Komediant

Ek rol my oë vir die derde keer vandag. Eers was dit vir myself; toe ek tandapasta op die haarborsel wou sit. Toe vir my melodramatiese agtjarige; haar skoene sit glo so styf dat dit voel asof sy haar voet binne die volgende 18 minute gaan verloor. En nou vir Jeremy Mansfield wat reken dat Xander die twee meisies op Stella vermoor het, want Xander was ook ‘n jagter…

Soos ‘n wafferse Facebook-bekruiper neem Jeremy ‘n skermskoot van Xander waar hy twee jakkalse geskiet het. Die foto word nou wyd oor sosiale media versprei met ‘n lang relaas oor hoe jagters moordenaars is. Navorsing word aangehaal oor hoe meeste reeksmoordenaars ‘n geskiedenis het van dieremishandeling. En die mense gaan mal: Dis moord. Dis walglik. Dis afgryslik. Jeremy vir president!

Nee. Want al is die navorsing kolskoot, word die punt word gemis: jag is allermins dieremishandeling. En die ou wat diere mishandel met ‘n wapen, is nie ‘n jagter nie. Stropers is nie jagters nie. Poepholle wat duiwe met ‘n .22 skiet terwyl hulle brandwyn drink, is nie jagters nie. Jagters doen twee dinge: 1. hulle wil die dier so vinnig en pynloos as moontlik skiet (meestal om biltong te kan maak) en 2. hulle mors niks, alle vleis word gebruik. As hierdie twee reëls nie gevolg word nie, het jy nie met ‘n jagter te doen nie. My ervaring het my geleer dat jagters meer respek het vir die natuur as die vegetariër wat sy plastiekbottel by die kar se venster uitgooi.

Dan is daar kwessie van Xander wat jag. Hy het ook McDonalds geëet, Colgate shampoo gebruik en bier gedrink. Die outjie wat mense in Florida afgemaai het met ‘n automatiese geweer, se laaste maaltyd was ‘n Big Mac. Die seun wat sy ma met ‘n kombuismes opgekerf het in Engeland, se skouerlengte lokke het soos Colgate se appels geruik. En van die sewe plaasmoordenaars wat in April 2018 gearresteer is, was 6 poepdronk van bier. As jy die lyntjie wil trek, kan jy. As die skoen pas, kan jy hom aantrek. Maar hier word die baba saam die badwater uitgegooi. Wat van al die duisende jagters wat NIE mense moor nie? Wat van die dominees wat NIE met seuntjies peuter nie? Wat van die Blou Bulle wat NIE hulle vrouens slaan nie? Ons kan nie almal oor dieselfde kammetjie skeer nie… veral nie as die kammetjie pas Jeremy se boudhare gekam het nie.

Moordenaars skop dalk klein katjies en dalk eet hulle kitskos en dalk was hulle lank gelede geboelie… maar daar is ook moordenaars wat hoofmeisie was, kanker oorwin het, ‘n tuisnywerheid besit het, liefdadigheid by die ouetehuis gedoen het en president geword het. Moordenaars het nie ‘n te-doen lysie nie. En hulle CV’s lyk beslis nie dieselfde nie. Siek kom in verskillende vorme.

Xander is siek. Of dit ‘n versteuring is en of die siekte in die siel, gees of verstand is, weet ek nie, maar dat iets verkeerd geloop het vir Xander is ‘n feit. Hy gaan moet boet vir sy optrede, maar ek weier om die vinger na sy jakkalsjag te wys. Aikona. Jy is glo ‘n komediant, Jeremy. En radio-omroeper. En kosboekskrywer. Maar ingelig en logies is jy beslis nie. As hierdie die reseppie vir jou komedie is, wil ek maar net sê: kak grap.

Advertisements

Stella

Ek weet nie wat in ’n kind se kop gebeur voordat hy besluit om sy meisie en haar vriendin se suurstof te steel nie. Dat dit wreed, onnodig en hartverskeurend is, verstaan ek. Wat my egter bewend van vrees laat, is die mense wat slaggereed staan vir sosiale oorlog van reg en geregtigheid.  

Die onderwysers wat niks gedoen het nie… die ouers wat nie die tekens gesien het nie… die ma wat toegelaat het dat haar dogter alleen in die koshuis slaap… die pa wat nie meer betrokke was by sy seun se opvoeding nie… die vriende wat niks gesê het nie… die gemeenskap wat haat in plaas van ophef. En so tussen die blaamboksies wat heen en weer gegooi word; tussen die vingers wat soontoe en heentoe gewys word; tussen die oordeel wat alle kante toe gespoeg word; tussen dit alles staan treurende ouers. Ouers wat kinders aan die dood en die tronk moet afstaan. Ouers wat opgevreet word deur skuldgevoel en verdriet en hartseer en “wat as…” en nou nog gekonfronteer word met sosiale haatspraak en kruisverhore. 

Iemand vra: “Hoe siek het ons samelewing geword? Ek hoop hy vrek in die tronk.” 

Jip. Sò siek het ons samelewing geword dat ons dink dit is aanvaarbaar om die doodsvonnis oor iemand uit te spreek sonder enige feite of kennis van geestesversteuring of sekerheid van koelbloedigheid of hoop op rehabilitasie.  

Iemand skree: “WAT DE F&K GAAN AAN MET DIE JEUG VAN VANDAG? KRY VIR JOU BOETIE. KRY VIR JOU!!!”

 Jip. Kry vir jou ’n handvol haat en woede van die ouer generasies wat sonder begrip of insig nog klippe uit hul glashuise gooi. 

Iemand versprei: “Daai meisies het mos vir k#k gesoek om alleen in die koshuis te slaap. En daai laaitie sal kry wat hy verdien. God slaap nie.”

Jip. Want as ons slaap, vra ons eintlik almal om vermoor te word en dan kan alle vloek verskoon word as ons tog net ‘n god se naam daarby kan voeg.

 

Dis afgryslik. Die hele storie ruk my binnegoed. Ek dink aan die ouers wat hul dogter moet begrawe. Die woede en angs en weemoed waarmee hulle sal moet leef voor die wond gesond word. Die letsel sal bly. Ek dink aan die ouers wat nou, onwillekeurig, die reis van prokureurs en regters en media-waansin en onvoorwaardelike liefde moet onderneem. Ek dink aan ‘n jong man wat moet leef met bloed op sy hande. En ek dink aan ‘n samelewing wat verleer het om te simpatiseer, maar boelies en blaamwysers geword het. My hart is seer oor Stella. My hart bloei vir Suid-Afrika.

 

Liewe Ashwin

Liewe Ashwin

Ek ken jou nie persoonlik nie, maar jy is nou al twee dae in my gedagtes. Die hele #SuperSportSage maak tot die nuus hier in die woestyn en jou optrede laat my dink aan keuses.

Sien Ashwin, destyds, toe jy genooi is om vir die Bokke te speel, was jy bewus van die feit dat jy ’n kwota-speler was. Net so bewus soos die duisende blanke seuns wat NIE gekies is nie, want hulle velle was te lig. Jy het gekies om JA te sê. Jy het gekies om die groen en goud te dra. En toe het jy bewys dat jy meer is as NET ’n kwota-speler. Jy was speler van die jaar, speler van die wedstryd en speler van die spelers. Jy het uitgestyg bo die etiket waarmee jy die span betree het, maar jy kan ongelukkig nie ontken dat die etiket wel bestaan nie.

Jy het gekies om vir Supersport te gaan werk. Jy het gekies om jou nie baie professioneel te gedra nie. Nou verstaan my nie verkeerd nie, ek dink ons almal was al skuldig daaraan om ons moere ordentlik te pluk. Ek het ’n video op Facebook gesien waar ’n vrou haarself so vervies in ’n koffiewinkel, dat sy letterlik die kelner met haar eie stoelgang gegooi het… nadat sy ’n bollie op die vloer, in die openbare oog gemaak het. Jou optrede nou die dag het my nogal hieraan laat dink. Jy het ook maar jou kak verloor. Ons almal doen soms. Ons almal doen dit dalk nie op televisie nie, maar steeds. Ek wonder wat die oorsaak hiervan was en ek sal my nie vir een oomblik laat wysmaak dat dit ’n enkele insident was nie.

’n Bekende koerant berig gister dat Nick Mallet jou met ’n pakkie tjips geterg het. Was dit Lays of Simba? En was Francois Pienaar ook betrokke? Of was die tjips maar net ’n onskuldige party in die oorlog tussen… was dit oud en jonk? Wit en swart? Humor en swak smaak? Hoekom was hierdie insident noemenswaardig? Gee ons die details Ashwin, dan kan ons mos kies of dit saak maak of nie.

Jy het egter nou ook ’n keuse. Jy kan die kwota-speler bly en die ras-kaart aanhou speel en moontlik wen. Naas en Nick kan die rooikaart kry en jy sal die een wees wat laaste lag. Maar van lekker lag, kom lekker huil, Ashwin. Ons land het nodig om te sien dat helde bo kleinlikhede kan uitstyg. In plaas daarvan om speelgoed rond te gooi soos stout kinders, moet ons om die tafel gaan sit en soos grootmense die ding kan uitpraat. Niemand is onskuldig nie, maar een ou alleen kan ook nie die blaam dra nie. Kies om nie vinger te wys nie, Ashwin. Kies om beter te wees, nie net vir jouself nie, maar vir al die opkomende kwota-spelers ook. Leer hulle hoe om ontslae te raak van die etiket. Sê jammer. Sê hoekom hulle moet jammer wees. Maar asseblief kies om beter te wees as die politieke slange wat onmin saai en haat kweek. Doen dit om jou ouers trots te maak. Doen dit in die naam van rugby. Doen dit omdat ek mooi vra. Asseblief, dink net voor jy kies… want selfs al was jy “net” ’n kwota-speler, kan jy vandag kies om veel meer te wees.

Groetnis

Chantelle

Die Klip

Ek het hierdie ongelooflike klip wat ek vir die laaste paar weke in my maag saamdra. Nee, ek is nie hardlywig nie en nee, ek is nie siek nie. Wel, nie fisies nie in elk geval. Ek vermoed ek het geestelike verkoue. Of dalk is dit emosionele virusinfeksie. Iets is fout. Ek is moeg. Alledaagse vrae word herkou en dieselfde antwoorde word oor en oor en oor uitgespoeg. Ek gooi ‘n klip in die bos:

Ek stap by ons personeelkamer in en na ’n paar minute van ditjies en datjies uitruil, kyk ek die Wetenskapjuffrou in die oë en vra: “Wat maak jou opgewonde?”

Sy het nie kans gehad om die skok te verbloem nie. Dit was op haar voorkop en langs haar mondhoeke voordat sy dit kon keer. Die frons het dieper geword soos sy begin dink het aan die “regte antwoord”. Ek help haar reg…

“Nee, ek wil nie weet of jy van ’n sonsondergang hou of nie… ek wil weet wat maak JOU opgewonde? Wat is jou passie? Wat laat jou glimlag as jy dit doen?”

Die vraag veroorsaak stilte in die vertrek. Almal dink. En toe die skok: niemand het eintlik ’n antwoord nie. Ons is almal onderwysers wat vergeet het dat daar ’n lewe buite die skool is. Verwyder van jou familie en al die moets en moenies wat die samelewing daargestel het. Die klip in my maag is nou al ’n rotsformasie.

My navorsing is nie klaar nie. Ek stuur ’n paar selektiewe boodskappe. “Wat laat jou na jou asem snak?” ; “Wat maak jou opgewonde?”; “Wat is jou passie?”.

Ek haal al hoe vlakker asem. My hart klop vinnig. Ek voel ongemaklik. Ek weet ek gaan nie vanaand kan slaap nie, want hierdie vraag druk op my bors dat ek voel soos ’n asma-lyer in ’n stofstorm. Ons het geen tekortkoming nie. Ons is gesond, gelukkig, geseënd. Maar ons is vasgevang in die worsmasjien van oorlewing met bitter beperkte kennis van lewe.

Toe nie. Daar is hoop. Want van alle uithoeke van ons aarde, kom die antwoorde op my selfoonskerm. Selfversekerde antwoorde, sonder skaamte, skroom of selfverwyt. En die berg in my binneste is terug na bult-status (dit mag natuurlik ook die twee stukke kaaskoek, een oliebol en halwe liter waatlemoensap wees wat die bult maak, maar dis nie nou ter sprake nie*). Ek weet nie wat die antwoord is nie. Iemand het gevra wat die sin van my lewe is. ’n Ander vriendin voel ook die eksistensiële angs. Ek haal weer stadiger asem. Ek hoef nie al hierdie dinge dadelik te weet nie, want niemand van ons kom met ’n handleiding nie. Maar my vermoede is wel bevestig… ek het my mense nodig. Die mense wat sonder aarseling my vrae beantwoord. Die vriendinne wat erken “ek weet nie” laat my minder eensaam voel, die res gee my ongelooflike hoop. Ek kan van al die onnodige penne in my laai ontslae raak. Ek kan die plastiekbakkies sonder deksels weggooi. Ek kan die twaalf roompies op die badkamerkas verminder na twee. Maar al sien ek julle min, al praat ons nie almal daagliks met mekaar nie, al verloor ons soms ritme met mekaar se lewens… ek sal eenvoudig nie kan minimaliseer as dit by my mense kom nie. Want julle… julle help dra aan die klip. Al is hy in my binneste… nee, VERAL as hy in my binneste is.

 

* Ek dink ek verwar herhaaldelik die klip-in-my-maag-gevoel met hongerte.

Na rus

Ek het ‘n vriendin wat hekel. Alles van babakombersies tot daardie poprokke waaronder jy ‘n rolletjie witgoud op die toiletbak kan wegsteek. As sy daai steekpen beetkry, word vingerfoute ondenkbaar en glimlag sy spontaan. ‘n Ander vriendin sing. Nie net in die stort nie, maar op die verhoog ook. Met elke noot wat sy netjies vasvat, blink haar oog so bietjie meer. ‘n Lawwe vriendin hardloop. Nie net om die blok nie, maar sy draf kilometers aanmekaar. Sy weet nie altyd waarheen nie, maar dis asof die afstand en tyd haar dryf om die een been vinniger voor die ander neer te plant. Sy doen dit nie omdat sy gewig wil afskud of gesond moet wees nie, maar omdat dit haar kop skoonmaak. Dit laat haar lekker slaap.

My boetie luister musiek. En speel kitaar. En tik kodes op ‘n komper. En soms drink hy ‘n bier as hy klaar kos gemaak het. Dan neem hy ‘n kiekie en ek weet hy ervaar vir ‘n oomblik berusting. My skoonsus karring tot die vetplantjie sy wortels vind. Sy lees die storie aan haar seun met onomatopoëtieka. En die feit dat ek daardie woord pas kon saamflans, gee my hoendervleis van lekkerkry. My skoonpa eet ‘n garnaal tot net ‘n vae gedagte agterbly. Skoonma voel gerus as sy na stemnotatjies van die kleinkinders luister. Pappa lees. Mamma drink wyn.

‘n Tannie kleur die fraaiste feëtjies in ‘n spektrum van skouspelagtigheid. ‘n Mevrou bak ‘n koek wat die gemeente se asem sal wegslaan, nie van die hoeveelheid brandewyn wat sy gebruik het nie, maar van die mooi. ‘n Oom bou ‘n seiljag met sy kaal hande, vir twee dekades lank, sonder ophou, sonder hulp. ‘n Tiener druk ‘n puisie tot hy teen die spieël ontplof. ‘n Bejaarde maak haar longe vir die laaste keer vol… en leeg. ‘n Meneer teken die egskeidingsdokument. ‘n Kind skets die reënboog. ‘n Weggooihondjie word aangeneem.

 

Soek jy steeds na die waters waar rus is? Drink ‘n koppie tee. Skryf ‘n gedig. Dans kaalgat in die sitkamer. Lees ‘n boek. Soek ‘n prentjie tussen die wolke. Skeer ‘n skaap. Vertel ‘n grappie. Vergeet jou selfoon vir ‘n dag by die huis. Brand ‘n kers. Doen. Net. Iets. Anders. Jou rus is waar jou vrede is. Jou vrede is waar jy glimlag. Jou glimlag is buite die boks van jou eie beperking. Gaan vang jou psalm.

Strooitjie

Ek het nooit gedink dat ek sou opgewonde raak oor ‘n strooitjie nie. Maar vandag het ek ‘n adrenalien-aangedrewe entoesiasme ervaar toe die deurklokkie lui. Met ‘n paar spronge van opgewondheid het my 8-jarige dogtertjie, haar pakkie oopgeskeur. Daar was ‘n relaas oor die plastiek wat gebruik is om die strooitjies in te verpak, maar eindelik het sy die staalstrooitjies met ‘n reuse glimlag vasgedruk en toe in my handsak gaan bêre.

Sien, vir die afgelope paar maande word die aarde een klein treëtjie op ‘n slag gered. Ek moes (teen my wil) oor rotse langs die see gaan loop om die gemors op te tel. Daar word vir my gepreek as ek nie die papier en plastiek en glas in die regte herwinningsasblik gooi nie. Ons moet slimmer inkopies doen, met ons eie sakke. Elkeen het sy eie staal waterbottel, kosblikke is nou omgewingsvriendelik en ek moet die een You Tube video na die volgende kyk oor dolfyne en rommelhope…

Ek het eers gesug. Toe geglimlag oor haar ywerigheid. Nou is ek deel van hierdie span wat weier om by te dra tot die gemors wat die mensdom maak. Ek sal egter geen preek afsteek nie en Lehja moet nog leer dat dit nie goeie maniere is om jou opinie in ander se kele af te druk nie… ook nie ‘n strooitjie nie.

Elke jaar word byna 175 biljoen strooitjies oor die aarde weggegooi. Behalwe dat die vervaardiging van hierdie plastiek-suig-implemente Moeder Aarde laat snak na haar asem, is die probleem dat slegs 0,8% van strooitjies herwin word. Die res beland in die oseane, in rivierlope en op straat, waar diere die slagoffers van menslike afval word. En as ek nou eerlik moet wees: dis nie juis esteties aangenaam om na hope vuil strooitjies langs die snelweg te loer nie.

Wanneer het die homo sapien so lui geword dat jou lippe nie gebruik kan word om te sluk nie? Blykbaar is die eerste strooitjies reeds duisende jare gelede gebruik om die drank van die skifsel te skei. In Egiptiese hiërogliewe kan strooitjies gesien word. Maar dis 2018. Ons drink nie meer water wat uit ‘n put aangedra word nie. Ons teeblare word nou met oulike staalhouertjies vasgeknyp (of in teesakkies verpak). Hoekom die strooitjie? Want dit maak een of ander plastiekvervaardiger skatryk.

Kanada het plastiekstrooitjies in April 2018 verban. Talle restaurante het nou slim plaasvervangers begin gebruik… soos herwinbare papierstrooitjies en laaaaaang pastastrooitjies en selfs die kitskosreus, McDonalds is nou besig om projekte soos “the last straw” te ondersteun. Maar ons Jan Alleman se vertoë is eenvoudig: ag, wat gaan my strooitjie nou saak maak? Die probleem is dat 7 biljoen mense op aarde juis sò redeneer… en dan moet ek alweer ‘n video kyk van hoe ‘n plastiekstrooitjie uit ‘n seeskilpad se neusgat getrek word… en dan moet ek alweer ‘n 8-jarige Lehja se trane afvee… en dan moet ek alweer in die nag opstaan as my kind ‘n nagmerrie kry oor die eekhoring wat in ‘n stuk plastiek verstrengel geraak en versmoor het. Dalk het ek weke lank gesoek na staalstrooitjies vir selfsugtige redes: ek het my slaap nodig. En miskien het die wêreld meer 8-jarige hartjies nodig, wat onvoorwaardelik omgee oor die toekoms van elke lewende wese op hierdie blou planeet. Lehja, jy laat my deur ander lense na die lewe kyk. Jy is ‘n voorbeeld van hoe ons Moeder Aarde, op Moedersdag (en elke ander dag) moet hanteer. Ek salueer jou, staalstrooitjie in die sak.

 

 

 

 

Om te eet… soos ‘n onderwyser

Ons word van kleins af geleer om nie te praat met ’n mond vol kos nie. Kou sodat niemand jou mangsels hoef te sien nie. Sluk sonder dat dit klink asof daar met ’n elektriese saag gewerk word. Niemand wil spoeg sien spat as jy ’n jêmbroodjie verorber nie. Moenie loop en eet nie. Moenie met ’n vol maag gaan swem nie. Dan kom die woorde van my ma sommer ook by my op: “Eet stadiger, jy jaag nie ’n trein nie!”

Toe word ek ’n onderwyser. Volgens die skoolrooster is daar twee tye in die dag wat ek kan gebruik om te eet. Tydens pouse moet ek egter ’n draaitjie loop, my kopieë gaan afhaal, drie kwadratiese vergelykings aan ’n Graad 12 verduidelik, seker maak die seuns moker mekaar nie op die sportveld nie, my banke skuif wat die Graad 11’s herrangskik het en sommer gou ’n paar boeke merk. En as die klok die volgende periode aankondig, grom my maag. Dis dan wanneer die jogurt sommer gedrink word. ’n Handvol neute word in my keel afgegooi, terwyl ek die seuns aanmoedig om vinniger te stap en hul hemde in te steek. Ek vat drie happe van ’n appel sommer so in die hardloop en ek weet ek sal tweede pouse die ander (dan bruin) deel van die appel eet.

Nou kyk, as jy ongemaklik wil voel, dan moet jy nou probeer om ’n piesang te eet voor ’n klomp hormonale tienerseuns. Om ’n slaai (sonder blare) te eet, besorg jou die bynaam van Juffrou Haas in die personeelkamer. Toebroodjies hou nie van tamatie nie en om sjokoladesmeer of grondboontjiebotter op brood te smeer is vir my amper so erg soos om brokkoli op pizza te sit. Ons moet die voorbeeld van “gesonde eetgewoontes” stel, dus is daai pakkie sout-en-asyn Lays, asook die halwe Kit-Kat en die blikkie Fanta, sonde.

Saal vir jouself ’n moeilike perd op en probeer in die klas eet. Eers is daar die redenasies van “maar mag ons dan ook eet?”. Dan is daar die “sharing is caring” aanmerkings. En na slegs een keer van ’n blikkie tuna oopmaak in die klas, het ek besef dat sekere reuke net nie geskik is vir opvoedkundige omgewings nie. Ten minste vier hemde in my kas getuig dat die reël “moenie koffie loop en drink nie” waarde dra.

Onderwysers kan nie eet wat hulle wil, wanneer hulle wil of waar hulle wil nie. Tydens vanoggend se toesigsessie in die saal, het my maag so hard gegrom dat die hoof my kom vra het of ek siek is. Teen die einde van die dag het ek skeelhoofpyn van honger en bewe my hande soos ’n dik antie se boude op een van daai skudmasjiene.

Ek leer my kinders om met ’n toe mond te kou, stadig te eet en jou kos fyn te kou voor jy sluk. As hulle egter onderwysers wil word, sal hulle egter moet aanpas. Laat jou tandjies klap met groot happe. Sluk halfgekoude kos met water af. Eet vinnig, in die hardloop en hoop maar jy gaan nie sooibrand kry van die pakkie Lays wat jy skelm in die badkamer verslind het nie. Maak maar seker jy dra van daardie waterlose seep in jou sak, want daar gaan nie tyd wees om altyd jou hande te was nie. As jy wil eet vir genot, gaan werk in ’n kantoor. As jy die kuns van oorlewing wil verstaan, word ’n onderwyser.