Negatief

Vlerkies het ek nie. My ma sal getuig dat ek allermins perfek is. My pa sal jou sonder aarsel vertel van sterk opinies en ‘n ysere wil. Maar twee woorde wat ek nog nooit aan my persoonlikheid kon koppel nie, was “lui” en “negatief”.

Natuurlik het ek lui dae. Ek wil nie ‘n bra aantrek, my tande borsel of my slaapklere ruil nie. Ek wil met ‘n pak kaaskrulle voor die televisie lê en lees. O, die tv moet verkieslik afgeskakel wees. Ek wil die Lindt 85% kakao sjokolade met rooiwyn afsluk as ek die tweede boek oopmaak. Die stofhasies wat in die hoeke van die woonstel vergader, word soos die nommers op my skaal geïgnoreer. Vuil borde stapel in die wasbak, die wasgoedmandjie loop oor en die koffievlek op die kombuisvloer verdwyn onder ‘n servet wat grasieus val. Gelukkig vir my gesin en globale higiëne, verskyn hierdie lui fases net so een keer per maand en teen sononder op dieselfde dag is ek gestort, die huis is skoon en kan Manlief my weer oopmond soen.

Ek werk egter baie hard daaraan om elke oomblik positief te wees. Ek wil die silwer randjie sien skyn. My hoop mag nie beskaam nie. Ek plak geel Post It’s teen my kasdeur om my aan al die mooi te herinner. Ons sing opgekikkerde melodieë en optimistiese lirieke in die kar. Die Suid-Afrikaners word kwaad oor die toestand van ons pragtige land. Ek doen ook. Maar ek bly glo dat die wiel gaan draai. Onderwysers mompel oor administratiewe werkslading wat ons verhoed om optimaal te onderrig. Maar ek sit skouer aan wiel en handel nog ‘n lesbeplanning af. Vrouens brom binnesmonds oor alles wat vet maak lekker is. Ek kyk verby die broekgrootte en sien die glimlag in die gesig raak. As ek enige negatiewe gedagte voel aankom, draai ek die ander wang en klou ek vir genade aan elke vesel motivering in my binneste.

Vanoggend maak ek my kasdeur oop en ek ruik my ma. Ek wil haar bel en vra of sy saam met my kan gaan dobbel. Sommer 5-sent masjiene en net vir ‘n uur. Dan kan ons gaan sushi eet en wyn drink. Ek sluk aan suikerlose koffie en proe my pa. Ek wil hom vra of hy nie saam met my wil gaan vleis koop nie. Dan kan ons ekstra droëwors kry, draaie ry en huise kyk en lekker aan die stry raak oor een of ander denkpatroon. Dis toe ek in die sitkamer kom en ek die leë eetkamertafel sien wat ek sommer regtig negatief voel. My ma het nie gisteraand hier gesit en lag nie. My pa was nie hier om my laggend te bestempel as ‘die ander ene’ nie. Ons huis was eensaam en geen ander mense sou die leegheid kon vul nie. Ek voel negatief. Ek het nog nie genoeg herinneringe gemaak nie en nou is ons ver weg. ‘n Tweedimensionele gesig te danke aan Skype is nie dieselfde as ‘n driedimensionele drukkie nie. Ek soek Mamma en Pappa. Ek bekla my lot by Manlief.

“Nee, jy is nie negatief nie” stel hy my gerus, “jy verlang net.”

Hy is reg. Dis ‘n positiewe ding om te kan verlang. Dit beteken ek het geliefdes. En so staan dit dan bewys: alle positiewe dinge is nie altyd lekker nie.

Advertisements

Sorrie

So sit ons toe gisteraand langs die braaivleisvuur. Ons is in Amanzimtoti aan die Natalse Suidkus en die publieke area wat bedoel is vir al 80 woonstelle se honger vakansiegangers, is besig. Langs ons staan ‘n gesin van drie, al die pad van Vereeniging af. Die laaitie se naam heet iets met ‘n K. Die pa het homself nie voorgestel nie en Mamma is te besig om aan haar pienk vloeistof in ‘n botteltjie te teug. Ek en my ouers sit rustig en lag en gesels, maar so oor my eie ma se skouer neem ek waar hoe die pappa van die Vaaldriehoek bier drink soos net ‘n baie dors man kan. ‘n Dors wat duidelik nie geles kan word nie. My kaalvoetkinders speel met K. Ons drink wyn en die mense van V-town sluk uit botteltjies. Almal is gesellig.

Toe hulle wors al verby gaar is en die biefstuk reïnkarneer tot ‘n miskruier, staan die man met ‘n sug op en gooi die leë glasbotteltjie in die asdrom. Ongelukkig is die asdrom ook leeg en klingel-klangel-klongel daai glas teen die rante van die drom. Al die mense draai hul nekke om te sien waar die geraas vandaan kom. Dis toe wat die man my verbaas. Hy vryf sagkens met sy hand oor die kant van die drom en fluister (onsuksesvol): “Sorrie hoor”.

Ek wou opkrul van die lag, maar in my binneste het ietsie geroer. Nie oor ek die woord “sorrie” so verafsku nie, maar oor die onvoorwaardelike verskoning wat so maklik geuiter is.  Hoekom het ons ses/sewe biere nodig voordat ons om verskoning vra? Hoekom sukkel die mensdom so om jammer te sê? En hoekom wil ons uitbars van die lag as ons iemand anders dit hoor uiter?

Ek dink oorloë kon vermy word, as leiers net kon jammer sê. Egskeidings kon verhoed word, gebroke harte kon heelgemaak word en familiedrama kon verminder… as iemand net kon sorrie sê. Vergifnis is onmoontlik as daar nie eers ‘n jammerte is nie.

Ek trap gereeld op tone, dikwels onwetend. Ek laat ore brand met ‘n skerp tong en bitsige humeur. My sin vir humor, met swak tydsberekening laat dikwels vir ongemaklike situasies en die taktlose, etiketlose en roekelose metodes waarmee ek my bestaan voer, laat mense nie altyd saamstem nie. Die woorde klink dalk kômmin, onopreg en geforseerd, maar die bedoeling kom vanuit die hart: sorrie hoor. Ek moet êrens begin. Die man in sy vals Crocs en geskeurde broek het by die asdrom vertrek. Miskien moet die les hier geleer word: dat die mense wat ons soos vullis behandel, dalk die verskoning, die nodigste het.

Skietgoed

Dit is nou maar stereotipies so dat hengelaars (of is dit nou visvangers?) spek kan skiet. Die vis word met elke oorvertelling (of is dit nou brandewyn?) so effens groter en die stryd met die monster van die water word ‘n sweterige, swetsende affêre. Dit is blykbaar ook die waarheid dat daar ‘n verskil tussen hengel en visvang is. Ek gaan nie uitlatings of aannames maak nie, want ek weet nie. Ons is baie lief vir skubaduik en my liefde vir die onderwaterlewe is dus aansienlik anders as die “vang-en-vreet” of “vis-vir-vermaak” tendense wat ‘n hoek, lyn, sinker en suur pap behels. Dis egter ‘n ernstige visserman wat my geleer het dat mislukkings ook normaal is: “dis aldag skietdag, maar nie aldag raakdag nie.”

Net so word die etiket van jagters in die veld, dikwels afgeskiet deur onkundiges. Moord, dieremishandeling, wreedaards, sielsiekes, drolle… ag, die onoorspronklike naamgewing van die anti-jaggemeenskap is genoeg rede om my oë te rol. Hulle kennis skiet te kort. Ek kan nie vertel van bokkoors of adrenalien of die plesier van ‘n sneller onder my vinger nie, want ek het nog nooit letterlik die vleis vir die tafel geskiet nie, maar ek het wel al ‘n groot boer sien huil oor hy ‘n eland gekwes het. Ek het al gesien hoe ses manne eer betoon aan ‘n koedoe wat met ‘n hartskoot platgetrek is. Dis ‘n groot wildjagter wat my geleer het om die nie-jagters met ‘n knippie sout op te neem: “gee hulle maar so bietjie skiet.”

As ouer, onderwyser, skrywer, student… ervaar ek ook die boksies waarin mense jou so graag wil druk. Ek moet my kinders soos ‘n tierwyf beskerm. Ek moenie vloek nie. Ek moet gesonde kosblikke pak. Ek moet omgee oor onopgemaakte beddens. Ek moenie spelfoute maak nie. Maar helaas, die koeël is deur die kerk geskiet en so het ek “amen” gespreek oor al die wat vanuit glashuise klippe slinger. Solank ons gesond en gelukkig is, steur ek my min aan die klassifiseringstelsel van die mensdom. Ek herinner myself daagliks: “moenie met koeëls na vinke skiet nie”.

Jagters skiet nie blind nie, maar tog skiet ‘n ster die mooiste in die donker. Ons word omring deur wandelende teenstellings op ‘n aarde waar hokke aanmekaargehou word met denkbeeldige spookasem. Die dokter is ook ‘n oupa. Die onderwyser is ook ‘n fisikus. Die eiendomsagent is ook ‘n kankeroorwinnaar. Die polisieman is ook homoseksueel. Geen mens op aarde is eendimensioneel nie, tog kan ons nie help om mense te begrens met etikette nie. Miskien, net miskien, as ons ophou om skietgoed te soek, sal minder mense gekwes word… en sal ons meer verras word.

 

 

 

Sonde

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

Dit was die eerste keer wat ‘n sinnetjie my ongemaklik laat voel het. Ek was in die Sondagskool en die tannie was eintlik baie gaaf. Alhoewel ek gedink het daar was te veel groen en goud op haar ooglede geverf en dat haar kuif nie wou beweeg nie as gevolg van ‘n oordadige hoeveelheid hairspray. Toegegee, dit was die vroeë tagtigs en haar pienk bloes met skouerkussings was hoogmode, al herinner dit my in 2017  aan Game of Thrones in neon. Ek vermoed uit keuse, het sy dit laat paar met ‘n geblomde romp wat so halfmas tussen knie en enkel gewapper het. Ek is nou nog onseker of sy té lank was vir ‘n lang romp of te kort vir ‘n knielengte skepping. Al wat ek onthou is dat die vuilpienk kant wat sy onderaan die romp vasgehekel het, begin torring het en dat ek gewonder het oor die wit hofskoene se wettige aspekte. Maar so is die kalf in die put… en is menige jongmens, wat se brein soos ‘n droë spons in die binne-oor lê en wag, onderwerp aan die wreedheid van ‘n Sondagskooljuffrou.

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

Ek het daardie Sondagaand al die groente op my bord geëet, al het die groen goed soos voete geproe en wou die rys nie met een happie op my vurk bly nie. Ek het grootoog in die donker lê en bid… toe opgespring en langs my bed gekniel en bid… want ek was nie seker of dit sonde was om te lê en bid nie. Hoe lank sou die lysie vol kruisies agter my naam wees? Is Liewe Jesus dan kwaad vir my oor ek gister ongehoorsaam was? En ek het ‘n ekstra koekie uit die blik gevat toe Ouma nie gekyk het nie. Is dit hoekom ek nie verlede Kersfees daardie gimnastiek-Barbie gekry het nie? Het Liewe Jesus my naam by Kersvader as “sondige kind” opgegee?

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

My maatjie se ma en pa is geskei. Blykbaar het haar pa so baie gedrink en toe een aand haar ma geslaan dat sy hospitaal toe moes gaan. Ek het al baie by hulle gaan kuier. Smeer sonde af aan ‘n mens? En die oom wat oorkant die pad bly sny elke Saterdag hulle grasperk met ‘n kaal bolyf. My ma sê dis sonde om kaal rond te loop… maar wat van half-kaal? As daar nie klein en groot sonde is nie, is daar tog seker nie heel en halwe sondes nie?

“Sonde is sonde.”

As grootmens sien ek natuurlik die woorde in ‘n groter konteks raak, maar die skade is berokken. Nie onherstelbaar nie, maar genoeg dat ek nie meer wakker lê oor sonde nie. Ek verstaan die kritiek wat my kant toe kom oor hoe ek my kinders grootmaak: ek weier om hulle te leer van sonde. Ons glo nie in die hel nie. Ons soek nie die duiwel nie. Sien, ek is oortuig dat ek ons soveel fokus op sonde… dat ons soveel klem lê op alles wat sleg en verkeerd is…. dat ons so graag wil onderskei tussen reg en verkeerd… dat ons te maklik vergeet van die vergifnis.

Vergifnis is groter as enige sonde, klein of groot. Vergifnis is meer kragtig as enige dreigement van ‘n kruisie agter jou naam. Vergifnis maak jou vry van alle aardse boeie.

Sonde is net sonde, as jy nie kan vergewe nie.

Trane

Vanaand dink ek aan ‘n persoon wat duisende kilometers ver weg haar eie oorlog veg. Oor bottels wyn, saam met patee en pizza en poeding, deur trauma en vreugde is ons vriendskap gevorm, soveel meer as ‘n blote bloedband of oppervlakkige kennisname.

Ek huil oor haar, want ek verlang. Toe maak ek boonop die fout om Grey’s Anatomy se nuutste episode te kyk. Ek weet dit is nou nie so opwindend soos die afgelope week se 7de Laan nie, maar nietemin, is ek vanaand emosioneel broos gelaat deur die gebeure op ‘n televisieskerm.

Een tongtippie-toets, wat moontlik ‘n mangelwassery kon wees, het Suid-Afrika aan die oor beet. Oor sosiale media van alle vorme word daar gegis en gegons oor die effek en nagevolg van een kus. Was dit die soen van Judas? Was dit bloot normaal? En wie se normaal sal dit dan wees? Hoe durf een standaard manlike spesie ‘n ander se bek uit lek? Die Bybel verdoem dit dan. Hier in die Midde Ooste sal jy óf gestenig óf in die tronk opgesluit word as jy sou besluit om iemand van dieselfde geslag openlik te liefkoos. Die woord “tongknoper” kry sommer nuwe betekenis. 7de Laan verskuif grense. Nou dààr is ‘n sin wat ek nie gedink het ek sal ooit uiter nie. Nodeloos om te sê, is almal nie ewe ingenome met hierdie liplek-lekkerte nie, maar immers praat mense nou oor iets anders as politiek.

Ek is nie een vir oordeel nie. Ek leef en laat leef. Noem my maar selfsugtig, maar ek bemoei my liefs met die sake van my eie sielsrus. Perfek is ek nie. Foutloos beslis nie. ‘n Glashuis is my woning nie, Totius sou verstaan. So ek giggel in my binnemou oor die herrie van die Laan en ek grinnik as ek die konserwatiewe, Calvinistiese, veroordelende opinies lees van die sogenaamde alomwetendes.

My hart huil egter vanaand. Die hopie snotsnesies en rooi, verhewe oë getuig van my weemoed. Ek begeer, groter as enige materiële hebsug, meer as enige vrede op aarde, om vanaand daardie persoon ‘n drukkie te kan gee. Ek sal wyn opgee as ek net saam met jou kan huil.  Ek sal vir veertig dae vas van sjokolade en roomys, as ek net jou kan oortuig van my omgee. Ek sal vloek afsweer en my bankrekening leegmaak, om net vanaand vir JOU… net vir JOU te kan vashou, want ek weet jy het dit nodig. Jy veg jou oorlog teen die aggressors wat nie gesien kan word nie: die dood, die werksdruk, die finansiële angs, vrees vir die onbekende en die glimlag wat nie vanself wil kom nie… en dan raak die volk ongeskik oor ‘n soen. Dit laat my effe histeries. Ek kyk eerder Grey’s as 7de Laan. In Grey’s veg hulle vir asems en leef hulle nie net vir ‘n snak daarna nie. My punt? In plaas van leef om vinger te swaai, leef ek eerder na aan trane.

Grysheid

Ek sit met my hande in my hare… op die vloer… voor die spieël. Ek het ‘n melodramatiese oomblik van waansinnige euforie. Vergeet van die berggans en sy veer, want van my kop het ‘n grys haar geval! Die tragedie! Die komedie! Die kalender het my gekierang, want wanneer… wAnNeEr… WANNEER het ek oud geword????

Manlief reken ek is tè grys vir woorde as ek onder die soeklig, gewapen met klein knyptangetjies my hare uit my kop trek. Letterlik. Ek het altyd gedink ek het nie ‘n bang haar op my kop nie. Ek was altyd onder die indruk dat ouderdom net ‘n nommer is. Vas oortuig dat jy net so oud is soos jy voel. Boeta, Sussa en almal wat vanaand na Job se klaagliedere wil luister… ek het nuus vir die jeug van die land: ‘n grys haar beteken jy moet begin dink aan pensioen en aftree-oorde en … goed, goed, ek oordryf.

Dis net dat ek nie regtig ouer voel nie. Ek voel dikwels nie eers volwasse nie. Ek wil ook teen die slaap stry, nes my vierjarige. Ek wil blokkies bou en stories vertel en sommer op die gras op my rug lê en prentjies soek in die wolke, nes my sesjarige. Ek probeer Smarties op my brood eet en doop my tjips in my melkskommel en trek my gesig skeef vir kool. Maar die grys haar het my vandag herinner aan my werklike ouderdom. Het ek al genoeg gedoen? Genoeg bereik? Het ek al groot genoeg gedroom? ‘n Groot verskil gemaak? Of begin mens werklik eers leef na veertig en is ek maar net besig om die wa voor die osse in te span? Ek wil nie oud word nie, haastige hond verbrand sy mond. Ek wil nie kla oor oud word nie, wil nie die baba saam die badwater uitgooi of net die donker wolk raaksien nie. As ek hier opstaan, gaan ek carpe diem leef. Ek gaan lelik sit, harder lag, pepermunte kliphard kou en Crocs winkel toe dra. Ek is besig om grys te word. Daar is nie meer vrees of histerie nie. Net die wonderlike vermoede dat grysheid volkome wysheid sal bring.

Komplekse wesens

Ek maak vanoggend huis skoon. Was vloere, skrop wasbakke en vee die spieëls blink. Ek gooi koeldrankblikkies, naartjieskille, dadelpitte en twee wynbottels weg. Dis toe ek die leë toiletrolletjie in die asblik gooi dat die skuldgevoel so in my palm kom lê. Op Pinterest het ek gesien hoe mense hierdie leë toiletrolle omskep in parkeerhuisies vir seuntjies se karretjies. Hulle word geverf om allerhande oulike en kreatiewe dinge in en om die huis meë te doen. Ek laat staan die huis vir ‘n oomblik en wend my na oom Google. Byna alles wat ek vanoggend weggooi kan eintlik herwin, hergebruik of hersien word. Ek was altyd onder die indruk dat ek ‘n kreatiewe mens is. Nou twyfel ek.

Mense skei glas, plastiek en papier… want dit beteken ons red die aarde een glasbotteltjie op ‘n slag. Jy moet blykbaar nie batterye of spuitblikkies in die gewone vullis dompel nie, want dit is soos marteling vir Moeder Aarde. Ek loer na die swart(plastiek)sak vol vullis en wonder of ek nie maar my skouers moet regruk en my deel moet doen nie. Ek het altyd gedink ek gee nogal om vir ons wêreld. Nou is ek nie so seker nie.

Ek sit egter my voet neer. Superma is beslis meer as net die boek wat ek geskryf het. (Advertensiebreuk vir sinvolle bemarking:  te koop by Lapa se aanlynwinkel en meeste boekwinkels). Dis ‘n mite. Die lewe is, nes ons mense, kompleks. Geen twee dae is dieselfde nie. Nes mense ook verskil.

Net omdat ek nie elke leë toiletrolletjie omskep in ‘n kunswerk nie, beteken nie dat ek onkreatief is nie. Net omdat ek so dan en wan my plastiekhouertjie in die gewone drom gooi, beteken nie ek haat die aarde nie.  En ek gaan nie skuldig voel oor ek nie elke dag hierdie perfekte Pinterest persoon is nie. Soos die vullissak is ek divers, deurmekaar en laat gaan ek maklik van gemors. En immers het ek nou ‘n skoon huis.