Onvoorwaardelike liefde

Ek het lief.

My liefde vir woorde skuil tussen die honderde boeke waarmee ek myself omring. So lief is ek vir woorde dat ek dikwels ook sommer stront lees… net sodat ek weer mooi woorde kan waardeer. Ek gril vir die woord “groceries” in ‘n Afrikaanse sin, terwyl “liefkosing” die kraakbeen in my oor streel. Ek vind vreugde in dwangrym en verspotte limerieke en poëtiese verskynsels, maar daal tot op ‘n Kômmin vlak waar ek oorboord gaan met ongehoorte vloekwoorde en uitspattige swart humor… en ja, swart humor maak ook saak.

Ek is lief vir kos. Lekker kos. Roomys en karameltert. Salm met heuning en kapokaartappels. Malvapoeding en dik, warm vla. ‘n Skaaptjoppie met die vet wat krakerig gebraai is. Dit beteken nie ek eet net lekker kos nie. Soms wurg ek ‘n selderystokkie af. Of eet ek slaai met blare in. En ek het een keer tofu probeer eet, maar ek sweer ek eet eerder ‘n hoenderdrol en sluk dit af met suur jogurt. Die rolletjie om my middel is die getuie dat ek nie veel fiemies het as dit by voedselgroepe kom nie… en my drildye erken dat ‘n sjokolade in elke hand my idee van ‘n gebalanseerde dieet is.

Ek is lief vir musiek. Ek luister opera en Amanda Strydom en Jack Parow en Finneas en Travis Scott en Taylor Swift. Ek sing uit volle bors saam met enige musiekblyspel en soms eer ek selfs die bure met ‘n akapella-weergawe van ‘n Celine Dion treffer uit die negentigs. Terloops, ek dink die bure se kat is op hitte, maar dit is nie nou hier ter sprake nie. Ek leer waarvan ek hou en watter liedjies ek liefs oorslaan. Apple Music vra gelukkig nie vrae nie.

Ek is lief vir vars lug, al is dit tans so warm dat selfs die kaktusse sug. Ek is lief vir my klein tuintjie, al word selfs die vygies moedeloos in die humiditeit. Ek is lief vir die wolke, want hulle gee my eindelose moontlikhede. Ek is lief vir koffie en tee, maar ook vir jenewer, wyn en soms ‘n bier. Ek is lief vir my MacBook en onbegrensde internettoegang en Yankee Candles en sagte, wit beddegoed en Zoom-kuiers en om in my stoel in die hoek, langs my Arabiese lamp te sit en skryf.

Ek is egter die heel liefste vir my mense. My man wat skrop aan die pan waarin ek salm met heuning laat aanbrand het. Hy wat visvang-goeters kerf, al vang hy nie vis nie. Hy wat met Job se geduld die kinders wys hoe magnetisme werk.

My dogter wat ‘n vlymskerp sin van humor ontwikkel en met skewe glimlag haar oë vir my rol, want sy het gelees dis wat tieners doen… en sy is nou tien en moet begin oefen.

My seun wat nie meer ‘n seuntjie is nie, maar styf teen my kom staan in die middel van ‘n vergadering en trots aan die hele bestuurspan verklaar hoe lief hy my het.

My familie en vriende wat oral oor die aarde versprei is, maar wat sonder om te blik of te bloos, die foon sal antwoord as ek bel.

Ek was al die jare verkeerd. Ek het geglo ek het hulle onvoorwaardelik lief. Maar daar is nie iets soos onvoorwaardelike liefde nie. Daar is liefde. En dan is daar voorwaardes. 

Ek is dankbaar om lief te kan hê.

Ruimte

Opgewonde sit ek en kyk hoe Elon Musk se droom die ruimte inskiet. Space X is in 2002 (amptelik) gebore en miljuisende ure se navorsing, passie, werk, mislukkings, verwerking en aanpassings het gelei tot die historiese oomblik.

Bob en Doug sit effe knap, ongemaklik en in besondere isolasie in Falcon 9. Hulle hartklop, bloeddruk, suurstof en selfs die vlakke van suurinhoud word gemonitor, soos hulle in die bestek van 10 minute deur die atmosfeer van die aarde bars en vry is soos min mense ooit sal ervaar.

Ek is nie ‘n kenner van ruimte, satelliete of die wetenskap van ‘n vuurpyl nie, maar dit het nie my kinderlike opgewondenheid gekniehalter nie. Toe ek die video sien waar Elon opspring en sonder aarseling sy vreugde vier, het ek vrylik ‘n ou traantjie gepik.

Rolf Dobelli het die begraafplaas as die rykste plek op aarde beskryf, omdat soveel drome en hoop daar begrawe is. Elon is so ongelooflik bevoorreg om sy droom te kon laat realiseer, dat dit my sommer weer tot voor die rekenaar druk. Hy het nie met sy gat in die botter geval nie. Hy was nie net gelukkig nie. O nee, Elon het vir die laaste twee dekades, elke dag, sonder ophou, aan sy droom geskaaf, gewerk. Uithouer wen dalk nie altyd nie, maar Elon het weer die vlammetjie van motivering kom aansteek.

Dis baie maklik om verskoning te maak. Ek hoor en lees hulle daagliks.

“Die kinders hou my te besig, so ek kan nie nou daardie kortverhaal skryf nie.”

“My werk vereis reeds so baie, ek kan nie leer om nou nog te kook ook nie.”

“Ek het nie die regte skoene om te begin draf nie.”

“Dit vat geld om jou eie besigheid te begin.”

Dis die regering, ‘n skoonma, die skool, ‘n virus, ABSA, korrupsie… ander kry die skuld omdat jy jou eie drome begrawe. En alhoewel nie alles in ons beheer is nie, is daar tog sekere realiteite wat ons van onsself weerhou.

Ek is nie onskuldig nie. Daar is baie dinge wat ek eenvoudig nie wil doen nie… soos om suiker uit my dieet te sny of te begin oefen. Ek stel nie belang nie en gaan ook nie verskoning maak daarvoor nie. Visvang interesseer my nie. So ook nie rekenaartaal, verftegnieke, blaarslaai of chemiese vergelykings nie. Maar daar is soveel wat ek WIL doen. En dan lei uitstel tot afstel. Ek wil ‘n postmodernistiese boek skryf. Ek wil klavier speel. Ek wil eet sonder om vet te word. Alle drome kan sekerlik nie waar word nie, maar Elon het my op 30 Mei weer herinner dat alles ook nie onmoontlik is nie.

Ek het die klawerbord vanoggend afgestof en ek onderneem om vir die volgende ses weke elke dag ten minste twintig minute my vingers los te maak oor die klawers. Al die pakke papiere en boeke en navorsing is uit die kas gehaal en vandag gaan ek begin sorteer aan die inhoud van daardie boek. Ek gaan ophou skuldig voel oor ek witbrood met BAIE kaas eet (en daarvan hou).

Crew Dragon het geskiedenis gemaak. Die hele wêreld het in afwagting sit en kyk hoe gode van alle herkoms, met behulp van fisika,, ‘n wonderwerk beskerm. Elon verduidelik in ‘n onderhoud, minute na die afvuring van sy breinbaba, dat die mens ‘n nuuskierige wese is. Ons het elkeen ‘n onwrikbare drang om te ontdek. Party mense onderdruk dit tot op ‘n punt van hartseer en depressie. Ander groei vlerke aan hul voete. Ons hoef nie eenders te soek nie. Die ruimte is maar een plek om te gaan ontgin. Begin dalk kleiner. In jou huis. In jou tuin. Selfs net in jou binneste. Maar om hemelsnaam, moenie jou ruimte afbreek tot ‘n spikkel wat niksseggend gaan sterf nie. Jy is beter as dit. Bestem vir meer. Doen wat jy moet doen, nie net wat jy glo jy kan nie. Skep jou ruimte.

Menslikheid

Wetenskaplikes en viroloë verduidelik dat die covid-19 virus jou longe aantas. Die wat nie aan die virus blootgestel word nie, blyk egter in groter gevaar te wees. Depressie, angs, vrees en die verlies aan menslikheid. Dis maar enkele van die simptome wat ek waarneem.

Daar is heelwat dinge wat my hartseer maak. Die feit dat ek nie ontelbare liters roomys kan eet sonder om donderdye te ontwikkel nie, is maar ‘n traandruppel in die emmer. Ek #grendelgrens saam met die Oumas en Oupas wat nie hulle spliknuwe kleinkinders kan vashou nie. Ek tjank asof ek twaalf uie geskil het elke keer as ek die nuwe sieksyfers sien. Dit beteken die vliegtuie se vlerke word nog nie reggeskud vir ‘n moontlike kuier nie. Ek hoor die tranerige stemboodskappe, in kamers opgeneem waar die gordyne dae laas oopgetrek is en ek kan die depressie ruik. Ek bid harder, meer. Tog voel ek hulpeloos, want ek weet die beste medisyne is ‘n drukkie.

Daar is heelwat dinge wat my senuweeagtig maak. ‘n Kind wat met ‘n warm beker koffie in die gang af loop, byvoorbeeld. Ek kry ook hartkloppings as daar konfyttoebroodjies gesmeer word en ek sien hoe die stroperige mes op die kas neergesit word. Maar iewers is iemand besig om somme te maak en planne word beraam vir die einde van die maand, want die geld raak min en die gebede droog op. Die angs bou ‘n huis op die sand.

Daar is heelwat dinge wat my bang maak. My man wat sê hy gaan die vuur eers oor ‘n uur aansteek… veral as ek weet hy is al besig met sy tweede whiskey. ‘n Toegetrekte stortgordyn in ‘n stikdonker badkamer gee my rillings en as ek sien dat daar nog net een glasie in die bottel wyn oor is, ervaar ek melodramatiese vrees. ‘n Ma slaap onrustig oor sy weet haar kind sit sonder inkomste en heenkome in ‘n vreemde land. Die swart vrou met skurwe hande is bang vir die skaduwees wat tussen die sinkplate op soek is na lêplek. Onderwysers is bang hulle word in klaskamers vol siektes inforseer, waar bang, gemaskerde ouers, hul bang, gemaskerde kinders aan genade oorlaat.

Daar is heelwat dinge wat my kwaad en gefrustreerd laat voel. Soos my man wat ‘n vuur belowe, sonder die intensie om op te staan. Soos die kinders wat na weke van smeek, steeds hul handoeke op die vloer los. Soos die gebrek aan sinvolle antwoorde, die feit dat die kinders moeg raak vir my vervelige resepte, #krummels, vuil #vensters en skottelgoed… en die grade van moerigheid fluktueer amper so radikaal soos die teorieë van profete, professors en pastoriekoeke.

Ek verstaan die emosies. Ek ervaar simpatie en empatie in grade van wisselvalligheid. Maar ek staan stom en staar na hoe wreed en selfsugtig en selfbehep en geniepsig mense geword het. Daar word in slaai gekrap, neuse word in ander se besigheid gedruk en vingers beland in pasteie waar hulle nie hoort nie. Verwensing, toesmeerdery, naamsmeerdery, ek voel sommer ongemaklik. Asof ek twee witbrode geëet het en nou lyk soos ‘n swanger vrou in haar derde trimester. Opgeblaas met erge sooibrand. Almal met internettoegang het nou “ingeligte”, “volleerde” opinies en behoede jou as jy verskil. Dis nie meer “een vir almal en almal vir een nie”. O nee, skielik is dit “ek vir myself en basta met die res.” My angs en vrees en hartseer en depressie verdubbel met elke negatiewe kommentaar wat ek lees, met elke virtuele klap wat uitgedeel word en met die wete dat menslikheid besig is om ‘n luukse te word. Van menslik tot mislik. Van gaaf tot gemors. Van wonderlik tot wreed.

Ek onderneem om ons kokon in positiewe energie te omvou. Ek belowe dat ek net goed en mooi die wêreld sal instuur. Ek sal opbou en komplimenteer. Nie net in my huis nie, maar ook met elke boodskap. Elke klein bietjie sal help. Dit moet net. Anders gaan die massagraf onmenslik wees.

Krummels

Ek wil oorlog verklaar teen krummels.

Daar is krummels op die vloer en krummels op die kas. Daar is krummels in die laai en krummels in die teëls se las. Daar is krummels op die tafel en krummels op mat. Krummels op die kroontjies en krummels in elke gat. Suikerkrummels, broodkrummels, koffiekrummels, wasgoedpoeierkrummels en soutkrummels. Ek voel asof al vyf die voedselgroepe in gekrummelde vorm deur my huis gevind kan word.

Nou kyk, ek verstaan hierdie is waaragtig ‘n eerstewêreld-probleem, maar net omdat ek nie in ‘n blikhuis bly saam met 300 vlugtelinge nie, beteken mos nie dat ek nie geregtig is op emosies nie? En vandag is ek emosie-belaai. My moermeter is diep in die rooi, want ek kan nie kaalvoet deur my huis loop nie. Want… krummels!

Ek weier volstrek dat die kinders (dit sluit nou die amper veertigjarige kind ook in) in enige ander vertrek behalwe die voorhuis en kombuis mag eet. Tog trap ek in krummels in die badkamer. Wie, met ‘n gesonde verstand, sal ‘n worsbroodjie in die badkamer wil eet? En hoe krummel jy ‘n vienna? Hoe? HOE?

Ons het nie ‘n groot kombuis nie. Veral werkspasie is maar min. Dit behoort dus nie moeilik te wees om die blaaie krummelvry te hou nie, maar die Here hoor vir my vandag, dis asof die mense saam met wie ek ‘n huis deel, blind is vir krummels. Hulle vee oor en om en verby elke WIT krummel op ‘n SWART oppervlak. Dan moet ek skouerophalend hoor: “Maar ek het die kas afgevee?” Ja. Ja jy het. En jy het dit soos jou gat gedoen!

Ek was beddegoed. Daar is krummels op die kussingslope. Hoe de hel kry jy geslaap op ‘n krummelbed vol ou soetkoekies? En wanneer het jy in die kamer geëet? Ek sit my voet neer. Ek sal nie weer een pakkie Eet-Sum-More, Oreos of Lemon Creams koop nie. Julle kan van more af appelstokkies in jul koffie doop, want die beskuitkrummels lê tot onder die eetkamertafel. ONDER die tafel. Ons eet OP die tafel!

Daar is biltongkrummels op Manlief se bedkassie. Daar is Lays-krummels op die banke. Ek vermoed daar is krummels van drie jaar terug se KFC nuggets onder die groot bank in die hoek. Want behalwe dat my kinders se ore duidelik nie werk nie, kan hulle ook nie met toe monde kou nie en ook nie krummelloos kos eet nie. En het ek al genoem dat ek dus nêrens in my huis kaalvoet kan loop nie, want die hele vloer is vol aaklige, onhigiëniese, grillerige, allerlei krummels.

Ek jaag almal uit. Van nou af eet ons buite. Op die stoep. Daar kan die voëltjies die krummels optel, die wind kan dit wegwaai of ek kan dit sommer met water wegspuit. En nou is dit amper 45 grade buite en ek kan. nie. meer. nie.

My bloedruk styg met elke krummel. Ek sit nou al met drie spanningsknoppe op my skouers en ek het gisternag in angssweet wakker geword en wonder oor die krummels wat moontlik tussen die yskas en die kas kon inval.

En toe doop ek ‘n Amarula-brownie in my koffie. Daar val ‘n krummel op my skoot. En toe skiet ek die krummel tot op die mat. Want as jy hulle nie kan wen nie, moet jy maar van span verander.

 

 

Opstaan

‘n Vriendin se dogter het pas sestien geword. In die grendelstaat het sy pas haar eerste liefdesteleurstelling ervaar. Sy het pas oor die onderdeur begin loer, haar hakskene nog ‘n flou skakering van rooi, toe die jafel besluit het om sommer twee ander meisies ook aan lyntjies te hou. Boodskappe is gestuur, aannames is gemaak en in die proses is ‘n hart gebreek. Van die hand na die mond, het die pap op die grond geval.

Die emosionele drama speel homself af op skerms oor drie kontinente. Hare word gekloof oor wie se skuld dit nou eintlik was. Die knaap word drie ingroei-holhare en ‘n koorsblaar so groot soos Texas op sy bo-lip toegewens. Twee rooigehuilde, bloedbelope oë kyk ongelowig na my as ek probeer verduidelik dat alle mans nie varke is nie. Die klein, geel puisie bo haar linkerwenkbrou irriteer my vreeslik, so ek probeer my bes om op die varkore agter my kamera te fokus.

Nou kyk, namate die tyd met ons aanstap, vergeet jy die intensiteit van pyn. Ek kan nie meer die pyn van kindergeboorte duidelik onthou nie… net dat dit baie seer was. Ek kan onthou hoe ek wou huil toe ek my voet gebreek het, maar as ek dit nou op ‘n pynskaal moes aandui, sou ek nie kon raai nie. En alhoewel ek nie my eerste liefdesteleurstelling se hartseer kan verwoord nie, onthou ek hoe ek in ‘n kussing gehuil het… in die stort my trane melodramaties deur die water probeer soek het… en hoe ek sommer op die kombuisvloer met ‘n groot bak roomys kon klaarspeel. In ‘n kleurvolle dagboek, tussen uitgeknipte tydskriffoto’s van Tom Cruise, Brad Pitt en die Backstreet Boys, het ek my hart uitgeskryf in stroperige gedigte met dwangrym. Ek gril nou nog as ek “lief” met “hartedief”  hoor. Om die eers van “my” en “jy” of “nag” en “lag” te praat nie. Ek het my naam met sy van gemeng, punte opgetel om te sien met watter persentasie ons nou eintlik saam hoort en ‘n handtekening geoefen waarmee ek sy tjekboek sou teken. O die waansinnigheid van ons prille jeug!

Tog is daar een of ander reg van toegang wat met jou eerste liefde voorbehou word. Die son moet ophou skyn, al is dit net vir ‘n paar dae. Die maan moet sy gesig wegdraai om saam met jou tussen die sterre te huil. Die aarde moet ophou draai, want selfs die vlinders voel jou pyn aan. Jou krete moet in die nag verswelg word, anders was jou hartseer nie groot genoeg nie. Jy moet sjokolade eet, begin dink daaraan om jou eerste kat aan te neem en leer om te brei. Of te hekel. Net iets te doen wat jou tot op ag-en-taggen-tig kan besig hou, want jy gaan mos alleen die hiernamaals betree.

Nooit weer sal jy op Valentynsdag ‘n goedkoop teddiebeertjie kry wat ‘n rooi hartjie vashou nie. Nooit weer sal jy die vreugde ervaar van ‘n plastiek roos wat op jou tafel gelos word nie. Nooit weer sal jy jou hart oopmaak vir ‘n seun om jou te kom vernietig nie.

Maar hou moed my meisie… hou net moed. Ek glo nie elke pot het sy deksel nie. Sommige potte is eintlik panne. Sommige deksels is gebreek en skeef en gekraak. Daar is nie een, universele waarheid nie. Jy sal egter JOU plekkie en JOU geluk en JOU eiewaarde moet skep. JY… nie HY nie. En ek weet dit is nie wat jy nou wil hoor nie, so huil. Eet roomys en koek en te veel suiker. Krul met jou gebroke hart tussen jou komberse in en tjank en skree en vloek soveel soos jy dit nodig het. Want dit is oukei om op die vloer te wees as ons eina het. Daar is nie tydsbeperkinge nie. Rou. Tel weer die stukkies op. Gom jou hartjie met lekkernye en romantiese stories.

Gaan was jou gesig as jy klaar getreur het. Laat iemand jou help as jy sukkel. Praat. Vra. Lees. Kyk. Reflekteer. Groei. Maar my kind, staan op… want niemand hoort op die vloer nie.

 

Om te kan eet

Ek is nie genooi vir ete nie, tog word ek aan die stoel by die eetkamertafel vasgegrendel met onsigbare virusboeie. Toe die kelner met die voorgereg opdaag, was ek opgewonde. Terwyl ek die vars brood in sop doop, het my kaste ontslae geraak van tierlantyntjies, die stoflae het verdwyn en orde is herstel. Daar was selfs tyd om ‘n boek te herlees en drome te droom. Die dringende kwarantyn het soos ‘n onbeplande vakansie gevoel. ‘n Meevallertjie waarmee ek sielstevrede was. Ek het die smaak van garnale in die vars slaai geniet, want alles was so uniek en keurig voorgesit. ‘n Voorwaardelike feesmaal. 

As palet-skoonmaker het die kelner aanbeveel om geen alkohol te drink nie. Ek het dus maar effe droëbek sit en wag. Die kelner het voorgestel dat ek ‘n boek skryf, fiks word, piesangbrood leer bak of Frans aanleer, terwyl ek vir die kos wag. Ek wou egter ook nie my slaapkamerstel groen verf, joga doen of ‘n rou eier sluk nie. Dit was nie lank nie, toe is ek gatvol vir die motiverende, sinnelose gebrabbel wat my selfoonskerm verlig en oor die wêreld versprei word. Kos, wat ek nie bestel het nie, is voor ons neergeplak. Marinade het oor die rante van die bakke gespat en vlekke op die tafeldoek gelos. Die kelner was ongeskik en die pampoen was koud. Maar ek skrik mos vir niks en ek het my eerste happie gevat. Daar was te veel sout op die vleis en die aartappels het soos plastiek geproe. Iets was nie pluis nie. Dit was asof die sjef die voedsel lankal reeds voorberei het, en nou net halfgaar aan ons opdis. Die sous het sommer uit kitspakkies gekom, daar was klonte in die room en die hoender was droog en smaakloos. Al was ek nie eers honger nie, het die kelner my met sulke slangogies aangekyk, sodat ek maar happie vir happie moes afwurg. 

Ek kon darem kraanwater in ‘n kristalglas kry om die slymerige pasta mee af te sluk. My man maan my om nie te kla nie, daar is baie mense wat nie eers kos het nie, om nie eers van ‘n kelner, eetkamertafel en duur glasware te praat nie. 

Al is ek nie ‘n roker nie, wou ek na ‘n nikotienverligting gryp. Die spanning het tussen my blaaie kom sit en verwarring het tot trane, ongeloof en aggressie gelei. Maar ek kan nie ‘n emosionele ineenstorting bekostig nie, want twee paar kinderogies kyk hoopvol oor die tafel na my. Hoekom is die ribbetjies taai? Hoekom kan hulle nie gaan speel nie? Hoekom is Pappa se gesig kwaai? Handjies soek myne oor borde vol grillerige kos. Ek is seker ek sien ‘n vlermuisvlerk in die bobotie, maar dalk is dit net my verbeelding. 

Ek soek naarstigtelik na die kelner, maar sonder verpoos word ons nagereg bedien. Daar is ‘n sjokoladevulkaan met werkloosheid versier. Die kaaskoek is suur van depressie en die roompoffertjies is tot krummels geslaan deur wanbegrip en woede. Daar is ‘n suurlemoentert van frustrasie en die glase is leeg, vol van eensaamheid.  

Ek wil nie koffie hê nie. Ek voel opgeblaas en ongemaklik. Iets akkodeer nie lekker met my konstitusie nie en ek vermoed maagteensuurmiddel gaan nie help nie. Ek wil nie nog eet nie. Ek wil opstaan, my vinger in my keel druk en dan begin om die tafel af te dek, maar my huis is nie meer myne nie. Dit behoort nou aan die sosialistiese regering van intimidasie en isolasie. 

Met ‘n vuil mes, saag ek deur die toue wat my aan die stoel vashou, maar voor ek kan opstaan, plaas die kelner die rekening voor my neer. As ek betaal, kan ek gaan. Maar ek het niks bestel nie! Ek wou niks gehad het nie! Hy trek sy skouers op en staan bakhand. 

Die prys is hoog, byna onbekostigbaar. Ek staar met ‘n krioelende angstigheid na die faktuur:

Die totale verskulding: 

$ Afhanklikheid aan die staat

$ Beperkte vryheid van beweging 

$ Onderrig geïsoleer tot voorkennis

$ Saai vrees, fopnuus en onsekerheid deur sosiale media

$ Ignoreer al die vrae wat in jou binneste broei

Onder geen omstandighede mag die staat se besluit bevraagteken word nie. 

Ek kry nie my oë om verder te lees nie, want daar is nog kelners, wat nog kos bring en nog mense wat staan en toekyk en nog, nog, nog.

Ek maak my oë toe en prewelbid in eenvoud: “Seën die kos op die tafel. Voorsien asseblief aan die wat nie so bevoorreg is soos ons nie en maak ons opreg dankbaar vir dit wat ons wel het. Amen.” 

Grendelgrens

Ek huil relatief maklik. Ek huil as ek ‘n mooi gedig lees of as ek ‘n oulike worshondjie sien. Ek tjank as ek my boetie en/of sussie mis en ek tjank as ek ‘n fliek sien wat my hartsnare roer. Mooi musiek, ‘n seun wat sy pa soengroet, kinderhandjies wat my in hul slaap soek… dis alles dinge wat my laat huil.

In hierdie hokbefoeterde staatsinperking, bevind ek myself dat ek meer as gewoonlik ‘n ou traantjie pik. Ek sit by my skoon venster en sien hoe twee straatkatte mekaar raakloop. ‘n Duif pronk trots vir die vroutjie wat duidelik vere voel. Daar is ‘n skoonmaker in ‘n geel oorpak wat gedwee die straat vee en vee en vee. En skielik is daar ‘n knop in my keel. Ek het soveel om voor dankbaar te wees.

Die kombuiskaste is krummelvry en die wasbak is blink en skoon. Dan kom die kinderstem: “Maaa, ek is honger.” My moed sak tot op die skoon vloer. Ek wil huil van frustrasie oor skoonmaak nou ‘n nimmereindigende proses van afvee en opvee en optel en weggooi is. Teen ek die derde streep harde tandepasta van die spieël afskraap, het my laaste kriesel Christen-woordeskat my verlaat en huil ek soos ‘n kettingroker wat sy laaste pakkie Stywe Sante in die swembad laat val het. Maar die bekkie vol noedels gee my ‘n nat soen as hy die vuil bakkie in die wasbak sit. Ek het soveel om voor lief te wees.

My dogtertjie is besig om te oefen vir ‘n konsert wat sy self geskryf het. Dis ‘n musieklike bedryf met kostuums wat sy uit weggooilappe en ‘n ou handoek geskep het. Intussen weier ‘n klein seuntjie dat ek sy toonnaels knip en glo hy dat daar spesiale towerkrag lê in die skopgrawe wat hy aan sy voete wil laat groei. Trane van lekkerkry loop oor die grootste (en oudste) kind oor die skoene val wat ek al vir drie dae smeek om weggepak te word en hy twee ure spandeer oor hy die koffie van die muur en kussings moet afwas. Ek het soveel om oor te lag.

Ek huil oor 192 e-posse en die melk wat al weer klaar is en oor dit gereën het net nadat ek die vensters gewas het. In isolasie huil ek meer as gewoonlik. En toe kom die oulike woordjie oor my pad: Grendelgrens*. Ek huil meer en makliker en langer, want niemand sien die snot en trane wat my in ‘n gesig in ‘n kreefrooi skakering van lelik verander nie. Ek grens en tjank as ek my peetkinders en hartsmense oor skerms sien; as ek lees van swaarkry en haat; as ek nog krummels op die kas ontdek; as ek nie genoeg water drink nie; as ‘n vriendin se baba gebore moet word en ek weet ek gaan nie dadelik die klein mensie kan ontmoet nie; as ek nie die nuutste episode van Grey’s Anatomy kan aflaai nie en ek huil oor, ag… ek is in ‘n semi-konstante toestand van dehidrasie oor ek grendelgrens oor byna alles.

Die lekkerste is dat ek nie skuldig voel nie. Ek huil in die bed, die bad en op die bank. Ek huil met koffie, wyn en koek in die hand. Ek huil voor die tv en die rekenaar en my kinders. Te danke aan my  deeltydse, tog permanente grendelgrens, gaan ek veerlig en goedsmoeds weer die wêreld in die gesig staar, want ek glo in die mag en krag van trane. Dit was jou mos van binne af skoon.

*Baie dankie Susanne Pike vir die oulike een!

 

Sameswering

Iewers is iemand besig om torings te installeer wat ons almal nog ‘n kop gaan laat groei en radioaktiewe stowwe gaan laat piepie. So skryf oom Danie. Dit terwyl ons, onskuldig en verveeld in ons huise vasgekeer word as gevolg van ‘n dodelik virus. Maar die virus is eintlik net ‘n rookskerm, reken oom Gawie, terwyl Sjina besig is om die wêreldekonomie oor te neem. Oom Ruan is al op sy derde koelerboks vol pynappelbier, maar hy word ‘n rat voor die oë gedraai, want eintlik is een of ander minister besig om skatryk te word deur alkohol op die onwettige mark te smous. Ek is maar relatief versigtig vir die woord “swart mark”, want ek wil nou nie as rassis uitgekryt word nie.

In 1948 het ‘n boek verskyn waarin een of ander sameswerende swendelaar, die teorie gepubliseer het dat regerings volledige mag oor hulle mense kan uitoefen as hulle net een ding kan regkry… en dit is om almal afhanklik te maak van hul gesondheidsinfrastruktuur. En hier staan ons nou, almal gemasker en afhanklik van ventilators. Oom Jaco se tuindienste-besigheid is nou amptelik op genade en dus versprei hy nou handgemaakte maskers om sy inkomste aan te vul. Sy besigheid het eenvoudig nie die regte status om vir regeringshulp te vra nie, nes tannie Susan se salon en tannie Hannie se haarkappery. Maar dis mos alles deel van die groot komplot. Julle weet, die een wat in Openbaring beskryf word… ook die een waarvan die Simpsons ons in 1998 reeds gewaarsku het en die rede hoekom Donald Trump so hardekwas is oor die hele grendelstaatkwessie, aldus tannie Karen en dominee Sarel.

Die virus se dodelikheid word nie ten volle verduidelik nie, want tussen 6 en 9 in die oggend, binne 5 km van jou huis af, is die kanse skraal dat jy sal siek word. Maar 5 minute na 9, op ‘n afstand van 5.01 km, staan hy vir jou en wag. Jou buurman aan die linkerkant is dan lankal reeds in die moeilikheid. Ons skud ons koppe vir agterstevoor denke, tog wasem die bysiendes se brille op bo ongemaklike maskertjies in die ry in Woolies. Ons moet hande was en nie rook nie. Ons moenie hoes, proes of hard poep nie… nie omdat dit iets met die virus te doen het nie, maar dis sommer net slegte maniere.

Oom Louis reken ons is in die middel van die derde Wêreldoorlog. Oom Pieter  reken die gogga is deur ‘n stout wetenskaplike gemanipuleer om die bevolking te beheer. Tannie Wanda skryf die Here is besig om ons te straf en tannie Belinda dink dis Moeder Natuur wat haar balans herstel.

Onderwysers moet werk en betaal word, maar ouers kan nie meer skoolfonds betaal nie en dus word die juffrou ook benadeel. Intussen moet ouers tuisonderrig implementeer. En hulle word nie daarvoor betaal nie. Ons moet daai boek skryf waarvoor ons nog nooit tyd gekry het nie. Ons moet oefen. Jy kry die Huisgenoot gratis op Whatsapp. En so paar boeke. Moenie dit versprei nie, dis diefstal! Loer eerder oor die muur en kyk wat is die sonde met die bure. Ons moet en moenie. Die lysie is erger en meer voorskriftelik as die tien gebooie en almal lê daagliks ‘n eier… as hulle hom nie saam met suiker en ‘n sopie gesluk het nie. Almal is konstant kwaad, moedeloos, woedend, magteloos en sommer net heeltemal rigtingloos in hierdie mallerige tydperk.

 

Ek het nie antwoorde nie. Alles is nie pluis nie. Ek weet nie wie om te glo en wat ek sou doen as die volle waarheid voor my blootgelê sou word nie. Al wat ek kan doen is my kinders so rukkie langer vashou in die aand. Ek kan waardeer wat ek het, lees waarvan ek nog nie weet nie en hoop dat my hart nie sal versteen nie. Elkeen moet maar die holte vir sy eie voet grou en die sonplekkie vir homself soek. As ons almal dan in een kraal moet saamsweer mag dit in die een van goedheid, gaafheid en guns wees, waar ons minder krities en meer simpatiek sal wees. Kom ons sweer saam, in die naam van deernis.

 

Dip

Die ekonomie vat nogal ‘n dip as gevolg van die ou virussie. So hoor ek. Dip is eintlik so ongemaklike Afrikaanse woord. DIP. Jy dip nie ‘n baba nie. Jy doop hom. Jy doop egter nie jou maatjie in die swembad nie, jy dip hom. En jy dip ‘n skaap deur hom nie te doop nie, maar te dompel. Ek het al op verskeie geleenthede met ‘n dompel, dip of doop te doen gehad, so ek vandag uit relatiewe ervaring praat.  

Dompel, Dip en Doop kan natuurlik altyd die verlangse familie van Dig, Dom en Dik wees, maar ek is nou nie hier om hare te kloof oor herkoms of genetika nie.

Ek moes al hopeloos te veel kere my dogtertjie se kop in ‘n bad vol antiseptiese, olie en gif dip… om die infestasie van kopluise onder die kam te probeer kry. Ek weet plaasboere dip hul diere om teen bosluise en ander krioelende goggas te beskerm, maar nooit het ek gedink dat ek my eie vlees en bloed sou moes grootdoop in ‘n brousel teen luise en nete nie. Tog was dit ‘n laaste toevlugting nadat ek byna elke follikel op haar kop getreiter het met kammetjies en sproeimiddels. Dat sy vandag nogsteeds met my praat, is die bewys van onvoorwaardelike liefde. 

Ek dip ook graag my vinger in kos. En my kos word in ander eetbare verversings gedoop. En my verversings word in suiker en olie en lekkerte gedompel. Tjips in doopsous, aarbeie in sjokolade, brood in hummus, oliebolle in suiker en selfs ‘n roomyshorinkie in karamelsous. Die ou advertensie van beskuit spring uit my langtermyngeheue en kom klop aan my koskas:  Dip ‘n Ouma. Natuurlik is tamatiesous ‘n immergewilde dompelsous vir kinders en meeste sjefs raai ons aan om eerder sous apart op te dis. Dip is baie beter as om jou kos in sous te verdrink. Dip, doop, dompel… my mond water alweer. 

As jy jouself op die Kaapse vlakte in ‘n bende bevind, sal die woord dip egter heel ander betekenis inhou. As jy klaar ‘n onwettige daad gepleeg het en vinnig moet spore maak, kan jy aan jou bendemaats skree: “Ons moet dip!” Hulle sal dadelik verstaan dat jy nie tot bekering wil kom nie, maar dat die pote op pad is. Sou jy egter op ‘n rustige Sondagmiddag iemand wou komplimenteer oor hulle uitrusting, kan jy sê: “Jaait, jy lyk lekke dip vandag”. 

Vir die wesens onder ons wat die werkinge van ‘n wiel en wa en werktuig verstaan, sal die woord dip lei tot gesprekke oor olie en spanning en ratte. Of so iets, reken ek. Die politikus dompel sy handjie in die staat se koekieblik. Die rekenmeester let op dat die grafieke negatief dip en die outydse skrywer dip sy penveer in die inkpot. Tyga en Nicki Minaj skryf ‘n liedjie met die naam DIP en menige onder die belt grappie bevat die intieme woordjies om diep te kan dip. 

Maar dis die idee van waterdompeling wat my aandag trek. Hydro-dipping in rooinektaal. ‘n Spesiale soort papier, met spesiale verf en eiesoortige patrone word op gewone water se oppervlak laat dryf. Iets wonderlik en wetenskapliks gebeur en skielik is daar net verf wat oorbly. Die papier het soos die Zuma-verslag verdwyn en die verf soos R500 biljoen verskyn. ‘n Voorwerp, enige voorwerp, word dan deur besondere tegniek en vernuf, in die water-verf-konkoksie gedip en skielik word die dompeling ‘n unieke kunswerk. 

Die ekonomie sal draai, kopluise sal sterf en doopsous raak op. Bendes gaan tronk toe en karre gaan staan. Maar die kuns van dip, doop en dompel… dit hou vir altyd. 

 

 

* Gaan loer gerus na BOKMAL  se unieke produkte geskep deur waterdompeling.

 

Stokperdjie

Daar is baie gevaarliker dinge as die Covid-19 virus. Soos toegang tot ‘n musiekinstrument as jy tot jou tronkhuis beperk is. Veral as jy eerder musieklik as musikaal is. Soveel erger as jy ‘n kamerafoon en toegang tot sosiale media het. Ek het wonderlike weergawes van Grammy-wenners gehoor en ook so paar keer ampertjies in my mondjie opgegooitjies. Nou kyk, ek sing ook in isolasie. Nie oor ek so forseer word nie, maar oor ek noot kan hou vir slegs vyf minute per skrikkeljaar. Ek is nie Simon Cowell nie, maar ek wil ook soos die bure se baba begin skreeu as ek na sekere verwronge weergawes van Halleluja luister. 

Mense met meer as twee spiere begin skielik joga-videos versprei van hoe om soepel te word, terwyl ek met ‘n pak Pringles op die bank lê en lag. Daar is ‘n meisie, met meer rolletjies as die Griekse bakkery op die hoek, wat probeer om die onderstebo hondjie posisie te vind, sommer so op die agterstoep tussen die enjin wat haar broer besig is om uitmekaar te haal. Daar is ‘n tannie wat heel kreatief probeer om blikkieskos as gewigte te gebruik, terwyl ander olie op die vloer gooi om sodoende ‘n tipe loopbaan te skep. 

Ek kan nie die grimering-mooimaaksessies met ongelooflike raad, wat nou uit alle hoeke van die wêreld opspruit, ignoreer nie. My grimeersakkie is maar effe minimalisties. Maskara, lipstiffie, so klein bietjie kleur en ‘n buisie wat donker kringe onder die oë moet verdoesel. Met die hoop dat ek meer kon leer van die kuns van mooimaak, sit ek egter verstom en staar na skerms waar vuil, vaal  Aspoestertjies met aknee, getransformeer word in seepgladde supermodelle met wangbene so duidelik soos Ramaphosa se vlakke van inperking. Ek sien hoe lelike eendjies in swane verander met behulp van ‘n kleurpalet en skakerings waarvan ek nie eers die name kan uitspreek nie. G’n wonder mans reken hulle kan nie vrouens vertrou nie! Wat jy sien, is beslis nie altyd wat jy kry nie. 

Behoede die huis waar oorblywende verf in skure en in agterkamers gevind kon word. Nadat Ma’s al die laaie en kaste en kiste reggepak het, gaan sy hulle vind en dan… dan gaan daar geverf word. Ou tuintafels gaan nuwe lewe vind. Ouma se antieke kabinet gaan geskuur en gemoderniseer word. Ek hoor sommer hoe geraamtes in grafte omdraai met elke kussing wat nuut oorgetrek of sommer oorgeverf word. 

Omdat tyd nie so neerdrukkende faktor is nie, het menige mens hulself tot terug in die kombuis gedruk. Kokkedore word gebore, koekskote word geskiet, kersies word op terte geplaas en die stof word van prutpotte, oonde en elektriese mengers afgeskud. Ons bak en brou asof ons vir Masterchef 2021 begin oefen. Alhoewel ek hou van eet, voel dit of ek al soveel piesangbroodresepte gelees het, dat ek aspris vrugte wil laat ryp word. Tot my geliewe skoonmoeder, wat bloot ‘n kombuis het oor hy saam met die huis gekom het, het nou al mieliebroodjieresepte begin aanstuur. HKGK. 

Daar word gehekel en gebrei… genaai en gestik… ek sien allerlei tuisprojekte ontwikkel uit Ouma se 1965 gordyne wat al vir drie dekades in die motorhuis se dak geboks is. Ek sit in vrees en wag vir die oomblik wat Barbie haar plek weer op die toiletbak inneem, kompleet met ‘n wolrok wat ‘n rol witgoud wegsteek. Die spieëls sidder as hulle kant en materiaal en stopsel sien, want grepe uit die die geskiedenis flits verby, waarin Bybelomslae en notaboekies ook in die slag gebly het. 

You Tube bewys homself as gevaarlike vertrekpunt van menige projekte. My man, wat nie eers visvang nie, is nou besig om een of ander vorm van visvang-aas-agtigheid uit hout te kerf. Koffieblikke word herwin om, met behulp van ‘n ou rekenaarwaaier, ‘n miniatuur stofsuier te maak en “juwele” word uit ou deurknoppe, gebreekte porseleinpoppe se oë en gordynhakkies geskep. Ek sien ‘n rolstoel verrys uit ‘n stapel ou afrolmasjiene en as Karlien van Jaarsveld nogsteeds haar geskeurde jeans soek, kan sy dit iewers op die platteland in die vorm van ‘n tuisbly-mamma se handsak vind. 

Ons is amper reeds drie maande ingeperk. Ek weet dat ‘n stokperdjie noodsaaklik is. Ek het al die verf weggegooi voor ek skade kan maak. Ek het my grimeersakkie weggebêre voor ek in ‘n hofnar verander. Ek het gelukkig nie eers naald en gare in die huis nie en my oond word net gebruik om basiese kolwyntjies te bak as die kinders aanhou kerm vir koek. Ek skryf. Ek maak videos van waar ek hulle voordra. Ek is die spreekwoordelike skoenmaker wat my by my lees hou. Maar ek bedank die land en al sy stokperdjie-beoefende, verveelde, innoverende en kreatiewe skeppers, wat my vermaak in hierdie droewe tydperk. Mag jou stokperdjie, ewige vreugde verseker… en jou weer jou vryheid laat waardeer.