Die liefde

Die onderwerp is al holrug gery. Soveel boeke is al oor hierdie tema geskryf, dat tot die woordeboek al sug as jy liefde met lus verneuk. Gedigte word tussen “lief” en “hartedief” gepleeg. Liedjies word gekastreer op nasionale radio, want dit is groter as hoop en geloof. Iewers tussen Valentynsdag se rooi kartonharte en die emosionele gesiggies wat oor sosiale media soentjies stuur, het die liefde ‘n kommin klap van ‘n windmeul weg.

Ek praat nou nie hier van die liefde wat ‘n ma se hart vir haar kinders klop nie. Ook nie van die liefde wat ‘n kind vir sy ouers voel nie. Ek praat hier spesifiek van ‘n romantiese liefde… een waar vlinders in jou maag ‘n vereiste is en die nood druk om na Theuns Jordaan en Karlien van Jaarsveld se musiek te begin luister. Een waar jy jou kussing sopnat kwyl in die nag en dit is nie die droë lug se skuld nie, maar te danke aan jou wilde  drome. Ware, egte, skryf-‘n-boek-oor-jou-lewe, ek-begin-sommer-dig liefde.

Ek weet ek is lief vir my wederhelfte. Ek hou ook nogals van hom. Hy maak vir my koffie, hou my vas as ek verlang na my mense en hy laat my lag. Hy luister na al my idees (en meeste van hulle is maar vreemd, ewekansig en sinneloos) en partykeer was hy selfs die potte. Maar ek wou nog nooit ‘n rym-liedjie vir hom sing nie. Ons het elkeen ons eie Facebook-rekening en ons deel nie ‘n tandeborsel nie. Ek is ek. Hy is hy. En saam IS ons. Dis vir my liefde en dit hou my staande.

Maar iewers, nie te ver van my hart af nie…

Die vrou staan langs die graf en treur oor die man wat sy vandag moet begrawe. Dis nie haar man nie, maar dit is wel ‘n deel van haar hart wat in die grond wegsak. ‘n Liefde wat nooit mag of kon wees nie, maar eintlik moes.

Die vrou staan op die lughawe en kyk hoe die vliegtuig opstyg. Sy lig haar hand om te waai en besef dan hoe onlogies die gebaar is. Amper so sinneloos soos om liefde te vind in die arms van ‘n getroude man. Dan draai sy om en gaan haal haar eie kinders by die skool.

Die vrou staan voor die spieël en vryf oor haar geswolle maag. Nog net drie maande. Dan is sy nie meer ‘n weduwee nie, maar ‘n mamma. Haar hart skeur saam haar buik en kop en brein in twee, want sy weet nie of sy steeds moet rou en of sy moet opgewonde raak nie. Die lewe het haar uit liefde gekul.

Die vrou staan in die kombuis, besig om die kapokaartappels fyn te maal. Haar gedagtes dwaal na erotiese nagte saam die nuwe, jong fiksheidsinstrukteur. Hy bring nie winde op nie, skree nie vir nog ‘n bier nie en hy fluister nog liefdeswoorde in haar oor.

Die vrou staan voor in die klas. Sy verduidelik hoekom “die” eintlik ‘n lidwoord is en hoekom Totius ‘n god kan wees. Die liefde van haar lewe het sy tas gepak en die pad gevat. Hy lê nou lepel by ‘n jonger weergawe, terwyl sy haarself aan taal oorgee.

 

Al die soetsappighede vervaag met die wete dat die liefde nie altyd wen nie. Partykeer wen die lewe. Dis hartseer. Dis wreed. Dis onregverdig. Maar ek konsentreer op die vrouens agter die tragi-verhale. Soms gaan lê hulle van pure moegheid. Maar hulle staan altyd op. Dan lig hulle die ken, trek die skouers terug en kyk die lewe weer vol in die oë. Of dit nou langs die graf, in die kombuis, op die lughawe of voor die spieël is… of dit nou met die liefde van haar lewe langs haar sy, die plaasvervanger of sommer net op haar eie is… een ding is ek van seker: die vrou sal staan.

 

Advertisements

Mooi loop!

Ek het hierdie afgelope paar weke regtig probeer om gesonder te eet. Ek het soveel keer my kop geskud vir sjokolade en geweier om myself oor te gee aan die lus van ’n karamelgevulde roomys. Gister het ek behoorlik myself van die wal af in die sloot gegooi. Nachos gedoop in avo… soutbeskuitjie met knoffelroomkaas… kolwyntjies, sjokoladebeskuitjies en framboosjellie… en toe kom die skaaptjoppies, braaibroodjies, aartappelslaai… Ek slaan my hand op die bors: ek het geswig voor die vleeslike plesier van my smaakreseptore.

Ek het my humeur heeltemal misplaas. Gewoonlik kan ek myself knyp, my lip stukkend byt of sommer net lekker diep asemhaal voor ek my waardigheid voor my kinders verloor. Maar toe my liewe, liewe seun vir die dertigste maal sy vuil handjie oor die wit muur trek… en my liewe, liewe dogtertjie vir die dertigste maal kom vra ons more kan pannekoek bak (nadat ek herhaaldelik ja gesê het)… het daar eenvoudige ’n dodelike kiem in die linkerlob van my brein ontsnap en het ek soos ’n viswyf in haar menopouse geskree. 

Dit is so: ek het die woordeskat van ’n matroos. Meng dit nou met die onmeetbare drang om die reine waarheid te praat en jy het die resep vir dramatiese moeilikheid. Gelukkig is daar ’n wag voor my mond wat na drie dekades darem weet wat hy doen. Ongelukkig gaan die wag voor my mond gereeld met verlof. Gelukkig is daar logika wat darem meeste van die tyd vir die man instaan. Ongelukkig faal logika ook soms. Soos die oomblik wat die arrogante kollega die grappie met my maak: “aangesien jy die enigste vrou by hierdie vergadering is, kan jy maar die koffie gaan maak.” Toe draai logika om, die wag voor my mond kyk anderpad en selfs my goeie maniere steek my in die skande. Die woorde wat ek in sy rigting gespuug het, sou my ma laat bloos, die kerk weer op hul knieë dwing en het die hulpbronbestuur laat naderstaan met konflikhanteringseminare. 

Ek heg waarde aan vriendskap. Wedersydse omgee. Ek glo in die opbou van mense en alle kritiek moet kan lei tot verbetering. Ek hou nie telling nie. Ek staan onvoorwaardelik op vir die mense in my binnekring. En ek weier om my standaarde te verlaag tot manipuleringstegnieke, skuldgevoel en die verlekker in ’n skinderstorie. Ek maak soms onvanpaste grappies. Ek lag te hard. Ek sit soms lelik. Ek dra nie altyd grimering nie en ek besit nie een paar hakskoene nie. Ek verwag nie baie van my vriende nie. Wees wie jy is… en ek is wie ek is… en saam IS ons net. 

So gebeur dit toe nou dat ek nie iemand se koppie tee is nie. Ek aanvaar dit sonder weersin. Ons hoef mos nie almal van mekaar te hou nie. Ek draai om en loop lag op ’n ander plek. So kom die nuus via vriende dat die mejuffrou met die delikate smaakpalet, verkondig dat ek tè dit en tè dat is. Ek herhaal niks, want dit is absurd en ek steur my nie aan haar slegpraat nie. Ek gee ook nie werklik om om die oorsaak te blameer op jaloesie of ’n swak selfbeeld nie. Ek gaan haar nie bel en korrigeer nie. Ek gaan nie deelneem in ’n oorlog waar niemand gaan wen nie. Ek gaan slaai eet vir aandete, pannekoek bak saam my dogter, my seun help om die muur te was en dan ’n glas wyn geniet saam my beste vriend. Al wat ek kan sê vir die dame met die gal bek: 

Dis regtig oukei as jy my oordeel. Onthou maar net asseblief om die res van jou lewe absoluut perfek te wees. 

Fopspeen

Ek is nie hier om ‘n debat te begin oor hoe goed/sleg die fopspeen vir kinders is nie. Gee langdurige suig aan ‘n rubberspeen hulle tande waarmee hulle kos sal moet oppik in plaas van kou? Of is dit maar ‘n eenvoudige en primêre vorm van troos? Sielkundiges, wetenskaplikes en ouers regoor die wêreld het opinies wat my beenhare sommer vanself vleg uit irritasie. Dit maak nie saak nie. Wat saak maak is dat jou kind gesond en gelukkig is. Punt.

Maar nee, ons nasie is nou maar een maar gebou om te stry. En as drie mense uiteindelik ooreenstem, dan stig ten minste twee van hulle af. Ek lees maar bolangs die stront wat verduidelik hoekom inentings my kind outisties gaan maak. Ek skud maar net my kop as ek hoor hoe sotte dink die aarde is eintlik plat. Ek kug as ek hoor hoe Suidlanders geheime kodes via sms stuur om seker te maak hulle het genoeg water en geblikte bone vir die dag as die kaf… o wag, skuus… die voorheen benadeelde waatlemoen, die waaier tref. En nou? Nou is daar hierdie helse fenomeen oor die fopspeen wat sy weg tot in my kraal vind. Drie oogknippes later, is ek steeds besig om my oë te rol.

 

Ek verstaan dat dit sleg is vir enige baba, peuter, kleuter en kind om ‘n ding in sy mond te druk 24 uur per dag. Soveel suig gaan jou tande laat vrot, jou plooie om jou mond dieper maak en moontlik kan dit jou goeie reputasie skade maak (veral as jy die hormonale tienerfase bereik). Maar hygend hert Hettie… kan ons die arme nuwe mammas asseblief net ‘n breukdeel van ‘n sekonde gee om asem te skep? Hulle is reeds oormoeg, vol lyfseer, met ‘n kop wat tuimel en draai erger as die Lotto-balletjies net so voor Kersfees. Daar is ‘n duisend en drie dinge wat hulle moet leer en onthou en uitpluis… en nog ‘n vinger wat in hul rigting wys, is onnodig.

 

Dis nogal ironies hierdie oorlog van die fopspeen… want sien, ons almal dra eintlik ons eie fopspene rond. Party mense eet om van die depressie te ontsnap. Ander storm met ‘n moerse missie by Woolworths in en koop, koop, koop om die aaklige dag te vergeet. Party suip wyn sommer uit die bottel uit, terwyl ander soos ‘n besetene hardloop om nog ‘n medalje van ‘n parkie in die kas te hang. Daar is diegene wat suig, suig, suig aan sosiale media om vir oomblikke uit hul eie nagmerries te ontsnap. En ander steel skelm ‘n lipstiffie by Clicks om seker te maak hulle hart kan nog klop. Fopspene.

Dalk is jou fopspeen jou titel van sosiale status? Dalk lê dit onder in die pynstiller se boksie? Of dalk is jou fopspeen die feit dat jy ander oordeel om van jou eie foute te vergeet?

Soos regte kwakke behandel ons simptome en nie oorsake nie. As wat jy doen, jou siel voed en jou laat glimlag, is jy op die regte spoor. Indien nie, suig jy ook maar. Dan vra ek bloot: As tot babas eindelik hul fopspene in die asblik kan gooi, wat keer JOU?

 

My gat in die botter

“Ons gaan skei.”

Die woorde wat op my selfoonskerm verskyn dwing my geskok tot stilstand. Dis die derde soortgelyke boodskap wat ek ontvang binne vyf weke. Mans wat nie die drange van hul onderlyf kan beheer nie, vrouens wat nie ‘n wag voor hul mond kan hou nie en armoede wat by die voordeur ingestap het… die redes wat aangevoer word is belaglik, histeries, hartseer, angswekkend en legio. Ek loer na die man wat langs my sit en You Tube kyk terwyl ek tik en ek dink ek het met my gat in die botter geval.

 

“Ons gaan die huis verloor.”

Na maande van skarrel en werk soek en desperate foonoproepe en e-posse, is dit nou die balju wat klop… en as hy klop, word die deur oopgemaak. ‘n Ma bid met ‘n honger maag dat haar kinders tog net oukei sal wees. ‘n Pa staan hoed in die hand voor die skoolhoof om uitstel te vra vir die skoolfonds: werk is skaars, my vel is baie lig en mens kan darem nie vir ‘n appel en ‘n ei gaan toilette skrop nie. Intussen maak ek ‘n koevert van ons belegging oop en ek wonder hoe diep ek regtig met my gat in die botter geval het.

 

“Hulle het weer by ons ingebreek.”

Hierdie keer was daar gelukkig niemand tuis nie en hulle het nie by die kluis met juwele uitgekom nie. Om die skelms nou verder af te skrik, word ekstra elektriese heinings op die mure geplaas, infrarooi liggies straal nou om die huis en ‘n varkhond is spesiaal by telers in Vanderbijlpark bestel. Hier by ons is die stoepdeur se sleutel al ‘n jaar weg, die kar staan oop in die straat en my beursie het ek by Starbucks vergeet… ek sal hom more gaan haal. Ek swem met my gat in veilige botter.

 

“Julle het behoorlik met julle gatte in die botter geval.”

Ek lees die woorde oor en oor en oor. My emosies meng met mekaar soos hondekots in die kinders se bed. Ek weet ons is geseënd. Ek voel daagliks dankbaar. Hoekom maak die woorde my dan woedend? O ja… nou onthou ek: dit was nie ‘n toevallige val nie. Dit is jare se  opoffering, kommunikasie, kompromieë, risiko’s, teleurstelling, weer opstaan, deurdruk, geld verloor, duur lesse… botter kom nie van die koei af nie. Iemand moet die melk afroom, klop, verroom, bewerk, laat staan, met geduld en respek behandel… voor jy jou broodjie aan albei kante kan botter smeer.

Kyk, hartseer dinge gebeur. Ons het eenvoudig nie beheer oor alles nie. My hart bloei vir elkeen wat sukkel en swaar kry. Ek huil oor elke egskeiding, vensterkoevertjie en plaasaanval. Ek kan net positiewe energie in die wêreld instuur en hoop dat elkeen sy vryheid sal vind. Ons gesin is allesbehalwe perfek, maar ons is darem meeste van die tyd gelukkig. En dis nie omdat ons net met ons gatte in die botter beland het nie. Dis omdat ons daagliks opstaan en KIES om hard te werk vir ons botter: aan ons huwelik, by die skool, in ‘n vreemde land, terwyl ons verder studeer en daagliks probeer om die wasgoed op datum te hou. My raad is eenvoudig: as jy ook jou gat in die botter wil hê, gaan bêre die jaloesie agter in jou kas, hou op kerm op sosiale media, ruk jouself voor die televisie weg, praat met jou mense, maak planne, vind uit wat jou laat glimlag en doen alles wat jy kan om daardie glimlag te hou. Moenie wag dat enigiemand vir jou resultate gaan waarborg nie. Begin ten minste net deur die melk af te room. Ek weet nie alles nie, maar ek verstaan wel dat jy die lekkerste val in die botter wat jy self geklop het.

Skink bietjie tee

Die wekker skree, die kinders huil, die bure se musiek blêr, die honde blaf en net as jy dink die kakofonie van klanke gaan jou onderkry, neem jy jou eerste slukkie koffie. Maar die gejaag stop nie. Ons drink koffie uit flesse en spesiale bekers. Ons drink koffie in ons karre, op pad werk toe, as ons kinders by die skool aflaai en nes ons by die kantoor instap. Dan het ons krag. Woema. Geduld.

Ek het presies sò oorleef. Toe gaan toer ons deur Sri Lanka en ontdek ons die wonder van Ceylon. Daarna kuier ons by my boetie en sussie in Australië en skielik word ek opgeslurp in ‘n warm wêreld van ander smaak. Een wat jou dwing om so klein bietjie rustiger te raak. Jou boude te ontspan en tot stilstand te kom. Tee.

Kyk, koffie is ‘n kunsvorm… maar tee is zen. Koffie kraai koning, maar tee gee nie ‘n moer om oor die koning, Kardashians of enige kokkedoor nie. Dit gaan oor soveel meer as smaak. Jy sien hoe ‘n paar blare vervorm in warm water. Jy sien die geur en smaak in die water inmeng. Jy raak weggevoer oor warrelwindjies en patrone wat in ‘n fles dans. Ek leer elke dag. Party teeblare soek heuning, ander vra niks. Sommige koppies smeek vir so lekseltjie melk, terwyl ander doodtevrede is met ‘n skyfie suurlemoen. Suiker is opsioneel en eintlik net vir amper histeriese oomblikke bedoel. Tee is ook hiervoor goed.

Ek het vir my ‘n spliknuwe rooi ketel gekoop. Een wat op die gasstoof staan. En hy fluit as die water kook. Elke keer as ek dit hoor, glimlag ek. My hart bokspring van opgewondenheid. Manlief dink ek word net oud. Dis tog sekerlik net die wat reeds met een voet in die graf staan wat opgewonde raak oor tee? Maar ek dink ek is verslaaf. En ek was nog nooit regtig verslaaf aan iets nie. Ek word weggevoer tussen die allerfraaiste, liefslikste, rykste, ligste blomme, vrugte en waterpoele. Tee bring rustigheid. Ek slaap lekkerder. Ek word stadiger en meer gemaklik wakker. Ek kan nie ophou nie.

 

Die wekker lui en die honde blaf en die bure skree. Maar dan skink ek my koppie tee, gaan sit ek op die stoep en verwonder my aan die woestyn wat in die see invloei. Deur die blare… met die toekoms onder in die koppie… ek sug van dankbaarheid, ‘wyl ek aan my tee teug.

Stempel

Die nuwe skooljaar het begin. Na sewe weke van somervakansie, is ons terug in die woestyn. Die mikrofoon in die skoolsaal, word van een middeljarige krisis (ekskuus, bestuurder) na ‘n volgende aangegee. Ons moet deur vergaderings worstel waar alles aan ons verduidelik word: van boeke merk tot registers invul. Ek sug so diep, satan groet my byna met die hand. Ek moet teken vir ‘n kinderbeskermingsbeleid en ‘n sekuriteitsnota en dat ek weet wat om te doen as daar ‘n brand uitbreek. Daar word papiere oor dissipline, kurrikulumveranderinge en uitslae versprei. Ek rol my oë so hard, dat ek sweer die aarde draai effens terug en ek verloor ‘n fase in my lewe.

Teen die einde van die dag, net toe ek voel ek kan nie na nog een verwelkoming luister nie, word ‘n motiveringspreker aan ons voorgestel. Aangeskrewe, gekwalifiseerd en met ‘n rits erkennings agter sy naam. Die tema? Watter stempel gaan jy afdruk?

Daar word gebla-bla-bla oor die impak wat onderwysers op leerlinge het. Daar word met ernstige oortuiging beklemtoon hoe belangrik ons rol in die skepping en vorming van ‘n nuwe generasie is. Ons is stempels wat indrukke maak. Ons moet dus ons woorde tel, ons kyke afwater en rustig raak met die rooipen. Ons leuse vir die jaar moet lui: wat is jou stempel? Ek frons so dramaties, dat die adjunkhoof vra of ek orraait is.

Die metafoor van ‘n stempel klink dalk oulik en kreatief, maar die feit dat niemand besef hoe aaklig en beperkend dit is nie, maak my bang. Ek bewe innerlik van vrees. ‘n Stempel wat uit rubber gesny is, is ‘n permanente vorm. So gemaak, so laat staan. Ek is dit beslis nie. Ek wil dit ook nie wees nie. Ek is mens. Ek verander. Ek vervorm. Ek maak foute. Ek vra verskoning. Ek probeer weer. Ek gesels. Ek het opinies van my eie. My opinies verander. ‘n Stempel het nie daardie vaardigheid nie.

 

Hoekom wil ons onderwysers as stempels klassifiseer? Is die kurrikulum dan die ink? En die kinders die papier? Is hierdie nie ‘n resep vir ‘n gemors nie? Is daar geen beweegruimte vir nuwe vorms en patrone nie? Is daar nie ‘n manier wat ons tegnologie kan gebruik en sommer so die omgewing ook kan spaar nie? Maar stempels werk seker nie op ‘n tablet nie? En hoekom vra niemand hierdie vrae nie?

Die nuwe skooljaar het begin. Ek gaan met ‘n oop gemoed my klaskamer in. Ek glimlag, want ek is dankbaar ek is soveel meer as net ‘n gewone, gestandariseerde, eenvoudige, vervelige stempel. Ek sal aanhou verander tot iemand my doodsertifikaat… wel, stempel.

Die oplossing

Ek het die wonderkuur gevind. Die persoon wat die verskil in enigiets op aarde kan maak. Jy hoef geen pil te sluk of geld te betaal nie. Jy hoef nie jou siel weg te gee, aan ‘n piramiedeskema deel te neem of Tupperware op Facebook te verkoop nie. Jy hoef nie skielik vir die Blou Bulle te begin skree of sokker te kyk nie. Jy hoef nie aan enige optog deel te neem, petisie te teken of jou e-pos adres op ‘n lys te skryf nie. Daar is nie ‘n maandelikse fooi, verpligte vergaderings of vrywilliglike orgaanskenking betrokke nie. Die oplossing vir elke probleem is hier beskikbaar: gratis, verniet, mahala.

Die wonderkuur kom in die vorm van ‘n mens. Hierdie persoon kan jou laat gewig verloor, uit die maag laat lag en jou spaargeld aanvul. Met klein bietjie fokus kan jy jou kwalifikasie verbeter, die beroepsleer klim, die bure gelukkig hou en boonop meer tyd hê. Hierdie wese het al die antwoorde en soek geen terugbetaling vir enige advies nie. Belowe. Cross my heart.

Kyk, ek sê nie jy gaan noodwendig van die antwoorde en oplossings hou nie. Dit gaan nie noodwendig maklik wees om in ‘n spoedige tydgleuf kan gebeur nie. Maar as jy hierdie wonderkuur waarlik aan jou kant kry, is byna niks onmoontlik nie. Jy hoef nie religieus te bid, enige Boek van Waarheid by die naam te kan noem of aan enige dominansie kollekte te voorsien nie. Hierdie entiteit vra nie taal, kleur, ras, kultuur, herkoms, aankoms of wederkoms nie.

So waar kry jy die antwoorde en inspirasie en motivering en oplossings? By die wonderkuur. En waar vind jy die wonderkuur? Maklik. In die spieël.