Ek haat Wiskunde

Geskryf vir die Graad 8’s van AHMP, 2009. 

Ek haat Wiskunde. Ek dink ook nie ek is die enigste een wat so voel nie. Ek verstaan nie al die x en y komponente wat veronderstel is om getalle te wees, maar eintlik letters is nie. Ek begryp nie hoekom daar kwadrate en vierkantswortels is nie en weet nou nog nie hoekom Pythagoras eintlik so belangrike ou is nie. Ek haat Wiskunde.

Juffrou Maritz sit agter haar lessenaar asof sy die Queen van Sheba is. Haar bolla is so styf in haar nek dat dit lyk asof haar voorkop se spanning tot op sy uiterste beproef word. Haar kameelperdnek word weggesteek in haar grys turtlenek-trui. Ons Afrikaanse juffrou het juis gister so mooi verduidelik dat dit eintlik ‘n “rolnektrui” is. Juffrou Maritz reken Wiskunde is die een vak wat jou die voorsprong in die lewe gaan gee. Ja, sure. Eendag as ek by ‘n prokureursfirma instap vir ‘n onderhoud gaan hulle wil weet wat is die waarde van Pi en hoekom daar ‘n verskil tussen reële en natuurlike getalle is. Dit is wat van my ‘n uitstekende prokureur gaan maak. Juffrou Maritz is in haar bol gepik man.

“Jana, vir wat sit jy weer en dagdroom?” Ek skrik elke keer vir haar koue stem. Dis al die tweede kwartaal van my Graad 8 jaar, maar Juffrou Maritz se stem is beslis deur satan self uitgereik.

“Ek dink juffrou.” My stem bewe effens, soos al my mede-skoliere s’n as Juffrou Maritz aangespreek word. Sy

knik haar kop en gaan aan met haar merkwerk. Ek sug innerlik ‘n sug en sak my kop oor die Griekse handboek. Wiskunde vir die klaskamer – Graad 8.

‘n Boek wat mens in een of ander inrigting sal laat beland. Groendakkies se Moses!

Ek kyk op my horlosie. Die horlosie wat Wian vir my gegee het. Dis ‘n Fossil. So klein vierkantige een met ‘n leerbandjie. Waar die twaalf moes wees is ‘n klein diamantjie. Wian se ouers het baie geld gehad. Wel, hulle het seker nog steeds, maar dis nou al byna ses maande wat ek niks van hom hoor nie. Nie eers ‘n sms nie. Hy gaan ook nie meer op Facebook nie. Al wat ek nou van Wian oorhet is hierdie horlosie. Sad. Baie sad.

Ek en Wian het reeds in graad 1 langs mekaar in die klas gesit. In graad 2 het hy my poniesterte begin trek en die jaar daarna het hy by my begin afskryf. In graad 5 het hy my gevra om te “kys” en ons was sedertien onafskeidbaar. Maar toe breek die einde van ons laerskoolloopbaan aan en dinge verander. Wian se ouers besluit om hom Paarl Gimnasium toe te stuur, want dit is “waar manne gebore word”. Pretoria se skole is mos nie goed genoeg vir die Bester-seuns nie.

Twee dae voor die skole vir die lang Desembervakansie sou sluit, klop Wian aan ons voordeur. Hy wou nie eers koeldrank drink nie. Hy het net daar in die deur gestaan, die toegedraaide pakkie in my hand gestop, my vinnig op die wang gesoen en gesê: “Ek gaan jou mis”. Toe is hy op sy fiets daar weg. Net so. Geen lang gesprek nie. Geen hoekom en waarom nie. Net dit.

Ek het die rooi pakkie met goue linte op my bedkassie neergesit, op die bed neergeval en vir ure net daarna gestaar. Soos ‘n dom goudvis op baie droë grond. Asof die rooi geskenkie vir my iets sou sê. Asof die goue lint my vrae sou beantwoord. Ek het nie soos een of ander drama queen gehuil, geskree, gegil of deure toegeslaan nie. Ek het net gestaar.

Die skril klank van die klok laat my so skrik dat my pennesak op die grond val en jy sien net highlighters en liniaalstukke trek. Juffrou Maritz se nek ruk so styf dit lyk asof sy ‘n wortel heel ingesluk het. “Jammer Juffrou” mompel ek en spring op om my gemors op te ruim. Die ander meisies loop soos stoomtreintjies verby my. Almal wil net so vinnig as moontlik spore maak uit hierdie tiran se klas uit. Dit vat my ‘n goeie twee minute om al my potlode op te spoor en ek besluit dat my skerpmaker nie die moeite werd is nie… hy moet maar in hierdie draak se den verlore bly. Ek gryp my Billabong-rugsak en loop so vinnig ek kan verby haar tafel, by die deur uit, sonder om een keer op te kyk.

Die Afrikaanse klas is aansienlik anders as enige van ons ander klasse. Die agterste muur is lemmetjiegroen en die ander mure helderpienk met oranje blomme op geverf. Daar hang kristalle en balle; feëtjies en vere; en wie weet wat nog alles uit die dak uit. Juffrou Lalie het ‘n sebrastreep-rok aan, bo-oor ‘n giggelgeel langbroek en haar alomteenwoordige, “Bybelse” skoene: Crocs. Vandag se Crocs is oorspronklik swart, maar versier met kolletjies, blommetjies, knopies en knoppies, strikkies en sonnetjies en ja, selfs ‘n grasgroen paddatjie! Juffrou Lalie dring daarop aan dat ons haar op haar voornaam noem, want sy haat haar van. Niemand weet wat dit is nie en ons sal ook seker nooit. Sy is ‘n boheemse kreatuur wat gedigte uit haar kop kan opsê, liedjies op enige moontlike noot kan sing en dikwels word die klas verskuif na die snoepie, die hokkieveld of selfs die saal. Niks is ooit dieselfde nie en die kinders wat van roetine hou, hou nie van Juffrou Lalie nie. Die klas is effens rumoerig en Juffrou Lalie gaan staan bo-op haar tafel om stilte te kry.

“Liefde is ‘n somersbries

liefde laat jou hart ontvries.

Liefde laat jou wange gloei

Liefde laat jou are roei.”

Dit werk. In enige meisieskool kan jy maar seker wees: liefde kry onmiddelike aandag. Dis ook waar vir ons graad 8 klas. “Juffrou is verlief!”, skree Berna uit die hoek uit. Die klas giggel. Juffrou Lalie bloos. “Ek is…” sug sy. Nou is almal geïnteresseerd. “Vertel ons alles juffrou!”, roep Tariena. Daar word hande geklap en iemand fluit. Baie onvroulik. Juffrou Lalie lag. Sy verdwyn vir ‘n oomblik agter in haar stoorkamer in – soos sy dit noem, haar “ontvlugtingsoord” – en kom oomblikke later tevoorskyn met ‘n klein worshondjie! Skielik word daar ge-oe en ge-aa. Almal wil net aan die swart diertjie met sy nat neusie vat. “Ek het hom gister langs die pad opgetel”, vertel Juffrou Lalie, “ek dink nie hy is vreeslik jonk nie, want sy baardjie is al effens grys en sy halsbandjie al redelik verweer.”

Ek sit gevries in my stoel. Ek ken daardie hondjie alte goed. Of is dit moontlik dat daar nog ‘n swart worshond bestaan wat ‘n keep in sy linkeroor het? Een wat se regterpootjie ‘n wit vlekkie het en een wat se stert so definitiewe kinkel in het? Tintoe. Tintoe. Tintoe! Wat maak Tintoe by die skool? Wat maak Wian, my laerskoolliefde se miniatuur-worshond in my Afrikaanse juffrou se hande? Tintoe. Die enigste ooggetuie van my en Wian se eerste soen op sy ma se sitkamerbank. Tintoe. Die enigste toeskouer by ons vele “onwettige” kuiers in Wian se slaapkamer, waar ons vir ure na musiek geluister en skelm handjies vasgehou het. Tintoe. Wian se skaduwee.

Sonder dat ek dit kan help, sien ek weer daardie rooi geskenkie voor my op die bedkassie. Die geskenk wat ek eindelik oopgemaak het om ‘n Fossil-horlosie binne inte kry met die nota:

Tyd sal leer

Is hierdie die tyd? Ek kyk na Tintoe. Juffrou Lalie. Berna wat nou staan en kekkel soos ‘n hen wat kos soek. Ek sien die Herfs-feëtjie wat op genade aan ‘n stukkie wol hang. Ek kyk deur toe. Niks. Het ek gehoop Wian sal daar staan met ‘n bos rooi rose? Het ek regtig gedink dat hy my sal kom opsoek? Ek dink ek moet die skoolsielkundige gaan sien – ek het issues. Juffrou Lalie babbel voort oor haar “fonds” langs die pad. Ek staar na die swart diertjie in haar hande… Hoe? Waar? Wanneer? Hoekom? Huh? My kop draai.

Ek klok lui om die einde van die skooldag aan te kondig. Ek gooi net my sak oor my skouer en my voete loop by die deur uit. Ek loop tussen die gemaal van mallerige meisies deur hek toe. Ek sien van ver af ma se bloedrooi kombi. Innerlik sug ek verlig. Ek was nie vandag lus om weer vir haar te wag nie.

Sy is besonder stil toe ek in die kar klim, maar ek gee nie om nie. Ek waardeer die stilte en is nie lus vir haar “hoe was jou dag?” en “wat het jy geleer?” nie. Ek is lus om in my kamer onder die kombers te gaan wegkruip. Ek is lus om myself jammer te kry en te verlang. Ek is lus om te huil.

By die huis gaan ma direk kombuis toe. Ek gryp ‘n stuk piesangbrood, mompel iets wat soos huiswerk moes klink vir ma en loop kamer toe. Toe ek die kamerdeur oopstoot is ek sommer vies. Die son skyn in sulke goue strale deur die venster tot op die spieël en dit maak die lig soveel erger. Dis beslis nie hoe ek voel nie! Hierdie is nie die weer om jouself in jammer te kry nie! Skielik wens ek vir reën. Maar hierdie is die werklikheid en nie Hollywood nie. In die werklikheid speel die weer nie noodwendig saam nie en is daar nie tyd vir emosionele ineenstortings nie. Ek moet my Wiskunde klaarmaak – ek wou mos sit en dagdroom in die klas. Dan het ek boonop nog ‘n Engelse opstel wat geskryf moet word, oor Romeo en Juliet nogal. Ek sien egter nie kans vir enige liefdes-projek nie en pluk my Wiskunde boek uit my tas uit. Sug. Het ek al genoem dat ek Wiskunde haat? Wel, ek haat Wiskunde. Ek sit die cd-speler aan en Muse se klanke vul die kamer. Ek skuif agter die lessenaar in.

Met elke x wat ek in die boek trek, dink ek aan Wian. Elke = -teken laat die knop in my keel klop. Hoekom is ek so flippin stupid? Hoekom kan ek nie net van hom vergeet nie? Ek is nou eers in graad 8! Magtig! Daar is baie visse in die see… daar sal nog baie liefdesteleurstellings wees… ek weet nie eers regtig wat liefde is nie! Woorde en sinne maal deur my kop. Ek weet Karien en Loula was reg. My twee vriendinne wat sommer saam gehuil het in Desember, net voordat ons elkeen op vakansie is. Ek weet dit, maar ek kan dit nie help om so crappy te voel nie. Hier gaan ek al weer… dagdroom terwyl ek moet Wiskunde doen. Wat de hel gaan aan met my? Dis nie asof daar enigiets besonders is aan hierdie dag nie. Dis nie een of ander anniversary of spesiale dag nie. Hoekom hardloop Wian so in my kop rond? Hy moet teen die tyd seker doodmoeg wees. Ek glimlag vir my eie dom gedagte. Daardie pick-up line is so oud soos my ma se plastiekoorbelle!

Fokus Jana. Fokus.

6x (4x – 2y) + 4xy 

Ek haat Wiskunde! Ek vat nog ‘n hap piesangbrood en skuif die Wiskunde boek oor die lessenaar. Ek staar daarna asof dit een of ander walglike gogga is. Ek val met my skoolklere en al op my bed neer – ma kry ‘n oorval as sy sien ek het nie eers my skoene uitgetrek nie. Die volgende oomblik is daar ‘n klop aan my deur. Ma. Ek spring vinnig op, trek die beddegoed reg en gaan sit agter my lessenaar. “Ja?” sug ek terwyl ek maak asof ek druk besig is om die Wiskunde probleem van die millenium op te los. Ek hoor hoe die deur oopgaan en reken dat ma nou daar staan en na my kyk. Dis nie altyd lekker om ‘n sielkundige vir ‘n ma te hê nie. Sy analiseer alles en almal en as dit net lyk of ek hartseer is, kry ek speeches oor depressie en hoe selfmoord nie ‘n uitweg is nie.

Ma sê niks. “Jana?” Dis nie ma se stem nie. Ek is te bang om op te kyk. Dalk moet ek regtig met ma gaan praat, want nou droom ek nie net nie, ek hoor nou tot stemme! “Jana?” Dieselfde stem. Ek kyk stadig op en knip my oë. Dit is hy! Dit is hy! Maar my lyf en my brein is duidelik twee aparte sisteme. Want ek dink ek moet opstaan en hom groet. Ek dink ek moet my mond oopmaak en ten minste “hi” sê. Ek dink ek moet darem glimlag om te wys ek is bly om hom te sien, maar my lyf sit gevries in my stoel. My bene is lam en my arms kry spelde en naalde.

“Jy kan blind word as jy nie jou oë knip nie” Sy stem is growwer as wat ek dit onthou. Meer manlik. Ek knip my oë. “Eintlik is ek te bang om my oë te knip”, antwoord ek, onseker oor my eie stem se stabiliteit. “Netnou verdwyn jy weer.” Hy kyk af grond toe, haal sy hande uit sy broeksakke uit en gee een tree in my rigting.

“Stop net daar” keer ek. Hy kyk verbaas op. Sy oë is blouer as in my drome. Sy blonde hare is deurmekaar op sy kop, maar daar is een sliert wat oor sy voorkop hang. Ek kyk af. Sien die horlosie aan my arm en soek die veiligheid van my Wiskunde boek op. Immers haat ek Wiskunde. Ek hoor my eie stem, al het ek nie ‘n besluit geneem om iets te sê nie:

“Ek is nie seker of jy welkom is hier nie, Wian.”

“Jana,” begin hy pleitend, “laat my asseblief verduidelik.”

“Nee.”

“Nee?”

“Ja. Nee. Jy het genoeg kanse gehad om te verduidelik. Jy het tyd gehad. Tegnologie. Genade, selfs ‘n sms sou voldoende gewees het. Maar jy het nie. Jy is hier weg sonder om te groet. Sonder ‘n ‘koebaai, nice om jou te ken’. Sonder enige rede of hoekom of waarom. Net so. Met ‘n “ek gaan jou mis” en ‘n rooi geskenk wat my eerder geteister het as enige iets anders. So nee, ek gaan jou nie toelaat om te verduidelik nie.”

Ek skrik vir my eie woorde. Dis nie wat ek beplan het om te sê nie! Ek wil eintlik vir hom vertel dat ek hom so ongelooflik gemis het! Ek wil hê hy moet my vashou… nou foeter ek dit op deur hom weg te jaag! Wat gaan aan met my?

“Ek weet jy is vies…”

“Vies?” val ek hom in die rede, “vies? Nee. Ek is kwaad en seergemaak en eintlik woedend en hartseer en ag, sommer alles deurmekaar!”

“Ek is jammer.”

Ek staar hom stom aan.

“Ek is so ongelooflik jammer Jana. Ek was ‘n idioot en ‘n lafaard.”

“Ek weet.”

Daar hang ‘n stilte in die lug. Soos ‘n groot pers dinosaur (dalk Barney?) tussen ons. Ek kyk na my Wiskunde boek en besef dat dit Woensdag is. Drie weke voor die eksamenWian het nie skoolklere aan nie.

“Wat maak jy hier? Is jy nie veronderstel om in die Kaap te wees nie?”

“Ek is nie happy daar nie. Ek haat die koshuis en mis my ma.” Ek glimlag. Net Wian sal so iets kan sê en nie totaal en al soos ‘n slappols klink nie.

“En ek mis jou…”

My glimlag verdwyn. Nee, nee, nee.

“So jy het darem een belofte gehou.” (Wat sê ek? )

“Huh?” Sy oë is vol vraagtekens.

“Jy het daardie dag gesê jy gaan my mis.”

“O… ja, ek het. En ek het jou gemis. Meer as wat nodig was. Meer as wat gesond is vir ‘n graad 8.”

“Hoekom het jy nie gesms nie? Nie gebel nie? Nie eers ge-Facebook nie? Jy was tog nie land uit nie?”

“Nee, ek was nie. In die koshuis mag ons nie selfone gebruik het nie en geen internettoegang maak Facebook nogal moeilik.”

“En naweke? En die April-vakansie?”

“Ek het soos ‘n totale eier en brood gevoel. ‘n Eierbrood.” Hy glimlag. “Ek het nie die guts gehad om te sê ek’s sorry nie. Sorry.”

Ek dink aan Juffrou Lalie en haar vrees vir die woord “sorry”. Sy glo dit sal die einde van Afrikaans beteken as mense begin sorry sê in plaas van jammer. En toe onthou ek vir Tintoe.

“Waar is Tintoe?”

“Mag ek maar sit?” Hy beduie met sy hande na die bed en ek besef hy staan steeds waar ek hom gekeer het. Ek knik en hy gaan sit op die bed. “Tintoe het weggeloop. Twee dae terug. Dit was die laaste strooi. Ek het geweet ek moes huis toe kom. Ek het my ma gebel en gister teruggevlieg. Tintoe is steeds weg. Wat het jou aan hom laat dink?”

Ek sug en staan op. Ek kyk na Wian en gee ‘n tree na hom toe. Hoe hy so vinnig by my uitgekom het, weet ek nie. Ek druk my wang teen sy bors en fluister: “dis ‘n lang storie”

“Ek gaan nêrens”, fluister hy terug.

Ek kyk op in sy oë. Die bloues wat ek so gemis het.

“Wel, dit het alles begin toe ek vandag weer besef het: ek haat Wiskunde…”

Advertisements