Skimp

Ek kry sommer vroeg vanjaar al ‘n prentjie-boodskap van Manlief: “Onthou… 2017 is die jaar om jou man te bederf” en die prentjie is ‘n allemintige, reuse elandbul wat geraam word deur die sakkende Afrika-son. Ek frons vir Manlief. Hy glimlag terug.

Die eerste dieet van die jaar is nog nie eers met skriflesing of gebed geopen nie, toe moes ek al aanhoor hoe sy mond darem maar water vir so stukkie koedoebiltong. “Selfs ‘n ou lewertjie gesmeer op roosterbrood sal nie sleg afgaan nie”, sug hy diep. Ek gee drie oogknippies. Hy glimlag terug.

Ons ontwaak net na Januarie maand ons finansieel tot hibernasie gedwing het, toe word daar op Facebook met etikette my herinner aan goeie winskopies vir springbokke in die Suide van Namibië en sommer so terloops word daar genoem dat Etihad ook nou goeie pryse bied op vliegkaartjies. Ek wonder hoekom springbokke soveel goedkoper is in die voormalige Suidwes en hoekom jagplase nie meer plek het vir gesinne, tensy jy bereid is om met ‘n nier en halwe long daarvoor te betaal nie. Ek rol my oë, maar hy glimlag net terug.

Februarie bring sy uitdagings. Ons verhuis. Ons verkleur. Ons verryk. Ons vertaal. Manlief koop nou al aanlyn jagtydskrifte en praat met heimwee van daardie 243 en 308 en 458, terwyl hy oor en oor op You Tube loer hoe jagters kolskoot skiet. Sy hart verlang bosveld toe. En dis ‘n verlange wat mens nie aan iemand kan beskryf nie, maar ek gaan probeer: Hy raak al hoe suiniger met die droëwors. Ek betrap hom waar hy oor sy vellies vryf en dit dan terugsit in die kas. Hy skink whiskey en in plaas daarvan dat hy dit sommer so saam met die rugby of om die braaivleisvuurtjie drink, gaan staan hy op die balkon en tuur uit oor die see. Sy baard word langer, dikker, weliger, maar sprake van in toom hou, is daar weinig. Ek besef egter dinge bereik nou breekpunt, want hy probeer my al weer oortuig van greinpunte en ladingsfoute, terwyl ek eintlik net 50 skaduwees van donkerder dinge wil klaar kyk. Ek kug. Hy glimlag net.

Goed, ek vang die skimp. My liewe, dierbare jagter, wat so getrou help wasgoed ophang en koffie aandra… onder jou kussing, in die koevertjie, is ons vliegkaartjies vir Julie vakansie… en jou bewys dat die buffel wag. Want as jy genoeg skimp, sal tot die jagweduwee antwoord. Ek glimlag, want hy glimlag.

Advertisements

Makliker

Dis makliker om ‘n man te wees as om jouself Eva se afstammeling te noem.

Tussen 1300 en 1900 word meer as een miljoen vrouens verbrand omdat hulle as hekse gedoop is. Die dood van ‘n man in oorlogstye, gee hom etiket van “held”, terwyl die vrou wat in die konsentrasiekamp van hongersnood sterf, as “slagoffer” onthou sal word.

In Kameroen word vrouens se borste plat gestryk om nie die manne uit te lok nie, terwyl Chinese meisies se voete gebind word sodat hulle op klein voetjies kan rondtrippel. In sekere dele van die Midde-Ooste word meisies se maagdelikheid as geskenk aan hul ooms gegee na Rooikappie vir die eerste keer kom kuier het.

In 1872 kon slegs 19% van alle vrouens lees en skryf. In 2013 het die getal gestyg tot 58%. In al hierdie tye het Adam nie een keer nodig gehad om sy onderbroek te brand of te dans vir sy reg tot opvoeding nie. In 2016 verdien die gemiddelde man 33% meer as ‘n vrou met dieselfde kwalifikasie, ervaring en posbeskrywing. Die geveg na gelykberegtiging duur voort, want die enigste plek waar vrouens koningin kraai, is met prostitusie… nie juis iets wat ons op ons CV wil sit nie.

Oorgewig vrouens kry ses keer makliker kritiek as mans en daar word baie meer druk uitgeoefen op vroulike voorkoms as manlikheid. Emansipasie is ‘n groot woord wat rondgegooi word, maar dikwels nie regtig waarde dra nie. Teorie en praktyk is dalk getroud, maar duidelik praat hulle nie altyd met mekaar nie.

Mans kan staan en piepie, hulle kan sonder hemde rondloop as dit warm is en hulle kan poep en winde opbring sonder dat hul bestaansreg betwyfel word. Wel, tegnies gesproke kan ek ook seker staan en piepie, sonder my hemp rondloop en myself windlawaai noem, maar dit sal grens aan laster en ongrondwetlike optrede.

Vrouwees is nie aldag maklik nie. Inteendeel, ek dink man-wees is baie makliker. Selfs in 2016. Makliker. Nie noodwendig beter nie.

Jagter

Kyk, daar is baie snaakse spesies op aarde. Ek dink byvoorbeeld die mense wat dag in en dag uit in die hokkies by tolhekke, in die middel van die snelweg, sit en ander mense se geld vat, beskik oor ‘n besonderse uithouvermoë, geduld en hoë vervelingsdrumpel. Sò ook die hoendervreters wat met olierige handjies my posstukke laat verlore raak agter die vervalste ystergordyn van die poskantoor. (Ek het nog altyd gedink die afkorting Pk. vir poskantoor is baie gepas en insiggewend.)

Vrouens wat elke haartjie op hul oogbank laat uittrek met behulp van waks en dit dan weer met ‘n potlood inteken, gaan my verstand te bowe. Mans wat sokkies saam met plakkies dra, en nie van Duitse afkoms is nie, se redenasievernuf is ook bo my vuurmaakplek. En moenie my eers laat wegtrek met ‘n relaas oor rugby nie…

Daar is egter een spesie wat my weekliks verbaas: jagters. ‘n Meer diverse klomp mense sal jy nie sommer onder een ander sambreel vind nie. Daar is die jagters wat nooit geld het nie, maar (of is dit eerder WANT?) hulle is elke naweek in die veld met ‘n wapen, op soek na biltong. Jagters wat in die week advokate, dokters, professors en sakemanne is, maar hulle pikkewynpakkies verruil vir kamoefleerdrag as hulle met plakkies, stewels of sommer kaalvoet die bos inkarring op soek na ‘n dierlike teiken. Manne wat geharde grappies maak, maar ‘n traan pik as hy sy liefde om die hand vra. Menere wat van die kennebak tot onder die knieg vloekwoorde kan spoeg, maar so sag raak as hy sy pasgebore seun vir die eerste keer vashou. Adams wat liries raak oor ‘n wapen se gevoel in jou kaal hande, maar ook ‘n streng vegetariese leefstyl volg. Jan Alleman wat ure die grein en lading kan bespreek, maar ook die verskil verstaan tussen ‘n lattè, espresso, java en mocha.

Daar is jagters wat nog nooit buite die landsgrense gereis het nie, maar kennis dra oor elke onkruid, insek, plantsoort, voël en bokdrol van sy omgewing. Mense wat nog nooit ander klere as khaki gedra het nie, maar wie se stories jou weke lank om die kampvuur kan hipnotiseer. Manne wat hul brood en botter van die veld verdien, menere wat hul rus in die groen weivelde vind, Adams wat sommer net saampraat oor hul passie vir ‘n mooi kolf en Jan Alleman wat foto’s neem om die onthou tasbaar te maak vir die volgende generasie.

Jagters is inderdaad ‘n vreemde spesie, want in die term “jagter” het ek ‘n ooglopende ironie raakgeloop. Om pynloos, doelgerig en vinnig ‘n lewe te neem, verg nie ‘n titel, handelsmerke, statige dialek of noemenswaardige herkoms nie, maar dit bring presies wat ‘n titel, handelsmerk, statige dialek of belangrike herkoms bied: respek.

 

Haastig

Haastige hond, verbrand sy mond. Sò waarsku Afrikaanse juffrouens regoor Suid-Afrika hul studente. Skryf stadig aan die opstel. Dink oor elke Wiskundige stap. Moenie op die stoepe hardloop nie. Moenie jou vraestelle aframmel nie.

Vroeg ryp, vroeg vrot. Sò waarsku ouers in elke provinsie hul tieners oor die drange van die onderlyf. Moenie toelaat dat groepsdruk jou in ‘n maagdelike blik druk en eindelik in die kraamsaal laat beland nie.

Haastig trou, bring gou berou. Sò waarsku dominees in menige gemeente die jongelinge teen die ewigheid van die ring. Skei is nie so maklik soos kredietkaartskuld nie en die effek kan soveel groter wees as net ‘n rooi rekening.

Maar al hoor ons, luister ons nie. Ons ore is mos blompotte en net vir versierings. Want ons word groot en ons jaag. Ons jaag agter ‘n graad, ‘n werk, ‘n familie aan. Ons leef van naweek tot naweek, vakansie tot vakansie, salaris tot salaris. Ons was haastig die wasgoed, die skottelgoed, die vloere en ons lywe.

Iets het egter in die bos in my kop gebeur. Ek het die haastige hond laat lê, sommer langs die ou koeie in die sloot. Dalene Matthee het die kringe in die bos, ringe in my hart laat trek, twee keer. Deon Meyer se Ikarus het naby my son gevlieg. Sophia Kapp se bedonnerde diva het my laat giggel. Sò eindig ek op in die veld. Daar waar die manne skiet en jag en gewere gesels. ‘n Maand gelede sou ek dalk geïrriteerd geraak het met hulle uiterste geduld. Ek sou tien teen een my humeur verloor het oor hulle dieselfde skoot honderd maal oor en oor en oor (en oor en oor enoor enoor enoorenoor) bespreek en ontleed het. Ons sit in die skuiling en kyk diere. Ure aanmekaar. Ons loop in die veld. Kilometers aaneen. Geduldig en gedwee.

Sò gaan jag Manlief ‘n eland. Hulle bly weg van sonop tot sononder. Daar is egter geen haas nie. Toe hulle laggend die plaashuis instap, word Manlief gespot oor sy traagheid in die veld. Sy vermoë om so totaal en al te ontspan, dat tyd gaan stilstaan. Die sekondewyser stop. Ek kyk met nuutgevonde wysheid na hom. Haastige spoed is mos selde goed.  Sò is dit dan… hy lê lank aan, maar hy skiet immers raak.

Man

Man. Hy soek die veld onder sy voete en die bok in die bos. Hy soek die vars plaaslug in sy longe en klitsgras aan sy broek. Hy soek ‘n knipmes in sy sak en ‘n stewige stukkie vleis op die etenstafel. Hy soek die wapens in die kluis en familie onder sy dak. Hy soek logiese antwoorde, struktuur en die televisie se kontrole. En aandag. Mans hou van aandag.

Wel, dis wat my man soek in elk geval. Maar vandag voel hy warm woestynsand onder sy voete en van bokke is daar nie eers ‘n spoor te bespeur nie. Die lug is onnodig warm en al wat aan mens vasplak hier, is sweet. In sy sak is die huissleutel, op sy bord ‘n skep groentekerrie en van wapens mag mens skaars praat, watwou nog aanhou. Met die kinders se koms het hy ook maar moed opgegee oor die televisie se kontrole en mettertyd ook maar die handoek ingegooi om nommer een op die prioriteitslys te behou.

 

Ek kyk so na die manne om my en al hoe meer word ek bewus gemaak van die reuse spronge wat hulle in die sogenaamde ‘moderne tye’ moet maak. ‘n Baard is nie meer net hare op jou ken nie, maar ‘n statussimbool. ‘n Hemp is nie meer ‘n bedekking van die bolyf nie, maar die klein handelsmerkie op die linkerbors, verduidelik waar jy koop en hoeveel jy bereid is om te betaal vir kwaliteit. Skoene spreek van waardigheid, liggaamsreuke moet verruil word vir ontwerpersgeure en jou  keuse van alkoholiese verversing gaan bepaal of jy die suksesleer gaan klim of nie. Brannas maak boetie bebliksemd, rum ruik en dis slegs rooiwyn en ‘n besonderse whiskey wat jou klas bepaal.

Daar word so maklik geredeneer en gebewe oor die emansipasie van die vrou. Hoe ons moes veg vir ons regte, bra’s moes brand ensovoorts en so aan. Maar ek wonder vandag oor wat die man in die proses moes prysgee. Opoffer. Weggee. Hy moes sy skrynwerkerstafel verruil vir ‘n mandjie vol wasgoed wat gewas, opgehang, opgevou of weggepak moet word. Hy moes sy motorfiets verkoop sodat ons karstoeltjies èn passasiers kan vervoer. Hy verlang na die bosveld as hy in die stadswoud rondry en al is sy voertuig ‘n 4×4, is die uitsig nie na wense nie.

Die man staan nou langs die vrou. Ons is ‘n span. Ons drome is aangepas, ons ideale het verander, ons doelwitte lyk anders. Want nou is hy eggenoot en ouer en pligsgetrou op sy pos om te sorg.  En op hierdie oomblik, waar hy kaalvoet in sy slaapbroek sit en oranje koeldrank drink, ‘n kind onder elke arm, terwyl hulle een of ander program oor diere kyk… op hièrdie oomblik, is hy vir my die mooiste man: onopgesmuk, gelukkig en eg.

 

Blink

Ek hou maar van ’n ou blink dingetjie. Of hy nou aan my vinger pryk of deur gaatjies in my ore gedruk word, as hy skitter, klop my hart vinniger. Ek dink ons vroumense was dalk in ons vorige lewens kraaie, want ons word geneties aangetrek na blinkers.

’n Dierbare vriending van my is so lief vir versiersels van die vleeslike, dat sy ’n hangkas moes aanskaf om haar kosbaarhede te bewaar. Een van my ma se vriendinne is weer so bang vir die misdaad in Suid-Afrika, dat alles in die kluis weggesteek word. Ek ken slegs enkele dames wat hulself nie vreeslik steur aan versierings nie.

Ek huisves beslis nie ’n juwelierswinkel op my spieëlkas nie, maar ek het so miniatuur arsenaal van emosionele stabiliteit wat my laat glimlag. Elke ring is nie opreg gebore nie, elke steentjie het nie ’n sertifikaat van oorsprong nie en elke armband kom nie in ’n ontwerperskissie nie, maar elke versiersel kom wel met ’n storie. Dit verskaf my werklik innerlike genot om die ring te dra wat Manlief gekoop het, een week nà hy my verjaardag onthou/vergeet het. Ek glimlag as ek Ouma se hangertjie met die kruisie dra. Daar is Skoonma se gesette silwer munt, Oupa se trouring en oorle’ ta’ Liesbet se kristalle.

My skatte is nie almal waardevol nie, maar elkeen vertel ’n storie. Verjaarsdae, geboortes, die doop van ’n kind, gradeplegtighede, oorwinnings, mislukkings, reise… ek versier myself eintlik daagliks met herinneringe. Ek kan dit nie wegbêre nie. Dit gaan nie oor boekwaarde nie. Ek dra elke erfstukkie, verhaal, storie en nostalgie om my nek, aan my arms, in my ore en deur my are. Ek skiet nie gate deur my oogbank, naeltjie of buuste nie, maar verwonder my aan ringe en spiese deur nekke, lippe, tonge en neuse. Soms gril ek, ander kere staar ek stomverbaas na die waagmoed en pyndrumpel van die jeug.

Ek verwonder my aan die kassier in Pick ’n Pay se ring. Ek staar na die vrou in die apteek se kolossale ketting. Ek kwyl oor die geel diamant in die vertoonvenster. Ek klou verbete aan my gelukbringer tydens stresvolle tye.

Vandag word ek verblind. Nie deur ’n diamant of robyn nie, maar deur die oë van my mense. Pieter se blesbok hang na ’n suksesvolle jag. Lehja en Petrus is vol stof besig om buite te baljaar. Ek sal al my skatte op aarde opgee, my ringe ruil, my armbande smous, my hangertjies pand… solank die oë van my mense, net kan blink.

Ammunisie

Sonder ammunisie is ‘n jagter net ‘n man. Sonder ammunisie is ‘n geweer net dekor. Sonder ammunisie is ‘n pistool net dooie gewig aan jou heup. Sonder ammunisie is soldate net seuns in lelike klere. Kortom: ammunisie maak die oorlog, die doodskoot, die beskerming, die reëls.

Feite voorkom foute. Enige jagter wat sy sout werd is, sal jou mooi kan verduidelik hoekom ‘n 70 grein patroon nie voldoende is om ‘n leeu te dood nie. ‘n Geweer is nie ‘n minibussie in Afrika nie. Jy kan nie  300 grein in ‘n .22 forseer nie. En as jy nie sleg tweede wil kom as jy armdruk teen ‘n olifant nie, moet jy liefs nie kleiner as 450 grein in jou loop aanhou as jy die outjie in die oë staar nie.

Norma, Winchester, PMP… maak die naam van die ammunisie saak? Wel, dit hang af wie jy vra. Vra jy die Mevrou in Waterkloof of Woolworths beter is as Checkers en die antwoord gaan beslis aansienlik verskil as jy dieselfde vraag vir die antie by die Daspoort-tonnel vra. Persepsie kan ‘n gevaarlike ding wees as mens oor ammunisie begin gesels.

Ballistiese beredenering klink dikwels vir my net na brabbel, maar as Shakespeare iets aan die jagter sou kon vra, vermoed ek dat hy sou uiter: “Om self te herlaai, of nie self te herlaai nie… dit is die vraag”. Dit raak ‘n tegniese spel van meet, pas, skiet, herlaai, weer weeg, meet, skiet, herlaai… En die praatjies wat manne om die braaivleisvure het oor hierdie onderwerp, het my al meermale na wyn en versugting gedryf.

As my man na ons dogtertjie verwys as ‘n ‘regte ou patroontjie’, wonder ek dikwels of sy werklik oulik vir hom is en of hy sommer net lus raak om iets te skiet. My redenasies oor jag bereik dikwels ‘n dooie punt (woordspel opsetlik), want Manlief se praatjies het dikwels nie groot lading nie. Daar steek ook geen greintjie in die waarheid dat jag ‘n maklike of goedkoop sport is nie. Dit vat deursettingsvermoë en spaarsamigheid. Maar sonder die jagter is ons wêreld nes ‘n geweer sonder ammunisie: sinneloos. Die jagter bewaar die wild. Die jagter beskerm die natuur. Die jagter voorsien.

Jagters is Suid-Afrika se ammunisie teen ‘n dooie ekonomie. Jagters is ons geheime wapen teen ‘n sterwende toerisme-bedryf. Met geweer in die hand, voetval in die sand, oog op die rand… is jagters ons behoud in Suiderland.