Daar was geen sprake van rus in groen weivelde nie.
Ons was nie by waters waar daar vrede is nie.
Ek kort nuwe krag.
Ek het al baie van die ‘terrible two’s’ gehoor. Ek weet selfs van ouers wat met hul driejariges se vloermoere sukkel. Maar my seun is vier. VIER! En vandag het hy, vir die derde keer vanjaar, ‘n vloermoer gegooi wat my laat oorweeg het om hom kop onderstebo in die toilet te druk en dan die ‘sneller’ te trek.
(Voor enigeen die maatskaplike werker bel, laat ek net eers noem dat hy nou rustig lê en slaap in sy kamer… sonder enige bloed wat gevloei of fisiese skade wat berokken is.)
Hy het sy voete gestamp asof hy ‘n wildebees is. Hy het gegil soos ‘n straatvrou wie se geld gesteel is. Hy het sy vuiste geslaan teen tafels, stoele omgestamp, blokkies gegooi dat dit lyk soos ‘n Lego-slagting… en dit omdat ek die nare heks is wat weier dat hy 11 uur in die oggend vyf stafies sjokolade kan eet.
Vanoggend was geen genade aan my kant nie. Sy vloermoer het vir ‘n volle 56 minute geduur. In die skoolgebou. Ten aanskoue van kinders, kollegas, skoonmakers en my studente. Ek het gebid vir ‘n aardbewing. Ek het gehoop ‘n vulkaan ontplof en slurp my op. Ek het myself geknyp om seker te maak dit is nie net ‘n nagmerrie nie.
Ek het diep asemteue geneem en gedink aan al die Baba en Kleuter artikels wat ek al gelees het. Boeke oor dissipline en vloermoere en hoe om jou kleuter te hanteer. Ek het probeer om sag en rustig met hom te praat. Ek het probeer om hom op te tel en na ‘n meer privaat area te neem. Ek het probeer raas. Probeer ferm tog liefdevol wees. Probeer om hom te ignoreer. Ek het probeer om my nie te steur aan die ander mense wat staar nie. Ek het probeer om nie soos ‘n volslae mislukking te voel nie. Ek het probeer dat my bloed nie kook, terwyl ek glimlaggend na die mense kyk nie. Ek het probeer…
Sy rooi gesig, hees stem en vlak asemhaling hy my hart laat spasma. Van seerkry. Vir sy part.
Hoekom? Was die sjokolade regtig die oorsaak? Is dit nie dalk aanpassingsprobleme nie? Miskien moet ek ‘n arbeidsterapeut, speelterapeut of sielkundige nader? Miskien verlang hy ook na sy Ouma en Oupa? Miskien is hy moeg? Ek weet net een ding… en dit is dat ek nie weet nie. Ek dink ook nie ek wil nie. Sy tirade van 56 minute het my emosioneel uitgeput. Ek het my verstrykdatum bereik. Die melk is suur, die kaas gemuf en die eiers vrot.
Ek weet ek is nie alleen in die ouerskapstryd gewikkel nie. Ek weet daar is ander mammas wat ook al soos ek gevoel het… en dit is in hierdie gedagte waar ek my aanvaarding en vrede vind. Die feit dat dit nie die eerste, enigste, laaste vloermoer was nie, is my waters van rus.
My liewe seun, ek is jammer jou emosies is nog onverstaanbaar. Ek het dertig jaar meer ervaring as jy en ek verstaan alles steeds nie, so ek vergewe jou. Ek hoop dat jy my eendag sal vergewe oor ek nie vyf sjokolades vir jou wou gee nie. Al wat ek eintlik vir jou kan skryf is dit:
Selfs al gaan jy deur donker dieptes,
hoef jy nie bang te wees nie,
want ek is hier vir jou
in my hart is jy veilig.
Ek sal jou altyd aan my tafel laat aansit,
terwyl ons teëstanders toekyk.
Ek sal jou ontvang soos ‘n eregas,
en jou oorlaai met hartlikheid.
My goedheid en liefde sal jou lewe lank by jou bly
en jy sal by my welkom wees
tot in lengte van dae.