Joost

Ek weet nie veel van rugby af nie. Daar is ‘n bal en ‘n klomp hygende mans wat agter die ding aanhol, op soek na ‘n drie wat vyf punte tel. Daar is ‘n stel-, straf en doelskop, maar wat die verskil is, weet ek nie. Dalk het dit te doen met watter kant toe die man moet skop.  Ek verstaan dat ‘n laatlam soos ‘n oorstootdrie in beseringstyd is. Ek begryp dat rugby die nasie meer op hol jaag as SONA2017 en dat die Springbokafrigter selde gewild is. Ek weet wel van Joost… die nommer 9 skrumskakel van die 1995-gedoente wat met MND gediagnoseer is in 2011 en wat vyf dae gelede sy spel in die hemel afgeskop het.

6 Februarie 2017.

Tussen eergister en vandag het ek egter besef hoe vinnig mense aanbeweeg. Drie dae gelede was dit net Joost, Joost, Joost. Die troon. Die eer en erkenning. Die tranedal en ontvlugting. Elkeen vertel sy storie. Kunstenaars probeer ‘n rand of twee verdien uit sy dood deur liedjies aan hom op te dra, gesiggies op A3 papier te skets en die Huisgenoot te probeer oortuig hoe “close” hulle eintlik was.  Toe is dit Riaan, Riaan. Die simpel Riaan Lucas, wat Spiderman se alter-ego misbruik het om sy eie, kranksinnige, rassistiese emosie uit te beeld. Woede, aggressie… al die “hoe kan hy?” en “ons sal hom kry” en “die lafaard” laat my oë drie keer in my kop omrol. En vanoggend was sosiale media weer vol van selfsugtige statusse. “My engel se laaste Valentynsbal”, gevolg met 3000+ foto’s van ‘n rok wat lyk soos ‘n Venus vlieëvanger wat ‘n koedoebul aan die stert beetgekry het. “Wa kan ek my naals laat doen wat ni i arim en beun gan kos ni?” Berge val op my. Vat die geld en gaan vir ‘n spelkursus. “Wasmasjien te koop. Maak my offers.” Goed, toe “offer” ek ‘n aanbod van R10.23. Mense deel weer resepte, breipatrone, idees vir jou agterstoep en toe die sirkus wat homself as Suid-Afrika se staatsrede voordoen.

Ons staan nie stil nie. Treur nie. Rou nie. Ons pik ‘n traan, kyk om ons rond om seker te maak iemand het die traan gesien en dan gaan verf ons ons naels, verkoop ons ‘n wasmasjien en vier ons die laaste Valentynsbal. Verby is die sewe dae shiva, vandag is dit dertig sekondes van stilte. Dis nie net met hartseer die geval nie. Euforie se denouement is ook gekompakteer. Opwinding hou so lank soos Starbucks se karamel frappuccino.

Stop. Haal asem. Kyk. Neem in. Prosesseer. Leef. Nie net om dit op Facebook te plaas nie, maar om dit te onthou. Om die gevoel te koester en die glimlag vir jare te kan beskerm. Maak elke oomblik jou lewenslange eie.

Joost, ek het jou nie geken nie. Maar vir die volgende sewe dae dra ek elke dag swart om oor jou te rou. En om my te herinner, dat alles nie in rekordtyd afgehandel behoort te word nie. Doekvoet. Stadig oor die klippe. Want haastige hond, verbrand sy mond.  En nie eers blitsige skrumskakels lewe vir altyd op spoed nie.

Advertisements

Myne

 

My mense was hier. Om my arm hang Sus se omgee-armbandjie. In die asblik lê die laaste bierblikkie wat my boetie gedrink het. Teen die kamermuur is my tweejarige nefie se voetspoortjie gedruk. Ek besluit om dit nie af te was nie, want as ek oor ‘n paar dae dink dit was alles net ‘n droom, gaan hierdie as bewysstuk van die teendeel dien. Ek hang die houthartjies van Afrika, woestyn toe gevlieg deur my dierbare skoonma teen die muur en draai die klein engeltjies sodat hulle vorentoe kyk. Ek maak huis skoon: was die vloere, gooi die lakens in die masjien, stof die rakke af en pak alle oorblyfsels van Kersfees weg. My huis is weer skoon. Stil. Myne.

My spognuwe horlosie, via my man, deur Kersvader afgelewer herinner my aan my afwesige nuwejaarsvoorneme. Ek gooi Desember se kalender, met ‘n sug weg. Dit getuig van ‘n bedrywige tyd vol besienswaardighede, uitstappies, opwinding en etes in allerlei plekkies. My tyd is weer beskikbaar. Oop. Myne.

My handsak word omgedop. Strokies en ingangskaartjies en bankslippies en bewyse van betalings laat my grootoog wonder hoe die banksake staan. Wat ‘n wonderlike voorreg om my kinders te kon bederf, restaurantrekeninge te betaal en seker te maak dat die wisselkoers nie my mense verarm nie. Welgeluksalig is ek in die wete dat plastiek geduldig is en my kredietkaart nie rente vra nie. My salaris is inbetaal. Genadiglik. Myne.

 

Die sitkamer is skoon en stil. My dagboek is oop en hoopvol. My bankrekening huil nie meer nie. My huis, tyd en geld is weer myne. In hierdie selfsugtige oomblik van helderheid, weet ek dat ek daarvan hou om te deel. Die die vol, deurmekaar en soms vuil huis, waar gelag, gesels en gespeel is… dis die besige tyd van min slaap, rondwys, sakke pak en baie kilometers ry… dis my leë bankrekening, krankige koskaste en die wete dat die belt so bietjie stywer getrek moet word… dis die selfoon propvol foto’s en videos… dis die vuil voetstrepies teen die muur en die glimlag in my hart en mond… DIT is die dinge wat ek trots is om te sê: dis MYNE.

Erkentenis

Sekere dinge is nie maklik om te erken nie: soos dat ek te veel vloek, te veel roomys skelm uit die bak uit eet, te veel huis toe verlang en dat ek vir die Cheetahs skree. Ek ken ten minste twee van Liani May se liedjies, al hou ek nie van haar stem nie en ek weet nie altyd wat is die regte ding om te sê nie. Ek erken dat ek vergeetagtig is, dat die wag voor my mond te veel met verlof is en dat my voorliefde vir soetgoed nie altyd met selfdissipline beheer kan word nie.

Ander dinge is baie makliker om te erken: ek het nie ‘n natuurlike aanleg vir sport nie, ek hou nie van geel nie, haat die smaak van whiskey, ek speel skaak, X-box en ek bou skelm my kinders se legkaarte. Ek erken dat ek nooit ‘n vegetariër sal kan wees nie, dat ek hou van rooiwyn drink en dat Afrikaans maar my geliefde taal is, al kom ons uit die kombuis en is ons nie in die universiteite welkom nie.

Ek bewonder die vrou wat sterk staan vanaand en haar hartseer, weemoed en verlange erken. Ek kyk met heldeverering na hoe sy haar hart op haar mou dra en ten spyte van haar beeld en reputasie, nie vra vir bejammering nie, maar smeek om begrip. Ek staar sonder skroom hoe sy haarself oplig, opkyk en voortbeur, terwyl die trane oor haar wange rol.

Ek lees die boodskap van wroeging. Die letters begin swem op my selfoonskerm en ek kan nie help om te wonder hoeveel moed dit geneem het om die erkentenis te maak nie. Help my. Ek het ‘n eina in my binneste wat niemand kan heelmaak nie. Geen pleister of salfie sal deug nie. Daar is nie woorde vir hierdie gebroke siel nie en ek kan ook nie met oortuiging sê dat tyd alle wonde sal genees nie. Maar hy gaan slaap met die hoop dat more nuwe moed, nuwe krag, nuwe oplossings sal bring, al is hy lank verby omkeer.

Sy erken sy is swanger… en dis nie haar man se DNA wat in haar baarmoeder setel nie. Hy erken hy is verlief… op ‘n ander man. Sy erken sy haat haar man oor hy selfmoord gepleeg het, al mis sy hom steeds. Hy erken hy voel magteloos oor hy nie sy ma kan vashou in hierdie uur van hartseer nie. Sy erken haar knieë swik. Hy erken sy skouers is nie sterk genoeg nie.

Ons erken te min. Ons is bang oor wat die mense gaan sê. Ons moet mos kranig wees, bewonder word vir innerlike krag en geestelike groei. Se moer. Te hel met hierdie storie dat ons moet sterk wees en moet voorgee asof ons oukei is. Soms is ons nie oukei nie… en dis ook oukei.

Basuin dit uit. Vra vir hulp. Sê as ek jou alleen moet los. Erken jou kwaal. Erken jou nood. Want in jou eerlike erkenning, lê die eerste treë na genesing.

 

 

R100

Ek was ‘n buitestaander. ‘n Ooggetuie. ‘n Onpartydige, objektiewe toeskouer. En hierdie is my eerlike, opregte, waarneming:

Sy het die borgvorm geneem en ‘n R100 noot gegee. Sonder om te aarsel het sy haar beursie uitgehaal, vriendelik vir die persoon geglimlag en sommer so vinnig haar naam op die papier geskribbel. Die persoon wat die borgvorm vasgehou het, het neus opgetrek en diep gesug. Wat is R100 deesdae? Jy kan nie eers een sakkie by Woolworths koop met R100 nie. Jy kan nie jou hare laat sny, gaan fliek én springmielies eet of na die Springbokke gaan kyk as hulle op Ellispark speel nie. R100 kan nie vir jou ‘n selfoon, rondte gholf of ‘n doktersbesoek koop nie.

Hy het die borgvorm geneem en ‘n R10 000 bydrae gelewer. Die persoon wat die borgvorm vasgehou het, het oopmond en met heldeverering gestaan en staar na die onbaatsugtige gebaar van die held. Met R10 000 kan die vliegtuigkaartjie om saam met die sportspan te gaan toer, betaal word. R10 000 kan sonder skroom aangewend word vir ‘n reistas, nuwe skoene én sakgeld, want die wisselkoers tussen die rand en die pond gee ouers sooibrand en slapelose nagte.

Daar word feesgevier oor R10 000 en vergeet van die R100.

Dis maklik om die kwantitatiewe te meet. Dis maklik om vriendskap en wonderwerke en goedhartigheid en vrygewigheid te meet aan rand en sent, die grootte van ‘n geskenk en die uitspattigheid van ‘n partytjie. Groter is mos beter, dan nie?

Maar hier lê die geheim, my waarneming, gevolgtrekking en objektiewe lewensles: SY het R100 gegee en HY het R10000 geskenk. Die verskil is dat HY ‘n R1 miljoen het en SY het net R100… gehad.

Wonderwerk

Meeste mense gaan werk, begroot, spaar ‘n rand of twee en wag geduldig vir hul skip om in te kom. Hulle kla oor misdaad, braai oor naweke, kyk met afgryse in hul oë hoe die Rose die Bokke se horings kraak en is elke aand dankbaar vir die bord kos op hul tafels en dak oor hul kop. In die bed wonder hulle of al die vensters gesluit is, die alarm gaan werk as die krag afgaan en of die kinders gaan deurslaap vanaand.

Meeste mense steur hulle nie veel aan die feit dat Donald Trump nou toegang het tot atomiese bomme nie. Hulle gee nie om of Beyonce nog ‘n nommer een op die BillBoards het nie. Brexit het hulle nie direk beïnvloed nie, inteendeel, meeste mense weet nie eers presies wat Brexit is nie. Meeste mense weet dat hulle agt glase water per dag moet drink, hul selfone deur die nag moet herlaai en hul motors elke 15000 km moet stuur vir ‘n diens.

Meeste mense is verantwoordelike burgers wat belasting betaal, seker maak hul kinders doen hul huiswerk, deel is van die buurtwag en darem so dan en wan die Bybel oopmaak. Meeste mense wil nie betrokke raak by die bure se sage, die wit plakkerskampe of politiek nie. Hul salarisstrokies word saam met pinkodes, die geërfde Krugermunt en alles wat nie vir kinderoë bedoel is nie, agter in hul hangkaste weggesteek, onder die onderklere of in ‘n skoenboks onder die wintersjasse.

Meeste mense glo nie regtig in die bonatuurlike nie. Spoke en geeste is bangmaakstories wat slegs by kampvure bespreek word. Ruimtewesens, VVV’s en groen mannetjies wat eksperimente om ons wil doen is lagwekkend. Wonderwerke is net vir Huisgenoot se doeleindes bedoel en heuning en gemmer kan dalk help vir verkoue, maar drastiese medikasie is nodig vir kanker en kinkhoes.

 

Intussen staan die juffrou daagliks voor die klas, met ‘n gebreekte hart en ‘n leë bankrekening, maar sy inspireer en motiveer. Die verpleegster steek haar blou oog onder nog ‘n lagie grimering weg, hy het mos belowe dit was die laaste keer en met ‘n vriendelike glimlag ruil sy die ou oom se bedpan en die kind se verbande. Die motorwerktuigkundige dink onophoudelike aan die kind wat sy eksvrou van hom weghou, maar hy maak seker die wiele is styf genoeg vas en die lek is dig geseël, want hy soek net olie, en nie bloed nie, op sy hande. In die DBV se adminkantoor, sluk die assistent aan trane oor die baba wat nie wil nesskop in haar nie, maar sy vryf die katjies ekstra lank en gee die honde so bietjie meer kos as gewoonlik. Die eerlike prokureur (ja, hy bestaan) kan nie aan die slaap raak in sy peperduur nuwe bed nie, want hy dink aan die kind wat deur haar Oupa gemolesteer is en vanaand in die kinderhuis moet slaap. Die tronkbewaarder bid vir die verkragters. Die minister deel sy salaris met die plaaslike skool se boekefonds.

‘n Wonderwerk hoef nie ‘n skouspelagtige gebeurtenis te wees nie. Dit hoef nie die aarde te skud, vigs genees, hongersnood verlig of selfs ‘n groot maan sigbaar te maak nie. Wonderwerke word nie net onder in grotte gevind nie. Mens hoef nie ‘n ark te bou, die see te skei of met ‘n brandende bos te praat om ‘n wonderwerk te ervaar nie. ‘n Wonderwerk kan bloot ‘n klein stukkie opregte omgee wees. Wonderwerke gebeur daagliks. Dit gebeur oral en gereeld. Meeste van ons kan dit sien en ervaar, maar meeste van ons wag eerder op ons skip se koms.

Skoonma

Skoonma is vir duisende vrouens (en mans) ‘n groter vloekwoord as lastertaal. Uit ‘n vroulike perspektief moet ek natuurlik weet dat ‘n skoonma my nooit gaan goedkeur nie, want ek sal eenvoudig nooit goed genoeg wees vir haar seuntjie nie. Ek sal altyd agter sy beursie, status of goedhartigheid wil skuil… of só sal ‘n skoonmammie redeneer.

Skoonma stap jou huis binne, trek haar vinger oor die vensterraam, koffietafel en boekrak, op soek na mikroskopiese bewyse van stof, sodat sy jou kan klassifiseer as lui en/of vuil. Skoonma weet beter en vinniger as die skaal of jy gewig opgetel het tydens jou laaste vakansie en sal nie skroom om haar eerlike mening te lug oor jou gesondheid nie.

Met die verlowingspartytjie moet ‘n skoonma harder huil as jy en jou ma saam en sy moet aandring daarop dat haar seun die beste keuse gemaak het… as dit by die ring kom, natuurlik. Sy sal inmeng op elke moontlike vlak van die troue en raad oor hoe en waar julle moet bly, waarmee julle moet ry en hoe julle tussen die lakens moet gly sal deel word van haar diensplig. Behoede jou as jy jou kinders kry en in ‘n 100 km radius van jou skoonma bly, want wees gereed: sy gaan inmeng. Sy het immers die beste seun op aarde grootgemaak, so haar resep is onfeilbaar. Alles van koors tot die keuse van doeke sal deur haar veroordeel, beoordeel, geoordeel word.

Vir die volgende paar jaar gaan jy, jou man en jou skoonma ‘n span maak. Alles van finansies, geloof, skoolfonds en hoeveel kinders julle moet hê sal deur haar afgeteken word.

Ek is nie veronderstel om van my skoonma te hou nie. Maar ek het van haar gehou lank voor sy my skoonma was. En sy is glad nie tipies nie. Sy is eerlik, want sy weet van haar kinders se tekortkominge. Sy is opreg, want sy baklei net so hard met my soos met haar bloedkinders. Sy is vol omgee en vrede wat bewaar moet word en onvoorwaardelike liefde. Vanaand wens ons al vier ons kon die kilometers sentimeters maak. Ons wens ons kon Ma sestig drukkies gee. Ons wens ons kon Ma sestig keer sestig maal gelukwens. Ons wens ons kon hierdie groot verjaardag saam met Ma vier. Nie omdat dit my plig as skoondogter is nie, maar omdat Ma eintlik nog nooit my skoonma was nie… sommer net Ma. Dis maklik om vir Ma lief te wees. Dis maklik om Ma te mis. Dis nie so maklik om dit te sê nie, want sê nou net Ma VOEL dit nie ook nie? Maar hier gaan ek, namens ons:

“Ons weet Ma dra swaar aan die verlange, maar tog maak Ma dit vir ons makliker. Ons verstaan Ma mis die kleinkinders, tog voel ons daagliks Ma se omgee. Ons wense hier uit die woestyn is dat die vreugde die hartseer sal oorskadu. Mag die wysheid in oorvloed spoel, Ma se beker van vreugde oorloop en Ma die seëninge as grensloos ervaar. Baie geluk met Ma se verjaardag… en dankie dat Ma nog nie een dag ‘n skoonma was nie”

 

Worshond

Ons het vir veertien jaar lank ‘n worshond gehad. Laat ek net heeltemal wetenskaplik korrek na ons eerste kind verwys: “basterbrakkie wat meer as 75% geneties miniatuur worshond was en die res… was immers pure hond.”

Ek het so hard en lelik gehuil die dag wat ek haar moes vat die inspuiting, dat die veearts my nie eers R12 gevra het vir die twee bokse No Name snesies wat ek natgesnuif het nie. Hy het seker gereken ek is ‘n óf baie spesiaal, baie melodramaties of baie gevaarlik, maar dis nie eintlik die punt wat ek wil maak nie.

Tinkerbell van Tonder, my opregte worsekind, het my ongelooflik baie van die wêreld geleer. Sy het my geleer dat mens aanneemkinders soos jou eie kan grootmaak, want sy was nooit geneties ‘n De Wet nie, maar haar plek in my hart het nie genetiese kode gevra nie. Sy het haar weg tot in ons bed gevind twee weke na haar geboorte. Ek het in die nag opgestaan om haar te voed en het nie skaam gekry om na haar as my bottelbaba te verwys nie. In liefde en karakter is ek tienvoudig beloon.

Die hart van ‘n worshond is groter as die kakebeen van ‘n boerbul of die kop van ‘n rotweiller. Die hart van ‘n worshond kan nie in ‘n spieël gesien of op ‘n Richterskaal gemeet word nie. Worshonde is mini-aggressie-bolle vol durf en moed wat jy beslis nie sonder ‘n handskoen aanpak nie.  Hul deursettingsvermoë ken nie perke nie en hul vegtersgees ken nie gelyke nie. Die begrip en aanvoeling van ‘n worshond laat my deur ‘n ander bril na ander mense kyk.

Die siel van ‘n worshond is allermins oppervlakkig. Na ‘n miskraam kom lê Tinkerbell teen my lyf en huil sy saam. Met ‘n verjaardag, kry sy die eerste stukkie koek. Met elke doop, verskyn sy saam op die familiefoto’s. Sy is onlosmaaklik deel van ons gesin. Sal vir altyd wees.

Vanoggend kyk ek na die protesoptogte in Suid-Afrika. Dan lees ek die Afrikaners se boodskappe van gatvolgeit en hoop en woede en vrees en nog hoop en angs en waagmoed en durf en nog hoop. Is ons die spreekwoordelik worshonde van Afrika? Die wat net eenvoudig nie gaan lê nie? Die wat nie ophou blaf in Afrikaans nie, want ons geliefdes moet ten alle koste beskerm word? Die wat nie werklik ‘n kans staan teen die basters en straatbrakke en onopgevoede wolwe wat in massas beweeg nie, maar steeds aanhou en uithou en byhou? Ek wil sò graag… ek wil soooooooooo graag glo in die toekoms: ek gryp verbete na elke grashalm van genade en koester die laaste klein vlam van hoop in my binnekamer en ek bevind myself dat ek harder en leliker huil oor my land, as oor my Tinkerbell, want immers het sy nie gely nie.