Draai

Ek wil 2020 oor begin. Om mee te begin sal ek nie ‘n dagboek koop nie.

Ek was nie voorbereid vir die mal wêreld wat soos ‘n granaat oopgebars het en toe alles wat mooi en goed is, kom bevlek het nie. My kop se ratte wil nie die rigting van die aardbol se bewegings verstaan nie. My brein hardloop soos ‘n lawwe babahondjie al agter sy eie stert aan en my maag lyk soos vetkoekdeeg wat iemand in die son vergeet het.

Dis 1 September. Lentedag in die Suide, al is dit steeds koud en dra my ma ‘n serp op die foto. Dis net so rapsie onder 50 grade hier by ons, tog is dit amptelik die begin van herfs. Die Noordpool smelt en Kersvader is op Atkins se dieet en die elfies het Koronakoors en ek dink ons moet sommer voorlopig en vroegtydig Krismis kanselleer. Voor ons kinders hoop gee en dan hulle harte met ‘n maer Kersvader sonder geskenke moet breek.

Die skole het begin. Angstige ogies loer oor maskers vir my as ek in die gange afstap. Alles ruik soos ontsmettingsmiddel en spanning. Ek reken dis soos ‘n vergete bedpan in die ouetehuis se verswakte-afdeling verdoesel sou word, met die reuk van ammoniak en alkohol. Die gedagte dat daar alkohol in die waterlose handseep kan wees wat oral teen die mure in deurskynende houers lek, het my amper oortuig om vingers te begin suig. Die skool het skielik ‘n tronk geword. Jy mag aan niemand raak nie en afstand moet gehou word. Daar is afgebakende gebiede vir elke groep en sekuriteit staan oral en wag vir ons om iets verkeerd te doen. Lig jou masker oor jou neus. Laat sak jou hande. Haal ligter asem. Moenie hoes nie. Ek wil my albasters verloor.

Ses maande van isolasie het my mens-sku gemaak. Ek ruik almal se asems. Selfs van agter die maskers af. Ek gril vir ‘n kollega se vingernaels en voel hoe my battery pap word in gesprekke waar kla en kerm oorneem. Ek wil nie gesprekke voer oor wie se lewens meer saak maak nie, want hoe meer mense daaroor praat, hoe groter voel die skeiding vir my. Ek wil nie petisies teken, honde aanneem, aansluit by nog Faceboek-groepe of myself steur dat sekere speelgoedpoppies nou my dogter na tienerswangerskap en aborsies gaan lei nie.

Vanaand begeer ek stilte. Ek wil soos ‘n volstruis my kop in die grond druk en die mallemeule ignoreer. Te veel mense slaan op hul bors, skree hul frustrasie, dreig, vereis, verwag, soek nog nog nog nog nog… en die wat werklik sukkel en snak na asem, doen dit geruisloos. Kanker steel twee borste, ‘n ma druk ‘n kussing op haar maag sodat die kinders nie die hongerpyn kan hoor nie, ‘n pa trek die lem oor sy pols sodat die bloed saggies in die bad uitloop, ‘n baba verdrink, ‘n groot hand druk ‘n kindermond toe terwyl hy skandelik peuter, ‘n vrou begrawe haar man alleen. En dit alles terwyl die massas skree vir wyn en sigarette. Terwyl die tannies op hul hoë perdjies aandring om die bestuurder te sien. Terwyl politikuste lieg en blaam aanskuif en Brad Pitt ‘n meisie 30 jaar sy junior vra om te kys.

Die spanning sal verlig word. Die virus sal kwyn. Die vliegtuie sal die osoonlaag weer opfoeter en my kinders sal weer sonder aarsel drukkies uitdeel. Ek sal seker weer ‘n dagboek koop. Hoe hartseer is dit nie? Die mal wêreld hou net aan met draai. En mense juig.

3 thoughts on “Draai

  1. Ek voel nes jy. Ek dink die pandemie het mense te veel tyd gegee om aan nonsens te dink want daar is te min om hulle mee besig te hou. Die slagspreuk “idle hands are the devil’s tools” lui al hoe meer waar vir my. Ek voel uitgeput want almal is oorsensitief oor als. Ek het selfs iets gesien oor Adele (die sangeres) haar hare op ‘n manier gedoen het wat Bantus in die gesig vat. Los die vrou uit – dis haar hare om te maak mee soos sy wil! Genade – die wereld het sy varkies verloor.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s