering. Daar word gelukskote uitgedeel oor swangerskappe (gevolg met gelukwensings oor vinnige, sterk swemmers natuurlik); daar word medelye uitgereik oor die diagnose van kanker en ‘n aflegging by die werk. ‘n Moer word gepluk en iemand verlaat die groep. Nog vriende word bygevoeg en ander keer terug. Ek word herinner aan die samehorigheid en normaliteit van saam-wees. “Hier bly ons, al ly ons.” “Een vir almal en almal vir een.” “Jagbra’s, dis in ons bloed.”

 

Jagbra’s, julle laat my glimlag. Julle harte is goed. Julle menswees is noemenswaardig. Julle bydrae is waardevol. Julle bestaansreg word bevestig met dankbaarheid. Na al die jare skiet almal steeds nie ewe raak nie, maar as ‘n eenheid, is dit kolskoot.