Ambassade

Kadawerklets: die etiket wat ek om die nek hang van mense wat net kan kerm en kla. Nie net maak dit positiwiteit dood nie, maar dit maak ook my lus vir die lewe kruppel loop. Vanaand het ek egter die intense behoefte om so bietjie stoom af te blaas.

Hier moet egter in ag geneem word dat ek eintlik met ‘n witbrood onder die arm kla. Ons bly in ‘n land waar ek met oop deure slaap en waar my karsleutels en handsak binne die kar gelos word. Ons betaal nie belasting of medies nie en komende Donderdag begin my betaalde verlof wat my vir nege weke die geleentheid gun om te gaan rus.

Dis egter juis genoemde vakansie wat my tot op die patio van die duiwel gelei het, naamlik die Suid-Afrikaanse Ambassade in Abu Dhabi. Dit was letterlik so warm soos Satan se stoep vandag: ‘n allemintig 53 grade celsius. Gewapen met elke moontlike stukkie papierwerk, ‘n bloedmonster, botteltjie uriene en ses foto’s in elke moontlike vorm en grootte, daag ons gesin vanoggend 8:30 op… voor dooiemansdeur. Die webtuiste se tye is verkeerd en ons is ‘n uur te vroeg. Ek haal diep asem en ons gaan soek koeldrank. 55 minute later is ons terug.

Die kamertjie is treurig. Oom Jacob glimlag uit ‘n Crazy Store fotoraam vir ons, langs drie hooggeplaasdes wat nie eers vir my vaagweg bekend lyk nie. Die banke huil vir nuwe stoffering, die gordyne is ‘n tragedie wat Nataniël na ‘n rowwe, onbeskofte bloubaard laat lyk, die mure smeek vir ‘n lappie met ‘n bietjie Handy Andy op en die mense staan almal senuweeagtig rond met hande vol papiere, groen paspoorte en benoude oë. Die wit laken word voor die glas gelig en gematigde sugte van verligting word gegee soos ons begin tou vorm.

Nou kyk, ek is nie ‘n geduldige mens nie, maar ek het vir die afgelope drie dae myself emosioneel begin voorberei vir hierdie uitstappie. Kinders lees op die iPads. Manlief se foonbattery is vol gelaai. Ek het oorspronklike papiere, kleurafskrifte en elke moontlike voorsiene stukkie dokument in sakkies by my. Ek dink die enigste papier wat ek nie saamdra nie, is my pa se matrieksertifikaat. En toe begin ons pret: ek mag nie die vorms in blou ink invul nie… ek moenie die datum met die jaar eerste skryf nie… ek moet VOOR haar teken… ek mag nie die datum namens my man skryf nie… en dit in ‘n kamertjie vol asems waar die verkoeling so fluks werk soos die Meneer Malefi wat die stempeltjie moet druk. Drie ure, sewentien minute, vier stelle afskrifte, twee stelle vorms, sestien stempels, ontelbare (interne) vloekwoorde en drie handtekeninge later, word ons verdaag.

Ek mag nou, amptelik, my kinders na hul geboorteland terugvat vir vakansie, met die toestemming van… ek weet nie eintlik nie, want die hele spul is ‘n groot grap. Tussen onoorbrugbare geboortesertifikate, afgetekende huweliksertifikate, paspoorte, identiteitskaarte en bewyse van verblyf, het ek so paar varkies ook verloor. As dit nie vir die Oumas en Oupas was nie, weet ek eerlikwaar nie of ek sou terugkeer na die land van koeksisters, malvapoeding en Simba nie. Die klein 5 x 5 wagkamertjie wat veronderstel is om my veilige grond te wees, het my net irriteer vandag en dan kan ek nie help om te wonder nie: is dit wat vir ons wag in sonnige Suid-Afrika? Waar taxi’s snelweë blok en boosdoeners brande stig? My hart huil, want ek verlang na my mense en ek wil steeds in Suid-Afrika se potensiaal glo. Ek is vreesbevange, want ek moet my karlisensie gaan hernu en (weereens!) Fica dokumente by die bank gaan inhandig.

Ek knyp my oë toe en verbeel my ek ruik my pa. Ek dink myself in hoe my kinders onder Oupa se vlerk inskuif, hoe hulle Ouma die foto’s op die selfoon wys en hoe hulle saam met hul niggies speel. Ek stel myself voor ons sit om die eetkamertafel en kuier… op die stoep wag die Amarula… in die yskas is yskoue Cream Soda… en dan weet ek dat geen ambassade die genot van my vakansie gaan steel nie. Ek gaan nie die beheer in hulle hande los nie. My papiere is nou reg en vir die volgende 12 maande hoef ek nie weer daaroor bekommerd te wees nie. Vir nou kan ek vergeet van kadawerklets en fokus op die herontmoeting: nog net 8 slapies…

Advertisements

ô-ô

“ô-ô” mymer ek voor die rekenaar, asof ek die wêreld wil waarsku teen die katarsis wat wag om uit te asem. Manlief loer nie eers in my rigting nie. Hy is eerstens besig om die rugby-hoogtepunte te kyk (wat vir my eerder na laagtepunte klink as ek sy taalgebruik in ag neem) en tweedens ken hy my eenvoudig te goed… so sy opmerking slaan die spyker op die kop: “Daar is nog ‘n bottel.”

Ek sug diep van absolute tevredenheid, want met daardie vyf woorde bewys Manlief dat woorde wek, maar voorbeelde trek. Ek glimlag, want my liefde vir ‘n glasie wyn as die kinders gevoer, gebad, gelees en gebed is, is ‘n ritueel waarop ek staatmaak. Die rede vir my dieprooi liefde lê helaas nie onder in die glas, tussen die geskribbel van ‘n doktersvoorskrif, op die rug van genetiese alkoholisme of selfs in die verskoning van ‘n werk, kinders grootmaak of diepe depressie nie. Ek steek nie my bottels agter die waspoeier of in my winterstewels weg nie. Ek gebruik nie broodgeld om die slukkie Stellenbosch te waardeer nie. Ek gaan nie myself verdedig met die Bybel in die een hand en ‘n lys van moontlike oorsake in die ander nie. Ek erken: ek het nie genoeg  kwessies, kwellinge, kwale of kak om konstant my kruik te klink nie, maar dat ek die smaak van gefermenteerde druiwe op my tong waardeer, is ‘n stelling wat ek met trots my eie maak.

Om wyn te drink los nie my probleme van slaaploosheid, ongeduld en irritasie op nie, maar melk, Fanta of groentee het my ook nog nie gehelp nie. Ek drink wyn want dit laat my lekker slaap, dit laat my lyf ontspan, dit maak die stemme in my kop so bietjie stiller en dit is vir my lekker. As daar nou een ding is wat my liewe skoonma my geleer het, is dit om vir my plesier te drink. Dis hoekom ek wegbly van bier, whiskey en harde hout.

Na ‘n dekade of wat het my tong en smaakreseptore effe snobisties geword. As student het ek nie geskrik vir dooswyn (sonder die doos) wat soos perske proe nie, maar waar ek myself nou in my “third-life-situation” bevind, trek ek my neus op vir suur druiwe of wyn wat soos asyn proe. Ek drink nou eksklusief uit glase uit… en die wyn word uit ordentlike bottels geskink.

In Armenia is die wynindustrie 4100 jaar voor Christus reeds opgeskryf, alhoewel bewyse van wyndrinkery reeds 7000 v.C. in China en 6000 v.C. in Georgia gevind is.  In Rome, Griekeland en selfs Egipte was wyn prominent betrokke by elke staatsrede, nagmaal en kindergeboorte (moontlik ook met die verwekking van hierdie kind). Jesus het water in wyn verander en wetenskap reken ons moet agt glase water per dag drink… ek trek dus die lyntjie.

Ek steek die draak, maar die waarheid is dat wyn selde verantwoordelik gehou kan word vir alkoholisme. Dis dalk die vertrekpunt, waarna emosionele bagasie die dryfveer word vir liggaamlike verslawing, maar soveel as 96% van alle alkoholiste drink selde wyn. Die The Le Clos wynwinkel op Dubai se lughawe, huisves tans die duurste bottels wyn op aarde. Château Margaux 2009 van Balthazar, skaflik geprys teen $195 000 elk laat my wenkbroue lig. Selfs al is daar 12 liter wyn in elke bottel, dink ek nie ek is sò dors nie. Die feit dat ek dit ook nie kan bekostig is, is nie nou ter sprake nie.

“ô-ô” mompel ek vir ‘n tweede keer. Hierdie keer kyk Manlief in my rigting. “Ek dink ek het hierdie glasie te vinnig gedrink en ek mag dalk ‘n spelfout gemaak het wat ek nie gaan optel nie en daar is die kans dat ek ‘n leesteken gaan mis en moontlik is daar ‘n toon waarop ek gaan trap en ek is nou weer besig om op hol te gaan met woord en sleutelbord wat so klikke-klak op die ritme wat die wyn deur my are laat borrel…”

Voordat ek egter die aftog blaas… voor ek my laaste druppel teug… voor ek my gedagtes die wêreld instuur, glimlag ek vir Manlief , want nes goeie wyn, het hy nie ‘n kransie nodig nie. Dis die gebaar van die vol bottel wat my verduidelik hoe onopsigtelik hy oplet en omgee, onvoorwaardelik. Dis die afwagting van my “ô-ô” en die onmiddelike antwoord, wat my laat verstaan dat een klank, nes een glasie wyn, die roetine, anker, standvastigheid en veiligheid van ‘n alledaagse bestaan geword het. En daarvoor, is ek vanaand dankbaar.

Skietgoed

Dit is nou maar stereotipies so dat hengelaars (of is dit nou visvangers?) spek kan skiet. Die vis word met elke oorvertelling (of is dit nou brandewyn?) so effens groter en die stryd met die monster van die water word ‘n sweterige, swetsende affêre. Dit is blykbaar ook die waarheid dat daar ‘n verskil tussen hengel en visvang is. Ek gaan nie uitlatings of aannames maak nie, want ek weet nie. Ons is baie lief vir skubaduik en my liefde vir die onderwaterlewe is dus aansienlik anders as die “vang-en-vreet” of “vis-vir-vermaak” tendense wat ‘n hoek, lyn, sinker en suur pap behels. Dis egter ‘n ernstige visserman wat my geleer het dat mislukkings ook normaal is: “dis aldag skietdag, maar nie aldag raakdag nie.”

Net so word die etiket van jagters in die veld, dikwels afgeskiet deur onkundiges. Moord, dieremishandeling, wreedaards, sielsiekes, drolle… ag, die onoorspronklike naamgewing van die anti-jaggemeenskap is genoeg rede om my oë te rol. Hulle kennis skiet te kort. Ek kan nie vertel van bokkoors of adrenalien of die plesier van ‘n sneller onder my vinger nie, want ek het nog nooit letterlik die vleis vir die tafel geskiet nie, maar ek het wel al ‘n groot boer sien huil oor hy ‘n eland gekwes het. Ek het al gesien hoe ses manne eer betoon aan ‘n koedoe wat met ‘n hartskoot platgetrek is. Dis ‘n groot wildjagter wat my geleer het om die nie-jagters met ‘n knippie sout op te neem: “gee hulle maar so bietjie skiet.”

As ouer, onderwyser, skrywer, student… ervaar ek ook die boksies waarin mense jou so graag wil druk. Ek moet my kinders soos ‘n tierwyf beskerm. Ek moenie vloek nie. Ek moet gesonde kosblikke pak. Ek moet omgee oor onopgemaakte beddens. Ek moenie spelfoute maak nie. Maar helaas, die koeël is deur die kerk geskiet en so het ek “amen” gespreek oor al die wat vanuit glashuise klippe slinger. Solank ons gesond en gelukkig is, steur ek my min aan die klassifiseringstelsel van die mensdom. Ek herinner myself daagliks: “moenie met koeëls na vinke skiet nie”.

Jagters skiet nie blind nie, maar tog skiet ‘n ster die mooiste in die donker. Ons word omring deur wandelende teenstellings op ‘n aarde waar hokke aanmekaargehou word met denkbeeldige spookasem. Die dokter is ook ‘n oupa. Die onderwyser is ook ‘n fisikus. Die eiendomsagent is ook ‘n kankeroorwinnaar. Die polisieman is ook homoseksueel. Geen mens op aarde is eendimensioneel nie, tog kan ons nie help om mense te begrens met etikette nie. Miskien, net miskien, as ons ophou om skietgoed te soek, sal minder mense gekwes word… en sal ons meer verras word.

 

 

 

Teenoorgestelde

Party mense bid knielend langs die katel. Ander verdoem gebed as snert. Sekeres soen sag en teer, terwyl ander lippe passievol eienaarskap van ‘n geliefde eis. Vegetariërs kyk met afsku na dieselfde skaaptjoppie wat my mond laat water. Terwyl koninklikes hoedjies en hooftooisels gebruik as normaal, vind ek giggelende vreugde in die vryheid van my kopvel.

Party mense spaar geld deur 10% van hul inkomste getrou weg te bêre. Ander koop eiendom, goud of aandele. Sekeres vind genot in die kletter van ‘n sleutelbord en die vorming van woorde op ‘n skerm, terwyl ander glimlag as die pen oor die papier gly. Drawwers se wenkbroue lig as ek vertel van my luilekker vakansie van niksdoen. Terwyl tannies en pensioenarisse brei en hekel dat die wol en gare spat, vind ek ontspanning tussen die bladsye van ‘n boek.

Party mense aanvaar Facebook as die sosiale vermaak wat ten doel stel om ons besig te hou. Ander beleef die mag as ‘n intense waarheid en gids tot die lewe. Sekeres kook volgens elke koppie en teelepel soos voorgeskryf word deur die resep, terwyl ander proe en bylas soos die smaak hul sintuie lei. Sakemanne en -vroue se lippe trek haarfyn ‘n streep as hulle my plat Crocs as klap in die gesig ervaar. Terwyl skoonheidspoppies ure voor die spieël staan en hul gesiggies inkleur, slaap ek eerder laat en word die maskara sommer in die hardloop misbruik.

Party mense lees hygromans, die Bybel, tydskrifte en die Sondag. Ander maak die woord van navorsers en slimkoppe wet. Sekeres soek ‘n harde matras, terwyl ander rugwerwels rus vind in sagte vere en donskomberse. Tandartse vermy vrugtesap en nie alle dokters glo in borsmelk nie.

Party mense lieg. Ander probeer nie eers nie. Party mense bespreek. Ander skinder blatant. Party mense dans op ritme. Ander vergat sommer net hul naam. Die aarde word bewandel deur alle vorme, geure en kleure… teenoorgesteldes en sinonieme en homofone en soortgelykes en fobe. En terwyl party mense sommer net vinger wys, dink ek die sukses van jou lewe lê in die vind van jou eie, persoonlike waarheid.

Skimp

Ek kry sommer vroeg vanjaar al ‘n prentjie-boodskap van Manlief: “Onthou… 2017 is die jaar om jou man te bederf” en die prentjie is ‘n allemintige, reuse elandbul wat geraam word deur die sakkende Afrika-son. Ek frons vir Manlief. Hy glimlag terug.

Die eerste dieet van die jaar is nog nie eers met skriflesing of gebed geopen nie, toe moes ek al aanhoor hoe sy mond darem maar water vir so stukkie koedoebiltong. “Selfs ‘n ou lewertjie gesmeer op roosterbrood sal nie sleg afgaan nie”, sug hy diep. Ek gee drie oogknippies. Hy glimlag terug.

Ons ontwaak net na Januarie maand ons finansieel tot hibernasie gedwing het, toe word daar op Facebook met etikette my herinner aan goeie winskopies vir springbokke in die Suide van Namibië en sommer so terloops word daar genoem dat Etihad ook nou goeie pryse bied op vliegkaartjies. Ek wonder hoekom springbokke soveel goedkoper is in die voormalige Suidwes en hoekom jagplase nie meer plek het vir gesinne, tensy jy bereid is om met ‘n nier en halwe long daarvoor te betaal nie. Ek rol my oë, maar hy glimlag net terug.

Februarie bring sy uitdagings. Ons verhuis. Ons verkleur. Ons verryk. Ons vertaal. Manlief koop nou al aanlyn jagtydskrifte en praat met heimwee van daardie 243 en 308 en 458, terwyl hy oor en oor op You Tube loer hoe jagters kolskoot skiet. Sy hart verlang bosveld toe. En dis ‘n verlange wat mens nie aan iemand kan beskryf nie, maar ek gaan probeer: Hy raak al hoe suiniger met die droëwors. Ek betrap hom waar hy oor sy vellies vryf en dit dan terugsit in die kas. Hy skink whiskey en in plaas daarvan dat hy dit sommer so saam met die rugby of om die braaivleisvuurtjie drink, gaan staan hy op die balkon en tuur uit oor die see. Sy baard word langer, dikker, weliger, maar sprake van in toom hou, is daar weinig. Ek besef egter dinge bereik nou breekpunt, want hy probeer my al weer oortuig van greinpunte en ladingsfoute, terwyl ek eintlik net 50 skaduwees van donkerder dinge wil klaar kyk. Ek kug. Hy glimlag net.

Goed, ek vang die skimp. My liewe, dierbare jagter, wat so getrou help wasgoed ophang en koffie aandra… onder jou kussing, in die koevertjie, is ons vliegkaartjies vir Julie vakansie… en jou bewys dat die buffel wag. Want as jy genoeg skimp, sal tot die jagweduwee antwoord. Ek glimlag, want hy glimlag.

Sonde

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

Dit was die eerste keer wat ‘n sinnetjie my ongemaklik laat voel het. Ek was in die Sondagskool en die tannie was eintlik baie gaaf. Alhoewel ek gedink het daar was te veel groen en goud op haar ooglede geverf en dat haar kuif nie wou beweeg nie as gevolg van ‘n oordadige hoeveelheid hairspray. Toegegee, dit was die vroeë tagtigs en haar pienk bloes met skouerkussings was hoogmode, al herinner dit my in 2017  aan Game of Thrones in neon. Ek vermoed uit keuse, het sy dit laat paar met ‘n geblomde romp wat so halfmas tussen knie en enkel gewapper het. Ek is nou nog onseker of sy té lank was vir ‘n lang romp of te kort vir ‘n knielengte skepping. Al wat ek onthou is dat die vuilpienk kant wat sy onderaan die romp vasgehekel het, begin torring het en dat ek gewonder het oor die wit hofskoene se wettige aspekte. Maar so is die kalf in die put… en is menige jongmens, wat se brein soos ‘n droë spons in die binne-oor lê en wag, onderwerp aan die wreedheid van ‘n Sondagskooljuffrou.

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

Ek het daardie Sondagaand al die groente op my bord geëet, al het die groen goed soos voete geproe en wou die rys nie met een happie op my vurk bly nie. Ek het grootoog in die donker lê en bid… toe opgespring en langs my bed gekniel en bid… want ek was nie seker of dit sonde was om te lê en bid nie. Hoe lank sou die lysie vol kruisies agter my naam wees? Is Liewe Jesus dan kwaad vir my oor ek gister ongehoorsaam was? En ek het ‘n ekstra koekie uit die blik gevat toe Ouma nie gekyk het nie. Is dit hoekom ek nie verlede Kersfees daardie gimnastiek-Barbie gekry het nie? Het Liewe Jesus my naam by Kersvader as “sondige kind” opgegee?

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

My maatjie se ma en pa is geskei. Blykbaar het haar pa so baie gedrink en toe een aand haar ma geslaan dat sy hospitaal toe moes gaan. Ek het al baie by hulle gaan kuier. Smeer sonde af aan ‘n mens? En die oom wat oorkant die pad bly sny elke Saterdag hulle grasperk met ‘n kaal bolyf. My ma sê dis sonde om kaal rond te loop… maar wat van half-kaal? As daar nie klein en groot sonde is nie, is daar tog seker nie heel en halwe sondes nie?

“Sonde is sonde.”

As grootmens sien ek natuurlik die woorde in ‘n groter konteks raak, maar die skade is berokken. Nie onherstelbaar nie, maar genoeg dat ek nie meer wakker lê oor sonde nie. Ek verstaan die kritiek wat my kant toe kom oor hoe ek my kinders grootmaak: ek weier om hulle te leer van sonde. Ons glo nie in die hel nie. Ons soek nie die duiwel nie. Sien, ek is oortuig dat ek ons soveel fokus op sonde… dat ons soveel klem lê op alles wat sleg en verkeerd is…. dat ons so graag wil onderskei tussen reg en verkeerd… dat ons te maklik vergeet van die vergifnis.

Vergifnis is groter as enige sonde, klein of groot. Vergifnis is meer kragtig as enige dreigement van ‘n kruisie agter jou naam. Vergifnis maak jou vry van alle aardse boeie.

Sonde is net sonde, as jy nie kan vergewe nie.

Trane

Vanaand dink ek aan ‘n persoon wat duisende kilometers ver weg haar eie oorlog veg. Oor bottels wyn, saam met patee en pizza en poeding, deur trauma en vreugde is ons vriendskap gevorm, soveel meer as ‘n blote bloedband of oppervlakkige kennisname.

Ek huil oor haar, want ek verlang. Toe maak ek boonop die fout om Grey’s Anatomy se nuutste episode te kyk. Ek weet dit is nou nie so opwindend soos die afgelope week se 7de Laan nie, maar nietemin, is ek vanaand emosioneel broos gelaat deur die gebeure op ‘n televisieskerm.

Een tongtippie-toets, wat moontlik ‘n mangelwassery kon wees, het Suid-Afrika aan die oor beet. Oor sosiale media van alle vorme word daar gegis en gegons oor die effek en nagevolg van een kus. Was dit die soen van Judas? Was dit bloot normaal? En wie se normaal sal dit dan wees? Hoe durf een standaard manlike spesie ‘n ander se bek uit lek? Die Bybel verdoem dit dan. Hier in die Midde Ooste sal jy óf gestenig óf in die tronk opgesluit word as jy sou besluit om iemand van dieselfde geslag openlik te liefkoos. Die woord “tongknoper” kry sommer nuwe betekenis. 7de Laan verskuif grense. Nou dààr is ‘n sin wat ek nie gedink het ek sal ooit uiter nie. Nodeloos om te sê, is almal nie ewe ingenome met hierdie liplek-lekkerte nie, maar immers praat mense nou oor iets anders as politiek.

Ek is nie een vir oordeel nie. Ek leef en laat leef. Noem my maar selfsugtig, maar ek bemoei my liefs met die sake van my eie sielsrus. Perfek is ek nie. Foutloos beslis nie. ‘n Glashuis is my woning nie, Totius sou verstaan. So ek giggel in my binnemou oor die herrie van die Laan en ek grinnik as ek die konserwatiewe, Calvinistiese, veroordelende opinies lees van die sogenaamde alomwetendes.

My hart huil egter vanaand. Die hopie snotsnesies en rooi, verhewe oë getuig van my weemoed. Ek begeer, groter as enige materiële hebsug, meer as enige vrede op aarde, om vanaand daardie persoon ‘n drukkie te kan gee. Ek sal wyn opgee as ek net saam met jou kan huil.  Ek sal vir veertig dae vas van sjokolade en roomys, as ek net jou kan oortuig van my omgee. Ek sal vloek afsweer en my bankrekening leegmaak, om net vanaand vir JOU… net vir JOU te kan vashou, want ek weet jy het dit nodig. Jy veg jou oorlog teen die aggressors wat nie gesien kan word nie: die dood, die werksdruk, die finansiële angs, vrees vir die onbekende en die glimlag wat nie vanself wil kom nie… en dan raak die volk ongeskik oor ‘n soen. Dit laat my effe histeries. Ek kyk eerder Grey’s as 7de Laan. In Grey’s veg hulle vir asems en leef hulle nie net vir ‘n snak daarna nie. My punt? In plaas van leef om vinger te swaai, leef ek eerder na aan trane.