Rook gerus

Kyk, ek is nie ‘n prediker, preker of predikant nie. Ek lig so nou en dan ‘n wenkbrou, maar as dit nie ‘n kwessie van lewe en dood is in my binnekring nie, ignoreer ek nogal maklik ander se sake. Ek is nou nie hoogheilig nie, allermins perfek en in ‘n glashuis sal ek ook nie kan bly nie, maar dat ek ‘n wil van my eie het, is die reine waarheid. Die laaste paar weke is ek telkemale vasgevang in die oorlog tussen rokers en nie-rokers. Na navorsing om die braaivleisvuur en in die kombuis, na gesprekke met die walmweses en die rookvryes, na artikels en advertensies… wil ek graag vir alle rokers sê: rook gerus.

Ek moet egter byvoeg: MAAR…

Rook gerus, maar dan wil ek asseblief nie klagtes aanhoor oor jy nou al oor die R40 vir twintig suigstokkies moet opdok nie. Ek sukkel om die logika agter jou finansiële moeilikheid te verstaan as jy ‘n dosyn tabaktakkies daagliks kan laat verdwyn, maar jy wil nie jou eie vleisie bring as ons braai nie, want jy het nie geld nie.

Rook gerus, maar moet my dan asseblief nie kwalik neem as ek nie langs jou aan etenstafel wil sit nie. Die geur van ‘n Stywe Sant lê dalk lekker in jou neusholte, maar dis vir my minder aangenaam. Moet dan ook asseblief nie verklaar dat ek dink ek is beter as jy net omdat ek nie in die rokersafdeling by die restaurant wil sit nie. Ek wil my kos proe, dankie.

Rook gerus, maar as jy hoes en proes, kug en sug, terwyl jou longe hande klap vir pouse, moet asseblief nie van my verwag om simpatiek te vra wat nou (weer) fout is nie.

Rook gerus, maar ek gaan nie my storie tot halt roep tot jou wederkoms nie. Ek wil aanhoudend kuier. Ek smeek maar jou vergifnis as ek na jou gevlekte naels en tabaktande staar, dit is maar vir my vreemd.

Rook gerus, maar moenie mompel en mor oor hoe koud dit buite is in die middel van die winter nie. Ek is nie seksisties, rassisties of enige -isties net omdat ek nie wil hê jy moet in my huis rook nie. My huis, my reëls. Ek sal nie boontjies eet en aspris in jou kombuis gaan staan en poep nie, so moet asseblief nie daaraan dink om in my sitkamer te kom sit en rook nie.

Rook gerus, maar asseblief tel jou stompies op en gooi dit in die asblik. Blaas asseblief jou wolkwolle weg van my kinders af. En verskoon maar as ek nies oor jou reukwater nie regtig jou reukroes verdoesel nie. My sinusholtes is maar sensitief.

Ek sal nie kla as ek in die kroeg staan nie. Dis ‘n rokersvriendelike plek. Ek sal my bes probeer om nie te preek nie. Ek gun jou elke trek, elke oomblik van vreugde en elke spanningsverligting wat jy ervaar met elke nikotienbelaaide asemteug. Ek salueer jou weiering om op te gee. Ek respekteer dat dit jou keuse is en nie jou verslawing nie. Ek erken jou besef dat jy nie ‘n slaaf is nie, maar ‘n vrywilliger. Ek sal jou met ope arms ontvang en onthaal, ek sal gesels en uitvra en nie ‘n wenkbrou lig as jy eenkant toe tree en ‘n liggie gebruik om jou trekpleister te laat vlam vat nie. Ek sal steeds van jou hou, liewe roker, maar ongelukkig is dit voorwaardelik.

 

Advertisements

Akademies

Enige ondersoek noodsaak ‘n bepaalde lens waardeur daar na die navorsingsvraag, ontwerp en metodologie gekyk word (Engelbrecht, 2009). Om ‘n kwalitatiewe, kritiese diskoers-analise as teoretiewe raamwerk te gebruik, behels ‘n filosofiese vertrekpunt (Cresswell, 1994)  en binne die ideologiese paradigma van perspektiewe konstruksie, word die institusionele struktuur van ‘n ontologiese onderhandeling dinamies gekonstrueer (Durrheim, 2002). Akademiese taal is allermins nie altyd romanties nie (DeWet, 2017).

Eintlik is die waarheid dat ek tans met verlof is. Wel, behoort te wees. Nee, ek is. Dit is immers 10:21 op ‘n Dinsdag en ek sit nog in slaapklere, met ongeborselde tande en deurmekaar hare, op die sonstoep. Ek distansieer myself van ander mense, want na gisteraand se wyn, Amarula en gin & tonic, dink ek daar perspereer suiwer alkohol deur my porieë wat allermins welriekend is. My ma dra roosterbrood met appelkooskonfyt en dik stukke kaas aan. My pa maak die lekkerste, soetste boeretroos en kom soek geselskap waar ek sit-lê en probeer om akademiese artikels te lees. Die worshond (sy is verstandelik spesiaal georiënteerd) se tong hang skeef tot op die grond soos sy haar oggendkiep inwerk. Ek poog weer om op multi-geletterdheid en die skep van ‘n voorlegging te konsentreer.

My aandag word afgelei deur die woord “diskoers” wat my des moers van koers af slaan, naas die woord “paradigma” wat my aan ‘n dom (dig) prostituut (para) met kinders (ma) herinner. Tussen die magswerking (geen verband met politiek) van epistemologie (dis nie wanneer vrouens in kraam geknip word nie) en filosofie (blykbaar nie die deeg wat bo-op pasteie gebruik word nie) wil die kreukels en voue van my brein nie vanoggend die inhoud van akademici verwerk nie. Ek weet dat ek moet evalueer en ontdek en my benadering moet aanpas en ek sweer, ek wil, maar die kapasiteit beskaam.

My vingers verdwaal na Facebook. My ore word aan die musiek van die bure geleen. My oë wandel na die tekenprent van ‘n otter en ‘n vlermuis op televisie. Ek wil slimmer word. Ek wil my meestersgraad met lekkerkry klaarkry, maar vanoggend is dit net swaarkry. Die woorde met sewe lettergrepe laat my droëbek sit en staar. Navorsingsbelanghebbendes traak my nie veel nie. Ek wil slimmer word, maar die verkennende studie se dilemma druk teen my slape. Ek wil slimmer word, maar nie vandag nie. Miskien more.

En voor die preke van stapel gestuur word, laat ek met ‘n bietjie akademiese vernuf afsluit:

“Studies gedoen deur die Universiteit van Ontario bewys reeds in 1978 dat die menslike kapasiteit om effektief te leer, geinhibeer kan word deur dwangstudie. In 2004 verklaar prof. Bellinger van die Universiteit van Minnesota dat studente wat sommige dae eenvoudig niks doen nie, meer konstruktief betrokke is by hul studieroosters. Malcolm Gladwell reken dat mens tien duisend ure aan ‘n saak moet wy om sukses te kan ervaar, maar navorsing deur Harvard Universiteit bewys die teendeel. Om jou brein te ooreis het meer newe-effekte as voordele. En Chantelle de Wet, van die Wynhuisie Kollege vir mense wat blare in hul slaai verpes, bewys in Junie 2017 dat niksdoen, soms lekker en nodig is. Klaar.”

 

Sorrie

So sit ons toe gisteraand langs die braaivleisvuur. Ons is in Amanzimtoti aan die Natalse Suidkus en die publieke area wat bedoel is vir al 80 woonstelle se honger vakansiegangers, is besig. Langs ons staan ‘n gesin van drie, al die pad van Vereeniging af. Die laaitie se naam heet iets met ‘n K. Die pa het homself nie voorgestel nie en Mamma is te besig om aan haar pienk vloeistof in ‘n botteltjie te teug. Ek en my ouers sit rustig en lag en gesels, maar so oor my eie ma se skouer neem ek waar hoe die pappa van die Vaaldriehoek bier drink soos net ‘n baie dors man kan. ‘n Dors wat duidelik nie geles kan word nie. My kaalvoetkinders speel met K. Ons drink wyn en die mense van V-town sluk uit botteltjies. Almal is gesellig.

Toe hulle wors al verby gaar is en die biefstuk reïnkarneer tot ‘n miskruier, staan die man met ‘n sug op en gooi die leë glasbotteltjie in die asdrom. Ongelukkig is die asdrom ook leeg en klingel-klangel-klongel daai glas teen die rante van die drom. Al die mense draai hul nekke om te sien waar die geraas vandaan kom. Dis toe wat die man my verbaas. Hy vryf sagkens met sy hand oor die kant van die drom en fluister (onsuksesvol): “Sorrie hoor”.

Ek wou opkrul van die lag, maar in my binneste het ietsie geroer. Nie oor ek die woord “sorrie” so verafsku nie, maar oor die onvoorwaardelike verskoning wat so maklik geuiter is.  Hoekom het ons ses/sewe biere nodig voordat ons om verskoning vra? Hoekom sukkel die mensdom so om jammer te sê? En hoekom wil ons uitbars van die lag as ons iemand anders dit hoor uiter?

Ek dink oorloë kon vermy word, as leiers net kon jammer sê. Egskeidings kon verhoed word, gebroke harte kon heelgemaak word en familiedrama kon verminder… as iemand net kon sorrie sê. Vergifnis is onmoontlik as daar nie eers ‘n jammerte is nie.

Ek trap gereeld op tone, dikwels onwetend. Ek laat ore brand met ‘n skerp tong en bitsige humeur. My sin vir humor, met swak tydsberekening laat dikwels vir ongemaklike situasies en die taktlose, etiketlose en roekelose metodes waarmee ek my bestaan voer, laat mense nie altyd saamstem nie. Die woorde klink dalk kômmin, onopreg en geforseerd, maar die bedoeling kom vanuit die hart: sorrie hoor. Ek moet êrens begin. Die man in sy vals Crocs en geskeurde broek het by die asdrom vertrek. Miskien moet die les hier geleer word: dat die mense wat ons soos vullis behandel, dalk die verskoning, die nodigste het.

Ambassade

Kadawerklets: die etiket wat ek om die nek hang van mense wat net kan kerm en kla. Nie net maak dit positiwiteit dood nie, maar dit maak ook my lus vir die lewe kruppel loop. Vanaand het ek egter die intense behoefte om so bietjie stoom af te blaas.

Hier moet egter in ag geneem word dat ek eintlik met ‘n witbrood onder die arm kla. Ons bly in ‘n land waar ek met oop deure slaap en waar my karsleutels en handsak binne die kar gelos word. Ons betaal nie belasting of medies nie en komende Donderdag begin my betaalde verlof wat my vir nege weke die geleentheid gun om te gaan rus.

Dis egter juis genoemde vakansie wat my tot op die patio van die duiwel gelei het, naamlik die Suid-Afrikaanse Ambassade in Abu Dhabi. Dit was letterlik so warm soos Satan se stoep vandag: ‘n allemintig 53 grade celsius. Gewapen met elke moontlike stukkie papierwerk, ‘n bloedmonster, botteltjie uriene en ses foto’s in elke moontlike vorm en grootte, daag ons gesin vanoggend 8:30 op… voor dooiemansdeur. Die webtuiste se tye is verkeerd en ons is ‘n uur te vroeg. Ek haal diep asem en ons gaan soek koeldrank. 55 minute later is ons terug.

Die kamertjie is treurig. Oom Jacob glimlag uit ‘n Crazy Store fotoraam vir ons, langs drie hooggeplaasdes wat nie eers vir my vaagweg bekend lyk nie. Die banke huil vir nuwe stoffering, die gordyne is ‘n tragedie wat Nataniël na ‘n rowwe, onbeskofte bloubaard laat lyk, die mure smeek vir ‘n lappie met ‘n bietjie Handy Andy op en die mense staan almal senuweeagtig rond met hande vol papiere, groen paspoorte en benoude oë. Die wit laken word voor die glas gelig en gematigde sugte van verligting word gegee soos ons begin tou vorm.

Nou kyk, ek is nie ‘n geduldige mens nie, maar ek het vir die afgelope drie dae myself emosioneel begin voorberei vir hierdie uitstappie. Kinders lees op die iPads. Manlief se foonbattery is vol gelaai. Ek het oorspronklike papiere, kleurafskrifte en elke moontlike voorsiene stukkie dokument in sakkies by my. Ek dink die enigste papier wat ek nie saamdra nie, is my pa se matrieksertifikaat. En toe begin ons pret: ek mag nie die vorms in blou ink invul nie… ek moenie die datum met die jaar eerste skryf nie… ek moet VOOR haar teken… ek mag nie die datum namens my man skryf nie… en dit in ‘n kamertjie vol asems waar die verkoeling so fluks werk soos die Meneer Malefi wat die stempeltjie moet druk. Drie ure, sewentien minute, vier stelle afskrifte, twee stelle vorms, sestien stempels, ontelbare (interne) vloekwoorde en drie handtekeninge later, word ons verdaag.

Ek mag nou, amptelik, my kinders na hul geboorteland terugvat vir vakansie, met die toestemming van… ek weet nie eintlik nie, want die hele spul is ‘n groot grap. Tussen onoorbrugbare geboortesertifikate, afgetekende huweliksertifikate, paspoorte, identiteitskaarte en bewyse van verblyf, het ek so paar varkies ook verloor. As dit nie vir die Oumas en Oupas was nie, weet ek eerlikwaar nie of ek sou terugkeer na die land van koeksisters, malvapoeding en Simba nie. Die klein 5 x 5 wagkamertjie wat veronderstel is om my veilige grond te wees, het my net irriteer vandag en dan kan ek nie help om te wonder nie: is dit wat vir ons wag in sonnige Suid-Afrika? Waar taxi’s snelweë blok en boosdoeners brande stig? My hart huil, want ek verlang na my mense en ek wil steeds in Suid-Afrika se potensiaal glo. Ek is vreesbevange, want ek moet my karlisensie gaan hernu en (weereens!) Fica dokumente by die bank gaan inhandig.

Ek knyp my oë toe en verbeel my ek ruik my pa. Ek dink myself in hoe my kinders onder Oupa se vlerk inskuif, hoe hulle Ouma die foto’s op die selfoon wys en hoe hulle saam met hul niggies speel. Ek stel myself voor ons sit om die eetkamertafel en kuier… op die stoep wag die Amarula… in die yskas is yskoue Cream Soda… en dan weet ek dat geen ambassade die genot van my vakansie gaan steel nie. Ek gaan nie die beheer in hulle hande los nie. My papiere is nou reg en vir die volgende 12 maande hoef ek nie weer daaroor bekommerd te wees nie. Vir nou kan ek vergeet van kadawerklets en fokus op die herontmoeting: nog net 8 slapies…

Paranoïa

Alles wat ons eet gaan ons òf siek òf dood maak. Die koeie het te veel hormone, die wortels het te veel kiemdoders, die hoenders is ontsteld en vol vrees en mens kan blykbaar nie vegetariërs vertrou nie. Die een dokter sê laat staan alle stysel, terwyl die ander een skree dat suiker die grootste verslawing van ons tyd is. Die een oomblik moet ons vette vreet en volgende week reken die Huisgenoot weer dat vet ‘n vloekwoord is.

Ek lees vandag dat ons karstoeltjies verkeerd gebruik en dit kan jou kind se lewe kos. My ouers het nie eers toegang gehad tot karstoeltjies nie en helaas, daar was minder sterftes op die paaie as vandag. Daar was natuurlik ook minder karre op die pad, maar daardie saak gaan ek vandag blou-blou laat.

Om te min te lees, beteken jy gaan eendag McDonalds se toilette skrop, maar daar is ook niks fout om ‘n eerbare werk te hê nie. Lees jy egter te veel, kan jou oë verswak en jou breingolwe deurmekaar gespoel word met nuttelose inligting.

Vrouens moenie hakskoene, plat skoene of stywe skoene dra nie, maar kaalvoet loop is ook nie goed nie. Manne moenie stywe onderbroeke dra nie, maar om met die hottentotsgot los hotnot rond te loop is ook nie gesond nie.

Kinders moenie te veel televisie kyk of met tegnologie speel nie, maar om hulle daarvan te weerhou is skadelik vir hul ontwikkeling. Slaap op ‘n harde matras… nee, eerder ‘n sagte matras… een met vere, nee, eerder spons…

Selfone gee kanker, haaie byt dood, Julius Malema is die anti-Chris, Apple is beter as Samsung, dwangrym is sonde, gegeurde kerse kan mans impotent maak, dubbellaagtoiletpapier is eintlik net geldmors.

Olie van die kokosneut kan vratte laat wegkrimp, sjokolade gee puisies, boontjies gee jou gas, rekenaars maak ons lui en om alles te kroon moet manlief nou vir minder as 10 minute op die troon sit, want sy bloedsomloop kan beïnvloed word deur sy halstarrige leesspoed.

Die mensdom is meer op hol as ooit. Paranoïes. Halsoorkop kens. Die duiwel word gesoek en die dood word gevind in alles wat goed en reg en mooi was. Meer waarskuwings word daagliks oor die aarde versprei as positiewe aansporings. En die eintlike grap? Ons almal gaan die emmer moet skop. Jy kan dit kaalvoet en met ‘n lied in jou hart doen of met ‘n paar Manolo Blahnik’s waar die prysetiket vergelyk kan word met die staatstoelaag vir opvoeding in Suid-Soedan. Ons almal gaan die lepel in die dak steek. Die lepel kan silwer of goud of plastiek wees… jou hand kan wit of bruin of swart wees… jou dak kan van hout, strooi of teëls gemaak wees, maar die resultaat bly dieselfde.

Ek kies om nie histeries te leef nie. Ek is dalk eenvoudig, oningelig en naïef, maar ek glo dat logika enigeen lank genoeg aan die lewe kan hou om die tyd op hierdie tydelike plek so draaglik as moontlik te maak. Miskien, as mens die histerie laat vaar, kan ons onsself geniet ook. Wat ‘n vooruitsig.

Aanpassing

Die eerste twee weke in ‘n nuwe land, is opwindend. Alles is nuut en blink en soos ‘n toeris op steroïedes neem jy foto’s van alles: elke fontein, elke boom, elke straatkafee en elke moskee. Die lug skyn blouer, die water proe soeter en jy is baie bewus van die feit dat jy nie jou voordeur hoef te sluit nie. Ek het elke aand in die donker gaan stap, want ek kon. Alles voel soos vakansie en die onwerklike Utopia is soos ‘n riem onder die hart met die gerusstelling: ons het die regte besluit geneem.

Maar stelselmatig begin die nuutjie sy blink verloor. Jy strip jou moer vir die stadige Nissan in die vinnige baan. Jy sug as jy die lang tou mense by die Departement van Vervoer sien. Jy word warm onder die kraag oor die bot man by Binnelandse Sake die “gesluit” bordjie reg voor jou neersit, al weet jy hulle maak eers oor ‘n halfuur toe. Die klein kombuis begin jou irriteer. Jy verlang na jou ma se kookkos en om Afrikaans in die winkels te hoor. Die wittebrood is verby. Die roetine van opstaan, aantrek, skool toe gaan word afgewissel met wasgoed was, kos maak en lakens ruil. Jy verlang na jou bediende en wens jy kon haar invoer (of is dit uitvoer?)

 

Mens bly mens en onvergenoegd is deel van ons genetika. Maak nie saak wie jy vra nie, meer word altyd verwag. Vir die honger meisie in Indië is die smag na ‘n bord kos groot; vir die hawelose in New York sal ‘n bed nie te versmaai wees nie; vir die vuil myner in Middelburg wink ‘n warm stort; onderwysers bid vir vakansies; mammas hoop vir ‘n goeie nagrus… en so is ons eintlik selde tevrede. Ons is nou twee jaar in Abu Dhabi. Ons het die oorspronklike tweeslaapkamerwoonstel verruil vir ‘n lielike, ruim stukkie hemel. Ons ry ‘n spliknuwe 4×4 en elke klagte word eintlik met ‘n witbrood onder elke arm gepleeg. Dalk is dit die onvergenoegde natuur van ons samestelling, dalk is dit sommer die wete dat ons oor drie weke met vakansie na Suid-Afrika gaan reis, dalk is dit die feit dat my boetie en sy familie more na Australië emigreer, dalk het ek eenvoudig pms… vandag voel ek effe moeg.

Ek wens ek kon my ma vashou as sy gaan treur oor haar seun en skoondogter en kleinkind die land verlaat. Ek wens ek kon my pa gerusstel deur die aanpasbaarheid van die menslike natuur, wetenskaplik en sielkundig, met hom te bespreek. Ek wens ek kon op die lughawe wees. Al pas die mens aan in sy nuwe omgewing, al maak ons wonderlike nuwe vriende en ervaar ons ongelooflike dinge… ons hart hunker maar altyd na die oorspronklike reuke, klanke, geure en gevoel van ons Vaderland en Moedertaal. Ons het aangepas. Ons is gelukkig en nie spyt nie. Tog wil ek vandag baie eerder daar wees, as hier.

Dom

Die woordjie “dom” het ‘n slegte reputasie. Dit word té dikwels gebruik om kinders se selfbeeld af te kraak, neerhalend na verstandelik gestremdes te verwys of sommer net om mede-skoliere verbaal te boelie. Dom is lankal nie meer net die teenoorgestelde van slim nie. As slim sy baas vang, was die aksie dus nie dom nie, maar net… en dis hier waar die moeilikheid vir my ontstaan. Sien, daar is ‘n leemte in my taalvernuf as ek ‘n sosiaal aanvaarbare sinoniem soek vir “dom”. En kom ons laat nou maar die slim apie uit die mou: soms is mense net eenvoudig… dom.

 

Daar is ‘n seun in my Graad 9 Wiskundeklas, wat volgens my, in ‘n spesiale skool hoort. Sy ouers glo egter die donkie is ‘n resiesperd (verskoon die woordspel) en weier volstrek om te aanvaar dat die stomme kind se verstandelike vermoëns so ontwikkel is soos gebalanseerde maaltye in Etiopië. Ek verduidelik priemgetalle en hy druk ‘n skêr in sy oor, want hy weet nie eers wat is ‘n heelgetal nie. Daar word werkkaarte oor gemene delers en breuke voltooi, terwyl hy probeer om sy tande te vyl met ‘n lemmetjie in ‘n skerpmaker, want hy begryp nie dat een appel in twee helftes verdeel kan word nie. Hy is net eenvoudig… dom. En voor ek gekruisig word, laat ek tog net noem dat ek ‘n baie sagte plekkie vir die kind koester. Ek kry hom jammer omdat ek glo hy kry nie die regte stimulasie vir sy eie ontwikkeling nie. Hy is nie sleg, ongemanierd, ongeskik of ‘n jakkals nie, hy is net nie in die regte skool nie. Ek wens ek kon die ouers en skoolbestuur laat verstaan dat hulle hom ‘n onguns aandoen deur hom in ‘n normale skool te forseer, maar helaas, die woord “dom” kan my die beskuldigde in ‘n hofsaak maak.

 

Daar is ‘n land waarvoor ek besonder lief is, met ‘n president wat besonder… onbegaafd is. Niemand verwag van hom om meervoudige kwadratiese vergelykings op te los nie, maar hy sukkel om ‘n getal uit te spreek. Niemand verwag van hom om wêreldvrede te bewerkstellig nie, maar hy kan nie eers sy eie gesin dissiplineer nie. Nes sy trawante, gee hy nie ‘n duit om oor die vooruitgang van ‘n pragtige land nie, maar ry hulle in gepantserde voortuie en sit in verkoelde kantore en eet gebraaide hoender, sonder om te besef dat dit nie vir altyd gaan hou nie. Maar ek mag hom nie dom noem nie, uit blote vrees dat ek as rassis gebrandmerk sal word.

 

Daar is ‘n meisie wat haarself diep in my hart bevind. ‘n Vriendin wat telkemale deur ‘n kêrel gepaai word. Hy rus nie net agter haar rug nie, maar soek ook lêplek by ander dames, met vele sukses. Tog glo my vriendin dat hy gaan verander, al verduidelik ek dat ‘n tier se strepe nie kolle kan word as hy met ‘n huiskat teel nie. Die pleidooi vir logika val op dowe ore, al is sy gekwalifiseerd met ‘n meestersgraad in letterkunde. So nou sug ek en sluk die woord “dom”, want ek wil ‘n vriendskap behou.

 

Daar is ‘n vrou wat in hakskoene, ses duim bo die grond, wankel en haar bes probeer om nie ‘n enkel (of haar nek) te breek nie, terwyl haar voete kreun van pyn, alles in die naam van mode. Dom.

Daar is ‘n man wat elke oggend vyfuur opstaan, honderd gholfballe gaan slaan, dan tien sopies brandewyn wegslaan, terwyl hy kla oor sy swak finansiële posisie en dat sy vrou hom gelos het. Dom.

Daar is die miljoenêr wat graag die giftige vissie in Japan wil eet, want hy kan dit bekostig en hy het mos die geld om die beste medici te kan bekostig en hy wil sy kompeteerders wys dat hy nie vir koue vis skrik nie. Dom.

Daar is ‘n Britse dame wat haar man probeer vermoor het, deur hom met ‘n eekhoring te probeer versmoor het. Dom.

Die bewyse van dom kan by verkeersligte gesien word as ouers in die kar rook, terwyl die kinders op die agtersitplek sit en smag na suurstof. Dom kan op Facebook raakgelees word. Dom kan in skoolklaskamers, poskantore, Binnelandse Sake, raadsale, snelweë en in parkies gesien word. Dom vra nie ras, kultuur, moedertaal, bankstate, paspoort of geloof nie (al glo ek dom het voorkeure). Dom bestaan. Ongelukkig is dommes ook gewoonlik besonder vrugbaar, met ‘n voorliefde vir sinnelose dinge en het hulle harde stemme, waarmee hulle graag hul opinies skree. Dit terwyl die slimmes, stil-stil oor die oplossings glimlag.

In my moedertaal is daar woorde soos naïef, goedgelowig, optimisties, kansvatter, intellektueel benadeel en selfs oordeelsfout wat alles die skuld kan kry vir dom optrede. Dit is so. Ons almal maak maar ‘n dom fout of ses. Dis hoe ons groei en grootword. Ek voel egter dat ons moet ophou om op eiers te loop as dit by die woord “dom” kom. ‘n Siekte kan nie genees word as hy nie eers gediagnoseer is nie. Dom foute kan nie reggestel word as dit nie eers herken (en erken) word as ‘n dom fout nie. Niemand word slim gebore nie… en wat is dan die teenoorgestelde van slim, as ons nie by dom kan begin nie?