Juffrou

Suiwersoet die slaap
wat plak in die ooghoeke
van die onderwyser
wat nagterlike nasienwerk
skribbel en dan wonderwoorde
opwoeker en towermaak
omdat sy so moeg is soos
ou
ou
roosterbrood
en dan roggel sy om reguit te kan dink
sin te maak in die kopseltjie koffie
wat haar rooi pen soos
ou
ou
oumensbene laat voortstu
oor inkvlekke en mompelgedagtes
van tieners wat nie eers eintlik lus is
om hul huiswerk te doen nie
maar more is die son weer
nuut
nuut
en maak sy nog ‘n klein regmerkie.
 
© Chantelle de Wet. 2017
Advertisements

Melodramatika

welgeluksalige weemoed: haar laventeljonnie

het haar vaarwel geroep

heimwee huppel oor die pars van haar papirus

nostalgie neurie note in haar lewe

sentiment word ’n bloedsuier

wat braak uit bodemlose belaglikheid

in haar boek

en ink vlek haar hart

dekorum van die dramatiese doemprofeet

wat digkuns deurboor met gebroke hart

en korinthiërs 13 herskryf tot kak

dwangrym tot dimensies van drek dryf

en

hamba hanswors

kapaai jou kalwerliefde met kapatertjie spel

jou kastaiings en klaaglied is uitgedien

as jy poësie wil skryf, dink tog met jou deelteken

© Chantelle DeWet

Ironie

ek laaik dit stukkind, ek smaakit kwaai

ek wonner of j weet, wonner of j kan raai

waana ek kyk, waadeer ek blaai

ek voel my bryn groei, voel hoe my kop draai

in my moedirtaal, sy laat my tong swaai

want ek lees di HAT, dismy boek daai!

 

Moedersdag

Ma, ek skryf vir jou ’n gedig

nie ’n kaalvoet een nie

(jammer tannie Antjie)

maar sommer so kommin ene

dalk het die gedig Crocs aan

sommer so platvloers en sonder pretensie

want ek is nie so goed met rym nie

(ook nie met opruim of ontruim nie)

sommer so vryvers gediggerige ding

en ek sê nou nie Ma is ’n koei nie

maar die vers is soos ‘n strofe

(‘n katastrofe)

Ma, ek sukkel om die woorde te vind

vir ’n mooi gedig

waarin ek ander kan laat verstaan

hoe baie Ma vir my beteken

(en ek is nogal woordvaardig)

maar vandag wil my ABC nie saamwerk nie

my vingers struikel oor die sleutelbord

ek ruik moedersmelk

en ek tik baArMoEdeR verkeerd

(33 keer)

want die trane sit vlak

want ek is ver

want ek wil vir ma wyn ingooi

(blomme is vir die rykes)

en ek wil vir ma olywe koop

(want koek hoort nie in wyn nie)

en ek wil lelik saam ma lag

(want ma verstaan my humorsin)

en ek weet ma oordeel my niks

(al spel ek ma nie met ‘n HOOFLETTER nie)

en ek wil ma sommer net laat hoor

dat ek ma lief het

nie net op Moedersdag nie

(wat ironies genoeg vandag is)

maar elke dag

So jammer Ma

vir die kommin gedig

maar dis omdat Ma so donners awesome is

 

 

Nie dood nie

(in die vreemde)

My hart breek vir die kind wat sy Vaderland moes verlaat;
Weggepak tussen tasse en kratte vol besittings
Verloor tussen multikulturele sinister sinisme
Met die hoop om homself te vind

My hart breek vir die kind wat haar Moedertaal moes verruil
Vir die tongval van ‘n nuwe volkslied 
gebrandmerk as volksverraaier
Met die drang om haar stempel af te druk

My hart breek vir die kind wat nie dood is nie
Maar moet lewe vind in die vreemde
Soveel meer as ‘n vigswesie
Wat bloed sweet om die pas te behou
So al siende en tog so blind.
My hart is seer vir jou liefste, want ek is ook net kind

Tinkerbell (van Tonder)

28/02/2004 – 21/11/2015

Met liefdesoog en vegtershart
Het jy ons grense getart
Met nat soene ons vrede verower
Het jy ons bestaan betower
Onvoorwaardelik het jy ons aanvaar
Beskermend gepluk aan elke hartsnaar
Jou bruin lyf het trane weggevee 
Gesond gelek en aan geluk oorgegee
In lewensreis en menige avontuur
Bewys jy jy is meer as troeteldier
Tinkerbell, met genade het ons mekaar gevind
Vir elke jaar: Dankie…
Rus nou sag my honde -engelkind

 

Vloermoer in die vreemde

Jou weerstand breek my stille hoop

Jou woede kreukel my liefde

Jou verset verblind my geloof

Jou yster wil kraak my geduldige gebed

 

Ek wil jou vashou, wil verstaan

waaroor jou angs en uitbarsting gaan

Ek wil jou koester, wil jou troos

maar jy laat my selfbeeld nietig en broos

Ek wil jou teen my bors vasdruk

jou rustig maak en laat rus

Jy stoot my egter weg

weier dat ek jou naby my kan sus

 

Wees rustig my kind, vind vrede

Wees sag my kind, word stil

Wees gevul met liefde my kind, voel veilig

Haal asem… maak toe jou oë

Haal asem… buig jou hoof

Haal

net

asem