Karma

Die wiel draai. Die woorde wat my moet sus as ek onmenslike optrede aanskou. Ek kyk die video van ‘n oppasser wat ‘n baba ruk en pluk. Die bloed stol in my are, terwyl ek met afgryse na die barbaarsheid staar. Wel, die wiel draai nie vinnig genoeg nie. Ek weet ek is dalk net ongeduldig, maar ek wens sulke tipe mense kry bloeiende aambeie. En wurms. En kopluise. En pitswere onder hul arms. En ingroeihaartjies in hul lieste.

Wat jy gee sal jy ontvang. Trooswoorde vir as jy jou tyd opoffer om klein babahondjies te red en by die ouetehuis se fondsinsameling pannekoeke gaan bak op ‘n Saterdag. Maar wat van pas afgetreëde paartjies wat hul geld in die kerk belê het en nou sonder heenkome, inkomste of neseier sit? Hulle het gegee… en toe is daar weggeneem ook. My wens is dat elke boosdoener wat die ekwilibrium van die heelal omdonner, sy tong met kokende koffie sal brand, papiersnytjies op ongemaklike plekke sal kry en ‘n abses in elke kiestand.

Wat jy saai sal jy maai. Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Bybelse verwarring word losgetorring in my binneste. Ek hoor hoe platejoggies rassistiese uitlatings maak en hoe meubelhandelaars hul advertensies onttrek en hoe ek nou nie meer na hulle mag luister (of by die Spur mag eet) of geld moet gee vir Good Morning Angels nie. Ek mag dan mos nie vir Tumi (of die Spur) haat nie, want ek wil nie hê iemand moet my haat nie? Ek het nie die septer in my hand nie, so wie is ek om hom te swaai. Ek is deurmekaar.

Wat op gaan, moet ook af kom. Maar die priesters karring steeds aan klein seuntjies. En die ongeletterde presidente kry groter huise. Terwyl die finansiële jakkalse oumense roof en seiljagte in Griekeland koop. Gravitasie se 9.8 m/s² is te stadig vir my. So engeltjies daarbo, wil julle nie maar so paar mense terugstamp aarde toe nie?

Ek wil net so klein bietjie regverdigheid in die heelal bespeur. Asseblief. So liewe tannie Karma, mag ek groot asseblief in my volgende lewe, jou afleweringsdame wees?

 

Advertisements

Emosioneel

Ek is vandag emosioneel. My traankliere is met die sonsopkoms ooraktief verklaar. Ek kry ‘n knop in my keel toe ek sien hoe my sewejarige haar eie hare vleg. My hande is nie meer nodig nie. Ek sluk swaar toe ek my dagboek oopmaak en ek die liefdesverklaring, wat Manlief op ‘n Post It geskribbel het, ontdek. Is ek regtig so besonders? Die waterwerke dreig om die damwal te breek toe ek die boodskap van ‘n vriendin kry dat ek gemis word. Ek voel vir ‘n oomblik baie spesiaal. My oë raak waserig toe my vyfjarige seun terughardloop na sy klas toe, want sy meneer moet met ‘n handdruk én ‘n drukkie gegroet word. Ons het iets reg gedoen. Daar loop ‘n vreugdestraan uit die hoek van my oog as ek sien hoe Manlief ‘n kind op elke skouer optel in die swembad. Kosbare oomblikke.

Ek is tranerig. Ek wil in die bed gaan klim, al skyn die son nog buite. Ek wil die verkoeler op sy koudste stel sodat ek die komberse tot onder my ken kan trek. Ek wil myself oorgee aan ‘n tranetrekkery van epiese proporsies. My kussing moet met soutwater bevlek word van weemoed en wanhoop. Verwese wil ek wegsink in die melodramatiese oomblikke van my bestaan. Ek wil huil oor orgaanskenkers se families wat agterbly. Ek wil tjank oor kinders wie se ouers hulle nie by die skool kom haal nie. Krokodiltrane moet spat oor elke rand en sent wat al ooit by goeie mense gesteel is. Ek wil emosioneel raak oor die onregverdigheid van die lewe. My wange moet gloei oor afgestorwe ouma’s en familie wat in Australië bly. Woede moet omgeskakel word in mistroostigheid en dan wil ek die laaste bietjie aggressie wat in my skuil, uitstort.

Verdrietig wil ek wees oor slagoffers van orkane. Soos ‘n smartvraat wil ek myself voor die voete van selfbejammering neergooi… en nie eers omgee as iemand iets daaroor kerm nie. Vog moet onder my ooglede ontsnap omdat ek vandag glo dat ek nie my seëninge verdien nie. Ek wil my traanbuis se uithouvermoë toets omdat so baie goeie, eerlike, wonderlike mense sukkel.

Om te huil is goed. Dis soos ‘n emosionele detoksifikasie. Om op te krop het niemand nog iets goeds in die sak gebring nie. Trane was jou gemoed skoon. Dit hoef nie logies, rasioneel, sinvol of analities korrek te wees nie. Maar in my oordrewe toestand van emosionele oorhel na die dramatiese, is behoefte. Ek gun myself die ontlading, want dit is vlietend. Ek gee myself toestemming om my emosies koning te laat kraai, want elke traan is ‘n pleister wat net tot genesing lei. Sonder trane, sou ek mos nooit so lekker kon lag soos juis more nie.

 

Belasting

Om belasting te betaal is vir niemand… NIEMAND ‘n plesier nie. Die Amerikaners brom egter nie te erg nie, want immers word hul paaie herstel en is die krag altyd aan. Die Australiërs kerm nie, want hulle staatshospitale is van die beste in die wêreld. Die Swede mompel niks, want hulle onderrig en selfs universiteite is gratis vir burgers en die opvoeding is topklas. Die Britte  lig skaars ‘n wenkbrou, want die Moedertjie met haar kroon maak seker dat niemand op hul oudag sukkel nie.

In Suid-Afrika is belasting egter nader aan ontlasting. Die slaggate is groter as Nkandla se vuurpoel; Umtata General Hospital het rooigrond as vloere in hul operasiesale en is aangewys as die swakste hospitaal in die Suidelike halfrond; 84,9% van alle polisielede het ‘n kriminele rekord; die matrieksertifikaat is nie die papier werd waarop die groen ink gedruk word nie en en en en en en…

Belastinggeld, soos omskryf deur die VN, moet aangewend word om drie basiese behoeftes van die nasie te voorsien: onderrig, gesondheidsdienste en veiligheid. Suid-Afrika faal in elke kategorie. Nou staan die saak so:

Ons is meer as 100 000 Suid-Afrikaners wat woon en werk in die Midde Ooste, waar ons 0% belasting betaal. Ons stuur geld maandeliks terug RSA toe om huislenings, karre, pensioenfondse, universiteitsgelde, karpaaiemente en vensterkoevertjies te betaal. Ons kom hou vakansie en gee nie net ons harte nie, maar elke laaste sent aan ons tuisland. Hoekom? Want daar is nie werk is Suid-Afrika nie. En AS jy werk kry, hoes en betaal jy om net kop bo water te hou. Hier kan ons asemhaal sonder om ons burgerskap prys te gee of permanent te emigreer. Ons offer tyd saam met Oupa en Ouma op. Ons mis troues, begrafnisse en Sondagetes. Ons praat in vreemde tale en kners op ons tande oor vreemde kulture, alles in die naam van vooruitgang. Ons doen dit, want ons eie land kan nie so goed vir ons sorg nie.

Maar nou wil ons liewe, liefste regering belasting van ons eis. Ons bloedgeld moet nou vir hulle swieties koop. Hulle dink nie aan die verliese wat hulle op die langtermyn gaan ly nie. Hulle oorweeg nie ons omstandighede en leefkoste hier nie. Nee, soos gulsige hamsters wil hulle hul eie kieste vol prop met ander se neute.

Begryp dit reg, die wet is nog nie deurgevoer nie. Dis nog net sprake. Maar verstaan my mooi Vader Jakob: Ek gaan nie die dogter wees wat net lê sodat jy my kan verkrag nie. Ek sou nog kak en betaal in die ou Transvaal, maar ek sal eerder ‘n vlugtende emigrant word voor ek vir u ‘n nuwe stortkop koop. Ek sal my paspoort brand en my belasting gaan betaal vir iemand wat my met ope arms gaan ontvang. Ek gaan die taal van hart verloën in die naam van regverdigheid. Ek is bereid om te verloor, net sodat jy nie kan wen nie.

Lughawe

Die lughawe is ’n kosmos wat nie eintlik aardse standaarde handhaaf nie. In die aankomsaal huil mense van vreugde, word geliefdes omhels met ’n verlange wat min mense kan omskryf en trippel klein kindertjies opgewonde rond, terwyl hulle wag vir Oupa en Ouma. Daar is dan ook Oupa en Ouma wat ongeduldig wag om hul kinders wat lankal emigreer het, te ontmoet vir die kuiertjie in hul geboorteland.

By die hekke waar mens moet groet, is die trane egter van ’n ander kleur. Om te groet is nooit maklik nie, of dit nou vir ’n vinnige vlug Kaap toe is en of die gesin hul weg vind na groener weivelde… êrens tussen die tasse met wieletjies, stootwaentjies en gemaklike skoene, kan jy ’n hart hoor breek.

Die Chinese mannetjie oorkant my sit kiertsregop en slaap. Die vreemde wese met haar pienk hare, neusringe en spykerhakke fassineer my tot ’n punt waar ek oopmond staar. Ek sug as ek sien wat water kos in die klein winkeltjie en frons myself sommer ’n plooi ryker toe ek sien dat mens hier R32.50 moet opdok vir ‘n Crunchie.

Voor die hek staan iets met kierietjiesbene en ’n geel, offisiële oorjassie wat my skeelhoofpyn gee. Die stempel in haar hand gee haar onverdiende mag… en sy weet dit.

Die paartjie met die drie woelige seuntjies het donker kringe onder hul oë en as jy na die mense om hul kyk, kan ek hoor hoe almal bid om nie naby hulle te sit nie.

Hier mag ons nie oor bomme grappies maak nie, moet jy jouself tot 100ml vloeistof beperk, ‘n stuk vleis met ‘n plastiekmes probeer sny en ervaring leer my om liefs nie met stywe klere lang vlugte aan te pak nie.

Die lughawe is koud en warm in een asem. Dis ‘n paradoksale plek van vreugde en hartseer, opwinding en vrees, hoop en wanhoop, opstyg en landing… ‘n hawe wat die tyd van kom en die tyd van gaan aankondig.

Al is elke lughawe uniek gebou, is dit ook ‘n universele waarheid van Babel se tale en emosies. Mag ek nog vir baie jare die voorreg geniet om hier my inspirasie te kom vind, want al streef ek om veilig op aarde te loop, is my kop op sy oopste in die lug.

 

Suksesverpreiding

Vreemde woordjie: sukses. Dit begin met sukkel. Ses keer oor. Voor jy eindelik by die volledige en omvattende term ‘sukses’ opdaag.

Die definisie is haas onmoontlik om volrondig gevind te word. En om ’n haas met onmoontlik te vergelyk is ook maar ’n onsuksesvolle poging om metafories inteligent te klink.

Edison het 99 keer misluk (dalk was hy ook mislik) voor die gloeilampie voor hom gebrand het. Einstein reken die pad daarheen is altyd onder konstruksie. Churchill het erken dat dit nie moontlik is sonder volharding nie. Mandela soek dit in vergifnis, Federer slaan ’n slag tot ’n beker, Gates sien dit in die nulle op sy bankstaat en ek… ek soek nog na die definisie van sukses.

Allistair Coetzee reflekteer oor laas naweek se systappies en ek is seker hy voel dit. Jan Braai nog ’n tjoppie in die naam van erfenis, so hy ervaar dit tog ook. Ek hoor oor die radio dat Jo Black ’n liedjie oor skepe gesing het en dat sy album nou platinumstatus bereik het. Ek lees op Facebook dat kunstenaars benoem word vir regie en tekste. Suksesverhale.

Rolf Dobelli het geskryf dat mens tussen grafte moet gaan staan om jouself te herinner dat sukses nie almal beskore is nie. Maar die diep gedagte dwing my terug na die definiëring van sukses. Geld? Mag? Grade? Onwrikbare geloof? ‘n Gespierde lyf? ’n Gepubliseerde boek op die rak? Waar begin mens soek na sukses? Wat is die einddoel, die strewe, die baken? Of is dit net iets wat mens voel? Soos liefde, geluk, vreugde…

My ouma het met die wêreld se geduld my leer lees. Ek glo dis waar my sukses gebore is. Maar juffrou Vorster het in die laerskool vir my gesê dat ’n A+ op jou kunsfeessertifikaat, groter sukses is as ’n A. Tannie Annetjie, wat vir jare lank ons buurvrou was, het weekliks sulke kosbare suksessies gebrei… lappies vir die teepot en deksels vir die toilet. Oom Sarel se opbou van die 1975 Ford wat vir byna 12 jaar hul voortuin soos ’n jaart laat lyk het, loop vandag soos suksesvolle stroop.

Sukses. Dit lê in die traan van die ma wie se kind lag op haar troudag. Dit setel in die glimlag van ’n pa wat sy nuwe seun vir die eerste keer vashou. Dit skop nes in die man wat weier om op te gee en sy eie negosiewinkel skep. Dit wortel in die kind wat uitstyg bo die omstandigheid van die alkoholispa en afwesige ma. Dit wriemel in die vrou wat vir die wêreld wys dat sy meer is as net ’n Waterkloof-mamma. Die juffrou wat omgee… die pa wat prys… die ma wat net vashou… die suster wat water aandra… die kind wat met ope arms slaap… suksesverhale wat ongesiens in alledaagse skarrel verdwyn.

Vertel ons. Basuin dit uit. Motiveer ander. Deel met ons die kilo wat jy verloor het, die tafel wat jy gebou het, die kar wat jy gekoop het, die pastei wat jy gebak het, die kind wat jy gemaak het… Spog. Wees trots. Vier jou sukses. En as iemand kerm en as iemand kla, gooi vir hom of haar ’n groot, vet middelvinger, want daar is soveel sleg in die wêreld, dat ons nie kan bekostig om die suksesse ook te begrawe nie.

Huis

Vir meer as dertig jaar was Suid-Afrika my huis. Ek het hier leer kruip, leer loop, leer lees en leer skryf.  Onder die eikeboom tydens ‘n skoolvriendin se partytjie het ek my eerste soen gepleeg. Vir dae lank was daar vlinders in my maag en allerhande ongure gedagtes in my kop. Ek het skelm Konsalik se “Nag in die Woestyn” en Marita van der Vyver se “Griet skryf ‘n Sprokie” gelees, lank voor my ouderdom dit wettig gemaak het. In die huis van Moeder Afrika het ek my eerste sigaret probeer rook… agter die houthuisie in my biologiese ouers se erf. Dis ook hier waar ek aan wyn gewoond geraak het, waar ek graag skool gebank het en waar ek ‘n stukkie aartappel begrawe het sodat ek nie vratte kon kry nie.

In die kombuis van Suid-Afrika het ek verlief geraak op Afrikaans. Op die stoep het ek leer braai. In die sitkamer het ek geleer hoe ‘n bank ‘n skip kan word, terwyl Siembamba oor die draadloos vertel word. In die gang het ek leer sokkie, in die slaapkamer my dagboek begin en in die badkamer het ek geleer dat peppermintgroen eens op ‘n tyd hoogmode was. Van die bad en wasbak, tot die gordyntjies en matjies, tot die pop se rok wat die toiletrol versteek… alles het soos gesmelte roomys gelyk.

In die erf van ons Afrika huis, het ek in die Suidkus se see geswem, die laeveldson sien sak, Tafelberg se karretjie gery en kreef gebraai teen die Weskus. Ek het hier leer fietsry sonder oefenwieletjies, my knieë stukkend geval en my bydrae aan die Tandmuis geoffer. Onder die boom het ek saam met Emily, ons bediende, gesit en tee drink, uit blikbekers wat spesiaal eintlik hare was. My hart is in hierdie huis gebreek, maar ek het ook my “Vir Altyd” hier gevind. Ons kinders is hier verwek, gebore, geregistreer.

 

Vanoggend verlang ek egter na my huis op ‘n ander kontinent. Die vakansie was/is heerlik. Ons siele word gevoed met kerrie kuieraande, koffiekroeg afsprake, rugby kyk, tjoppies braai, kombuis skindersessies, laatnag pajama geselsies en Amarula uit blikbekers, wat nie meer eksklusief aan Emily behoort nie. Maar hierdie is nie meer my huis nie. Iemand het ingebreek en al my vryheid gesteel. Die Tandemuis is vermoor, die kombuistafel lê nou vol vensterkoeverte en die deure is begrens met staalhekke. Die houthuisie in die agtererf is afgebrand saam met universiteite, biblioteke en stadsale. In die sitkamer sug die mans wat die werk kry nie, in die kombuis wonder die vrouens wat van hul kinders gaan word. In die televisiekamer lê al die kinders, want dis te onveilig om buite te speel. Sokkie is nou kommin, nes Crocs, Konsalik en peppermintgroen teëls in badkamers. Die toiletrol onder die gebreide poprok is vervang met onwettige ammunisie en ‘n Bybelversie. Die Huisgenoot is dun en vol advertensies. Ek verlang na my eie bed, my diefweringlose vensters, my klein kombuis, my vinnige internet…

Elke huis het sy kruis. Abu Dhabi se kruis praat nie Afrikaans nie. Australië se kruis is duur. Kanada se kruis is koud. Afrika se kruis kry my onder. Miskien is dit dan so: jou huis is waar jou hart is. En my hart is nie meer in Afrika nie, al sal my voetspore ewig hier lê.

Tyd

Tyd gaan staan stil die oomblik wat jou vyfjarige seun uit die boom val.  Minute hou op tik die oomblik wat die leeu op die bakkie afstorm. Sekondes gaan slaap as jou sewejarige dogter uit haar maag lag as die koedoe en kameelperd mekaar laat struikel. Dae vleg in en om mekaar onder die son wat warm skyn oor die vlaktes. Die lammers gaan soek lêplek in die watervoor, die kalfies kou rustig aan nog gras en die vulletjie staan vir die eerste keer op sy eie vier bene.

My kinders is net skoon vir die twaalf minute nadat hulle uit die bad klim. Ek skrop stof uit elke gleuf in die oor en naeltjie, maar dit is asof die grond van ons aarde nie net in die hart nie, maar ook aan jou vel vasklou. 24 honde rol in die gras en kom lê dan lepel agter jou rug. Nina, die eland wat dink sy is ‘n bees, kou die tamatie uit jou hand, sodat die speg sulke drade trek tussen jou vingers. Dieselfde tamatie wat jy vanoggend in die land gaan haal het. Jou hande word groen van die soetrissies wat gesorteer word. Die vars koedoelewer word in uie gebraai. Uie, wat jy met sorg uitgesoek en gepluk het.

Selfone en rekenaars en tablette word vergete in die laai gebêre, sonder herlaaiers en fênsie kragbanke. Ligte word met behulp van sonkrag en batterye aangeskakel en die warm stort is net te danke aan Willem die Boesman wat voor sonop al die donkie aan die brand kom stook het. Die gasstoof laat die water borrel vir moerkoffie en as die son sak, knetter die bosveldtelevisie as die hout deur die vlamme gevreet word. Niemand weet eintlik hoe laat ons eindelik gaan slaap nie, want dis nie regtig belangrik nie.

Duine word oorwin, oesters word afgesluk, vis word gevang en koue bier word gedrink. Ons los die wêreld se probleme op. Ons skep ‘n plek waar die weer altyd perfek is en geld nie ‘n kwessie van kommer geword het nie.  Ons droom van ware vryheid, grensloos en onbeperk. Sonder terme en voorwaardes.

Namibië verstom my jaarliks. Ek is bevoorreg om die kinders te wys hoe lyk renosters wat nog hul horings het. Olifante groet ons met ‘n trompetter en die kameelperde gee nie eers pad as ons die plaashek laat toeklap nie. Die gemsbokke se spiere bult as hulle oor die pad jaag, die klein duikers en steenbokkies is rats tussen die takke, die luiperd beloer ons uit die boom en die blouwildebeeste kyk skaars op as ons hulle by die watergat gewaar. Was dit net voor middagete wat ons die hiënas gesien het? En is dit regtig al Sondag vandag?

Die horlosie het lankal moed opgegee in Afrika.

En wat ‘n kosbare koestering van tyd is dit nie…