Antwoord

‘n Herrie bars los, oor iemand ‘n vraag gevra het. Is Apple beter as Samsung? Moet ek regtig ‘n masker dra? Doen ons president die regte ding? Hoekom maak swart lewens saak?

Jy kan maar verder lees, ek gaan nie antwoorde gee nie. Ek is nie hier om op ‘n politiese seepboks te klim en my opinie uit te basuin nie. Dis nie asof my mening nou tog regtig die wêreld kan verander nie. Ek bedoel, wie is ek nou eintlik? Die effense berese, belese wese in die woestyn wat nog nooit gesien het hoe ‘n spinnekop kraam of ‘n vlermuiswang geëet het nie? Ek is net ‘n onderwyser. En al glo ek dat ek ook ‘n lewenslange leerder is, weet ek baie dinge nie. Ek weet nie eers wat ek nie weet nie. En as ek dink ek weet wat ek nie regtig weet nie, wat dan van die volgende stel kennis waarvan ek nie eers weet nie?

Nou moet mens nog boonop verstaan dat kennis in verskillende vorme voorkom. Daar is mense wat oor ongelooflike boekkennis beskik. Ek kan ure in verwondering sit en luister hoe iemand oor die oorlog vertel, die stories en staaltjies, die werkinge van ‘n weermag, die intelligensie wat soms ooglopend ontbreek. Daar is ‘n ingeneur wat in vervoering raak oor binêre kode en hoe 1 en 0 eintlik nie 0, 1 of 10 is nie, maar die verduideliking van hoekom die kliek van ‘n muis so lekker werk. My oogarts verduidelik in die mees eenvoudige terme aan my hoekom ek nie kwalifiseer vir laserbehandeling nie en gedoem is om bril te dra tot ek die ewige lig sal kan sien. Om te Google-loer maak kennis redelik maklik beskikbaar. Ongelukkig is dit dikwels die verkeerde kennis, in die verkeerde hande… amper soos ‘n hiperaktiewe kleuter wat met ‘n skêr in sy hand deur ‘n glaswinkel hardloop.

 

Aan ‘n ander hoek is daar intellektuele vernuf. Logiese denkers wat sistematies en analities probleme kan oplos en redenasies an voer wat my mond laat water. Hierdie is nie ‘n kuns wat jy leer nie. Dit word geoefen. Geslyp met ervaring. Geskaaf met refleksie. Ek dink dit is ook diegene wat Maslow se hoogste trappie van self-aktualisering bereik. Dis magies om te aanskou en in die laaste paar jaar het dit ‘n droom geword. Een wat ek weet nie bewaarheid sal word nie… en dit maak my selfs meer opgewonde.

 

Iets ongelooflik orgasmies en organies gebeur as die boekkennis met die intellektuele vermeng word. Dis mooier as ‘n sonsopkoms of ‘n paar stywe boude aan ‘n gespierde man. Dis meer inspirerend as ‘n hoëveld-storm of ‘n blinde kind met ‘n nagtegaal-stem wat Idols wen. As jy olie en water skud, meng dit vir die oomblik, maar as gevolg van digthede, skei hulle eindelik weer. Boekkennis en intellektuele vernuf werk nie so nie. Dis soos twee swetende lywe wat een word in ‘n passievolle oomblik, maar dan permanent deel word van mekaar. Onafskeidbaar. ‘n Nuwe tipe feniks wat uit die onkunde van ‘n nasie verrys. Dit maak my so opgewonde soos daai kleuter met die skêr. Die moontlikhede is grensloos.

 

Daar bestaan allerlei vorme van kennis en intellek en slimgeit. Ons kan nie alles bemeester nie. Ons moet vra vrae. Ons moet soek en eksperimenteer en uitvind. Ons moet ontdek en nuuskierig wees. Ons moet lees en ondersoek en soms ongemaklik voel. Dis deel van groei.

Ons hoef egter nie altyd op alles te antwoord nie. As ek wel antwoord, antwoord ek gewoonlik met ‘n aanhaling:

  • “Daar is twee oneindige dinge: die heelal en menslike sotlikheid. Ek is nie so seker oor die heelal nie.” – Albert Einstein
  • “Die verskil tussen genialiteit en sotlikheid is dat daar ‘n beperking op genialiteit is” – Albert Einstein
  • “Slim mense vra aanhoudend vrae. Dom mense antwoord dit aanhoudend.” – Michael Crichton

 

Miskien is die ware toets van kennis, in die wete dat stilbly soms die kragtigste antwoord is.

Kleintoontjie

Ek het my kleintoontjie gestamp. Nie net effens nie, maar ordentlik. Daar was bloed en ‘n halwe toonnael en vloekwoorde en trane. Met ‘n voet op ses kussings gestut, jenewer in die hand en die tv-kontroleerder in my beheer, voel ek toe tydelik beter. Die volgende oggend is my linkervoet so wisselvallige reënboog van violet, purperpers, koningsblou, grys, geel en groen. Die feit dat ek ook nie my allemintige gewig op die voet kon neerdruk nie, moes seker ook ‘n aanduiding gewees het dat iets groter fout is. Die dokter by ongevalle het sonder aarsel verklaar dat my kleintoontjie morsaf gebreek is. Daardie toontjie is gegespe en gegom en in watte toegedraai soos nog nooit vantevore nie.

Nou kyk, in die laaste vier dekades het ek myself nie vreeslik gesteur aan my kleintoontjie nie. Net as ek hom met ‘n deurkosyn of stoelpoot of Legoblokkie laat kennis maak het, was ek werklik bewus van hom. Andersins het ek hom maar bloot pienk geverf, soos die ander nege tone aan my paddapootjies. Ek het maar altyd gedink die kleintoontjie se doel is om meubelstukke in die donker te vind. Maar ek lees dat jou kleintoontjie eintlik help met balans. Hy het ‘n ondersteunende rol as dit kom by die voet en maak loop, hardloop en spring maklik. As jy jou kleintoontjie moes verloor, sou jy nie nodig hê om ‘n rolstoel aan te skaf of ‘n sintetiese ledemaat te koop nie. Om met ‘n ekstra kleintoontjie aan jou voet gebore te word, staan bekend as polidaktolie en is redelik algemeen. Die addisionele syfertjie word selde chirurgies verwyder, want… wel, hoekom? Hy maak mos niemand skade nie!

 

Toe ek by die dokter was, was hy baie besorg oor my kleintoontjie. Hy het daardie karnallie wraggies goed versorg. Nie een keer het die dokter vir my gesê dat ek moet huis toe gaan omdat ek dan nog nege ander gesonde, ongeskonde tone het nie. Nie een keer het hy gedreig om daardie toon af te sit of te ignoreer nie. Ongeag hoe klein en nuttig daardie kleintoontjie vir my voorgekom het, die dokter het my laat besef dat al my tone waarde het. Party tone doen meer en het meer verantwoordelikheid as ander, maar al tien tone is tog geregtig op mediese sorg? En al tien tone moet tog ewe mooi en netjies geverf word by die salon? Ek bedoel, ek gaan lekker kwaai wees as die tannie wat my hakke skuur, net ses van my tien tone verf en die ander aan die natuur se genade oorlos.

Ek gaan nie enige plakkaat maak waarin ek die kleintoontjie ophemel tot iets wat hy nie verdien nie. Ek gaan nie ‘n petisie teken om die kleintoontjie meer waarde te gee as waarvoor hy gewerk het nie. Maar ek gaan beslis nie skoene koop wat my kleintoontjie verkrummel nie. Ek kyk waar ek loop, want ek wil nie een van my tien tone stamp nie. Ek smeer my voete elke aand room en knip my kloutjies gereeld, want ek wil nie my lakens stukkend skeur met skerp kleintoontjienaels of growwe hakke nie.

 

Kyk, al tien my tone is belangrik. Nes my vinger ook waarde het. En so ook elkeen van die 206 bene in my lyf. Maar onlangs het my kleintoontjie seergekry. Hy het ‘n ekstra bietjie aandag nodig gehad en moes so bietjie pamperlang word. My lewe het aangegaan. Ek het maar ‘n ou pynpilletjie gedrink en wag nou vir die herstel wat sal plaasvind. Ek gaan nie sosiale media bestorm met melodrama van “by die dood omdraai” of “amper was ek fisies gebrekkig” of “ek is jammer oor ek nie my kleintoontjie erken het nie”. Want te veel mense gaan lag en ander gaan blomme stuur en my ma gaan haarself in ‘n maagseer in stres en my vriende gaan hulle oë rol en ag, ek is nie lus vir drama nie. So ek laat my kleintoontjie maar net in stilligheid genees.

Ek kyk wel nou af na my ligpers linkervoet ek weet, my kleintoontjie maak ook saak.

 

Onvoorwaardelike liefde

Ek het lief.

My liefde vir woorde skuil tussen die honderde boeke waarmee ek myself omring. So lief is ek vir woorde dat ek dikwels ook sommer stront lees… net sodat ek weer mooi woorde kan waardeer. Ek gril vir die woord “groceries” in ‘n Afrikaanse sin, terwyl “liefkosing” die kraakbeen in my oor streel. Ek vind vreugde in dwangrym en verspotte limerieke en poëtiese verskynsels, maar daal tot op ‘n Kômmin vlak waar ek oorboord gaan met ongehoorte vloekwoorde en uitspattige swart humor… en ja, swart humor maak ook saak.

Ek is lief vir kos. Lekker kos. Roomys en karameltert. Salm met heuning en kapokaartappels. Malvapoeding en dik, warm vla. ‘n Skaaptjoppie met die vet wat krakerig gebraai is. Dit beteken nie ek eet net lekker kos nie. Soms wurg ek ‘n selderystokkie af. Of eet ek slaai met blare in. En ek het een keer tofu probeer eet, maar ek sweer ek eet eerder ‘n hoenderdrol en sluk dit af met suur jogurt. Die rolletjie om my middel is die getuie dat ek nie veel fiemies het as dit by voedselgroepe kom nie… en my drildye erken dat ‘n sjokolade in elke hand my idee van ‘n gebalanseerde dieet is.

Ek is lief vir musiek. Ek luister opera en Amanda Strydom en Jack Parow en Finneas en Travis Scott en Taylor Swift. Ek sing uit volle bors saam met enige musiekblyspel en soms eer ek selfs die bure met ‘n akapella-weergawe van ‘n Celine Dion treffer uit die negentigs. Terloops, ek dink die bure se kat is op hitte, maar dit is nie nou hier ter sprake nie. Ek leer waarvan ek hou en watter liedjies ek liefs oorslaan. Apple Music vra gelukkig nie vrae nie.

Ek is lief vir vars lug, al is dit tans so warm dat selfs die kaktusse sug. Ek is lief vir my klein tuintjie, al word selfs die vygies moedeloos in die humiditeit. Ek is lief vir die wolke, want hulle gee my eindelose moontlikhede. Ek is lief vir koffie en tee, maar ook vir jenewer, wyn en soms ‘n bier. Ek is lief vir my MacBook en onbegrensde internettoegang en Yankee Candles en sagte, wit beddegoed en Zoom-kuiers en om in my stoel in die hoek, langs my Arabiese lamp te sit en skryf.

Ek is egter die heel liefste vir my mense. My man wat skrop aan die pan waarin ek salm met heuning laat aanbrand het. Hy wat visvang-goeters kerf, al vang hy nie vis nie. Hy wat met Job se geduld die kinders wys hoe magnetisme werk.

My dogter wat ‘n vlymskerp sin van humor ontwikkel en met skewe glimlag haar oë vir my rol, want sy het gelees dis wat tieners doen… en sy is nou tien en moet begin oefen.

My seun wat nie meer ‘n seuntjie is nie, maar styf teen my kom staan in die middel van ‘n vergadering en trots aan die hele bestuurspan verklaar hoe lief hy my het.

My familie en vriende wat oral oor die aarde versprei is, maar wat sonder om te blik of te bloos, die foon sal antwoord as ek bel.

Ek was al die jare verkeerd. Ek het geglo ek het hulle onvoorwaardelik lief. Maar daar is nie iets soos onvoorwaardelike liefde nie. Daar is liefde. En dan is daar voorwaardes. 

Ek is dankbaar om lief te kan hê.

Ruimte

Opgewonde sit ek en kyk hoe Elon Musk se droom die ruimte inskiet. Space X is in 2002 (amptelik) gebore en miljuisende ure se navorsing, passie, werk, mislukkings, verwerking en aanpassings het gelei tot die historiese oomblik.

Bob en Doug sit effe knap, ongemaklik en in besondere isolasie in Falcon 9. Hulle hartklop, bloeddruk, suurstof en selfs die vlakke van suurinhoud word gemonitor, soos hulle in die bestek van 10 minute deur die atmosfeer van die aarde bars en vry is soos min mense ooit sal ervaar.

Ek is nie ‘n kenner van ruimte, satelliete of die wetenskap van ‘n vuurpyl nie, maar dit het nie my kinderlike opgewondenheid gekniehalter nie. Toe ek die video sien waar Elon opspring en sonder aarseling sy vreugde vier, het ek vrylik ‘n ou traantjie gepik.

Rolf Dobelli het die begraafplaas as die rykste plek op aarde beskryf, omdat soveel drome en hoop daar begrawe is. Elon is so ongelooflik bevoorreg om sy droom te kon laat realiseer, dat dit my sommer weer tot voor die rekenaar druk. Hy het nie met sy gat in die botter geval nie. Hy was nie net gelukkig nie. O nee, Elon het vir die laaste twee dekades, elke dag, sonder ophou, aan sy droom geskaaf, gewerk. Uithouer wen dalk nie altyd nie, maar Elon het weer die vlammetjie van motivering kom aansteek.

Dis baie maklik om verskoning te maak. Ek hoor en lees hulle daagliks.

“Die kinders hou my te besig, so ek kan nie nou daardie kortverhaal skryf nie.”

“My werk vereis reeds so baie, ek kan nie leer om nou nog te kook ook nie.”

“Ek het nie die regte skoene om te begin draf nie.”

“Dit vat geld om jou eie besigheid te begin.”

Dis die regering, ‘n skoonma, die skool, ‘n virus, ABSA, korrupsie… ander kry die skuld omdat jy jou eie drome begrawe. En alhoewel nie alles in ons beheer is nie, is daar tog sekere realiteite wat ons van onsself weerhou.

Ek is nie onskuldig nie. Daar is baie dinge wat ek eenvoudig nie wil doen nie… soos om suiker uit my dieet te sny of te begin oefen. Ek stel nie belang nie en gaan ook nie verskoning maak daarvoor nie. Visvang interesseer my nie. So ook nie rekenaartaal, verftegnieke, blaarslaai of chemiese vergelykings nie. Maar daar is soveel wat ek WIL doen. En dan lei uitstel tot afstel. Ek wil ‘n postmodernistiese boek skryf. Ek wil klavier speel. Ek wil eet sonder om vet te word. Alle drome kan sekerlik nie waar word nie, maar Elon het my op 30 Mei weer herinner dat alles ook nie onmoontlik is nie.

Ek het die klawerbord vanoggend afgestof en ek onderneem om vir die volgende ses weke elke dag ten minste twintig minute my vingers los te maak oor die klawers. Al die pakke papiere en boeke en navorsing is uit die kas gehaal en vandag gaan ek begin sorteer aan die inhoud van daardie boek. Ek gaan ophou skuldig voel oor ek witbrood met BAIE kaas eet (en daarvan hou).

Crew Dragon het geskiedenis gemaak. Die hele wêreld het in afwagting sit en kyk hoe gode van alle herkoms, met behulp van fisika,, ‘n wonderwerk beskerm. Elon verduidelik in ‘n onderhoud, minute na die afvuring van sy breinbaba, dat die mens ‘n nuuskierige wese is. Ons het elkeen ‘n onwrikbare drang om te ontdek. Party mense onderdruk dit tot op ‘n punt van hartseer en depressie. Ander groei vlerke aan hul voete. Ons hoef nie eenders te soek nie. Die ruimte is maar een plek om te gaan ontgin. Begin dalk kleiner. In jou huis. In jou tuin. Selfs net in jou binneste. Maar om hemelsnaam, moenie jou ruimte afbreek tot ‘n spikkel wat niksseggend gaan sterf nie. Jy is beter as dit. Bestem vir meer. Doen wat jy moet doen, nie net wat jy glo jy kan nie. Skep jou ruimte.