Om te kan eet

Ek is nie genooi vir ete nie, tog word ek aan die stoel by die eetkamertafel vasgegrendel met onsigbare virusboeie. Toe die kelner met die voorgereg opdaag, was ek opgewonde. Terwyl ek die vars brood in sop doop, het my kaste ontslae geraak van tierlantyntjies, die stoflae het verdwyn en orde is herstel. Daar was selfs tyd om ‘n boek te herlees en drome te droom. Die dringende kwarantyn het soos ‘n onbeplande vakansie gevoel. ‘n Meevallertjie waarmee ek sielstevrede was. Ek het die smaak van garnale in die vars slaai geniet, want alles was so uniek en keurig voorgesit. ‘n Voorwaardelike feesmaal. 

As palet-skoonmaker het die kelner aanbeveel om geen alkohol te drink nie. Ek het dus maar effe droëbek sit en wag. Die kelner het voorgestel dat ek ‘n boek skryf, fiks word, piesangbrood leer bak of Frans aanleer, terwyl ek vir die kos wag. Ek wou egter ook nie my slaapkamerstel groen verf, joga doen of ‘n rou eier sluk nie. Dit was nie lank nie, toe is ek gatvol vir die motiverende, sinnelose gebrabbel wat my selfoonskerm verlig en oor die wêreld versprei word. Kos, wat ek nie bestel het nie, is voor ons neergeplak. Marinade het oor die rante van die bakke gespat en vlekke op die tafeldoek gelos. Die kelner was ongeskik en die pampoen was koud. Maar ek skrik mos vir niks en ek het my eerste happie gevat. Daar was te veel sout op die vleis en die aartappels het soos plastiek geproe. Iets was nie pluis nie. Dit was asof die sjef die voedsel lankal reeds voorberei het, en nou net halfgaar aan ons opdis. Die sous het sommer uit kitspakkies gekom, daar was klonte in die room en die hoender was droog en smaakloos. Al was ek nie eers honger nie, het die kelner my met sulke slangogies aangekyk, sodat ek maar happie vir happie moes afwurg. 

Ek kon darem kraanwater in ‘n kristalglas kry om die slymerige pasta mee af te sluk. My man maan my om nie te kla nie, daar is baie mense wat nie eers kos het nie, om nie eers van ‘n kelner, eetkamertafel en duur glasware te praat nie. 

Al is ek nie ‘n roker nie, wou ek na ‘n nikotienverligting gryp. Die spanning het tussen my blaaie kom sit en verwarring het tot trane, ongeloof en aggressie gelei. Maar ek kan nie ‘n emosionele ineenstorting bekostig nie, want twee paar kinderogies kyk hoopvol oor die tafel na my. Hoekom is die ribbetjies taai? Hoekom kan hulle nie gaan speel nie? Hoekom is Pappa se gesig kwaai? Handjies soek myne oor borde vol grillerige kos. Ek is seker ek sien ‘n vlermuisvlerk in die bobotie, maar dalk is dit net my verbeelding. 

Ek soek naarstigtelik na die kelner, maar sonder verpoos word ons nagereg bedien. Daar is ‘n sjokoladevulkaan met werkloosheid versier. Die kaaskoek is suur van depressie en die roompoffertjies is tot krummels geslaan deur wanbegrip en woede. Daar is ‘n suurlemoentert van frustrasie en die glase is leeg, vol van eensaamheid.  

Ek wil nie koffie hê nie. Ek voel opgeblaas en ongemaklik. Iets akkodeer nie lekker met my konstitusie nie en ek vermoed maagteensuurmiddel gaan nie help nie. Ek wil nie nog eet nie. Ek wil opstaan, my vinger in my keel druk en dan begin om die tafel af te dek, maar my huis is nie meer myne nie. Dit behoort nou aan die sosialistiese regering van intimidasie en isolasie. 

Met ‘n vuil mes, saag ek deur die toue wat my aan die stoel vashou, maar voor ek kan opstaan, plaas die kelner die rekening voor my neer. As ek betaal, kan ek gaan. Maar ek het niks bestel nie! Ek wou niks gehad het nie! Hy trek sy skouers op en staan bakhand. 

Die prys is hoog, byna onbekostigbaar. Ek staar met ‘n krioelende angstigheid na die faktuur:

Die totale verskulding: 

$ Afhanklikheid aan die staat

$ Beperkte vryheid van beweging 

$ Onderrig geïsoleer tot voorkennis

$ Saai vrees, fopnuus en onsekerheid deur sosiale media

$ Ignoreer al die vrae wat in jou binneste broei

Onder geen omstandighede mag die staat se besluit bevraagteken word nie. 

Ek kry nie my oë om verder te lees nie, want daar is nog kelners, wat nog kos bring en nog mense wat staan en toekyk en nog, nog, nog.

Ek maak my oë toe en prewelbid in eenvoud: “Seën die kos op die tafel. Voorsien asseblief aan die wat nie so bevoorreg is soos ons nie en maak ons opreg dankbaar vir dit wat ons wel het. Amen.” 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s