Skrik

Ek het myself in ‘n ander bloedgroep in geskrik. In sekondes ‘n paar jare ouer geword. In minder as ‘n half minuut het ek tien keer van geloof verander, wyn opgegee in ruil vir die beantwoording van ‘n gebed en my lompe liggaam oor drie banke en ‘n bedding vol varings laat spring.

My sesjarige Lehja Lyfie het van ‘n perd afgeval. Behalwe vir blou kolle op haar arm en heup en ‘n knop teen die kop, het sy ongedeerd van die traumatiese ervaring weggestap. Let wel, dit was traumaties vir my, nie vir haar nie. Die adrenalien het nog nie gaan lê nie, toe is sy weer op die perd se rug en besig om oor paaltjies te spring. Kinders is wonderwerke wat ek in lewende lywe aanskou.

Kyk, ek weet ouers is lief vir hul kinders. Ek het altyd geweet ek hou van myne. Ek verstaan dat ek lief is vir hulle. Maar in daardie oomblik wat ek haar sien val het, het my hart gaan staan. Die are het opgehou om deur my are te vloei. My brein het nie gedink nie. My vingers het nie gevoel nie. Ek kon net aan een ding dink: ek moet NOU my kind in my arms hê… en DIT is hoe liefde sekerlik moet voel.

Hoe meer ek lees oor wat met ‘n mens se liggaam gebeur in sò oomblik van skrik, hoe meer respek kry ek vir hierdie reaksie. Jou reptielbrein gaan in supersoniese spoed aan’t werk. Jou byniere skei stowwe af wat jou bomenslike talente gee. Instink neem oor en jy soek natuurlik die beste pad na oorlewing. Dit was dalk nie koue pampoen nie, my gat sit nog waar hy moet en my vel voel weer warm, maar ek is weer in volle bewussyn oor my liefde vir my kinders en die beskermsdrang wat my ego oordonder. Nou hoop ek net dat almal so eureka-oomblik mag beleef. Jou lewe kan in ‘n oomblik verander. Beelde kan skuif, die berge kan molshope word en die geveg tussen nefies kan bedaar. Jou wêreld kry weer perspektief… as jy jouself wakker skrik.

Tande

Kyk, die kinders het my al baie op my tande laat kners. My ma het altyd gesê mens moet hare op jou tande hê as jy hulle reg wil grootmaak. Behandelde, gekleurde, spesiale hare. As ouer het ek myself ook al meer male betrap waar ek soos ‘n tandetrekker gejok het. En toe, gisteraand, is my voete op die pad van tande geplaas… sonder keuse. My sesjarige se voortand het amptelik die tydelike tandkas, met die ewige kassie (onder in my laai), verruil.

Sy het ‘n volle veertig minute sit en teken aan haar briefie vir die Tandefeëtjie, voor sy eindelik met ‘n miniatuursketsie tevrede was. Net haar beste sou goed genoeg wees.

In Afrikaans praat ons van die Tandmuis, maar om verwarring met Engelse maats en Britse onderwysers te voorkom, het ons besluit om maar die Tandefeë oor te nooi na ons pragtaal. Die ontstaan van hierdie gebruik is nie heeltemal duidelik nie, alhoewel meeste aantekeninge verwys na die noorde van Europa, waar ‘n tande “fooi” betaal is in Noorse tradisies. Dis moontlik dat hierdie “fee” aangesien is as “fairy” en sò is ‘n magiese karakter geskep wat ouers net geld kos.

In Amerika is bevind dat die gemiddelde kind ongeveer $3.85 ontvang vir elke wisseling. In Suid-Afrika is dit R26.75. Ek weet nie hoe en waar hierdie studies gedoen is nie, maar as dit op die internet is, moet dit seker waar wees.

Ek hou baie van die Spanjaarde se manier. In plaas van geld, word ‘n geskenkie gelos. Gewoonlik ‘n kissie of kussing. En ook nie elke keer nie, maar net met elke sesde tand. Dit het te doen met voorspoed, geluk en die bestryding van alle donker magte.

 

In ons huis het die Tandefeë wraggies haar verskyning gemaak. Ek was maar skepties, want ek weet hoe moeg en afgemat ek voel na ‘n lang dag. Maar vanoggend was die bewys daar: ‘n briefie waarin Lehja nie net bedank is nie, maar ook ‘n vriendelike vermaning om aan te hou tande borsel en oplaas ‘n sertifikaat om die voortand se nagedagtenis te bewaar. Waar die Tandefeë al haar tyd en energie kry weet ek nie. Ek weet net dat ek maar opnuut op my tande moet kners vir hierdie fase. Haasbekkies (en daai los lisp op die lippe) was nog nooit vir my aansienlik nie. Helaas, as ek eendag my eie emalje vir ‘n vals gebit moet ruil, sal ek maar hoop die Tandefeë vergeet nie van my nie. En ek bid dat ek ook die wonder sal kan ervaar om vir veertig minute vir haar ‘n briefie te kan teken.

Tamatiesous

My kinders sal nie tamatiesous eet nie.  Ek het nog altyd met afgryse in my oë gekyk as kinders, kleuters en kabouters hul kos laat swem in die walglikheid wat homself as tamaties vermom. Voor ek kinders gehad het, het ek besluit dat my kinders weerhou sal word van hierdie sonde teenoor die mensdom. My oplossing was eenvoudig: nie ek of my man eet die rooi sous nie, so my kinders gaan eenvoudig nooit blootgestel word daaraan nie. As hulle nie van dit weet nie, hoe sal hulle dan daarna kan verlang… sluk ek my woorde vandag met liters vol tamatiesous amper so rooi soos my wange.

Want êrens in ‘n kind se DNA word die voorliefde vir gepulpe tamaties met tonne suiker in, ontwikkel. Ek koop tamatiesous net vir my kinders. En hulle eet dit oor alles. Van ontbytpap tot brood tot noedels tot vis. Alles swem in tamatiesous. Ek gril daagliks.

Ek het al honderde male sonder tal vergeefs probeer om hierdie slegte gewoonte in die kiem te smoor. Dit lei egter net tot woede-uitbarstings (Seker as gevolg van suiker onttrekking) en kos wat in die asblik beland. Ek kies dus my gevegte… ek baklei oor tande wat geborsel moet word en woorde soos “dankie” en “asseblief” is nie onderhandelbaar nie.

Toe ek egter vanoggend in die koffiewinkel sit en skryf, sit ’n ma en haar seuntjie op die bankie buite die winkel. Na aanleiding van die ma se gelaat en kleredrag, lei ek af hulle kom van Pakistan af en dat hulle maar elke sent moet omdraai. Sou die kind ook graag tamatiesous oor sy tjippies wou eet? Ek kyk na die bakkie met sout, peper en tamatiesous wat op die tafel staan. Ek sien raak hoe die bedorwe brokkie by die tafel langs myne die tamatiesous in strepe oor die tafel trek. Skielik is ek dankbaar dat ek in my kinders se tamatiesous-behoeftes kan voorsien en dat hulle dit immers nie mors nie. Soos alles in die lewe, gaan tamatiesous oor dit: balans.

 

 

SUPERMA (en ander mites) word deur Lapa uitgegee en is nou op voorbestelling beskikbaar by boekwinkels.

Leer

Petrus leer nou skryf. Hy is vier en die pen lyk onregmatig groot tussen sy klein kindervingertjies. Ek wil eintlik hê hy moet gaan swem, sokkerballe gaan skop of sommer net gaan trampolien spring. Lehja leer al om met tien te maal en te deel. Sy is ses en sy het vanoggend besluit om haar lippies pienk te verf voor sy haar huiswerk doen. Pieter leer hoe om die wasmasjien te gebruik sonder om die klere te vlek. Hy is… ouer en nogal ywerig om die werking van die kombuistoestelle te bemeester.

Ek wil nog leer hoe om koeksisters te bak sonder om die hele kombuis met stroop te bedek.  Ek is… jonger as Pieter en vir my is die woord ‘leer’, ‘n homoniem, homofoon en beslis nie homogeen nie. Jy kan ‘n leer gebruik om tot op die dak te klim en soos daai oom Jannie af te neuk. Jy kan ‘n Wiskunde-leer gebruik om sekere sommetjies te doen. Malema het nie ‘n idee wat sò leer is nie, want hy het tot houtwerk gedruip. Jy kan ‘n les leer, uit jou eie èn uit iemand anders se foute. Vra maar net vir tannie Margaret. Ek leer my kinders maniere. Hulle pas dit nie altyd toe nie, maar my ouma het my geleer dat aanhouer wen. Ek vermoed my metabolisme het verleer hoe om teen hoë spoed te werk. Jy kan ‘n leêr gebruik om belastingstrokies in weg te steek, terwyl die soldate ‘n leër vorm. Groot verskil wat een klein leesteken of klemverskuiwing kan maak.

Van kindsbeen af, leer ons. Leer kruip, loop, hardloop. Leer lees, skryf, optel, aftrek. Leer redeneer, rusie maak, vrede bewaar. Leer om op jou tong te byt, leer om jou kop hoog te hou en leer om die wêreld op jou skouers te balanseer. Leer is net vier letters en een lettergreep lank, maar die betekenis en interpretasie is so oop en grensloos soos…dit.

Terwyl studente in Suid-Afrika graag wil leer, is daar ‘n minderheid aggressiewe barbare wat hul ontneem van die voorreg waarvoor hulle hoes en betaal. In plaas daarvan dat die idiote leer van oorsaak en gevolg, dink hulle om die owerhede ‘n les te leer is meer noodsaaklik. Die agterstevoor logika van Suid-Afrikaanse opstokers en hul leiers, laat my met nuwe oë na my kinders se leerproses kyk. Hulle maak nie net staat op die juffrou, die skool, die instansies en die toerusting nie. Hulle leer waar en wanneer die geleentheid opduik. Eendag sal hulle ook vir ‘n papier moet studeer, want papiere sluit deure oop. Ek wil hulle egter bewus maak dat papiere nie die enigste sleutels tot sukses is nie. Ek hoop dat die studente wat nou tuis moet bly, uit vrees vir hul veiligheid, sal besef dat leer nimmereindigend is. Leer uit ander se swak optrede. Leer om aan te hou, uit te hou en by te hou. Leer om alternatiewe oplossings te soek, leer dat die lewe onregverdig is en leer dat vingerwys nie die kos op die tafel gaan sit nie.

Gaan die sinneloosheid stop? Gaan iemand ingryp? Wanneer gaan genoeg genoeg wees? Tyd sal leer.

Ontbyt

Daar is ‘n sagte klop aan die kamerdeur. Ek is eintlik al ‘n rukkie wakker, maar wil nie die vrede in die huis versteur deur op te staan nie. Lehja trapsuutjie die kamer binne. “Kom kyk wat het ek vir Mamma gemaak” fluister my sesjarige soos ‘n professionele sluiper.

Ek los die snorkende skoonheid om te slaap en volg Lehja tot in die sitkamer. Dis waar my ontbyt vir my wag. Neute, druiwe, dadels, aarbeie en roosterbrood, asook die hele bottel Nutella, kompleet met ‘n mes wat wag om mee gesmeer te word. Ek probeer nie eers my glimlag, vreugde en lag onderdruk nie. Ek word tot op die mat beveel. Ek moet een of ander storie oor perde kyk. Ek moet alles op die bord eet, al hou ek nie van Nutella op brood nie en al is die druiwe besonder suur. Ek smul asof dit my eerste maaltyd na sewe maer jare is. Ek oe en aa en mmmm op al die regte plekke en aanvaar selfs met grasie die servet wat na my uitgehou word. Ek drink ‘n pienk melkie en kyk met trots hoe Lehja die bord kombuis toe dra.

Ek moet erken… die skade in die kombuis is erger as wat ek verwag het. Papgedrukte druiwe op die kas. Broodkrummels op die vloer, gemeng met druppels pienk melk. Daar is Nutella teen die stoof en ‘n baie bedenklikke besigheid in die wasbak. En dis op hierdie presiese oomblik wat Lehja die kombuismatjie onder my voete kom uitruk: “Kan Mamma my asseblief wys hoe om skoon te maak?”

Sy pak die skottelgoedwasser. Met ‘n waslappie vee sy al die kaste, stoof en yskas af. Sy stofsuig die vloer. En dan: “Noudat alles skoon is, kan Mamma my assblief kom help om ‘n huisie te bou?”

Stomgeslaan met die manipulasievernuf, entrepreneurskap, strategiese beplanning en kinderlike entoesiasme van my sesjarige, sit ek dus nou binne ‘n besonderse huisie en tik. Die kombersdak en kussingvloer en lakenmure van die tenthuis op die sitkamermat is vir my soveel meer as net ‘n verbeeldingsvlug. Dis ‘n bewys dat al word my meisiekind groot, sy nog nie haar kreatiewe kindwees prysgegee het nie. Ons gaan nou naels verf, grimering aansit en nog pienk melk drink. Wat ‘n voorreg om ‘n ma te kan wees, van só groot kleinmensie.

 

** Hierdie is nie ‘n uittreksel nie, maar op dieselfde trant want die boek “SUPERMA (en ander mites)” wat deur LAPA uitgegee word in November 2016.

Afstand

Volgens oom Google is dit 11 189 km om van Pretoria na Abu Dhabi te reis, padlangs. Dit sal jou ongeveer 214 uur neem om die tog te voltooi, as jy met ‘n toegeruste 4×4 reis, genoegsaam brandstof kry en geen teëspoed tegemoet kom nie. Ek hoor hoe die manne gesels… met ‘n Land Rover sal dit jou seker 350 uur neem, want Land Rovers is mos nie regtig vir die growwe, langpad gemaak nie. Nissan sal jou niere losskud en met ‘n Isuzu sal jy ten minste twee ekstra brandstoftenks moet aanskaf, want daai masjien is besonder dors. Die algemene konsensus is dat Toyota die antwoord is. Nie Ford nie, want niemand slaan hulle vrouens nie. Ek giggel in my stil hoekie oor hulle bespiegelinge, idees en opinies. Ek lewer liefs geen kommentaar nie, want vir die eerste ses maande het ek geweet ons voertuig is grys… nou weet ek dit is ‘n Prado. Met ‘n O op die einde… en met geen verbintenis of bloedlyn aan my Prada handsak nie.

Die afstand klink allemintig groot. My brein verstaan nie werklik 11 189 km nie. Ons Skype dan met ons vriende en familie en dit voel of hulle in die kamer langsaan is. Met die druk van ‘n paar knoppies, hoor ek hulle stemme en te danke aan Facebook is dit asof ek daagliks deel is van hul bestaan. Ek sien hul doen en late, gee raad, word kwaad, lag uit my maag uit en pik ‘n traan… sonder om aan een kilometer te dink.

Die swembad is 48 meter bo ons koppe op die dak. Die winkel wat biltong en Mrs Balls verkoop is 328 meter van ons voordeur af. As ek dus na ‘n braaibroodjie, skaaptjoppie of selfs aartappelslaai verlang, is die oplossing nie ‘n helse afstand weg nie. Die naaste hospitaal is 3,2 km van ons af. Dubai lê 131 km oos van ons. Perth is 9009 km ver. Daar is  11 189 km tussen ons en ons mense in ons geboorteland. Die maan is van die aarde geskei deur 384 000 km se afstand.

Ek kyk egter na my kinders wat 2 meter van my af sit en televisie kyk. My polsslag versnel as hulle lag, my mond trek spontaan in ‘n krul van lekkerkry en al is hulle so naby aan my, voel dit soos hulle groter word, hulle meer onafhanklik word, hulle eintlik die afstand tussen my en hulle vergroot. Dis irrasioneel, onlogies, onbeskryflik: die liefde. Die wetenskap verduidelik aan ons dat afstand gelyk is aan spoed vermenigvuldig met tyd. Hulle word tè vinnig groot. Versnel teen die spoed wat geen Toyota of Land Rover ken nie. Dis erg om te besef dat die grootste afstand eintlik tussen die hart en die brein lê.

Beloning

Ek hou van Ikea. Dis eufemisties gestel. Ek is dol, gek, mal, hop-skop-smoorverlief op Ikea. In Abu Dhabi het Ikea my ontvlugting geword. As die wêreld druk, die trane vlak sit of ek sommer net skuinsweg bedonnerd is, is Ikea my antwoord. Ikea is ’n Sweedse meubelwinkel wat ongelukkig nog nie in Suid-Afrika oopgemaak het nie, maar wat die ongelooflikste meubels, lakens, tuinstelle, messe, handoekpapier, potplante, skilderye, hangkaste en alles wat jy nog moontlik in jou huis mag nodig kry, smous. Dis my hawe.

Ek koop slegs een uit elke ses besoeke iets. Maar om deur die winkel te loop, is vir my terapie. Dit herinner my aan alles wat nog goed en reg en mooi is in die wêreld.

So staan ons gesinnetjie Sondagaand in die ry by Ikea om ons boekrak te betaal. My liefste seunskind, Petrus (4) begin baie ywerig om die twee Arabiese mans voor ons, se waentjie uit te pak. Fluks gee hy gloeilampies en gordynknippies vir die assistent aan, terwyl die twee Arabiere laggend vir die hardwerkende mannetjie staan en kyk. Petrus staan later skoon binne hul waentjie en stuk vir stuk en baie geduldig pak hy alles, tot op die laaste kussingsloop vir hulle uit. Ek staan trots na my seun en staar. Melodramaties dink ek aan sy sorgelose houding, sy onselfsugtige gebaar en hoe my seuntjie besig is om in ‘n wonderlike jong man te ontaard. Ek klop myself op die skouer en my hart glimlag breër as my mond.

Eindelaas is alles uitgepak en betaal en is dit ons beurt om die kredietkaart te laat sug. En dit is op daardie oomblik wat een van die Arabiese manne, na Petrus draai en hom ‘n noot in die hand stop. “Want harde werk moet beloon word”. “Shukran” bedank my seun die man in Arabies. My bors swel van trots.

Nou hou ek nog meer van Ikea. Nie omdat my seun met sy hardverdiende inkomste vir ons aandete gekoop het nie, maar omdat einste Petrus my ook hier ‘n les geleer het. Die gebaar van vriendelikheid, behulpsaamheid en onbaatsugtigheid hoef nie te wag vir spesiale oomblikke of groot geleenthede nie. Ons hoef nie net aan die behoeftiges te voorsien nie. Ons hoef nie net aan liefdadigheid te skenk nie. Jy kan jou positiewe deelname aan die menslike resies elke oomblik bevestig. Jy moet net wil.

 

Moeder

[moe-dir] – selfstandige naamwoord

1. Vroulike persoon wat 24 uur per dag werk. Gratis.

2. Iemand wat ’n kind kan hoor nies, drie slaapkamers ver, terwyl haar man langs haar lê en snork.

3. ’n Persoon wat alledaagse takies met een hand kan afhandel.

4. Die vrou wat nie soos ’n baba wil slaap nie, maar soos haar man.

5. Iemand wat nie gil nie, maar motiveringspraatjies gee vir kinders wat selektiewe gehoor het.

6. Iemand wat die wonder van ouerskap ervaar as die kinders almal slaap.

7. Haar voete word gebruik om Lego-blokkies in die nag op te spoor.

8. Iemand wat wens haar kinders maak miljoene rande, sodat sy eendag by hulle kan intrek.

9. Die persoon wat halfgekoude kos met smaak eet.

10. Iemand wat altyd lief is vir haar kinders, maar nie altyd ewe veel van hulle hou nie.

{sien ook: ‘masochis’, ‘mal’, ‘oormoeg’, ‘onderbetaal’, ‘verpleegster’, ‘onderwyseres’, ‘taxi-bestuurder’, ‘wyn-fynproewer’, ‘doekruiler’, ‘dissiplineerder’, ‘kok’, ‘laerskool-kostuumontwerper’, ‘geduldig’, ‘engel’}

 

 

***SUPERMA word in November deur Lapa Uitgewers uitgegee.

Kopluise

Om jou kind se huiswerkboek oop te maak en die ‘kopluise-briefie’ te lees, gee my nie meer hartkloppings nie. Ek trek skaars my skouers op. Ek hardloop nie histeries apteek toe en spandeer helfte van my salaris op spuite en roompies en sjampoe nie. Inteendeel.

Lehja was vier jaar oud toe ons die eerste keer kennis gemaak het met kopluise. Die duurste sjampoe, room, kammetjies en spuitmiddel is aangeskaf en ek het geduldig in die son gaan sit om my meisiekind se kop skoon te kam. Ek het gegril toe ek die krioelende kalante van naderby beskou. So gewapen met ‘n Bybelversie van geduld (en ‘n glasie wyn), het ek die taak die volgende dag weer aangepak. Die instruksies sê mens moet dit ten minste drie keer doen. Stukkie vir stukkie (en slukkie vir slukkie) is sy dus teen dag vier terug skool toe… met ‘n seer kopvel, maar luisloos.

Skaars drie weke later bel die juffrou weer: die goggas is terug en vir baba is hulle nie bang nie. Ons herhaal die proses. Maar hierdie keer gebruik ons ook Coca-Cola, Listerine, nog wyn (vir my, nie vir die kopluise nie), koeksoda, asyn en ek los sommer die spuit oornag in haar hare. Boererate teen kopluise.

Gooi brandewyn op haar kop, laat weet iemand. Dan ‘n koppie sand. Die luise word dronk en gooi mekaar dan met klippe dood. Snaaks hoe ek nie vir die simpel grap kon lag nie. Kopluise is nie snaaks nie. Wel, toè was dit nog nie.

En so het die oorlog tussen ons en die luise eintlik nooit opgehou nie. Wapenstilstand is altyd tydelik geroep, maar seker ook net om my meisiekind se rou kopvel te laat genees voor die volgende plaag van pestilensies oorneem.

Die probleem lê hier: ALLE mammas in die klas moet doen wat ek gedoen het… en nie almal het nie. Dit vat waarlik net een kleuterkopluis om die luisepidemie van voor af te ontsteek. In ‘n klas van 25 kleuters, hoef net EEN mamma lui/moeg/nie lus/oorwerk te wees, om te verseker dat kopluise nie uitgeroei word nie. Ek oordeel nie, ek sê maar net.

 

Toe trek ons weg van die kopluise af. 6500 km ver weg. En raai wat? Hier is OOK kopluise. En sò sit ek met TWEE kinderkoppies vol kopluise. Petrus weier dat ons naby sy hare kom. “Dis my luise! Los my luise!” Lehja raak tranerig, want sy onthou die brandende kopvel van ‘n jaar gelede. Dis toe dat ek die wondermiddel ontdek…

My eie kop kriewel nie meer nie. Die beddegoed ruik weer skoon en vars (en effens na ontsmettingsmiddel). My kinders is luisvry. Vir nou.

Tot ons weer ontmoet, staan my wapen slaggereed in die kombuis: ‘n vol bottel kameelsjampoe.

 

Vloermoer

Daar was geen sprake van rus in groen weivelde nie.
Ons was nie by waters waar daar vrede is nie.
Ek kort nuwe krag.

Ek het al baie van die ‘terrible two’s’ gehoor. Ek weet selfs van ouers wat met hul driejariges se vloermoere sukkel. Maar my seun is vier. VIER! En vandag het hy, vir die derde keer vanjaar, ‘n vloermoer gegooi wat my laat oorweeg het om hom kop onderstebo in die toilet te druk en dan die ‘sneller’ te trek.

(Voor enigeen die maatskaplike werker bel, laat ek net eers noem dat hy nou rustig lê en slaap in sy kamer… sonder enige bloed wat gevloei of fisiese skade wat berokken is.)

Hy het sy voete gestamp asof hy ‘n wildebees is. Hy het gegil soos ‘n straatvrou wie se geld gesteel is. Hy het sy vuiste geslaan teen tafels, stoele omgestamp, blokkies gegooi dat dit lyk soos ‘n Lego-slagting… en dit omdat ek die nare heks is wat weier dat hy 11 uur in die oggend vyf stafies sjokolade kan eet.

Vanoggend was geen genade aan my kant nie. Sy vloermoer het vir ‘n volle 56 minute geduur. In die skoolgebou. Ten aanskoue van kinders, kollegas, skoonmakers en my studente. Ek het gebid vir ‘n aardbewing. Ek het gehoop ‘n vulkaan ontplof en slurp my op. Ek het myself geknyp om seker te maak dit is nie net ‘n nagmerrie nie.

Ek het diep asemteue geneem en gedink aan al die Baba en Kleuter artikels wat ek al gelees het. Boeke oor dissipline en vloermoere en hoe om jou kleuter te hanteer. Ek het probeer om sag en rustig met hom te praat. Ek het probeer om hom op te tel en na ‘n meer privaat area te neem. Ek het probeer raas. Probeer ferm tog liefdevol wees. Probeer om hom te ignoreer. Ek het probeer om my nie te steur aan die ander mense wat staar nie. Ek het probeer om nie soos ‘n volslae mislukking te voel nie. Ek het probeer dat my bloed nie kook, terwyl ek glimlaggend na die mense kyk nie. Ek het probeer…

Sy rooi gesig, hees stem en vlak asemhaling hy my hart laat spasma. Van seerkry. Vir sy part.

Hoekom? Was die sjokolade regtig die oorsaak? Is dit nie dalk aanpassingsprobleme nie? Miskien moet ek ‘n arbeidsterapeut, speelterapeut of sielkundige nader? Miskien verlang hy ook na sy Ouma en Oupa? Miskien is hy moeg? Ek weet net een ding… en dit is dat ek nie weet nie. Ek dink ook nie ek wil nie. Sy tirade van 56 minute het my emosioneel uitgeput. Ek het my verstrykdatum bereik. Die melk is suur, die kaas gemuf en die eiers vrot.

Ek weet ek is nie alleen in die ouerskapstryd gewikkel nie. Ek weet daar is ander mammas wat ook al soos ek gevoel het… en dit is in hierdie gedagte waar ek my aanvaarding en vrede vind. Die feit dat dit nie die eerste, enigste, laaste vloermoer was nie, is my waters van rus.

My liewe seun, ek is jammer jou emosies is nog onverstaanbaar. Ek het dertig jaar meer ervaring as jy en ek verstaan alles steeds nie, so ek vergewe jou. Ek hoop dat jy my eendag sal vergewe oor ek nie vyf sjokolades vir jou wou gee nie. Al wat ek eintlik vir jou kan skryf is dit:

Selfs al gaan jy deur donker dieptes,
hoef jy nie bang te wees nie,
want ek is hier vir jou
in my hart is jy veilig. 
Ek sal jou altyd aan my tafel laat aansit,
terwyl ons teëstanders toekyk.
Ek sal jou ontvang soos ‘n eregas,
en jou oorlaai met hartlikheid.
My goedheid en liefde sal jou lewe lank by jou bly
en jy sal by my welkom wees
tot in lengte van dae.