Antwoord

‘n Herrie bars los, oor iemand ‘n vraag gevra het. Is Apple beter as Samsung? Moet ek regtig ‘n masker dra? Doen ons president die regte ding? Hoekom maak swart lewens saak?

Jy kan maar verder lees, ek gaan nie antwoorde gee nie. Ek is nie hier om op ‘n politiese seepboks te klim en my opinie uit te basuin nie. Dis nie asof my mening nou tog regtig die wêreld kan verander nie. Ek bedoel, wie is ek nou eintlik? Die effense berese, belese wese in die woestyn wat nog nooit gesien het hoe ‘n spinnekop kraam of ‘n vlermuiswang geëet het nie? Ek is net ‘n onderwyser. En al glo ek dat ek ook ‘n lewenslange leerder is, weet ek baie dinge nie. Ek weet nie eers wat ek nie weet nie. En as ek dink ek weet wat ek nie regtig weet nie, wat dan van die volgende stel kennis waarvan ek nie eers weet nie?

Nou moet mens nog boonop verstaan dat kennis in verskillende vorme voorkom. Daar is mense wat oor ongelooflike boekkennis beskik. Ek kan ure in verwondering sit en luister hoe iemand oor die oorlog vertel, die stories en staaltjies, die werkinge van ‘n weermag, die intelligensie wat soms ooglopend ontbreek. Daar is ‘n ingeneur wat in vervoering raak oor binêre kode en hoe 1 en 0 eintlik nie 0, 1 of 10 is nie, maar die verduideliking van hoekom die kliek van ‘n muis so lekker werk. My oogarts verduidelik in die mees eenvoudige terme aan my hoekom ek nie kwalifiseer vir laserbehandeling nie en gedoem is om bril te dra tot ek die ewige lig sal kan sien. Om te Google-loer maak kennis redelik maklik beskikbaar. Ongelukkig is dit dikwels die verkeerde kennis, in die verkeerde hande… amper soos ‘n hiperaktiewe kleuter wat met ‘n skêr in sy hand deur ‘n glaswinkel hardloop.

 

Aan ‘n ander hoek is daar intellektuele vernuf. Logiese denkers wat sistematies en analities probleme kan oplos en redenasies an voer wat my mond laat water. Hierdie is nie ‘n kuns wat jy leer nie. Dit word geoefen. Geslyp met ervaring. Geskaaf met refleksie. Ek dink dit is ook diegene wat Maslow se hoogste trappie van self-aktualisering bereik. Dis magies om te aanskou en in die laaste paar jaar het dit ‘n droom geword. Een wat ek weet nie bewaarheid sal word nie… en dit maak my selfs meer opgewonde.

 

Iets ongelooflik orgasmies en organies gebeur as die boekkennis met die intellektuele vermeng word. Dis mooier as ‘n sonsopkoms of ‘n paar stywe boude aan ‘n gespierde man. Dis meer inspirerend as ‘n hoëveld-storm of ‘n blinde kind met ‘n nagtegaal-stem wat Idols wen. As jy olie en water skud, meng dit vir die oomblik, maar as gevolg van digthede, skei hulle eindelik weer. Boekkennis en intellektuele vernuf werk nie so nie. Dis soos twee swetende lywe wat een word in ‘n passievolle oomblik, maar dan permanent deel word van mekaar. Onafskeidbaar. ‘n Nuwe tipe feniks wat uit die onkunde van ‘n nasie verrys. Dit maak my so opgewonde soos daai kleuter met die skêr. Die moontlikhede is grensloos.

 

Daar bestaan allerlei vorme van kennis en intellek en slimgeit. Ons kan nie alles bemeester nie. Ons moet vra vrae. Ons moet soek en eksperimenteer en uitvind. Ons moet ontdek en nuuskierig wees. Ons moet lees en ondersoek en soms ongemaklik voel. Dis deel van groei.

Ons hoef egter nie altyd op alles te antwoord nie. As ek wel antwoord, antwoord ek gewoonlik met ‘n aanhaling:

  • “Daar is twee oneindige dinge: die heelal en menslike sotlikheid. Ek is nie so seker oor die heelal nie.” – Albert Einstein
  • “Die verskil tussen genialiteit en sotlikheid is dat daar ‘n beperking op genialiteit is” – Albert Einstein
  • “Slim mense vra aanhoudend vrae. Dom mense antwoord dit aanhoudend.” – Michael Crichton

 

Miskien is die ware toets van kennis, in die wete dat stilbly soms die kragtigste antwoord is.

One thought on “Antwoord

  1. Chantelle, Jy vat dit baie raak. Het redelik baie van Osho se werk gelees. Sy boek Intuition verduidelik die verskil tussen Instinct, Intellect en Intuition baie goed. Was nogal een van die verduidelikings van die versklille wat by my gebly het. Die belangrikke is die verskil tussen Intelligence, die leer van baie goed, grade, prakties en prosedures. Intelegence raak wisdom wanneer daar nie volgens stappe gedink word nie, maar met die gevoel van reg, wat ook nie met arrogansie verwar moet word nie.

    Dankie vir jou wysheid.

    Albertus

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s