Komplekse wesens

Ek maak vanoggend huis skoon. Was vloere, skrop wasbakke en vee die spieëls blink. Ek gooi koeldrankblikkies, naartjieskille, dadelpitte en twee wynbottels weg. Dis toe ek die leë toiletrolletjie in die asblik gooi dat die skuldgevoel so in my palm kom lê. Op Pinterest het ek gesien hoe mense hierdie leë toiletrolle omskep in parkeerhuisies vir seuntjies se karretjies. Hulle word geverf om allerhande oulike en kreatiewe dinge in en om die huis meë te doen. Ek laat staan die huis vir ‘n oomblik en wend my na oom Google. Byna alles wat ek vanoggend weggooi kan eintlik herwin, hergebruik of hersien word. Ek was altyd onder die indruk dat ek ‘n kreatiewe mens is. Nou twyfel ek.

Mense skei glas, plastiek en papier… want dit beteken ons red die aarde een glasbotteltjie op ‘n slag. Jy moet blykbaar nie batterye of spuitblikkies in die gewone vullis dompel nie, want dit is soos marteling vir Moeder Aarde. Ek loer na die swart(plastiek)sak vol vullis en wonder of ek nie maar my skouers moet regruk en my deel moet doen nie. Ek het altyd gedink ek gee nogal om vir ons wêreld. Nou is ek nie so seker nie.

Ek sit egter my voet neer. Superma is beslis meer as net die boek wat ek geskryf het. (Advertensiebreuk vir sinvolle bemarking:  te koop by Lapa se aanlynwinkel en meeste boekwinkels). Dis ‘n mite. Die lewe is, nes ons mense, kompleks. Geen twee dae is dieselfde nie. Nes mense ook verskil.

Net omdat ek nie elke leë toiletrolletjie omskep in ‘n kunswerk nie, beteken nie dat ek onkreatief is nie. Net omdat ek so dan en wan my plastiekhouertjie in die gewone drom gooi, beteken nie ek haat die aarde nie.  En ek gaan nie skuldig voel oor ek nie elke dag hierdie perfekte Pinterest persoon is nie. Soos die vullissak is ek divers, deurmekaar en laat gaan ek maklik van gemors. En immers het ek nou ‘n skoon huis.

 

 

 

Advertisements

Fyn

Ek is nie klein en fyn gebou nie. Inteendeel, soos my onderlyf is my vel ook maar swaar besnaard. Ek lees nie graag tussen die lyne nie, fynkam nie elke insinuasie  en stylfiguur wat moontlik kan aanstoot gee nie en kyk nie fyn uit vir elke moontlike letter van die liggaamstaal om te besluit hoe fyn my nerf eintlik moet wees nie. Dalk is ek nie fyn genoeg opgevoed om om te gee oor elke stukkie kritiek of venyn wat my kant toe swaai nie. Dalk ontbreek daar iets in my karakterlike dna om te beskik oor die vermoë om fyn te trap rondom elke gesprek en kompliment met ‘n moontlike kraak.

Op sosiale media word die voorsetsel “homo-” gebruik en elke aktivis wat in die laaste dertig jaar ‘n reënboogvlaggie laat wapper her, spring op ‘n perdjie. Ná ure se verduidelik, verstaan die helfte van hierdie mensdom steeds nie dat ‘n homofoon absoluut niks met seksualiteit te doen het nie.

In die koerant word die opskrif uitgeblaker: “Dis wit teen swart”. Elke jeugleier, politieke analis, vryheidsvegter, terroris en burgemeester, ruk hul nekkies in ‘n krul en stof onmiddelik hul wapens af. Dis eers met nabetraging wat besef word, die joernalis het berig oor die plaaslike skaakkampioenskappe.

Massa-histerie breek los oor “waardeur” wat “alweur” verkeerd gespel word. Elke kriesel kritiek wat deur ‘n idioot of geniale sosioloog of wyse raadgewer verkondig word, word aangetrek tot in mense se binnekamers en dan verpersoonlik tot dit net op hulle van toepassing is.

Die waarheid is dat niemand van ons regtig so fyn dopgehou word nie. Ons is verniet fyn van draad, want ons is klein en fyn en nietig in die groter kosmos. Dit voel dalk asof iemand sy woorde fyn korrel om ‘n perfekte skootplasing in jou wapenrusting te maak, maar meeste woorde en sinsnedes is eenvoudig argeloos. Ons luister dalk tè fyn en vergeet dat die fyne van die saak, dikwels deur misverstande gekniehalter word.

Ek is ‘n fynproewer van die woord. Van my taal. Maar net myne. As jy iets vir my wil sê, kom spreek die boekdele in my aangesig, want die inlassinne en bywoordelike bepalings gaan op my dowe oor val. Vir my is daar ‘n fyn lyn tussen fyngevoelige kinderagtigheid en ‘n hart wat opreg breek oor selfsug en waansin. My vel is dik, nes my bobene, maar ‘n  vriendskap kan ook aan skerwe spat: fyn en flenters.

Maniere

Ek kyk terug na my skooldae en ek weet: ek was nie ‘n gawe leerder nie. Ek het alles bevraagteken, slegs klas toe gegaan as ék gedink het ek sal daarby baat vind en elke reël se grens het ek as uitdaging beskou. Ek het nie altyd my huiswerk gedoen nie, nie met entoesiasme aan elke sport deelgeneem nie en beslis nie opgedaag vir elke kooroptrede, sokkie of kermis nie. MAAR…

Nie een keer in my twaalf jaar op die skoolbanke het ek ‘n onderwyser gespoeg nie. Nooit het ek my tong uitgesteek en vir ‘n onderwyser geskree dat hy geen seggenskap het nie. Ek kan nie onthou dat ‘n hoërskoolonderwyser my ooit moes waarsku teen die skerp kant van ‘n skerpmaker nie. My geheue is maar vaag oor my mede-skoliere van vervloeë  dae, maar boelies het nie onderwysers met messe gesteek, dogters in die badkamers verkrag of die biblioteek afgebrand omdat hulle nie wou skoolfonds betaal nie.

Ek onthou hoe ek my eerste ‘skelm’ trek agter die pawiljoene gevat het. Dit was sleg en die Camel het vir my niks uit te waai gehad met die kankerstokkie nie, maar daardie een trek sou my drie Vrydae se detensie gekos het. Agter die einste pawiljoene het ek en daai een mannetjie juis so lekker gevry. Nog drie dae se detensie.

Verlede week vang ‘n onderwyser drie seuns wat besig was om te ontlas tydens die sing van die volkslied. Gister vertel een matriek vir ‘n nuwe juffrou dat hy haar in die ‘verkeerde gat’ sal *rym met braai* omdat sy sy selfoon in die klas konfiskeer het. Het ek die memo gemis oor kattekwaad?

Kinders is lankal nie meer onskuldig op soek na hulself nie. Kinders is klein monsters wat nie meer met detensie gedreig kan word nie. Kinders kan nie meer druip nie, kan nie meer geskors word nie en neem geen meer verantwoordelikheid vir hul eie lewens nie. Alles word eenvoudig voor die deur van onderwysers gelê. Natuurlik is daar nog goeie skole en goeie studente… die probleem is dat hulle in die baie kleiner minderheid is. Die massas word ‘studente’ wat universiteite afbrand. Hulle word stakende werknemers. Hulle verander in statistieke van vroueslaners, dwelmverslaafdes en werkloses.

Onderwysers kan nie meer die blaam dra vir alles nie. Ouers moet so klein bietjie verantwoordelikheid vir hul bloedjies vat. Ek slaan trots my hand op die bors en belowe plegtig : “Ek sal hase uit hoede trek om kreatiewe en interessante lesse aan te bied. Ek sal streng wees en reëls hê. Ek sal deurlopend assesseer en geen witbroodjies aanneem nie. Ek sal konsekwent, regverdig en sonder vooroordeel elke kind as gelyke erken, maar differensiasie in elke les ‘n werkbare moontlikheid maak.Tot die beste van my vermoë sal ek lewens positief beïnvloed. Ek wil ‘n onderwyser wees, tot die beste wat my intellek my toelaat. Maar soms, soos vanaand, gaan ek ook na die ouers kyk en skree: “Bliksem jou ongemanierde, disrespekvolle en arrogante kind, want ek mag nie.””

 

Pyn

Ek dink al hoe meer dat ons kleintoontjies net een doel het: om ons te herinner om te kyk waar ons loop. Min dinge is so seer soos om jou kleintoontjie teen die deur / bed / bank / kombuiskas te stamp. Dalk, as ons meer opgelet het oor waar om ons voete neer te sit, sou ek nie so maklik op ‘n klein Lego-blokkie getrap (en besonders hard gevloek) het nie.

Sien, ons verwag pyn in sekere situasies: kindergeboorte, skoonma’s, heupvervangings, wortelkanaalbehandelings en om op die skaal te klim na ‘n laaaang vakansie. Maar ons vergeet dat klein dingetjies ook jou pyndrempel kan beproef. ‘n Papier wat teen die verkeerde hoek oor jou hand gly, ‘n velletjie langs jou wysvinger wat inskeur, ‘n splinter wat uitsweer, ‘n ingroeihaartjie onder jou oksel, ‘n puisie so klein soos ‘n kopspeld op jou bolip…

Ons nasie staar met pyn in ons oë na die Springbokke se telbord. My hart pyn as ek sien wat met ons kampusse gebeur. My ore pyn as ek na sinnelose kletsrym met harde doef-doef agtergrondmusiek moet luister. Vir pyn het die harlekyn gevra vir wyn… maar die hoofpyn die volgende oggend vra nie vir nog ‘n glasie nie. Tieners is natuurlik die kenners van pyn. Gebroke harte, gekraakte selfbeelde, rooi kringe op rapporte, te min klieks op sosiale media… pleisters en pynstillers sal geen verligting bring nie.

Fisiese pyn kan verdoof word. Sekere mense is sommer net ‘n pyn in my… wel, my intellek. Ek ervaar emosionele pyn as ek sien hoe sekere mense redeneer. Ek ervaar fisiese pyn as ek van die kameel se rug afkwetter. Ek ervaar angspyn oor die woord “afkwetter”.

My man verduidelik dat as jy ‘n koeël in jou knieg het, die pyn net sal verdwyn as jy die koeël verwyder. Vanaand sit daar ‘n koeël in my bors. Ek moet terugstaan, afstand doen, omdraai, wegloop, anderpad kyk, ‘n dowe oor gooi, op my tong byt… ek moet sekere mense en dinge groet om myself te pantser en my glimlag te bewaar. Vanaand is die pyn onverstaanbaar. More sal ek begryp dat dit eintlik positief van aard is. Ek doop dit: groeipyn.

 

 

Pyn in my appel

Ek het nog nooit ‘n wye en onvoorwaardelike liefde gehad vir Afrikaanse musiek nie. Sinnelose lirieke gee my gas. Die onaangename soort. Dwangrym gee my koors. Van angs en woede. Tussen ‘n generaal, kaptein en naweeklyfie het ek al van my varkies verloor. Later sou ek verneem die varkies het hulself in pampoene en loslappies gaan verdrink. Liefde was nie net ‘n stille rivierstroom nie, maar ‘n woord wat sekere Afrikaanse sangers ontrond, oorrond, verrond, berond en sommer ongegrond verkrag. Dit is so… ek wil kots as ek sekere musiek in my moedertaal hoor speel. Nie braak nie. Nie opbring nie. Maar lelik en kru kots. So dramaties dat dit mense sommer laat gril van morsigheid.  In my woordeskat tel ‘baby’ nie as ‘n Afrikaanse troetelnaampie nie en is “jaauw” nie ‘n woord nie. “Vergeut”en “tymel” grens aan laster. Musikaal? Nee, eerder musieklik.

Alles is egter nie verlore nie. Daar is puik woordkuns wat opduik tussen treffende melodieë. Poësie wat oor die lippe spoel van talentvolle troebadoere. Kulkunstenaars wat tussen note en nostalgie die balans van harmonie en klank vind. Dis net so jammer dat die massas nie altyd hul talent waardeer nie.

Die massas luister vir ure aaneen na ‘n liedjie van ‘n pen wat in ‘n pynappel gedruk word. Massahisterie breek los oor ‘n walglike Oosterling (in ‘n baadjie wat soos bababraaksel lyk) wat ‘n pen het… en ‘n pynappel het… en dan ‘n penpynappel het… Die enigste deel waarmee ek identifiseer is die “urgh”.

So erg banaal is hierdie nuwe treffer, dat Japan nou blykbaar ‘n amptelike persverklaring uitgereik het om te sê dat hulle asseblief nie vergelyk wil word met die man en sy pynappelpen nie. Japanese is slimmer as dit.

Ek bewonder Japan. Hulle het immers die waagmoed om die sotlikheid te erken. Om hulself te distansieer van laervlakdenke. Ek is seker as hulle ‘n paspoort kon terugtrek sou hulle. Dat hulle die vlakke van bloedskande gaan ondersoek is seker nie van die tafel af nie.

Terwyl die wêreld ure en ure spandeer om na die omgang tussen vrugte en skryfbehoeftes te luister, wonder ek wie opstaan vir die studente wat hul klasse misloop. Ek wil weet of dit moontlik is om op twee plekke gelyk te wees. Ek probeer verstaan waaroor ouerskap eintlik gaan. Ek wil onderskei tussen vrae en vra en vrag en vrug… en so eindig ek weer by die pynappel op. Ek luister na die stilte om my en nog nooit was dit vir my so mooi nie. Stilte beteken denke kan vorm vat, want tussen die geluide van dwaasheid en vervolging en verspreiding en verslaafdheid, wil ek soms my pen in ‘n paar mense se pynappels gaan druk. Maak tog soos Johannes Kerkorrel sing en ‘Sit dit af! Sit dit af!’

 

Uawrgh

In die laaste 12 uur, het ek meer gevloek as wat gesond is vir enige emosionele situasie. Ek het ‘n skeelhoofpyn van blatante woede ontwikkel. Ek het my so vervies, dat ek drie keer van geloof en vier keer van bloedgroep verander het. My wange gloei soos Satan se stoofplaat en my oë spoeg vuur, terwyl ek aan die boosdoeners dink. Die boosdoeners in hierdie geval is die menere wat hulself… ag nee, weet jy, ek moet maar ‘n brug bou en oor die volslae mislukkings van die wêreld kom. Punt en klaar.

My humeur is so kort soos James Dalton se hare in die negentigs, my geduld nie veel langer nie. Ek het dus oor die afgelope drie dekades (en ‘n bietjie) geleer om te stop, asem te haal en my geite en grille in blaasborrels te sit en weg te blaas.

Daar is sotte op aarde. Dis nou die sogenaamde ‘mense’ wat dink dit maak sin om ander se lewens te verwoes deur vals aantuigings te maak, geld te verduister of te lieg soos ‘n tandetrekker. Daar is idiote onder die osoonlaag. Sogenaamde “stryders van vryheid en gelykheid” wat biblioteke afbrand in die soeke na kennis. Daar is beterweterige eierkoppe wat disrespekvol optree en twee sinne later preek oor waardigheid en morele waardes wat gehandhaaf moet word. Daar is arrogante ape wat in magsposisies sit en bevele gil, terwyl hul honde honger in die reën op hul wag. As ek aan die bevolkingsverspreiding dink, wonder ek vanaand watter persentasie van die 7 biljoen regtig, waarlik, eerlik goeie mense is. 2%? 20%? En dan lei die vraag na introspeksie: val ek onder hierdie 2%? 20%?

Na ‘n glas wyn, twee blokke sjokolade en ‘n warm stort, voel my hart ligter. My vingers is weer los en my mond trek weer in ‘n glimlag. Ek is deel van die 2%. Moet wees, want ek sien die bobbejane raak. Ek raak nog kwaad oor onregverdigheid. Ek wil nog die wêreld ‘n beter plek maak. Ek raak woedend oor kinderagtigheid. Ek raak aggressief oor mishandeling. Ek raak vies oor disrespek. Ek raak besete oor onlogiese domastrantheid. Ek bou daagliks brûe. Ek kom nie altyd oor dit nie. Maar ek hou my oog op die horison, skink nog ‘n glas wyn en skree dan ten hemele: “UAWRGH!” More is nog ‘n dag en ek word nie gedefinieer deur net een stel van 12 ure nie.

 

Koffie

Sheik Omar het bekendheid verwerf vir sy vermoë om siek mense gesond te bid. In die vyftiende eeu is hy egter uit Mocha, in Yemen, verban na die woestyn, Ousab. Hier het arme Omar honger geword en in sy desperate oomblikke begin knibbel aan die boontjies van ‘n vreemde boom. Die smaak was bitter. Hy het die boontjie fyngedruk en in water gegooi om die smaak te verbeter. Groot was sy verbasing toe die drankie nie net vorentoe gesmaak het nie, maar hom ook versadig laat voel het en energie gegee het. Stories van hierdie wondermiddel het Mocha bereik, Omar is teruggegroep en ‘n hoë amp in die senaat aangebied.  Vandaar het koffie oor die hele Afrika en Europa versprei. En dank Vader daarvoor…

Ek is nie ‘n koffiekenner of koffiepuris of koffiemaniak nie. Ek hou van my koffie soos ek van my mans hou: groot, wit en nie tè soet nie. Die beker waarin my koffie bedien word, het nie ‘n handelsmerk nodig nie, die metodiek is bysaak en die styl mag maar wisselend wees. Van my vriende is baie gestel op die metode van koffie maak: eers die melk, dan die water… ander voel weer die water versterk die koffie en dus moet die melk laaste bygevoeg word… wyl ander reken melk versuur koffie onnodig. Koffie het soos politiek geword en in baie kringe ontstaan hewige argumente oor die tekstuur, smaak, swaartekrag, digtheid en wie weet wat nog alles oor iets wat veronderstel is om net aangenaam te wees.

Kitskoffie is vir talle ‘n vloekwoord en die kapsules wat nou so in die mode is, het ook ‘n statussimbool geword, want behalwe die kapsules wat peperduur is, kos die masjien byna net soveel as ‘n klein karretjie. Hoe duurder die masjien, hoe lekkerder die koffie… of sò lui die oortuiging van die mense wat sulke masjiene (mis)gebruik.

Koffie is goed vir jou hart, sleg vir jou lewer; goed vir jou metabolisme, sleg vir jou brein; goed vir jou energievlakke, sleg vir jou libido… en wat jy vandag drink, gaan jou tien teen een more doodmaak. Die dokters en navorsers is mos draadsitters wat net artikels uitryg soos hulle geborg word…

Ek? Ek weet nie. Gee ook nie vreeslik om nie. Ek hou van koffie. In alle vorme en geure. Ek hou van die reuk, die kafeïen, die smaak en die roetine van elke koppie koffie. Ek drink koffie uit weggooihouers, klein flessies en glasbekers. Ek drink koffie in die oggend, middag en aand. Ek drink koffie saam met vriende, familie, kerkmense en skoolkinders. Koffie vra nie geslag, tyd of sosiale status nie. Vir die statusbewustes, puriste, kenners en fynproewers is ek dankbaar en bly, maar los my asseblief uit om my koffie te geniet, sonder tierlantjies en tirades.

Die beker wat nou langs my staan, is met liefde, uit liefde en vol liefde vir my daar neergesit. Vergifnis, begrip, ondersteuning, bemoediging, motivering, dankbaarheid… sinvol is elke slukkie van my koffie.