Ammunisie

Sonder ammunisie is ‘n jagter net ‘n man. Sonder ammunisie is ‘n geweer net dekor. Sonder ammunisie is ‘n pistool net dooie gewig aan jou heup. Sonder ammunisie is soldate net seuns in lelike klere. Kortom: ammunisie maak die oorlog, die doodskoot, die beskerming, die reëls.

Feite voorkom foute. Enige jagter wat sy sout werd is, sal jou mooi kan verduidelik hoekom ‘n 70 grein patroon nie voldoende is om ‘n leeu te dood nie. ‘n Geweer is nie ‘n minibussie in Afrika nie. Jy kan nie  300 grein in ‘n .22 forseer nie. En as jy nie sleg tweede wil kom as jy armdruk teen ‘n olifant nie, moet jy liefs nie kleiner as 450 grein in jou loop aanhou as jy die outjie in die oë staar nie.

Norma, Winchester, PMP… maak die naam van die ammunisie saak? Wel, dit hang af wie jy vra. Vra jy die Mevrou in Waterkloof of Woolworths beter is as Checkers en die antwoord gaan beslis aansienlik verskil as jy dieselfde vraag vir die antie by die Daspoort-tonnel vra. Persepsie kan ‘n gevaarlike ding wees as mens oor ammunisie begin gesels.

Ballistiese beredenering klink dikwels vir my net na brabbel, maar as Shakespeare iets aan die jagter sou kon vra, vermoed ek dat hy sou uiter: “Om self te herlaai, of nie self te herlaai nie… dit is die vraag”. Dit raak ‘n tegniese spel van meet, pas, skiet, herlaai, weer weeg, meet, skiet, herlaai… En die praatjies wat manne om die braaivleisvure het oor hierdie onderwerp, het my al meermale na wyn en versugting gedryf.

As my man na ons dogtertjie verwys as ‘n ‘regte ou patroontjie’, wonder ek dikwels of sy werklik oulik vir hom is en of hy sommer net lus raak om iets te skiet. My redenasies oor jag bereik dikwels ‘n dooie punt (woordspel opsetlik), want Manlief se praatjies het dikwels nie groot lading nie. Daar steek ook geen greintjie in die waarheid dat jag ‘n maklike of goedkoop sport is nie. Dit vat deursettingsvermoë en spaarsamigheid. Maar sonder die jagter is ons wêreld nes ‘n geweer sonder ammunisie: sinneloos. Die jagter bewaar die wild. Die jagter beskerm die natuur. Die jagter voorsien.

Jagters is Suid-Afrika se ammunisie teen ‘n dooie ekonomie. Jagters is ons geheime wapen teen ‘n sterwende toerisme-bedryf. Met geweer in die hand, voetval in die sand, oog op die rand… is jagters ons behoud in Suiderland.

Advertisements

Spinnekop

Ek is nie ‘n groot aanhanger van agtpotiges nie. Spinnekoppe laat my gril, gil en meer vloek as wat Christelik nodig is. Ek dink spinnekoppe is slegs mooi as jy hulle binnegoed kan sien… of as hulle besig is om in ‘n plas gif te verdrink.  Daar is absoluut niks romanties aan agt oë, harige lywe of skarrelende skaduwees nie.

Ek verstaan dat daar mense is wat met hulle teel en hulle selfs in hul kamers laat slaap. Mense! Tarantulas is NIE troeteldiere nie. Jy kan nie met hulle op die gras speel nie. Hulle hou jou nie in die winter warm nie. Jy kan nie langs hulle opkrul as jou hart gebreek is nie. Jy kan hulle nie vat vir ‘n stappie nie. En ek wil nou nie die verkeerde knoppie / knopie platdruk nie, maar spinnekoppe is nie gemaak om in glashokkies aangehou en gevoer te word nie. Ek verstaan dit dus nie. Dis net my opinie, natuurlik… en as jy jou bobbejaanspinnekop sit en streel, terwyl jy hier lees, is ek bly vir jou, maar ek dink nie ons sal kan vriende wees nie.

Ek is baie dankbaar dat ek in die laaste agt maande nog nie een spinnekop in ons huis gevind of gewaar het nie. Ek vermoed dis omdat spinnekoppe nie hou van trappe klim nie. In Suid-Afrika het ek al afskuwelike, afgryslike Arachnidas gedood, getrap, vermorsel en gespuit.

Ek is nie harteloos nie. Ek het een keer probeer om ‘n spinnekop in ‘n asblik vas te keer en toe buite vry te laat. Maar toe daai gogga so skarrel-skarrel oor die sypaadjie, het ek gewonder of hy my kamer sal onthou… toe trap ek hom in elk geval plat, net vir ingeval hy wraak sou wou pleeg.

 

My pa was die eerste held wat my van ‘n spinnekop gered het. Intussen het my skoonpa ook al gif aangedra, my man het ook al sy plakkie uitgetrek en selfs my boetie het al die besem betrek. Hulle is die manne wat ons gille wil beperk, ons grille kan hanteer en ons geite aanvaar. Hulle is die manne wat ons beskerm teen goggas en gedrogte, maar ook geskenke aandra en komplimente gee. Pappas wat die wêreld ‘n beter plek maak vir hul kinders: een spinnekop op ‘n slag.

MANipulasie

Dis nou week drie wat ek my man aanmoedig om room aan sy gesig te smeer. Nie gewone Nivea (for men) lyfroom nie, maar spesiale room (vir mans) om te help met ingroeihaartjies. Die fynskrif sê ook dit help met plooie en die UV verlig die sonskade. Dis inligting wat ek liefs weerhou, want ‘n ware man “gebruik mos nie roompies en salfies nie.”

Vir jare lank al het mans dit besonder maklik as ons badkamerroetines tussen Adam en Eva moet vergelyk. Ek het tientalle botteltjies, bakkies en buisies om my van kroontjie tot toontjie te versorg. In die stort staan die bewyse ook duidelik: 11 bottels, waarvan Manlief net een gebruik. Hy was agter sy ore, sy hare, tussen sy tone en voor op sy pens met dieselfde spons en dieselfde seep. En ja, ek is jaloers… want as ek sou waag om dieselfde houding in te neem en net een botteltjie seep te gebruik vir alles, sal ek beslis lyk soos ‘n kruising tussen die Yeti, ‘n akkedis en Robert Mugabe. Droë hare wat die meisie van The Ring na ‘n Pantene advertensie laat lyk. Meer puisies sal op my ken verskyn as wat my selfbeeld sal kan hanteer. Dan praat ek nie eers van die haartjies wat onder my oksels sal ingroei, my hakke wat soos gedroogde biltong gaan lyk en my beenhare wat spoedig gevleg sal kan word nie. Nee kyk, ek spandeer dalk twaalf minute in die stort, maar ek doen dit nie net vir myself nie… o nee, ek doen dit ook vir die direkte samelewing.

 

Mans het dit beslis makliker. ‘n Bierpensie wat dreig, ontlok nie naastenby soveel sosiale kommentaar soos ‘n vrou se bo-arms wat soos vetkoekdeeg begin dril nie. Mans hoef nie bekommerd te wees oor grillerige toiletsitplekke in publieke badkamers nie. Hulle hoef nie ure voor ‘n vol kas te staan en te wonder wat hul vleeslikheid gaan bedek, net om eindelik uit te roep: “Ek het niks om aan te trek!”  nie. Mans kan maklik wees. Hulle kan die haan onder die henne wees, die hings tussen die merries, die reun tussen die tewe… en dan ook die prins op die wit perd.

Maar ek is bly ek is ‘n vrou. Want sien, ek kan soveel roompies en botteltjies aankoop soos ek wil. Ek kan huil as ek wil, wanneer ek wil en waaroor ek wil. Ek kan broeke en rompies dra. Ek kan ‘n kas vol klere, rakke vol skoene, laaie vol handsakke hê, sonder om ‘n wenkbrou te lig. Ek kan lang ure in die bad lê, is ewe tuis voor die rekenaar, stoof en televisie en die beste van alles? Ek is nie in kompetisie met enige man nie. Ek oorreed my man om room aan sy gesig te smeer, sodat hy vir die volgende sestig jaar ook vir my mooi kan lyk. Ek oortuig hom dat sjampoe beter is vir hare as seep. Hy is nie my baas of my slaaf nie. Hy loop soms in my skaduwee en ander kere maak hy die pad gelyk vir my. Sy geslag maak hom nie superieus nie. Maar solank hy glo dat ek nie kan asemhaal sonder hom nie, solank sal hy die beskermheer van ons gesin wees. ‘n Man moet drake kan oorwin, krete kan skree, gesag kan afdwing en respek kan handhaaf. ‘n Man moet voorsien. Al wat ‘n vrou hoef te doen is om die kuns te verstaan: MANipulasie.

Kaliberkwale

Die saak staan dan nou sò: ons huis is besig om reg te maak vir die somervakansie. Die skole sluit einde Junie en dan vat ons die pad bokveld toe. Nie spreekwoordelik nie, maar letterlik. Dis tyd vir my man om sy bokkoors te breek en te gaan jag. Te skiet. Al wat ek wil skiet is ‘n kat. Spreekwoordelik bedoel hierdie keer. Want sien, soos die weke aanstap, word die opgewondenheid groter en moet ek nou op ‘n daaglikse basis deur gesprekke sit waar visiere en lope en greinladings tot vervelens toe bespreek word.

Ek kla nie oor my man met my praat nie, dis maar net dat ek myself soms eerder papiersnytjies tussen my tone wil gee as om na nòg ‘n relaas te luister oor die 300 WinMag wat skop soos ‘n muil. Met sy groot dop, hoë spoed en brutale krag, maar gebrek aan die finesse, wonder ek of die WinMag dalk in sy vorige lewe ‘n kwotaspeler vir die Blou Bulle was… en die feit dat ek rugby en gewere kan praat, oortuig my sommer weer dat die tyd reg is vir ‘n mannekuier. Een waar die manne regte, egte borshare het, hul baarde nie gepluk en gebleik word nie en waar hulle bier kan drink sonder om (soos ek) gesigte van afsku te trek.

Daar word weer aan my verduidelik dat .303 eintlik net erfstukke is. Tydens die Anglo Boere oorlog is duisende van hierdie wapens by die Britte afgevat en het die wapen ‘n tipe sterstatus van mag en erkenning gekry. Klein laaities op plattelandse plekke sal verstaan dat die .303 nie ‘n kopskoot oor 300m gaan regkry nie, maar dat hierdie geweer eerder is soos ‘n goeie boerenooi: jy moet hom styf vashou, nie te ver van die punt laat afdwaal nie en jy moet beslis versigtig wees vir die onverwagse wispelturigheid. Pas jou geweer op soos jou vrou en jy sal nie die loop ooit op jouself hoef te rig nie.

Nou kyk, ek gaan soek ook sommer oplossings onder in die whiskeyglas as die 30-06 onder die vergrootglas geplaas word. Sy dop is mos groter as die .308 s’n en daarom redeneer sommiges dat die … wag. Hokaai. Stop die lorrie. Ek dink daar is dalk nog alkohol in my sisteem of iets, want hoekom sal ek anders op ‘n Maandagoggend sit en dink aan wapens.

Ek gaan nou dadelik Google opwarm en soek na gedigte oor grimering, praatjies oor prinse en dalk selfs ‘n ou foto’tjie van Channing beloer… Ek maak seker ek het nie ‘n baard of borshare nie. Ek ruik darem nog soos Chanel se nommer 5. Ironies genoeg is daar niks wat my so sag en vroulik laat voel as my jagter langs my in die bed klim nie. Hy droom van wapens, gesels gedurig oor sy kaliberkwale en om vir ons biltong te gaan soek is sy manier om te bewys hy is beter as Maslow in behoeftevoorsiening. Ek is dankbaar die vakansie kom nader. Ek is dankbaar hy beskou my as waardig genoeg om oor sy minnares te praat. So ek sal vanaand weer my kop knik en maak asof ek luister. Ek en hy. Man en vrou. Jy en jou jagter. Wat ‘n dodelike kombinasie.

 

Jagter se gebooie

Dit het toe sò gebeur dat die jagter se tien gebooie op ‘n gelooide leervel geëts is:

 

Een: Daar is net een reël in die veld: een patroon, een dier. Jagters mors nie patrone nie, speel nie rond nie en besef dat die beste manier om in jou biltongbehoeftes te voorsien, is om self die skoot te trek. Geen droëwors is lekkerder as die waarvoor jy self gesorg het nie.

Twee: Jy mag voor geen afgod buig nie. Drank en gewere meng nie. As die karkas hang en die gewere is in die kluis, dàn mag verversings geniet word.

Drie: Jy mag nie die naam van jag ydellik gebruik nie. As jy niks weet van jag nie, as jy nog nooit self ‘n skoot afgetrek het nie, as jy nog nooit deel was van die wonderwêreld nie… moenie kritiseer nie. Jag is nie net ‘n sport nie. Dit is nie net vir plesier en die trofeë nie. Jag is vir bewaring, syferbeheer, respek en voedsel.

Vier: Rus op die sewende dag. Jagters is nie skietmal Rambo’s wat alles dood wat beweeg nie. Daar is ‘n seisoen vir jag en ‘n seisoen van versamel. Jagters waardeer ook die rustigheid van die bosveld, kan vir ure sit ek kyk hoe koedoes sout lek en varke in die modder rol. Dit gaan oor soveel meer as net die skoot.

Vyf: Eer die Vader en die Moeder. ‘n Ou bul word verlos uit eensaamheid omdat hy uit die trop geskop is, terwyl die jong koei met haar kalf oorgesien word. Geen dier word “sommer net” platgetrek nie. Oordeel en keuse en logika word voor elke teiken ingespan.

Ses: Moenie moor nie. Stropers is nie jagters nie. Stropers moor vir ‘n sinnelose bestaan en om in Chinese se impotente leuens te voorsien. Jagters benut die natuur om kos te voorsien, te spog met die majestieuse diereryk en ook te help met die bewaring van sekere spesies.

Sewe: Moenie egbreek pleeg nie. Moenie ‘n leeu met ‘n knipmes probeer jag nie. Ook nie ‘n olifant met ‘n .22 nie. Laat jou wapenkeuse geskik wees vir jou doelwit, sodat die troue sonder enige egskeiding of struweling sal kan geskied.

Agt: Moenie steel nie. Nie by die buurplaas nie. Nie by jou mede-jagter nie. Jagters steel nie diere, gewere, patrone of selfs ‘n bier nie. Jagters vra. Jagters deel. Want jagters respekteer die grense.

Nege: Moenie vals getuienis lewer nie. Anders as sommige hengelaars, bly die bok se horings gewoonlik dieselfde grootte. Die afstand mag dalk met ‘n persepsiële meter of twee verander, maar jagters vertel met trane in hul oë hoe hulle een keer ‘n koedoebul gekwes het. Waarheid is waardevol. Die draai van elke horing word ‘n wetenskap, dikwels ‘n weddenskap, maar altyd ‘n kwessie van kameraderie.

Tien: Moenie begeer nie. Nie jou mede-jagter se vrou, geweer of perfekte skoot nie. Jy jag vir jouself. Jou eie vlekkelose rekord. Nie vir die ander se bewondering nie. Al wat bly is die deurlopende waardering vir die kuns van die knal.

 

 

Waar die skoot klap

Om van ’n bakkie af te skiet, maak jou nie ’n moegoe nie. Om uit ’n skuiling uit te skiet, maak jou nie ’n lafaard nie. Om met plastiekplakkies in die veld te loop en soek vir jou aandete, maak jou nie kommin nie. Om die duurste jas van Sniper te dra as jy uit die vyfster lodge stap, maak nie van jou ’n swak stadsjagter nie.

Ek dink ’n Hilux in die stad, met daai blou ‘goete’ wat agteraan hang, maak van jou ’n baie groter moegoe as die jagter wat die eland van die Cruiser af skiet. Die Isuzu wat tussen spoedhobbels jaag en die kinders van die laerskool vir hul lewe laat vrees, is ’n baie groter moegoe as die jagter wat die dak van ’n Ranger gebruik om die koedoe ’n kopskoot te gee. Wiele is net dit: wiele. Dit dien ’n doel. Bakkies bestuur nie hulself nie en gewere skiet nie diere nie.

Ek dink om agter jou vrou te skuil, maak van jou ’n groter lafaard as om ’n gemsbok uit ’n skuiling te skiet. Die man wat agter die bottel Klipdrift skuil in plaas daarvan om te gaan werk, is ’n groter lafaard as die ou wat vir ure in die skuiling sit en foto’s neem voor hy eindelik die vlakvark dreun. ’n Skuiling is net dit: ’n plek waar jy vrede vind. ’n Klomp bakstene is nie noodwendig ’n huis nie en die bosveld gee jou nie net biltong nie.

Ek dink mans wat in die kar rook, met hul kinders wat op die agtersitplek sit, is baie meer kommin as die jagter wat met ‘flip flops’ gaan skiet vir die pot. Die aandpak van ’n bekende ontwerper laat jou dalk soos ’n heer lyk, maar as jy jou vrou slaan in daardie selfde aandpak, is jy baie meer kommin as die jagter wat sonder duur uitrustings sy eerlike bestaan op die plaas maak. Klere is net dit: iets om jou lyf te bedek en die rooibok gee nie om of jy Reeboks dra nie.

Ek dink jagters wat drank en ’n 30-06 meng, is swak. Ek dink jagters wat skiet sonder oefening, sonder voorbereiding en sonder denke, is swak. Maak nie saak hoeveel geld jy vir die jagtog betaal nie, maak nie saak in watter voertuig jy daar opdaag of watter klere jy aanhet nie… as jou hart op die regte plek sit, is jy ’n jagter, ongeag hoeveel keer per jaar jy die skoot trek.

Ek is dalk nie self ’n skootklapper nie, maar ek het wel al my ure in die bos ingesit. Ek het al in die bakkie gery, ure in die skuiling sit en wild kyk, kilometers ver deur die bosse gestap en ook lekker laat geslaap in een van daai vyfsterlodges. Die een ding wat ek onomwonde weet: dit gaan nie oor die die plek vanwaar die sneller getrek word nie. Dit gaan oor die een patroon, een doodskoot, een kans wat die jagter het. Dit gaan oor die respek vir lewe, die benutting van elke stukkie vleis en die hart van die skut wat aanhou klop as die koedoe bokveld toe is.

As jy jou vinger op ’n sneller sit en jy besef die verantwoordelikheid wat op jou skouers rus, dan maak die bakkie, skuiling, plakkies en jas nie saak nie. Want dan… dan is jy waarlik ’n man.

Boer soek Winkel

So opgewonde soos mens kan wees oppad na die tandarts toe vir ‘n wortelkanaalbehandeling, so opgewonde sit ek in die kar oppad skietbaan toe. My Moedersdaggeskenk van my man. Een waaroor ek nie besonder joviaal voel nie. Die verskil is dat ‘n tandarts mens immers sal doodspuit voor hy die boor in jou mond druk… ek kan nie eers koffie drink voor ek die wapen moet hanteer nie. Die kinders bou Lego-kastele en kleur meerminne in, onder toesig van ‘n tannie wat twaalf katte het en oor naweke na ander mense se kinders kyk.

Ek moet erken, die skietbaan is mooi. Ons woon in die woestyn en omdat daar net ‘n sif tussen ons en die hel is, word alles hier onder dak, lugverkoeling en streng toesig gedoen. Die skietbaan lyk soos ‘n enorme skoolsaal, waarvan die mure van glas gemaak is. Ek gaan sit in die gallery. Nee, dit is nie ‘n eufemisme nie. Ek praat hier van fliekstoele, matte en klankdempers vir alle waarnemers. Vyfster. Dit dra my goedkeuring weg.

Ons skiet met CZ 9mm pistole en naamlose swart .22’s. Aangesien dit onwettig is om ons eie wapens aan te hou, word alles deur die skietklub voorsien. Ek beïndruk myself deur ten minste niks mis te skiet nie. Teen rondte twee is dit asof die spiergeheue in my hande terugkeer en my groepering lyk allesbehalwe vrot. Ek herinner met ‘n vroom glimlag my man dat as hy ontrou aan my wil wees, hy in sirkels sal moet weghardloop, want skiet gaan ek immers raak skiet. En toe is ek klaar. Hy nie.

 

Dis toe dat ek die Winkel invaar. Ek is nou nie die tipiese vrou wat gek is oor inkopies nie, maar as ek moet kies tussen sit en kyk hoe my man skote afvuur OF deur ‘n winkel loop, maak die laaste opsie my minder bewerig. Ek kyk na knipmessies, geborduurde hoedjies, kyk amper die camo broeke mis en loer na die handskoene, stewels en … en dis dit. Die hele skietwinkel is eintlik maar ‘n flou verskoning van ‘n winkel. Hier is nie een boek oor enige geweer of pistool nie. Hier is nie teikens te koop nie. Geen teleskoop, skoonmaakstel, bosbokkop of verkyker nie. Ek hou nie eers aldag van skiet nie, maar genade, die Arabiere kan beslis ‘n ding of twee oor man-wees by die Boere kom leer. Ek verstaan skielik hoekom my man terugverlang na winkels waar ‘n opgestopte elandbul vir jou loer. ‘n Jag-, skiet- of sommer net man-winkel moet ten minste manlik wees, of hoe? Hier word gourmet-broodjies verkoop saam met espresso wat in klein goue bekertjies bedien word. Jy kan ‘n salmslaai bestel by die klein koffiekroegie en dit met mineraalwater afsluk. Ek kry sommer ‘n knop in my keel… en nee, ek is nie allergies vir vis nie. Ek voel sommer hartseer oor ek vir die eerste keer verstaan hoekom my man die bosvelde en winkels in Suid-Afrika mis.

In Suid-Afrika kan ‘n man enigiets van visvanggereedskap tot ‘n pistool by hierdie ‘uitrusters’ koop. Boeke, messe, politoer, ag enige ding wat Adam of Neandertal skree kan jy daar aanskaf. In een spesifieke winkel in Pretoria, is daar tot sulke oulike gekamoefleerde deurtrekkers vir vroutjies beskikbaar, want al trek Eva dit aan, is dit ook maar eintlik die man se plesier om dit uit te trek. Klere, skoene, kouse, sakke, brille, pille… ‘n skut se droom. Maar in die woestyn is dit nie net die vlaktes wat dor is nie. Duidelik is hier ook testosteroon-armoede.

 

Ek gaan sit in die gallery en skielik is die sagte sitplekke nie meer so aanloklik nie. Ek mis die skietbaan waar ek hooikoors kry van stof. Ek mis die koffie wat sommer uit ‘n fles gegooi word. Ek mis die son wat in my nek brand, terwyl Manlief nog ‘n pakkie patrone leegmaak. Ek verlang na die samehorigheid van ‘n klomp Boere wat vir mekaar lag, maar ook raad gee en almal ewe passievol is oor wapens. Ek kyk na hoe hy, anderkant die glas, fokus op sy asemhaling en ek sien sy skewe glimlag as hy ses skote by mekaar plaas.

Oppad huis toe, vra ek meer vrae as gewoonlik. Hy vertel opgewonde van die nuwe greinladingeksperimente wat nou gedoen word. Ek luister dalk met ‘n halwe oor, ek knik my kop sonder om alles te verstaan en ek weet dat ek hom vanaand sal moet bedank vir die heerlike dag op die skietbaan. Hierdie vrou is dankbaar vir haar Boer, al het hy nie hier ‘n winkel nie.