Staking

Jou bloed vloei deur my are

maar my are verkalk

Jou murg is in my pype

tog staan ek ruggraatloos

Dis jou klop in my hart

terwyl my aorta verstop

Dis jou vingers aan my pols

wat om my keel wurg

Jou voete laat my bene wankel

Ons loop met geswikte enkels

Jou ore is doof vir die stom gebede

Jou tong kliek op die verkeerde wysie

Ek wil vir jou lewe

Ek wil vir jou opstaan

Ek wil jou verdedig

Ek wil vir jou veg

Ek wil vir jou wees, Suid-Afrika

maar jy gooi jou kinders in die graf.

Advertisements

Aan my nuwe land

jou water is hard

dit erodeer my siel

tot klipkou gruis

wat nietig word

 

met krane wat vrylik vloei

slaan dit my masker stukkend

kraak die vensters van my vreugde

bars die ettersere oop

 

water moet lawe

water moet heel maak

water moet rus bring

water moet kalmeer

 

maar jy is onstuimig

onseker kolk jy deur my are

om die hart se oorstroom

ek verdrink