Eet

Ek het so paar weke gelede besluit om 10 kilo’s af te skud.

Ek het nog net 15 om te gaan.

Die handoeke ruik vir my soos wafels. Die handeroom se tekstuur herinner my aan roomys. Ek fantaseer oor ‘n sjokoladefontein wat uit die sitkamervloer ontplof, terwyl ons nuus kyk. In my geestesoog sien ek myself Indiese hoenderkerrie, gemaak met tonne en tonne vetterige botter, verslind in die bed. Ek gee nie eers om oor moontlike kerriekolle op die wit beddegoed nie.

Dit is so: ek het honger opgestaan. Dalk nie maag-grom-hard honger nie, maar honger vir kos wat vol met die verkeerde inhoud. Ek wil ‘n buite-dieetlike verhouding aankoop met die stout seuns van die koswêreld. Sonder gewete water my mond as ek dink aan die harde, bros kors van ‘n kaaskoek. Met ‘n titseltjie verbeelding streel my tong oor die styf, styf, styfgeklopte eierwit bo-op ‘n meringue. Ek verroom elke ete. Botter my brood aan albei kante. Ek het ‘n affair met twee bakke pasta, propvol ham, kaas en alles wat verwronge is in die dieetwêreld. Ek bevind my in kos-porno-droom waar niks wat in my keel afgly om my bobene gaan versamel of om my middel gestoor word nie. My tone krul van plesier met elke gastro-eksotiese-kol wat getref word. Ek kry hoendervleis van lekkerte. Hitte van opwinding versamel in my Suide na elke tongtippietoets.

Voor hierdie inskrywing dalk te ver gevoer word (woordspel bedoel) en gestraf word met ‘n “geen onder 21” bordjie, maak ek my oë oop en staar na die werklike, onsmaaklike ontbyt voor my: Een hardgekookte eier, drie neute en ‘n koppie swart koffie wat ek weet ek nie sal kan drink nie. Vir “nagereg” sal ek maar aan die leë pakkie Oreo’s (wat my seuntjie gisteraand verslind het) ruik. Net ruik. Net om te kan glo dat daar wel nog goeie dinge op aarde is.

Dag drie van operasie “Gesonder Lewe”. Ek dieet nie. Dit moet mos ‘n leefstylverandering wees. Kies elke happie oordeelkundig. Moenie ontbyt oorstaan nie. Kry jou metabolisme aan die gang. Kou deeglik, eet stadiger, drink meer water, wees meer aktief. Ek ry nie meer hysbak nie, maar klim die trappe. Al hyg ek soos ‘n stoetbul in paartyd as ek by my bestemming uitkom (en dis net vier vloere).

Daar is drie redes vir my keuse om myself so te straf:

  1. Ek weet dit gaan nie vir altyd ‘n straf wees nie. Party reken 21 dae. Ander skryf weer twee weke. Ek hoop vir more, want ek weet dat my selfbeeld die oorwinning sal waardeer (my stywe broeke en hempsknope selfs meer). Ek verstaan dat my gemoed sal lig, ek beter oor myself gaan voel en dat ek hierdie nie doen om die skindertonge te stop of my man te bevredig nie. Ek weet ek sal, as ek so paar kilo’s ligter is, weer aan sjokolade kan proe, maar die drang om dit te verslind sal nie meer daar wees nie. Ek sal weer allerlei gebak en snuisterye kan geniet, met matigheid voor oë natuurlik. Sien, as mens verslaaf is aan drank, dwelms of nikotien, kan jy stop en steeds oorleef. Maar as kos jou verslawing is, kan jy nie net ophou eet nie. Dis hoekom die ontrekkingsfase so erg is. En ek… ek sal die eerste stap neem en erken: ek is verslaaf aan lekker eet. Nou moet ek dit net reg ook doen.
  2. Ek wil graag ‘n goeie voorbeeld vir my kinders stel. Ek wil nie op veertig so vet wees dat ek moet waggel nie. Ek wil tot op 120 my eie skoenveters kan vasmaak sonder dat ‘n pens in die pad is. Ek wil my kleinkinders in my arms kan vashou, saam met hulle kan balskop en ek wil graag hê my eie kinders moet gesonde keuses kan maak.
  3. Ek is te honger om die derde rede nou te onthou. En ek is te moeg om die delete knoppie te druk. Ek het hoofpyn as gevolg van die detoksifikasie-proses. Groot woord in my toestand.

 

Natuurlik gaan mense my kritiseer. Natuurlik gaan mense lag. Natuurlik gaan dit nie maklik of foutloos wees nie. Ek gaan nie pille drink of histeries raak nie. Ek gaan slaai eet, sonder blare natuurlik. En natuurlik gaan ek kwyl as ek lekker kos ruik. Maar vir nou moet die wafelreuk van my handoeke maar genoeg wees.

Advertisements

Dieper die dertigs in…

Ek verjaar. Op hierdie dag duik ek dieper in die donker depressie van die dertigs in. Dorser  en dikker as ooit. My voorliefde vir rooiwyn, Amarula en basies enigiets met alkohol in, het die laaste dekade of wat beteken dat ek nie skrik vir ‘n bottel Roodeberg saam my skoonpa, of ‘n boks witwyn saam my ma nie. Ek en my sus kan ‘n bottel brannas klits en meeste van my vriende vertel graag dat ek die slegte invloed is. Met twee kinders wat baie energie tap, die skaal wat nie in my guns swaai nie en die verlange na almal wat ver is, is ek dus dorser as ooit. Dikker ook. En dieet is vir my meer as net ‘n d-woord. Dis ‘n vloek, ‘n skel, ‘n lastering wat ek nie kan uitstaan nie, MAAR…

My verjaardag begin donker. Ek staar verstom na die wese wat uit die spieël vir my koggel. Dit lyk of ek met ‘n kangaroo onder my “pensie” smokkel. Dalk meer as een. My boude en borste het êrens gedurende die laaste jaar boesemvriende gemaak met gravitasie en is nou op die afgrond… hulle hang net rond. Volrond. Die velle om my bo-arms, keel, elmboë, knieë en selfs my ken is losser as die meisie wat reeds sestien haar derde kind gebaar het…

Ek kry lag vir myself. Nie ‘n goeie idee nie, want dis toe dat ek die plooie gewaar. Daar is kreukels op my voorkop, ‘n krakie tussen my wenkbroue, kepies om my oë en kraaipootjies om my mond. Kraters, kreukels, kinkels, kepies en kabels… en ja, ek weet ek oordryf, maar skielik wonder ek: wanneer het ek volwasse geword? Ek kies die woord “volwasse” versigtig, want sien, ek is nie oud nie. Ek voel nie oud nie. Ek voel nie anders nie. Ek voel nog nie reg vir ‘n third-life-crisis nie. Inteendeel.

Pieter onthou vir die eerste keer in jare my verjaardag. Ek is beïndruk. Miskien gaan die dag tog ligter word. Ek kies my klere ekstra versigtig en pak die skooldag met ekstra durf aan. Ek word oorweldig met geskenkies en pakkies en drukkies en glimlagte. Die Graad 8’s hou vir my ‘n verrassingspartytjie, die Graad 9’s sing uit volle bors vir my “Happy Birthday” in Arabies en teen tweede pouse het ek al so baie koek geëet, dat ek semi-diabeties voel en spontaan begin bewe as ek aan vanoggend se beeld in die spieël dink.

Natuurlik moet ons uiteet (want mens maak mos nie kos op jou verjaarsdag nie) en weereens gaan sit die stuk diepgebraaide hoender net so neffe my nersderm en ek kan sweer ek voel hoe al die onnatuurlike, ongesonde bestandele versuiker en my nog dikker maak. Die angskrete van die “gewigtige saak” word egter weggespoel met ‘n glasie (lees maar “bottel”) wyn.

More. More sal ek moet begin om iets te doen. My klere sit reeds te styf en ek hou nie van ongesond wees nie. My probleem is ek hou nie van slaai nie. Ek hou nie van dieet nie. Ek hou nie van terughou en spaarsamig lewe nie. Ek lewe nie net voluit nie, ek eet ook voluit. Maar ek is nou dieper in my dertigs in, ek moet begin dophou wat ek eet, anders gaan my hart dit eenvoudig nie hou nie. My are gaan die stryd verloor en ek gaan die lepel in die dak moet steek voor my koek te klein raak vir al die kersies. More. More begin ek oefen. Al haat ek enige vorm van lyfstraf. More begin ek slaai eet. Dalk selfs met ‘n blaar of twee in. Spontaan kom die woorde van ‘n akteur in ‘n toneelstuk by my op: “Here, dit kan NIE so aangaan nie” en ek stem saam. Dit kan nie. En dit sal nie. More begin ek skryf aan ‘n gesonder hoofstuk in my lewe. En nou dat dit op papier staan, moet dit mos geskied… Ek weet net nie of ek my dors sal kan les met water nie. Soveel waagmoed het ek nog nie.

My verjaarsdag is nou amper verby… ek staan weer voor die spieël. Hierdie keer het ek die hooflig afgeskakel en loer ek in die flou, en meer genadige, lig van die lampie na myself. Die lyne lyk sagter, die kurwes lyk gladder en verbeel ek my of is my maag dalk selfs platter? My oë vind hulself in die spieël. Die krakies aan die kant lyk skielik vir my mooi. Dalk is dit oor die honderde (letterlik) boodskappe wat vandag hul weg na my hart gevind het. Facebook en Twitter, Instagram en e-posse, outydse sms’e en oproepe soos in die goeie ou dae… voller as enige vetsel in my lyf, is my hart vanaand. Daar is omgee en seënwense, gedagtes en gebede, vreugde en vriende, moed en motivering, komplimente en krete. Daar is geloof. Daar is hoop. Daar is liefde. En die grootste hiervan? My dankbaarheid.