Voete

26 beentjies word aanmekaar gehou deur honderde tendons, ligamente, spierweefsel en selfs kraakbeen. Waar ek nou hier sit, kreun al 26 beentjies van ooreising. My voete is seer. Elke knop en hobbel en skewe toonnael skree vir my brein: “Jou voet in ‘n visblik! Ons is moeg!” Vandag het ek nie net spreekwoordelik voet in die hoek gesit nie, maar het ek alles op ‘n drafstap gedoen. My skoene was plat en gemaklik, maar die hoeveelheid treë wat ek afgelê het, was eenvoudig nie binne die grense van my gewone vermoëns nie.

Ek het skaars oor die drumpel van my klaskamer getrap, of ek besef my rekenaarkabel het voete gekry en sò het die hardloop begin. Soekend na ‘n kabel het ek afrolwerk ingehandig, boeke ingeneem, werkkaarte uitgedeel, getrippel van lekkerkry oor ‘n kind negatiewe getalle snap en myself uit die voete gemaak toe die hoof iemand soek om uit te help met toesig in die saal.

Ek is dalk op goeie voet met my kind se perdry-afrigter, maar dit beteken nie dat ek kon sit nie. Ek moes ‘n voet in die kombuisdeur kry, voet aan wal sit in die kinders se badkamer, witvoetjie soek by my man en dus voel dit nou asof ek met een voet in die graf staan… of dalk staan ek net met gelyke voet op dun ys.

Liddorings het ek nog nie gekry nie. Ek is te onfiks vir atleetsvoet. My hakke lyk nie soos droë biltong nie. Daar is nie ‘n fungus onder my toonnaels of skimmel onder my kleintoontjie nie. Eelte het ek wel op my plat, breë mielietrappers en alhoewel ek al ‘n enkel gebreek en my voet geswik het, is ek dankbaar vir die twee bootjies wat my van punt A na punt B vervoer. Ek trap gewoonlik in my spoor, maar vandag het ek die pad byster geraak en sommer ‘n marathon in ‘n spoedresies verander.

Al wil manlief eerder die jagtydskrif lees as die kinders bed toe vat… al sien hy nie noodwendig uit om die hemde op te hang nie… Ek hou voet by stuk: as ek more my beste voetjie wil voor sit, moet ek vanaand niks anders doen, as rus nie.

Advertisements

Spyskaart

Kyk, Franse croissants is nie sleg nie. Stroopwafels uit België val mooi op die tong. Hummus uit die Midde-Ooste is romerig op brood. Duitse bier maak jou versadig. Indiese kerrie is goed vir die sisteem. Japanese sushi, met moeite berei, is ’n lekkerte vir die oog en die smaakkliere. Maar daar is niks op aarde wat so lekker in die kies kom kielie, soos boerekos nie. En boerekos is ’n omvattende term.

In Windhoek proe on aan springbok, sebra, gemsbok, krokkodil, koedoe en eland. In Rundu peusel ons aan vlakvark, lam, eend, hoenders en nog skaap. In Grootfontein laat loop die boere met braaibroodjies, kerrie, wors en wilde sampioene. En so eet ons onsself dik deur Namibië. Ons magies word vol, ons harte warm en ons bekers loop spreekwoordelik oor.

Terug in die Republiek, vind bobotie en geelrys (met rosyne in) sy weg tot op ons tafel. Ek peusel aan ‘n bunny chow aan die Natalse Suidkus en skrik nie vir Suid-Afrikaans samoesas nie. Maar dit was gisteraand se ete wat in eenvoud my laat onthou hoe die Afrikanerbloed maar in ons are vloei. Hoender, boerewors, sosaties, skaaptjoppies en ‘n sappige stukkie fillet… gaargemaak oor die kole, met die samesyn van vriende, wyn en baie lag.

 

Ek weet daar is ‘n hele trop mense wat reken voedsel is net ons liggame se brandstof. Ons moet gesond en nie in oorvloed eet nie. Maar ek is nie deel van daardie skare nie. Ek eet nie net om my magie vol te maak nie. Elke happie is soos ‘n reis. Slakke en knoffel skud nostalgies aan my geheue. Aartappel in sy baadjie, versmoor met sampioene en kaas laat my dink aan ons Duitsland-eisbein-ondervinding. Eiervrug, artisjokke, aspersies, sardiens… elke vreemde vurkvol vertel ‘n verhaal. Staaltjies is opgesluit in my smaakkliere. My heupe verduidelik dat ek nie skrik vir lekker eet nie. My broekgrootte waarsku dat ek soms moet briek aandraai by die etenstafel. Maar ai, my passie vir proe ken nie perke nie.

 

My mond water as ek ontbyt voorberei, reeds aan middagete dink en die vleis vir aandete uithaal. Ons Afrikaners is nie bang vir kos nie. Ons spyskaart is ‘n versameling van resepte  uit vreemde kontinente, bloedlyne wat jou laat hoendervleis kry en geheime wat soos goud bewaar word. Ons lyk so lekker, ons kuier so lekker, ons is so lekker, want ons eet so lekker. En dankie tog daarvoor.

Versap

Aandag! Die tyd het aangebreek om die strootjies neer te lê en weer te begin om jul kos te kou… soos in die goeie ou dae.

Die era van die Versapper is nou Verby. Nooit hoef ons weer stukke vrugte en groente in ‘n elektriese menger te druk net omdat die tydskrifte en kundiges voorspel dat dit ons lewenskwaliteit gaan verhoog nie. Die modegier van die gemaalde maaltyd het die lepel in die dak gesteek!

Studies bewys nou dat die genot wat mens put om kos te kou, skei soveel goedvoel-hormone in jou brein af, dat die versapper sy hand (lemme?) oorspeel het. Kos is nie net ‘n oorlewingsmeganisme nie. Nie in Afrika nie. Ook nie in die Midde-Ooste of Amerika nie. Dalk word die voeding-vir-oorlewing-konsep net slaafs nagevolg deur ekstreme gesondheidsfundi’s en die wat aan werklike hongersnood lei.

Vir jare lank moes ek stories verduur oor diëte waar jy alles deur die versapper druk… ontbyt, middag- en aandete is alles gedrink in plaas van gekook of geniet. “Dis gesond om te detoksifiseer deur net vloeistowwe in te neem vir 14 dae”. Al wat ek hoor is die ongesonde woord “detoksifiseer”. Sies. En die gedagte om niks te kou vir veertien dae nie, laat die speeksel spontaan in my mond versamel en my maagsappe skei in liters af. Die sapperige sopstories was nog nooit regtig vir my nie. Ek kou eerder my spinasie as om dit te drink. Ek drink wyn. Nie aartappels of murgpampoen nie. Ek drink gin en tonic, nie wortels, appels, tamaties of seldery nie. En is dit net ek wat dink dat seldery soos satan se snot proe? Jig. Die enigste tyd wat kos deur ‘n strooitjie aanvaarbaar behoort te wees is as jy of so stukkend gedonner is in ‘n kroeg dat jy nie ‘n keuse het nie, of as jy een of ander operasie ondergaan het en sap die verskil tussen lewe en dood gaan beteken. En babas natuurlik. Babas mag maar papgedrukte, fyngemaalde kos eet.  Vir die gesonde mense moet kos in vaste vorm aangebied word. Klaar.

Die ligte het aangegaan en die krag wat na die versapper lei is afgeskakel, want uiteindelik het medici bevind dat om net vloeistowwe in te neem, nie goed is vir liggaam, gees of verstand nie. Is sapperige kos nie die toppunt van lui nie? Beweeg ten minste jou kake! Die wat sluk sonder kou, foeter nie net hul metabolisme op nie, maar loop ook groter gevaar vir tandbederf, ontsteking van die slukderm en kan moontlik met ‘n spastiese kolon spog na ‘n paar weke sonder vaste kossies. Kos wat versap is, maak mense nie naastenby so gelukkig en tevrede soos die wat kou en suig en eintlik ook ten volle proe nie. Slim proffies in Amerika het gevind dat depressie met tot 28% toeneem onder mense wat nie gereeld kos kou nie, maar net sluk. En glo dit of nie, maar sap maak jou dom. Mense kon nie naastenby so goed of lank konsentreer as hulle net sap inneem nie. Ons is nie motors nie, maar mense! Ons brandstof kan nie net in die vorm van papgedrukte piesangs kom nie. Ons het verskeidenheid nodig. Daar is niks so bevredigend soos ‘n kraakvars komkommer (of pak tjips), ferm tamatie (of koek) en romerige feta (of karamelpoeding) in jou slaai (of jou kosblik) nie.

Lê die strootjies tot rus. Laat jou tande doen waarvoor hul geskape is. Kou jou kos. Geniet jou kos. Proe jou kos. Die lewe is waaragtig te kort om alles wat goed en mooi is ook pap te druk. Die enigste kos wat ek moontlik nog in vloeibare vorm sal inneem is gesmelte sjokolade… gedrup oor aarbeie, kaaskoek, roomys en nog blokke sjokolade. Natuurlik.

 

 

Mode

Ek trippel nie in Manolo Blahnik’s rond nie. Inteendeel, as dit nie vir die reeks van Sex and the City was nie, het ek dalk nie eers geweet dat hierdie naam met hakskoene verband hou nie. Ek Mastercard nie elke naweek nie. Jip, daar is mense daarbuite wat van Mastercard ‘n werkwoord maak, bv. “Ek moes eenvoudig die handsak hê, toe Mastercard ek hom sommer!” Ek trek klere aan, want ek wil nie toegesluit word vir onsedelikheid op straat nie. Dis wonderlik dat daar mense is wat Louis Vuitonn se somerversameling beter ken as die volgorde van ewegetalle. Ek dink dis noemenswaardig as iemand tussen ‘n egte en vervalste handsak of horlosie kan onderskei, sonder om na die prysetiket te kyk. Ek sien egter ook die tragiese stereotipering van die modeslawe raak: algemene kennis is beperk tot Chanel se geskiedenis en kinders kan onderskei tussen ses skakerings van swart, maar weet nie waarvoor BTW staan nie. Die mode is egter ‘n baie gevaarlike industrie.

 

Korsette was dalk bedoel om elke vrou ‘n uurglas-lyfie te gee, maar duisende vrouens het gesterf as gevolg van hierdie mode-kontrêpsie. Korsette is gedra om vrouens die perfekte uurglasfiguur te gee, maar in die proses is hul organe papgedruk. ‘n Nier is teen die lewer vergruis, terwyl die baarmoeder en die maagwande moes spartel vir spasie. In 2016 is die korset dalk nie meer tradisioneel in gebruik nie, maar bruide en Burlesque dansers skram steeds nie weg van die gevaar nie. Wie nie waag nie…

 

Dan is daar natuurlik ook die groepie dames wat kwartaalliks hul balanstoets moet slaag voor hul hul hakskoenlisensie kan kry. Met hakke so dun soos ‘n Barbie se nek trippel hulle in maatskappye se gange rond. Natuurlik is ek jaloers op hierdie vernuf, maar ek het geen begeerte om ‘n myl in hierdie mensies se skoene te stap nie. Dis wat binne die skoen skuil wat dokters se bankrekeninge laat rys: ingroei-toonnaels, knoppe, bulte, skewe tone, liddorings en natuurlik bunions. Moet ook nie vergeet dat as jy sou val, jy nie net ‘n enkel swik of ‘n toontjie kraak nie, maar die kans is goed dat jy ook jou nek kan breek. Vrotpootjie is nie net ‘n naam wat by ‘n verkeerskonstabel pas nie en daar is heelwat navorsing wat dui dat kinders kaalvoet MOET loop, sodat hul voete reg kan ontwikkel. Ek weet egter een ding: as die skoen gemaklik pas en nie te hoog is nie,  koop een in elke kleur, ongeag die mode-voorskrifte.

 

Van toontjie na kroontjie… talle modegiere kan jou met jou lewe laat betaal. Neem nou maar haarsproei as voorbeeld. Die newe-effekte van haarsproei is onder andere blindheid, longemfiseem en ook sinusprobleme. Na slegs twee jaar van gereelde haarsproeigebruik, begin die smaakkliere op jou tong ook doodgaan. Dis nou ‘n duur prys om te betaal vir ‘n stywe kapsel en alhoewel die algemene verkope van haarsproei in die laaste vyf jaar met ongeveer 12% gedaal het, reken kenners dat die gevaar vir ons (en die osoon) nog lank nie verby is nie.

 

Die mode hou egter nie net fisiese gevare vir die mensdom in nie. En ek kies die woord mensDOM met oorleg, want as dit by mode kom, is min mense werklik slim. Hulle sal derduisende rande vir ‘n stel onderklere betaal, wat min mense in elk geval sien. En as te veel mense dit sien, is die tekens van een of ander sielkundige probleem in elk geval duidelik. Tieners lei aan depressie, sny hul polse stukkend en begin mekaar boelie op sosiale media, net omdat hulle nie die denim met die regte etiket op kan bekostig nie. Liewer dood as uit die mode is dalk meer as net ‘n uitdrukking. Ek ken ‘n vrou wat duur etikette van klere in die winkels af steel, net sodat sy dit aan haar eie klere tuis kan vaswerk. Modegekkigheid.

 

Ek dink nie elke modegeit en -gier is in swak smaak nie. Ek dink maar net modepoppe is dikwels net dit: poppe. Marionette wat saamspeel in die groter spel sonder smaak en opinie. Dalk lê die kuns van die mode in die balans om jou eie smaak met moderniste s’n te meng, sodat dit nie net jou bas nie, maar ook jou persoonlikheid pas. Die mode het te veel mense in die sak. Gatsak, broeksak, handsak. Jy moet die mode dra, nie toelaat dat die mode jou dra nie… of so iets. Ek sê eenvoudig: MODErasie, anders konsternasie.

 

 

Grootte

Ons vertel allerhande snert aan die spieël: Uiterlike skoonheid is nie belangrik nie. Mans en vrouens is gelyk. Dis nie die einde van die wêreld as kinders televisie kyk sonder toesig nie. Wyn maak nie vet nie. En een van my gunstelinge: grootte maak nie saak nie.

Grootte maak saak.

Neem nou maar skoene as voorbeeld: ‘n skoen wat of tè groot, of tè klein is, is nie gepas nie. Niemand hou van ‘n kind wat te groot is vir sy skoene nie en ons word tog aangemoedig om soos die skoenmaker by sy lees te hou. Tensy jy liddorings, eelte, knoppe en skewe tone wil hê, moedig voetspesialiste mense aan om die regte skoengrootte te dra. Die Japanese vroutjies wat hul toontjies so laat ombuig het om hul voete kleiner te laat lyk, het met meer as ingroeitoonnaels betaal… sedert 1902 is dit onwettig om skoene te dra wat te klein is, aangesien mense die emmer geskop het met hul verminkte voetjies. Die grootte van jou skoene maak saak.

 

Kom ons beweeg Noord… tot by die enkel. Niks is so onvanpas soos ‘n jas wat nie netjies pas nie. ‘n Broek moet die regte lengte wees om te keer dat jy soos ‘n bleeksiel lyk. Modekenners regoor die wêreld is dit eens: jou klere hoef nie duur te wees nie, maar dit moet immers pas. Dra die klere vir die lyf wat jy het, nie die lyf wat jy wil hê nie. ‘n Broek wat te knap sit, hou gesondheidsrisiko’s in, terwyl ‘n broek wat soos Bieber s’n, te laag hang, jou die respek van jou medemens kan kos. Die grootte van jou klere maak saak.

 

Is dit ‘n selfoon in jou broeksak of… of smokkel jy met bakstene? Sien, die grootte van tegnologie maak saak! Niemand wil tog gesien word met ‘n selfoon wat so groot soos ‘n HAT is nie? Skootrekenaars is bedoel vir jou skoot, nie vir die buitekamer nie. In die laaste paar jaar het tegnologie so vinnig ontwikkel, dat elke Jan Rap en sy maat hul selfone verkies soos Hugh Hefner van sy Hasies hou: plat, dun, blink, met een gaatjie vir herlaaidoeleindes en as jy aan haar raak, moet sy reageer… sonder sukkel. As dit by tegnologie kom, is kleiner beter, maar met die geheue van ‘n olifant en die verwerkingsspoed van Usain Bolt. Die grootte van jou tegnologie maak saak.

 

Die grootte van jou skouers maak saak : veral as jy vir die Bokke wil speel. As jy 160 cm in jou skoene staan en jy klere by die kinderafdeling in Edgars koop, gaan Allistair Coetzee waarskynlik nie vir jou ‘n kaartjie na Kamp Staaldraad koop nie. Jy kan nie ‘n ruimtevaarder word as jy nie tussen 65 en 72 duim lank is nie. Jy sal nie sommer een van Victoria se geheime engeltjies kan word as jy korter as 1,9 meter is nie en jammer om te sê, maar as jy meer as 75 kilogram weeg, kan jy maar jou supermodel-droom op jou maag skryf en met jou ekstragroot hempie afvee. Grootte maak saak.

 

Die kans dat ‘n tandarts ‘n leeu gaan skiet met ‘n .22 is skraal. Net soos jy nie sommer ‘n holpunt-patroon in ‘n .458 gaan laai om ‘n tarentaal vir ontbyt te probeer skiet nie. Jy kan nie jouself ‘n man noem as jy die Curriebeker op ‘n 13 duim televisie wil kyk nie. Jy sal nie vriende oorhê nie. Moenie dink jy gaan die kleinste burger bestel en lank versadig bly nie. Die kleinste botteltjies bevat dikwels die gevaarlikste gif. Die grootbek by die kroegtoonbank, dra dikwels ook klein skoene. Die grootte van jou bakkie se wiele, of jy nou in Brakpan bly of nie, is gewoonlik ook direk eweredig aan die grootte van die enjin, klanksisteem en indirek eweredig aan jou intellek. Die grootte van jou bankbalans, kroegtoonbank, sonbril, CV, buuste, tandeborsel, handsak en jou mond… dit maak saak.

Mense wen pryse vir die kleinste gehoortoestel en die grootste pizza. Daar word rekords gehou vir die grootste man en die kleinste hond. Hoekom? Want grootte maak saak.

Moenie meer vir jouself lieg nie. Mans en vrouens is nie gelyk nie. Uiterlike voorkoms is belangrik. En Meneer wat sê dat dit net die wieg van die skip is:  Grootte maak saak!

 

 

 

Skaam

Ek weet twee dinge:

1. Oulike meisies bloos maklik.

2. Kitskos is ongesond.

Vanaand moet ek egter blosend erken dat ek kitskos bestel het vir die hele gesin. As jy aan een of ander psigotiese suikersiekte ly en jy kan dit nie uitstaan om te lees hoe kinders se mondjies smul aan geprosesseerde kaas, suikerbelaaide broodrolletjies of vleis wat tien teen een in ‘n laboratorium aanmekaar geflans is nie, stop dan by hierdie punt: punt.

 

Die verkoue wil my nie laat staan nie. Ek hoes. Dit klink of ek skelm in die nag ‘n pakkie Camels gaan rook het. Daar is genoeg vloeistof in my sinuskanale om die droogte in die Karoo op te los. Wel, so voel dit vir my. Na ‘n nag van min rus en ‘n besonderse lang dag by die skool, was ek ongetwyfeld nie lus vir ‘n uur voor die stoof staan nie. En toe doen ek iets wat die lesers van ‘Baba en Kleuter’ in hul rooibostee sal laat stik: ek bestel kitskos. Wat sommer by ons voordeur afgelaai word. Erger nog: ek voel nie eers skuldig hieroor nie. Inteendeel, ek was lanklaas so dankbaar vir ‘n ongesonde burger, diepgebraaide hoenderbolletjies en tjips. Met gaskoeldrank! (Snak na asem!)

Ek weet dat daar moontlik nie eers hoender in die bolletjies was nie. Ek besef dat die burger suiker, msg, tartazien en al daardie ander gastronomiese vloekwoorde bevat. Ek verstaan die gevaar dat daar moontlik nie eers aartappels beseer is tydens die maak van die tjips nie. Die gaskoeldrank is nie net gif in ‘n blikkie nie, dit maak ook dat die voedsel makliker en vinniger in die slukderm kan verdwyn. En al hierdie feite, vat niks weg van die genot en plesier van hierdie kitskos nie.

My kinders klim vanaand met ‘n vol maag in die bed. Ek kan, met behulp van ‘n handvol pille, lekker vroeg gaan slaap. Ek gaan droom vanaand. Ongesond lekker droom. Want daar is soveel probleme in die wêreld, tog kies mense steeds om te oordeel as ander kitskos eet. Daar is hongersnood en kanker. Infertiliteit, geweld en armoede. Kindersiektes, egskeidings en aansoeke vir paspoorte. Maar al hierdie probleme word oorskadu deur een of twee mense se idee dat kitskos en oorgewig kinders die grootste probleem van ons tyd is. En verstaan my nie verkeerd nie, ek sê glad nie dat dit NIE ‘n probleem is nie… maar gaan ek werklik vanaand wakker lê oor my besluit om hulp in te roep? Nee.

 

Ek gaan ook nie meer hieroor bloos nie. Om te bloos beteken ek kry skaam. Ek sal eienaarskap van my besluit met trots neem. Ek sal eerder skaam kry oor my onvanpaste taalgebruik in die teenwoordigheid van kerkmense tydens ‘n oomblik van opgewondenheid. En ek sal eerder bloos as Manlief aan al my kollegas uitblaker dat ek… nee wag, ek hoef mos nie daardie brokkie inligting wèèr te herhaal nie.

Hoe meer ek oor die konsep van bloos nadink, hoe meer besef ek dat die vingerwysers nie noodwendig blosers is nie. Op hoogheilige trone met bakkies vol slaaiblare op hul etenstafels rol hulle oë vir die wat kitskos eet en gaskoeldrank drink. Ek is seker dis ook die mense wat meer as vier keer per week oefeninge doen, net die wit van die eier gebruik en hul meeste leeswerk doen as hulle etikette op kospakkies bestudeer. Dis wonderlik dat hierdie mense tyd, energie en passie het vir die gesonde leefstyl. Ek is jaloers as ek dink dat hulle tien teen een ouer gaan word as ek, altyd mooier gaan lyk in ‘n bikini en hul organe sonder skaamte geskenk sal kan word aan navorsing. Ek salueer hulle.

Maar dan dink ek aan die lelike kritiek op sosiale media wat tussen grootmense rondgeslinger word. Ek sit verwonderd en staar na die uitlatings wat ontlas word in kommentare oor ‘goeie ouerskap’. Dan vat ek nog ‘n hap van my burger, sluk dit af met gaskoeldrank en voel ek dankbaar dat al bloos ek maklik, ek eintlik min het om myself oor te skaam.

 

Mislukking

Ek het misluk. Nie ‘n klein, vernederende oomblik waarin jy wens die aarde sluk jou in nie, o nee… ‘n mislukking so groot soos Nando’s se laaste advertensieveldtog. Weet jy nie waarna ek verwys nie? Presies!

Sien, ek het so week of wat gelede besluit om te dieet. Vir die eerste keer in my lewe, wou ek ‘n dieetplan slaafs navolg. Kalorie vir kalorie tel en afmeet en weeg soos ‘n effektiewe eetmasjien. Ek was gedetermineerd om die ekstra kilo’s af te skud en weer in my normale broeke te pas. Al wat ek verloor het, was drie dae. Ek het geweet die moeilikheid is oppad, toe ek die tert in die bakkery se vertoonvenster sien en nie dink aan die meisie wat in matriek met ‘n push-up bra skool toe gegaan het nie. Die woord tert het nog nooit my maag laat grom nie, want ek het dit nog altyd met ‘n maklike meisie geassossieer. Nes ek nie die woord koek as ‘n lekkerny beskou het nie, maar as die bleeksiel wat voor in die klas gesit het, een hand op die Bybel, die ander op haar Wiskundeboek. Dit is nie blote toeval dat “boek” met “koek” rym nie. So het ek altyd in my mou gelag… maar wie lag nou laaste? Seker die koeke en terte wie se liggaamsmassa nie hul IK’s oorskry nie.

Ek is dalk goed met Wiskunde. Ek is dalk goed met woorde. Ek is absoluut pateties met diëte. Ek het teen dag twee al begin fantaseer oor karamel wat eroties oor ‘n piesanggevulde pannekoek gedrup word… en teen dag drie was die versoeking te groot. Ek het voor die suikerinhoud van die vyand geswig. Ek het ‘n oliebol, twee roomyse en drie melktertjies verorber. Opgevreet. Verslind. Dierlik en instinktief. Tannie Emsie sou stik in haar tee oor die gebrek aan my eet-etiket.

Ek dink wat my erger laat voel as die gefaalde dieet, is die feit dat ek nie eers skuldig voel daaroor nie. Ek vind berusting in die sukrose, glukose en allerhande koses van my koffie. Nee, nie koffie nie, cappucinno. Met ekstra room. Ek verlustig my in die vetinhoud van die croissant wat lig en vol roomkaas saam met die salm vir my knipoog. Ek flankeer openlik met veerligte kolwyntjies. Ek fladder my oë vir die afleweringsman wat pizza tot op ons drumpel dra… nie oor hy aantreklik is nie, maar oor die dubbelkaas en ekstra hoender so ongelooflik ruik. Ek lek my lippe af as die reuk van roosterbrood deur ons huis walms blaas…

Ek kan dit eenvoudig nie keer nie. Ek het nou maar een maal ‘n liefdesverhouding met kos wat niemand verstaan nie. En toe word ek boonop geseën met ‘n man wat nie oordeel nie, maar gedienstig en gedweë roomys inskep en vir my kaaskoek gaan koop by die Belgiese bakkery.

 

Ek is nie net lief vir soetgoed nie. Ek hou van allerhande soorte kos. Ek sukkel om tevrede te wees met NET slaai vir middagete. Ek kan eenvoudig nie oor die weg kom met een gekookte eier, drie snytjies komkommer en die reuk van koffie nie. Ek soek kos. Iets wat vullend is. Nie net vir die maag nie, maar ook vir die siel. Sien, vir my is elke happie ‘n reis. Ek onthou Ouma se hande as sy vir my pannekoek bak. Ek raak nostalgies as ek naartjies ruik en aan die buurtannie met die groot buuste dink wat sommer drie in my hande stop. Ek ruik oregano en ek word weggevoer na ons vakansie in Italië. Ek sien die knoffelbotter Naan wat langs die kerrie lê en smeek om geëet te word en ek word weggevoer na die Indiese platteland, waar ons onsself in ‘n glutenbelaaide koma ingeëet het. Kos is ‘n avontuur. ‘n Plesier. Iets waarsonder ek nie kan, of WIL, lewe nie.

 

Ek het besluit die sukses vir my ekstra tien kilo’s lê hier: elke kilo vertel ‘n verhaal van plesier en genot. Elke duikie op my bobeen laat my laggend dink aan ‘n ete saam familie. Elke ekstra sentimeter om my middel, getuig van vrede en berusting wat ek in elke happie gevind het. Ek weier eenvoudig om my verder te onderwerp aan die kreun van ‘n dieet. Ek sal eet. Nie net vir oorlewing nie, maar ook vir die lekker. Ek sal nie ‘n visgraat wees nie. Ook nie ‘n potjierol nie. Maar êrens in die middel, sal ek my balans vind. Iewers tussen die donker afgrond van hoë bloeddruk en die euforie wat ‘n happie lekker Boerekos gee, sal ek nie net oorleef nie, maar lééf. Ek gaan stap so entjie in die aand. Let wel, ek draf nie. Laf is ek ook nie. Ek klim trappe. Ek probeer om myself te behaag met EEN stukkie tert, in plaas van drie. Maar ek weier om weer toe te laat dat een dieet my die woord “misluk” aan myself sal koppel. Net soos ek nie mis sluk nie, net so sal ek nie weer misluk nie. Lank lewe die boereworsrol en koeksister!